Nolte, Noreen: Om te dans ( LAPA,
2017)
Dit is so
lekker om n debuut roman vir tieners te lees, en opgewonde te word oor die
skrywer – sy het ‘n goed gebalanseerde boek geskryf waar ‘n mooi balans gehou
word tussen Lisa se huislike dramas, die nuwe skool en nuwe uitdagings waar sy
begin swem en aanfanklik ook nie weer ballet wil doen nie,vir redes wat later
duidelik word. Veral mooi is die verfrissende verhouding met haar Ouma ;
laasgenoemde se lewensfilosofie is dat
probleme verdwyn as jy doelgerig en dapper daarna kyk. Om nie te praat van die
vriendskap wat ontwikkel tussen haar en die droomseun Jaco nie! Soos in alle
tiener /skool situasies is daar die gebruiklike jaloerse mooi meisie wat Lisa
probeer benadeel met ‘n onwaar skinderstorie; die getroue vriendinne wat haar
bystaan; die uitdagings van skoolwerk , swem en ballet oefen, en geleenthede om
te presteer op ‘n gekose gebied.
Lisa
verteenwoordig sovele jongmense wat probeer vrede maak met ‘n verbrokkelde
huislike omstandighede ; onverwagse siektes of ontrouheid in ‘n huwelik,
aanpassing by ‘n nuwe skool en of nuwe omstandighede… die skrywer moet
erkenning kry vir ‘n baie oortuigende storie waar dramatiese gebeure nooit mooi oomblikke en verhoudings vertroebel
nie.
Die verhaal
lees lekker en behoort aanklank by jong tieners te vind. Daar is altyd plek vir
lekker ontvlugting en ‘n tikkie romanse in elkeen se lewe! Noreen Nolte kan
gerus weer skryf!
Ferreira, Henry en Ackermann,
Alistair: Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die petrol padda( LAPA, 2017)
Die vorige
twee titels in die reeks het ATKV- Kinderboektoekennings verower, en was soos
‘n fris briesie in die genre vir jong lesers 7+. Want Cowboy Koekemoer en sy getroue
kameelperd Shorty leef rustig in die
Karoo en geniet hul avonture saam; en daar is altyd ‘n geleentheid om nog ‘n
vreemde ervaring te beleef. In hierdie verhaal word boere se brandstof gesteel
deur Piet Parasiet, en een nag word die twee gekonfronteer met twee vlammende
rooi oë wat skielik die lug in skiet soos twee vuurpyle! Nou verskyn ‘n massiewe gedaante wat lyk
soos’n padda maar reusagtig is, aan die
twee maats. Dit is die begin van ‘n nuwe avontuur en die geleentheid om die
petroldief te ontmasker.
As ‘n
beginner leesboekie is die aanbieding ideaal- strokiesprent-agtige illustrasies
vul die teks aan; die teks is ook heel oorspronklik op die bladsye geplaas om
die leesproses nog aangenamer te maak. ‘n Welkome terugkeer van ‘n geliefde
karaktertjie.
Hartmann, Wendy en Theron, David: Die
fantastiese avonture van Theo die kat ( LAPA, 2017)
Toe die drie
stories destyds gepubliseer is kan ek nog goed onthou dat veral Theo die
biblioteekkat een van my gunsteling stories was. Hier verskyn ‘n omnibus met al
drie stories, nuut geïllustreer deur David Theron.
Theo die
biblioteekkat hou van lees. Hy boer in die biblioteek. Toe Mevrou Zuurpruim al
die katte nooi om by haar in te trek, is Theo dadelik op sy hoede. Hy besef dat
sy die katte gevange geneem het,en hy moet ‘n plan beraam om hulle te red. Met
haar uit die pad woon al die katte indie enorme huis Kietziekatzie, behalwe
Theo. Hy lees grillerige stories vir die ander katte voor, totdat hulle ontvoer
word en Theo moet help. Gelukkig is Fransiena die vark byderhand om ook te
help.
Die
vragmotor van die Boozwig-broers verskyn in die dorp met ‘n plakkaat dat hulle
sirkusdiere benodig om toertjies te doen. Die diere is natuurlik baie opgewonde
oor so ‘n geleentheid, maar Theo sien ‘n versteekte plakkaat wat hom laat besef
dat die broers ander planne met die diere het…
Lekker ligte
leesvermaak vir beginners. David Theron se illustrasies gee ‘n baldadige
aweregse kinder-vriendelike atmosfeer aan die omnibus. Bibliotekaresse kan die
boek ook handig vind vir voorlees tydens biblioteek-orientasies.
