Grobler, Mari: Bella en Sebastiaan( Tafelberg, 2019)
Illustrasies deur Alex van Houwelingen.
Hierdie
aantreklike leesboek vir 9-12jariges bevat vier stories oor Bella en haar kat
Sebastiaan, nl. Bella en die dorpsmoles, Bella en die talentkonsert, Bella en
die katteskou en dan Briljante Bella waar sy met ‘n kamera versteek in haar
bril besighede ondersoek om vas te stel of hulle goeie diens aan die publiek
lewer.
Die dorpie
Wag-‘n bietjie waarheen sy met haar kat en towerstaffie getrek het, is maar bra
vervelig. Maar Sebastiaan weet onverwagte situasies kan opduik as Bella
impulsief begin toor, soos nou waar hulle hele huis in die dorpstraat verwyn!
Bella
besluit om aan ‘n talentkompetisie deel te neem, natuurlik sonder veel talent.
Haar groot talent as towenaar sal beter gebruik word as sy kulkunstenaar speel.
End it is sowaar ‘n briljante idee van Sebastiaan.
Bella
besluit om Sebastiaan vir ‘n katteskou in te skryf, want daaris ‘n afdeling vir
gewone huiskatte ook. Hy is gladnie ingenome met die idee nie, maar toe hy hom
vererg vir die verwaande skoukatte, word hy ‘n baie mak ramkat met goeie
skoumaniere!
Die
lewendige teks en oortuigende verhouding tussen Sebastiaan en Bella sal
katliefhebbers onder die jongklomp lekker pret verskaf. Die vier stories is net
die regte lengte en so vermaaklik dat jong lesers nie verveeld sal word nie.
Goosen, Troula: Raaiselster( H&R,
2019).
Met die
eerste boek in hierdie historiese jeugroman reeks, Raaiselklip, het Troula
Goosen reeds 12-14jariges betower met die kombinasie van fantasie en avontuur wat
afspeel in die Kaap van lank gelede.
Raaaiselster
neem sommer vanuit die staanspoor die leser mee op ‘n opwindende en verassende
avontuur met Leopold en sy reis saam met
die togryer na die diamantvelde van destyds.
Die
storie”verhoog” word geskep met Leopold wat na sy ma se dood haweloos en
geldloos met net sy ma se beursie en onervare ‘n togryer se handlanger word
omdat die ou man se hond Asem hom uitgesoek het om een of ander onverklaarbare
rede. Sarel is die ander metgesel, en hy vertel hom gou dat dit ‘n gevaarlike
rit gaan wees, veral met gerugte van die Verdwaalding wat in die Skurweberge
ronddwaal. Die trio word aangevul deur die tolwagter Arius en in Ceres met die
pragtige donkerkop meisie wat in ‘n lykswa ry en hom dadelik betower.
Emily se pa
is ‘n geoloog, en hy bring gereeld stersplinters van ‘n ster wat in 1838 geval
het huistoe.
Die raaisel
verdiep as ook Leopold ontdek dat hy ‘n soortgelyke “klip” van sy ma ronddra,
en wat is in die sakkie wat Arius vir oom Barend gestuur het? En toe is Sarel ook ‘n meisie Sara! Emily glo hulle is gestuur om haar te help om
die raaisel van die stersplinters te verstaan.
Die swart
doodskis van Arius ontsluit nog meer geheime oor hul herkoms ; en dan is daar
nog altyd die rondsluipende Verdwaalding waarvoor hulle almal baie bang is, en
wat die leser menigmaal na jou asem laat snak!
Die verhaal
ontwikkel tot ‘n interessante klimaks met Sara wat haar voorouers se teken vind,
en vir al die karakters word die simboliese betekenis van die stersplinters, en
die openbaring van die ware identiteit van die Verdwaalding waarin hulle almal ‘n
sentrale rol speel, duidelik.
Hierdie is
‘n uitmuntende verhaal waarin geskiedenis, avontuur, raaisels, kalwerliefde en interessante karakters elkeen met ‘n
persoonlike rol en plek, nou verweef word tot ‘n leeservaring wat jongmense sal
betower. Stadig maar seker word elke stukkie van die raaisel bymekaar gebring,
en die boodskap is duidelik dat elke individu kan bydra om iets positiefs en
blywend te laat gebeur, en dat haat en hartseer tog met deernis uit hierdie
Skurweberge kan verdwyn voordat dit die hele gemeenskap oorweldig en vernietig.
Troula
Goosen verdien ‘n groot kompliment vir haar heerlike verbeeldingsvlug wat sy
gebruik om soveel lesers te betrek by die genot van lees en die blywende waarde
van ‘n goed beplande en deurdagte leeservaring. Hoogs aanbeveel..