‘n Potpourri van nuwe Afrikaanse
kinder en jeugboeke:
Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die
katkrisis( LAPA, 2015)
Hierdie is
die elfde titel in ‘n baie gewilde reeks. Zackie en Vincent kry die
twyfelagtige voorreg om die buurvrou, Mevrou Langenhoven se kat vir drie dae op
te pas. Katinka is nie ‘n gewone kat nie- sy sal heel moontlik groot kopsere
veroorsaak. Die seuns hoop dat hulle met hul beloning die nuwe Squekky Squirrrel Wars VI speletjie kan bekostig! Die
enigste oplossing is om haar baie blikkies tuna te voer. Vincent begin om
foto’s van haar te neem, en dit word ‘n lekker speletjie met ‘n blog en videos
wat baie aanhangers kry.
Jacobs skryf
met sy gebruiklike raak aanvoeling vir ‘n teks en situasies wat jong lesers sal
geniet; sy humorsin en energieke styl maak dit ‘n genot om die boek te lees.
Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die
vreeslike verjaarsdag( LAPA, 2015)
In die
twaalfde titel word Zackie se idee om vir Vincent ‘n
verassings-verjaarsdagpartytjie te reël ‘n kompetisie met Anton wat sy partytjie
op dieselfde Saterdagoggend beplan en
telkens probeer om meer lekker dinge as trekpleister te gebruik en so Zackie se
verassing te dwarsboom. Maar ‘n seun met ondernemingsgees maak altyd weer ‘n
plan!
Beyers-Boshoff, C.F. : Jasper op
hoërskool( PROTEA, 2015)
Hierdie is
die tweede uitgawe van ‘n titel in 1959 verskyn het in die bekende reeks.
Interessant
was dit om te lees hoe ‘n skrywer in die vyftiger jare ‘n skoolstorie vir seuns
sou skryf. Leliesvlei is ‘n klein
dorpie met onderwysers wat nog met ‘n rottang slae uitdeel waar nodig; ‘n seun
se “portret”in ‘n jaarboek verskyn; bendes kleilat-oorloë voer; hul
jagtoerusting bestaan uit ‘n knipmes, ‘n rekker en ronde rivierklippies; die
wengeld vir ‘n seepkis-kompetisie R50 is en die seepkis om die karretjie te
maak vir vyf sent by die winkel gekoop is.
‘n Brief word nog op ‘n tikmasjien geskryf ; seuns van bendes deel
pamflette uit vir die dominee se kerkbasaar; en die dapper seuns red ‘n
vierjarige seun wat verdwaal het; hulle prober vir die eerste keer rook en
steek ‘n rietbos aan die brand met ‘n stompie; en dan vang hulle nog ‘n
skaapdief en sien kans vir Lelievlei se spookhuis.
Ek sal dit
geniet om kinders se reaksies op die boek te hoor! Onskuldige vermaak wat ‘n
mens laat verlang na kinderjare in die tyd – toe jy nog versigtig was om
perskes te steel by Oom Faan wie vertel dat hy sy perskes vergif het om
kwaaijongens af te skrik of om die dominee of onderwysers sonder respek te
behandel!
Neser, Christien: Middernagklub(
LAPA, 2015)
Elle en haar
vriendinne bring nog ‘n tiener-avontuur na hul lesers in die sewende titel in
‘n reeks wat met Kondensmelk afgeskop het en steeds bekoor.
Hier is die
Lys van Dertig- volgende jaar se prefekte – ‘n doelwit wat vir die meisies
beteken dat hulle geen reëls mag oortree nie. En sommer met die intrapslag word
hul Middernagklub op heterdaad betrap! Maar die twee meisies Maria en Thandeka wat
so deel van hul lewe word –hulle is van die kinderhuis Kaya Kumba en die
meisies moet hul help om Graad Elf se werk te hersien- bring ‘n nuwe vriendskap
en selfs kontak met ‘n ou Gravitas dame Stella Maas wat nou ‘n modeontwerper in
New York is.
Die
skoolhoof se verjaarsdagviering word ‘n groot plesierige geleentheid, en die
dertig leiers wat ‘n verpligte kamp by Thaba Thula aangebied deur Staal en
Yster en die gemaskerde Russiese instrukteur Kalashnikoff moet bywoon, ervaar
meer as net opleiding en ‘n heerlike verassing vir Elle. Is enige van die
vriendinne dalk skoolleiers volgende jaar?
Neser
hanteer hierdie verhaal met haar gebruiklike vaardigheid; ‘n goeie balans van
jeugdige vermaak , oortuigende karakteruitbeelding en ‘n verhaal wat ontplooi
tot ‘n einde wat die lesers sal laat uitsien na Elle en haar vriendinne se
avonture in Graad 12! Lekker ligte leesstof.