Vels, Verna: Liewe Heksieen die
sterretjieskombuis( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.
Teen ‘n pers
agtergrond op die treffende voorblad verskyn Liewe Heksie end die Koningin van
Feetjieland om kleuters te verwelkom na nog ‘n heerlike Liewe Heksie-avontuur.
Sy en haar kat Matewis wil haar huis ook verf ter ere van die Koningin van Feëland
se besoek- selfs die silwer Roos word blinkgevryf. Maar toe Heksie die swaar
klip van haar huis se dak afstoot, waai die dak weg. Daardie aand geniet sy dit
om na die sterre te kyk deur die gat in die dak. ‘n Feëtjie daag op as ‘n
onverwagse gas en sy geniet die sterrehemel saam met hulle. Tot haar verbasing
ontdek sy by die paleis dat dit sowaar die Feëkoningin is wat haar gas was.
Heksie kry ‘n nuwe dak van glas, en sy is seker sy is die enigste heksie met ‘n
“sterretjieskombuis”.
Pragtige
illustrasies deur Oelofsen maak die boek’n lus vir die oog! Die wasige vlerkies
van die Feëkoningin is so mooi! Elke kind sal net wil kyk en kyk na al die mooi
in hierdie boek waar elke bladsy grensloos gevul is met sterk sprekende prente.
Hoogs aanbeveel.
Smit, Louise: Bennie Boekwurm vertel
lekker stories 2( H&R, 2017) Illustrasies deur Johann Strauss.
In hierdie
aantreklike versameling word ingesluit
Missie Muis se verjaarsdagpartytjie, Tokka Kabouter maak grappies, Babet
By hou van dans en die Hondjie met die rooi halsbandjie.
Die kinders
roep altyd vir Bennie Boekwurm om uit sy tonnelhuis diep onder die grond te
voorskyn te kom om vir hulle stories te lees. Hy soek altyd sy bril, maar die
kinders is geduldig, wand die wag is altyd die moeite werd!
Ratte Rot
moet nie weet van Missie se verjaarsdagpartytjie nie, want hy wil net vreet en
vreet. Sy bak geurige kolwyntjies, en hy word nader gelok deur die reuk. Sy kry
‘n spesiale apiekoek vir haar verjaarsdag, maar Ratta Rot steel die koek.
Gelukkig bring die gaste eetbare geskenke en saam skep hulle ‘n anderster
lekker verjaarsdagkoek!
Tokka
Kabouteris lief om grappies te maak- so doen hy die handeloop dat sy nuwe
skoene nie vuil word nie, skuif tussen sy Oupa se tuinkabouters in wat te koop is om ‘n moontlike koper skrik te maak; maak
Juffrou Lollies bang met sy klei-slang; en gebruik stinkbessies om Ouma se
teepartytjie meer kleur te gee.
Babet By kan
maar netnie haar take as bytjie reg doen
nie- as sy nie te ver vlieg nie,dans sy te veel. Gelukkig vir haar kry die
Koningin haar jammer en laat haar toe om al haar talente te gebruik- sy kan
bedags nektar bymekaarmaak, en saans vir die Koningin dans en sing.
Ouma Hanna
word oppad huistoe gevolg deur ‘n hondjie op straat. Hy doen die snaakste
toertjies, en sy is so gelukkig dat sy nou geselskap het. Sy weet sy moet sy
regte eienaars soek. Sy ontdek hy is Herkules die Wonderhond, en behoort aan
sirkus Bruno Bossel.
Toe sy en
die kinders daardie aand die sirkus besoek, weier hy om sy toertjies te doen,
behalwe as sy of die kinders hom die toertjies laat doen. ‘n Woedende Meneer
Bossel besluit toe maar die hondjie wil klaarblyklik liewer by ouma Hanna bly-
hy is nou haar hondjie.
Afgesien van
die oortuigende stories, maak Strauss se vrolike kleurvolle illustrasies
hiervan ‘n heerlike belewenis! Die bytjies tussen die pragtige pers blomme;
Babet se stout gesiggie; Ouma Hanna in haar pers rok met die hondjie wat haar
so vriendelik begroet; Tokka wat so op sy hande loop met sy nuwe swart skoene,
elk met ‘n klokkie op die skoen se punt; en Missie Muis so ‘n regte dametjie in
teenstelling met die rot met sy sluwe gepunte gesig. Hierdie is werklik ‘n boek
wat kinders sal koester.
Lona Gericke
15 Mei 2017