Resensies
van kinder/jeugboeke 2/2018:
Davies, Benji: Die stormwalvis in die
winter( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Rentia Bartlett-Möhl.
Die
Stormwalvis se verhaal word verder vertel in hierdie verhaal waar Noi maar
netnie die klein walvis kan vergeet wat hy gered het toe ‘n storm dit op die
strand uitgespoel het nie. Toe dit winter word vaar sy pa vir ‘n laaste rit uit
op die see, maar hy bly lank weg en Noi verdwaal as hy na sy pa gaan soek.Hy
vind die boot, en die walvisse dra hom en die boot terug na veiligheid. Die
vissermanne het sy pa gered, en sy walvis-vriend is weer terug. ‘n Treffende
verhaal van vriendskap en moed met seetonele wat ‘n mooi agtergrond vorm.
Donaldson, Julia: Tirannosourus Sot(
PROTEA, 2018). Illustrasies deur David Roberts. Rymvertaling deur Philip de
Vos.
Die
platbek-dinosourusse hou van water , riete en gras en waterblommetjies. In
teenstelling met die vriendelike vreedsame groep is daar die tirannosorous-paar
wat net wil moor en jag en oorlog maak. ‘n platbek-eier beland tussen die eiers
van die moordadige groep, en toe die kleintjie uitbroei is dit tot almal se
konsternasie want die een lyk vreemd met ‘n bek soos ‘n eend. Hy kry toe sommer
die naam Tirannosourus Sot omdat hy net plante wil eet. Gelukkig beland hy in
die water tussen sy groep en beland die nare klomp in die see. “ En op die wal
sing eendbek-D’s- Daai T’s was naar en vrot en nou roe pons hiep=hiep –hoera
vir Dinosourus Sot!”
Verhale oor
dinosourusse bly altyd gewild by kleintjies, en met Philip de Vos se vrolike beryming
en Roberts se oorspronklike groep gediertes behoort die boek groot byval te
vind.
Donaldson, Julia: Amok op ‘n
besemstok( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Axel Scheffler.
Daar is amok
op die besemstok as die heksie se gepunte hoed deur die wind weggewaai word.
Gelukkig red ‘n hond die hoed, en hy word genooi om by die heks en haar kat aan
te sluit.Hierna word haar strik weggewaai, en opgeteldie ‘n voël wat nou ook by
die groep aansluit. Haar towerstaf word deur ‘n padda gered. Ongelukkig breek
die besem, en haar metgeselle beland in ‘n modderige moeras. Toe ‘n draak haar
wil verslind, verskyn die aardige monster uit die moeras wat die draak wegjaag.
Die dankbare heksie stook ‘n potjie en uit die pot verrys ‘n wonderbesemstok!
“Met skittermooi stoele vir die heks, kat en hond, ‘n nes vir die voël en vir
padda ‘n stort”.
Die skeppers
van dei gewilde Goorgomgaai betower weereens met die prettige avontuur met die
aller-vrolikste illustrasies, reg in die smaak van menige kind.
Goes, Peter: Tydlyn- ‘n reis deur die
geskiedenis( PROTEA, 2018)Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.
‘n
Asemberowende ontdekkingsreis deur die geskiedenis, absoluut uniek en met groot
sorg ontwerp in ‘n groot-formaat boek wat 16 uitgawes in België gehad het en in
verskeie tale vertaal is.
Daar is
geweldig baie detail in die illustrasies en kinders kom voor ‘n uitdaging te
staan wat hulle sal boei as hulle tyd spandeer om elke fase in die wêreldgeskiedenis
deeglik na te speur en die fyn druk te
lees wat die spesifieke fase verduidelik.
Die verhaal
begin met die begin van lewe, gevolg deur die dinosourusse, die eerste mense,
eerste nedersettings, Mesopotamië, Antieke Egipte, Antieke Griekeland, Die
Kelte, Romeinse Ryk tot en met ruimtevaart en uiteindelik die 2010’s.
Daar is geen
indeks of bladsyverwysings nie; die leser word weggevoer deur die geskiedenis
deur te blaai en te lees wat volg op die vorige tydperk.
Die boek sal
spreek tot lesers wat op soek is na ‘n oorspronklike talent en unieke
uitbeelding, en volwassenes behoort die boek tot tuisversamelings te voeg omdat
dit ‘n spesiale tuiste verdien. ‘n Prag-aanbieding.
Palmer, Jose en Reinette: Leer my
lees reeks Vlak 4 Boeke 1-10( LAPA, 2018) Illustreerder Zinelda McDonald.
In hierdie
nuttige reeks het reeds Vlakke 1-3 verskyn, elk met 10 boekies. Tippie die
olifant is die hoofkarakter wat sy avonture deel met jong lesers 5+jaar. Hy
maak nuwe maats, besoek die dieretuin, besoek die leeupark, die lughawe, leer
om pizza te maak, hou sywurms aan, soek insekte, vang vis, verjaar , en gaan selfs
ysskaats.
Die skrywers
het jare se ervaring in onderwys en wil met die boeke kinders lief vir lees
maak. Elke boek is gekram, net 25 bladsye en is kleurvol en kinder-vriendelik
met McDonald se toeganklike illustrasies wat die boekies nog lekkerder maak.
Aktiwiteite is ingesluit met ‘n woordelys, hul begrip word getoets en nuwe
woorde kan gemaak word. Onderwysers sal die boeke nuttig vind in klaskamers, en
ouers kan dit handig tuis gebruik. ‘n
UIters leersame reeks met ‘n hoofkaraktertjie wat in kinders se harte sal kruip.
Viljoen, Fanie: Slym se stories( LAPA, 2018)
In 2004 het
die eerste Slym-boek in die biblioteek aangekom, en dadelik het ek besef dat
dit ‘n treffer is wat werk vir 7+jariges. Nou verskyn al vier Slym-boeke in ‘n
volkleur- omnibus, deur die skrywer self geillustreer. Die boeke het reeds twee ATKV-Woordveertjies gewen.
“Daar gebeur
nooit iets opwindends met wurms nie. “ So het die klein wurmpie Slym gedink.
Totdat hy sowaar in ‘n paddakonsert beland!Giftand die slang betrek Slym sodat hy
paddas kan vang, maar gelukkig het Slym ‘n geheime wapen om Giftand ‘n les te
leer. Hy neem selfs die rol van die paddaprins in die skoolkonsert oor, en word
die eerste wurm wat in ‘n paddaskool toegelaat word. En dit is maar net die eerste verhaal in
hierdie omnibus!
Die boek
hanteer lekker, is kleurvol, die illustrasies pret en vol humor, en Slym is die
oulikste wurmpie ooit. Die lekker groot
druk maak die boek nog meer aantreklik en leesbaar.
Goscinny , R en Uderzo: Asterix en
die groot moles ( PROTEA, 2017) en
Asterix
in Helvesië(PROTEA, 2017)
Aanhangers
van die Asterix boeke sal verheug wees om twee nuwe titels te sien , en
bibliotekaresse verwelkom twee toevoegings tot ‘n reeks wat deur al die jare
van die gewildste boeke in die kinderafdelings bly.Albert Uderzo se
illustrasies uit hierdie geskiedkundige tydperk is onverbeterlik.
Lona Gericke
Feb/2018