Kühne, W.O. : Huppelkind en prentjies
van Dorothy Hill Kühne( Tafelberg, 2018)
Al huppelend
saam met hierdie kind is dit heerlik om
hierdie prag versameling van ‘n klassieke werk in Afrikaans weer beskikbaar te
sien vir ons kinders.
Ek het weer
gelees, en weer geniet, want hierdie is veral ‘n voorleesboek wat kleintjies
nie net sal geniet vir die avonture van die seun nie, maar ook vir die heerlike
klankrykheid van die werk.
Huppel is ‘n
onskuldige natuurkind; sy vriende is die voëls en diertjies van die veld in
Lekkerland daar langs die “diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie”.
Maar daar is
ook lummels soos Vlei-Floors wat op sy plek gesit moet word as hy Vlak-Floors
bedreig, en Huppel kan mos ‘n plan maak! Huppel moet die woorde leer sodat Ou
Storieman vir hom ‘n storie kan vertel en hy vra Haak om hom te help. Ander
kleurvolle karaktertjies soos Fiefman en Diefman, Wolman en die Boekwurms, die
Horingman wat voëls vang en hom voordoen as die Musiekman sodat Huppel en sy
maats Roerdomp uit sy sak moet red, almal draai daartoe by dat kinders tog te
lekker na al hul avonture sal luister! Met Huppel se verjaarsdag kry hy ‘n
koek-koek horlosie as geskenk van sy maats en dit is nie sommer so ‘n horlosie
nie, want ook hierby is daar ‘n storie te vertel.
‘n Pragtige
boek wat klassiek geword het en sal bly. Behoort tot alle biblioteek, skool en
tuisversamelings.
Goosen, Troula: Raaiselklip( H&R,
2018)
‘n Gotiese
storie wat in die Kaap van die 19de eeu afspeel was die skrywer se inspirasie
om hierdie opwindende verhaal te skep.
Gabriel is
‘n seun van Amsterdam wat op sy 14de verjaarsdag wakker word in die Kaap van
Storms. Hy weet nie hoe hy daar gekom het nie,en waarom hy nou hier moet wees
nie.
So begin sy
avontuur in ‘n verlate teater waar hy drie akteurs ontmoet, die slawemeisie
Zytia wat hom probeer help, en as hy begin teken verskyn die gesig van ‘n seun
aan hom. En dan ontdek hy ‘n grafsteen met sy naam daarop, gebore in 1654 en
reeds oorlede…
Wanneer hy Zytia
se meesteres Regina ontmoet is hy al meer in die duister- sy beskuldig hom dat
hy gekom het om die “klip” te kom haal, en sy sal dit nie toelaat nie! Waarom
is die raaiselklip van soveel belang?
Troula
Goosen skep hier ‘n verhaal wat tematies heel uniek is; die spanningslyn word
deurgaans gehandhaaf, daar is verassings en ongewone situasies wat die leser
deurgaans betrek en nuuskierig hou oor hoe die verhaal uiteindelik gaan
ontplooi. “n Goeie storieverteller wat haarself reeds bewys het met die gewilde
Maanlig-meermin. Die omslag van die boek verdien ook ‘n kompliment- dit is
treffend en trek dadelik jou aandag.
Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel 4-
die zombie –ontvoerder( H&R, 2018). Afrikaans deur Irma Bedenhorst.
Hierdie
reeks lees tog te lekker, en soos met elkeen van Otto en Harry en Vincent die
troetelvlermuis se avonture,is hierdie vierde titel in die reeks weer nie ‘n
teleurstelling nie.
Juffrou
Singh hulle kunsonderwyseres word vervang
deur ‘n snaakse vaal klein mannetjie Melvin Malone, en Otto let op dat
sy vel grys is soos die van ‘n dooie mens.
Dan verskyn
Sybrand Swaelkop, die mal stigter van die skool ook aan hulle, en nou word dit
duidelik dat daar meer van die dooies uit die Oorkant met behulp van ‘n
onwettige deurgang in Otto se wêreld beland het.Tannie Sharon verlang nog
gedurig na haar man oom Archibald wat reeds aan die Oorkant is. Sy verdwyn om
na haar man te gaan soek. Aan die Oorkant is alles kleurloos, en sy sal in
lewensgevaar wees. Otto en sy maats moet
dus help om dinge weer normaal te kry…Waarom is Malone so geïnteresseerdf in
oom Archibald se nuutste uitvinding, ROOM?
Uitstekende
vertaling, boeiend en vermaaklik. Hoogs aanbeveel virHarry bewonderaars en
almal wat hou van ‘n goeie storie, hoe “anders” nou ook al.
Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela:
Lotta se lewe- die kattekonsert( H&R, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Hierdie is
die agsteboek in ‘n reeks wat veral onder meisies , en veral lesers wat daarvan
hou dat die teks , in dagboek- vorm,deurgaans aangevul word met sprekende
sketse en byskrifte.
Lotta hou
dagboek van ‘n week ,10-tot 17 Oktober waarin haar vriendin Chantelle ‘n baba
boetie Rocco bygekry het, en die twee vriendinne word baba oppassers. In
hierdie week is Lotta se blokfluit ook soek, en sy verdink haar raasbek tweelingboeties.Maar
Rocco en hulle uitstappies saam met hom bly die hoof-fokus van die verhaal.
Selfs Lotta se ma nooi die baba na hulle huis waar hy met allerhande speelgoed
vermaak word. Sy en haar boeties woon ‘n reptieluitstalling op die skougronde
by en Lotto kry haar blokfluit terug.
Lotta bly
aan die woord met haar kommentaar op al die gebeure, en haar humorsin en
kelurvolle verbeelding dra die verhaal. Nie my gunsteling tema in die Lotta
boeke nie, maar tog onderhoudend geskryf.
Jacobs, Jaco; Superskurk( LAPA,
2018) Illustrasies deur Nicolene Louw.
Met sy
gebruiklike gemaklike onopgesmukte skryftrant Stel Jaco Jacobs die leser hier
bekend aan Wessel wat verplig is om ‘n vakansie by sy oupa deur te bring, en hy
het tenminste tienduisend redes waarom dit gladnie ‘n goeie idee is nie, veral
waar hulle nie van mekaar hou nie en sy oupa se huis grillerig is met donker
kamers en baie streng reëls wat nagekom moet word. Onder andere dat hy nie moet
rondsnuffel nie, en Wessel is nou juis ‘n nuuskierige outjie wat mal is oor sy
strokiesboekheld, Kaptein Koel, en soos Kaptein Koel ook smag na opwindende
avonture.
Toe hy ‘n
geboutjie met ‘n swaar ysterdeur ontdek wat in die tuin versteek is, en toegang
geweier word indien hy nie die kodewoord ken nie, is dit die begin van ‘n
vakansie avontuur sonder gelyke. Vera look leer hy die lewensles dat jy niemand
op sy baadjie moet takseer nie,en dat helde dalk nie is wat jy dink nie!Jong
lesers sal die verhaal geniet, want so ‘n avontuur is nie te versmaai nie.
Nicolene
Louw maak ‘n mooi bydrae met haar aksie tekeninge wat die boek nog meer
toeganklik maak. Hoogs aanbeveel.