Hofmeyr, Dianne: Op die rug van ‘n
tier( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Jesse Hodgson
Na ‘n besoek
aan ‘n kunsgalery waar Tom en die tier in die skildery mekaar dopgehou het,
teken hy die tier tuis.
Daardie nag
besoek die tier hom en nooi hom saam op ‘n nagtelike avontuur. Tom is bang vir
die donker, maar die tier stel hom gerus met die wete dat tiere nie bang is vir
die donker nie. In die oerwoud is Tom weer bang vir die nagdiere, maar die tier
nooi hom om wegkruipertjie te speel.By ‘n rivier aangekom is Tom weer bang vir
swem, maar tiere is lief vir swem. By
die kermis aangekom is hy weer bang vir spooktreine en mallemeulens, maar die
tier laat hulle al in die rondte vlieg tot bo in die hemel waar hy bang is vir
‘n sneeustorm,en in ‘n grot regte sneeutiere ontmoet wat hom met hulle laat
saamdans. Na al hierdie avonture is
hulle eindelik weer tuis. Nou verklaar ‘n moeë maar tevrede Tom dat hy regtig
vir niks bang is nie, want dalk is hy eintlik ‘n regte tier!
‘n Besonder
aantreklike boek. Tom se tier is gebasseer op “Tier in ‘n tropiese storm” deur
Henri Rousseau. Die kunstenaar se
droomwêreld word realisties geskilder deur die illustreerder. ‘n Oortuigende boodskap word gevoelvol en
dramaties oorgedra van die kind se vermoë om sy vrese te oorkom met die hulp
van ‘n verbeeldingsvriend, hier die pragtige tier.‘n Baie spesiale prenteboek
wat jong kinders emosioneel sal ondersteun en ‘n positiewe boodskap uitdra
waarna elkeen kan luister en ‘n lewensles kan leer.
Jacobs, Jaco: Rondomtalie-rympies en
liedjies( LAPA, 2018). Illustrasies deur Karen Ahlschläger. CD met 30 liedjies
word ingesluit met toonsettings deur Anna Davel.
In 30
rympies met karakters soos Kielie-kabouter, Bambino die reus van Bitterbos,
goggas en ‘n teddie, tien pikkewyne en ‘n wilde perd vermaak die altyd gewilde
skrywer jong lesertjies en vertel hulle van spesifieke situasies soos hul klere
wat krimp, ‘n dag by die dieretuin, skoppelmaai ry, bad, tande borsel, met
blokkies bou, winkel toe gaan , rondspring, ‘n kussinggeveg en selfs ‘n beer in
die kind se bed wat vra vir ‘n goeienagsoen!
Elke rympie
is lewendig, vol pret, en getrou aan die
kind se verbeeldingswêreld.
Karen
Ahlschläger se illustrasies is net so kleurvol en uitbundig vrolik soos die
teks. Die mooiste prentjies vergesel elke rympie en kinders gaan mal wees oor
haar interpretasie van die teks. Hoogs aanbeveel vir biblioteke, skole en tuisversamelings.
Lloyd-Jones, Sally: Op die potjie
gou!( H&R, 2018) Illustrasies deur Anita Jeram. Afrikaans deur Elsa Silke.
Hasie loop
knyp-knyp, want hy het ‘n groot nood en moet haastig by ‘n potjie uitkom. By
hom sluit die diere een na die ander aan, ook op soek na ‘n potjie.
Die kangaroe
se kleintjie in haar buidel, ‘n eensame dodo, vriendelike padda, varkies, ‘n
ballerina olifant, ‘n hen en ‘n dinosourus, bangmaak spoke en selfs die heer en
dame Hoefenpoef en Wikkeltjie Woe!
Daar is
aanwysings na die potjies, en elkeen maak ‘n potjie staan. Dit word ‘n heerlike
potjie-partytjie, en daar word nog net gesoek na die lesertjie- jy wat in die
spieël kan kyk… Daar is dus ook die
geleentheid vir deelname deur die luisteraar, en niks geniet kleintjies meer as
om na hulleself in ‘n spieël te kyk nie!
‘n Nuttige en
vriendelike prenteboek wat handel oor die baie bekende situasie waar ‘n potjie dalk
vir die eerste keer gebruik word.
Anita Jeram
het die illustrasies gedoen vir die baie bekende geliefde prenteboek, Raai hoe lief is ek vir jou. Hierdie
is ‘n pragtige boek met delikate tekeninge van al die verskillende diere, deurtrek
met fyn humor, en regtig ‘n boek wat jong
lesertjies sal aantrek, veral waar die fraaie hasie so uitnodigend is.
Smit, Louise: Haas Das se nuuskas,
episode 6. ( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen.
Die sesde
titel in hierdie reeks belowe om selfs dalk meer opwindend as die vorige titels
te wees. Want nou is daar ‘n nuwe intrekker in Diereland, naamlik Knawel Snawel, en hy is honger, en
Haas Das lyk na net die regte maaltyd vir ‘n honger aasvoël!
Dan is
Koning Leeu ook siek van bekommernis oor Moeder Raaf wat haar verbeel sy kan
beter na die diere se kleintjies kyk as die oumense.
Knawel
Snawel gryp Haas Das ,en in die geskarrel trek Haas Das sy blou das styf om die
roofvoël se nek en toe Haas Das die das los, val hy in ‘n bos en land op die
grond. Die bekommerde diere begin soek na hul gewilde nuusleser, en gelukkig
spoor Bettina hom op en gaan soek hulp. Gaan Haas Das herstel van sy aaklige
ervaring?
‘n
Opwindende episode in die lewens van Diereland se inwoners. Kinders leer van
vriendskap en lojaliteit wanneer die diere hul nuusleser en vriend ondersteun
en liefdevol versorg.
Vian
Oelofsen se illustrasies is, soos in elkeen van die episodes, getrou aan die
karakters se individuele eienskappe en voorkoms. Die illustrasies is lewendig
en beweeglik en goed geplaas op elke bladsy. ‘n Pragtige boek met ‘n
onderhoudende storie deur ‘n begaafde skrywer.
Tsarfati, Einat: Wie woon hier?(
PROTEA, 2018) Afrikaans deur Elna van
der Merwe.
Die
verteller is ‘n dogtertjie wat in ‘n gebou van sewe verdiepings woon. Elke
verdieping se deur lyk anders, en agter elke deur is die inwoners uniek en
spesiaal. Sy neem die leser op ‘n begeleide toer deur die gebou, en so ontdek
jy ‘n goep diewe wat antieke Egiptiese artefakte versamel, ‘n ou jagter en sy
troeteldier, ‘n gesin sirkus akrobate, ‘n vampier, ‘n seerower en sy meisie, en
‘n familie wat gereeld partytjies hou. Die sewende deur behoort aan haar en
haar ouers se woning. Sy dink hulle is
maar bra vervelig, maar sy is lief vir hulle. As jy dan na die laaste
illustrasie kyk, wonder jy maar net of hulle regtig sooo vervelig is…
Met die
oopmaak van elke deur word die leser in n nuwe verbeeldingryke omgewing
ingelei. Daar is die element van
afwagting en verassing wat jou aandag hou. ‘n Klein diertjie wat lyk
soos ‘n marmotjie is in elke illustrasie versteek en maak ook ‘n interessante
bydrae.
Die boek is
oorspronklik uit Hebreeus in Engels vertaal, en is nou weer in Afrikaans
beskikbaar. Lees en vind uit wie waar
woon!