Haden, Rosamund: Die apies se dieretrein( Tafelberg, 2017) Illustrasies deur
Tony Pinchuck
“Die apies
nooi elke enkele dier na hulle pretpark met plesier…die tjoe-tjoetrein sal
almal aflaai by Hotel Aa-Aai in Kokosneutbaai.”
So begin ‘n
onvergeetlike prettige reis vir al die diere, geroep deur die opgewonde
Olifant. Gou is elke wa tjok en blok vol; en as die dieretrein op die stasie
stop, storm die hele spul na die hotel waar oneindig baie plesier op hul wag.
Tony
Pinchuck se illustrasies komplementeer die teks in rym met diere wat elkeen
geïdentifiseer kan word, getrou aan die spesifieke dier se voorkoms. Elkeen van
die treinwaens gee hy ‘n eie identiteit met verskillende versierings getooi.
Daar is soveel detail , beweging en kleur dat ek net kan sien hoe kinders hul
gaan vergaap aan die pragtige diere , die oulike kleurvolle trein en
uiteindelik saam met die diere al die lekker pret en plesier by die hotel gaan
geniet! Die skutblaaie met die ry bome
elk met ‘n apie op sy stam is treffend en duidelik is hierdie ‘n illustreerder met ‘n agtergrond in
argitektuur. Die bladsye is gevul met detail, maar ‘n balans word deurgaans
gehandhaaf tusssen die verkillende elemente.
Hoogs aanbeveel. Baie spesiaal.
Ferreira, Annelie: Die rooikop, dieleeu en die handgranaat(
LAPA, 2017)
Annelie
Ferreira het reeds twee keer die Sanlamprys verower vir haar jeugboeke, asook
die M.E.R prys vir Tot siens, koning Arthur.
Adele haar
hoofkarakter, is ‘n tiener met 3 belangrike vrae- Kan ‘n meisie soos sy ‘n
heldin wees?; Wanneer verander die lewe die meeste? Gedurende bloedige
oomblikke, of deur kuns en skoonheid? En dan nog ‘n moeiliker vraag: waar het
die leeu vandaan gekom?!
Saam met
haar twee beste vriende Li en Ruan neem
sy deel aan die gewone skoolaktiwiteite, maar ook leer die leser hul huislike
omstandighede ken wat verskil waar Li van Sjinese afkoms is en Ruan gay. Adele
se ma is een van die snoepie-tannies by die skool. Haar kunsonderwyseres hou skielik nie meer
van haar kuns-pogings nie; en dan is daar die reuse leeu wat sy in hul tuin
gesien het en volgens die res ’n blote verbeeldingsvlug was.
Haar boetie
Hendrie wil met alle mag ‘n ontdekkingsreisiger word; Li is ongemaklik met Hank
die ou wat by haar broer Yan kuier en haar gedurig agtervolg.
Die verhaal
beweeg sommer vanaf die afskop teen ‘n vinnige tempo,en jy as leser moet
uithaal om by te hou!
Adele kry
‘n antwoord op al haar vrae- meestal
lekker antwoorde, maar lekker wat
voorafgegaan is deur ‘n erg traumatiese ervaring. Soos sy tereg opmerk:
“Miskien
verander die lewe op die ou end nie die meeste in bloedige oomblikke of deur
kuns en skoonheid nie, maar deur dapperheid. En die dapperste ding kan dalk
wees om te glo jy maak saak . En dat jy die moeite werd is om liefgehê te
word”.
‘n Gemaklike
skryfstyl, daar is soms oorspronklike raak opmerkings deur die karakters wat
elkeen geloofbaar is as tipiese tieners ; sy skryf met humor en verskaf ook ‘n element van spanning
wat goed gehandhaaf word, gevolg deur ‘n verassende ontplooiing aan die einde. Vir my is dit nie
heeltemaal so goed soos die vorige twee jeugverhale nie; die onsekerheid oor
die bestaan van die leeu in die tuin word nie sterk genoeg deur die verloop van
die verhaal gedra nie. Want natuurlik wil jy die hele tyd weet en wonder was
daar regtig’n leeu?, en hierdie vraag vervaag
‘n bietjie teenoor ander gebeure. Tog is dit ’n lekker ligte vinnig-bewegende
leeservaring met genoeg interessante kinkels om Ferreira se lesers te boei.