Wasserman, Elizabeth: Elf dae op ‘n
eiland( Tafelberg, 2018)
Na die
uiters gewilde Elf dae in Parys verskyn ‘n tweede boek waarin die hoofkarakter
Danika haar onverwags bevind op ‘n tropiese eiland en daar nader kennis maak met haar pa wat sy
gladnie ken nie.
Van ‘n huis
in Seepunt, Kaapstad waar sy woon saam met haar ma Melissa, ‘n bekende aktrise,
en haar twee tantes Trix en Gaby word haar omgewing skielik tropies en gevul
met kleurvolle voëls, waterskilpaaie en wetenskaplikes wat navorsing doen. ‘n
Vrydagaand partytjie van die twee tantes loop lelik skeef wanneer hulle van
dwelmbesit aangekla word en Danika ook weggestuur word sodat haar skool se naam
nie in die gedrang kom nie. Haar besoek aan die Seychelles beloof om meer
opwindend te wees as Seepunt, en ook daar is sy
blootgestel aan misdadigers en ‘n geldgierige sjeik.
Die verhaal
slaag en boei t.o.v. ‘n verskeidenheid aspekte:
Die
karakters word oortuigend uitgebeeld. Elke karakter is interessant en uniek en
dra by tot die kleurvolheid van die verhaal. Elke karakter het ‘n doel en
skakel in by die verhaal.
Daar is ‘n
goeie balans tussen feite en die verloop van die verhaal ,met sommer ‘n tikkie
romanse ook ingeweef. Die verhouding tussen pa en dogter word liggies en
sensitief benader, en die atmosfeer bly positief.
Die
spanningselement met skurke en geldwolwe , haar ontvoering en die stryd om die
eilande se natuurskatte te bewaar, word onderhoudend vertel.
Vir my is
die grootste trefkrag van die verhaal die skrywer se fyn uitbeelding van die
omgewing- die natuurskoon, en veral die inligting en blootstelling van die
leser aan die voëls, visse, waterskilpaaie
en ander eilandbewoners.
Haar
benadering is tereg die van ‘n wetenskaplike; ondersoekend, feite word deeglik
nagevors en weergegee; haar agtergrond as wetenskaplike kom duidelik na vore in
die hantering van die vraagstukke wat die natuurlewe hier kan bedreig.
Hierdie is
nie ‘n ligte oppervlakkige storie van ‘n meisie , haar onbekende pa en ‘n
besoek aan ‘n eiland nie. Daar word deeglik gefokus om die omgewing so
noukeurig as moontlik te beskryf, maar tersefdertyd nie die verhaal te laat
ontaard in ‘n droë wetenskaplike verslag nie.
Daar is genoeg aksie en avontuur
en spanning om die leser betrokke te hou. Hoogs aanbeveel vir skole,
tuisversamelings en biblioteke.
No comments:
Post a Comment