Baggot, Stella: Protea se plakpoppies
modeontwerper trouversameling( PROTEA, 2015) In Afrikaans vertaal deur Rentia
Bartlett-Möhl.
Jong meisies het hier die geleentheid om
modeontwerper te speel met ‘n pragtige versameling van ontwerpe, kleure en patrone, plakkers en poppe wat gereed staan om aangetrekte word
vir verskillende troues en sprokiesbruide.
Hierdie is
‘n wenner-geskenk idee vir meisies wat sou belang stel om kreatief
modeontwerpers te “speel”. ‘n Boek wat dadelik die aandag trek en tematies ‘n
groot mark kan bereik.
Baggot, Stella: Protea se Plakpoppies
Modes van lank gelede( PROTEA, 2015) Vertaler Rentia Bartlett-Möhl.
Plakkerblaaie
bevat die modes van o.a.Antieke Egipte, Rome, Sjina; die Middeleeue; Frankryk,
Engeland(1810), Victoriaanse tye ;
Amerika in die 1950’s en Londen in die 1960’s.
Hoe lekker
sal kinders nie die mooi poppe kan aantrek nie! Terselfdertyd vind daar ‘n
leerproses plaas.Ek onthou hoe daar dikwels in biblioteke gevra word na die
tradisionele drag van ‘n spesifieke tydperk; en hierdie boek is weereens ‘n
bewys dat nie-fiksie nie noodwendig
nie-plesier beteken nie! Baie inspirerend.
Reeks: Leer ken Woorde, Getalle en Diere( H&R, 2015) Ook beskikbaar in
Engels.
‘n Reeks van
kleurvolle aantreklike hardeband boeke ‘n groot formaat stel kinders bekend aan
woorde in verskeie situasies –‘n
leerproses wat prettig kan wees, Die illustrasies is van werklike items en nie tekeninge
nie. ‘n Tuinslang is ‘n tuinslang, ‘n erdwurm die werklike een, ;n hark en
spinnekop en leunstoel werklik en in mooi kleure voorgestel.
In die getalle-boek leer die kind getalle met
interaktiewe vrae en eenvoudige speletjies; groepering, vorms , patrone en
sekwensies.
Die diere-boek bevat o.a. troeteldiere,
plaasdiere, reusediere, skubdiere, babadiere, diere se huise , wegkruipers en
diere in aksie.
Die groot
format sal dit ook maklik maak vir kinders om saam deur die boek te kyk,of met
ouers ‘n leersame leeservaring prettig te beleef. Hoogs aanbeveel vir skool, tuis en
biblioteekversamelings.
Daly, Nike en Jude: Baie dankie,
Jackson( Jacana, 2015)Vertaal deur Alet Kruger.
Die
eenvoudige treffende verhaal van ‘n boer, sy vrou Beauty en hul seun Goodwill. Hul
donkie Kackson moes elke markdag ‘n vrag groente teen die bult uitdra en hy het
nooit gekla of gerus in die taak nie. Een oggend verseg hy egter om verder te
loop om so’n ondankbare taak te vervul. Die boer dreig om die donkie met ‘n
groot stok te slaan as hy nie opstaan nie. Goodwill kom tot sy redding deur
iets in die donkie se oor te fluister.
So leer die
boer dat dit belangrik is om asseblief en dankie te sê. Klein dingetjies maak
‘n groot verskil in verhoudinge en gesindhede.
Jude Daly
slaag daarin om met haar gebruiklike eevoudige manier van illustreer die storie
te dra tot iets besonder mooi en kosbaar. Haar landskap is ontneem van detail
en “clutter”; plante staan in netjiese rye; die heuwel se steilte word ge-aksensueer
met die groot oop ruimtes waarin slegs ln man en sy donkie die kaal landskap
vul. Veral bly die donkie se passiewe gesit jou bly wanneer die boer een twee
en drie tel. Daar is reeds ‘n afstand tussen die twee en die vrou en kind wat
agterbly, maar die seun Goodwill pak die bult dapper aan, oortuig da thy die
sleutel dra tot die donkie se uiteindelike bereidwilligheid om verder te loop.
Die
marktoneel is kleurvol en die verkopers en hul ware word netjies en noukeurig
uitgestal.In die laaste twee illustrsies is daar ‘n glimlag om elke gesig; nog
steeds uiters subtiel en fyn soos net Jude kan illustreer.
‘n Besonder
kunstige werk; die storie hou ‘n les in vir elkeen van ons; die illustrasies
verbeeld ‘n liefde vir die eenvoud van ‘n spesifieke Afrika-landskap.