Tuesday, October 28, 2014

'n Zombie storie!


Doktor Zombos se geheime formule(LAPA, 2014)

Sanri en haar ma trek na die dorpie Raaiselfontein waar haar ma die nuwe skoolhoof gaan wees.

Sy let dadelik die lekkergoedfabriek  Bloepghloeps Lekkergoed op toe hulle die dorp binnery.

By Lizzie se kafee vra hul aanwysings na Griezelstraat waar hul gaan bly. ‘n Mandjie vol lekkergoed verwelkom hulle op die voorstoep. ‘n Seun  kruip agter ‘n struik weg en waarsku haar om nie van die lekkers te eet nie. Sanri wil ‘n koerantjie die Raaiselfontein Gazette begin, en dadelik begin sy notas maak van die vrou met die glaserige oë. By die skool lyk al die kinders ook soos Zombies, behalwe die tweelingbroers Carlo en Franco Bartolini  wat hulself vermaak deur opdragte aan die kinders te gee om snaakse toertjies uit te haal. Sanri besluit sy en Markus moet die tweeling se huis gaan besoek en ook die lekkergoedfabriek. En toe……!

‘n Verhaal wat 7-9jariges + baie sal geniet. Die skrywer het ‘n gemaklike lewendige styl; daar is genoeg intrige sodat jy enduit wil lees en die illustreerder het met sy swart-en wit illlustrasies die atmosfeer van zombie-land goed vasgevang.

Lees ook  Sanri Steyn: die aliens oorkant die straat.

Theresa van Balen; illustreerder JohannStrauss   

Tuesday, October 21, 2014

Prenteboeke om die hart te verbly!


Nuwe prenteboeke vir kleuters!

Klein wit vissie is so bly 

Klein wit vissie  is so bly want sy mamma kom hom haal. Teen n treffende swart agtergrond en met eenvoudige illustrasies van elke dier vir wie hy totsiens sê swem hy weg in die rigting van sy ma. Slak in sy dop, padda op die rots, seeperdjie onder die blaar, krap agter ‘n klip, goudvis tussen die riete, elkeen word gegroet. Maar hy belowe da thy die volgende dag weer sal kom. Die kleure van die verskillende diertjies steek pragtig af teen die swart agtergrond en heel kleintjies sal dit geniet om elke een te identifiseer. Die mamma is natuurlik ‘n groot vis en stel gerus as die klein vissie se beskermer.   Heel treffend.

Guido van Genechten( PROTEA, 2014)  In Afrikaans vertaal deur Caren van Houwelingen.

Klein wit vissie

Hier is klein wit vissie baie ongelukkig want hy soek sy mamma. Rooi krap is nie sy ma nie, ook nie oranje seester nie; nie die geel slak of groen skilpad nie. Die blou walvis of pers seekat kwalifiseer ook nie. Dan kry hy sy mamm en sy het al die kleure van die reënboog in haar lyf saamgevat.  Uit ondervindng weet ek dat kleintjies dit baie geniet as ‘n diertjie soek na sy mamma en haar dan vind. Dit is ‘n ouer /kind situasie wat hulle bekend vind. 

Guido van Genechten(PROTEA, 2014) 

Die groot baba-boek

Kleintjies leer hier van die babas van verskillende diere. Muisies is kaal en pienk met geboorte maar het gelukkig ‘n warm nessie. Skapies het mooi krulhare; babas is  altyd honger; of dors; party lê net as hulle gebore is; ander staan reeds regop op hul pootjies. Jan was eers ‘n baba, maar nou is hy ‘n ouboet!

Weereens ‘n kartonboek met mooi groot illustrasies van die verskillende diere. Hierdie boek is regtig ideaal  om kleintjies te leer hoe verskillende diere se babas met geboorte reageer. Dan sal ‘n seuntjie wat vir die eerste keer ouboet word dit baie geniet!  Oulik en koesterend.

Guido van Genechten(PROTEA, 2014)  

Die groot eet-boek

Lekkerbek-Jan word uitgenooi om te kom eet terwyl mamma besig is om die baba te voed.

Soos hy het diere ook verskillende eetgewoontes. Bobbejane eet vrugte, ander hou meer van groente, neute en akkers, ‘n stukkie kaas of gras. Skoenlappers kry hul etes uit blomme.

Pragtige eenvoudige illustrasies van elke dier en sy eetgewoontes, en Jan wat so lekker smul aan sy kos en nagereg.  Vrolik; die kartonboeke is almal stewig en sal baie hantering kan oorleef. Mooi.

Wikkels vark het 10 balonne

Hy het 10 balonne, maar hy hou die meeste van sy beertjieballon. Kleintjie vark kry een, toe word die ballonne 9. Morsjors vark kry ook een, Spikke;s vark ook en so verdwyn die balonne een vir een todat Grote vark se sussie die toutjies van die laaste 3 balonne uit sy poot gryp en weghardloop met die beertjie ballon wat ook wegvlieg.  Wikkels is baie hartseer. Gaan hy weer sy geliefde ballon terugkry?

Die Wikkels- stories is uiters gewild in Engels en hierdie vertaling in Afrikaans sal met gretigheid ontvang word.  Mick Inkpen is een van die meesters as dit kom by prenteboeke. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir die klein kind en slaag daarin om nie net oulike karaktertjies en situasies te skep nie, maar in ‘n eenvoudige storie altyd ‘n interessante Kinkel by te werk. Kinders hou van ballonne,en kan hier tel en identifiseer met ‘n ballon uitkies .   Sy boeke is ‘n fees van kleur en Wikkels is ‘n dierbare klein varkie wat in kou hart inkruip.  Hoogs aanbeveel.

Inkpen, Mick( PROTEA, 2014)Afrkaanse vertaling deur Shané Kleyn.

Is dit slaaptyd, Wikkels Vark?

Die Engelse titel Is it bedtime Wibbly-pig het ek telkemale voorgelees aan babas en kleuters, en dit is altyd met groot genot aangehoor.  Slaaptyd ken elke kind, ook wanneer hulle nie lus het om te gaan slap nie en verskonings uitdunk om die slaaptyd uit te stel!  Dit is met blydskap date k sien die boek is nou ook in Afrikaans vertaal.

Met elke vraag van die ouer het Wikkels ‘n verskoning- hy bad nog ; hy droog himself af; hy sit op die toilet; hy lees eers sy storie klaar. Totdat hy uiteindelik in die bedkom en soete drome droom.

Hierdie is ‘n baie spesiale prenteboek.  Eenvoudige beweegllke illustrasies van die beertjie en sy manewales teen ‘n uitgestrekte wit agtergrond wat ruim  en  uitnodigend is.  Die teks is lekker groot en maak die boek uiters geskik vir voorlees of selflees. 

Inkpen, Mick(PROTEA, 2014) Afrikaans deur Shané Kleyn.

Noko en die koel katte

Die Engelse titel Noko and the Kool Kats deur Fiona Moodie is in Afrikaans vertaal deur Louise Steyn en Philip de Vos.

Sommer met die eerste oogopslag het ek opgewonde geword toe ek die boek sien. ‘n Groot duursame hardeband prenteboek met die “coolste” omslag van dansende “koel katte” met sonbrille teen ‘n oranje Afrika agtergrond wat dadellik die aandag trek.En die storie en verdere illustrasies het ook nie teleurgestel nie.

Die agt diere vriende het die heeldag mielies geplant en koel nou af langs die rivier. Boe die adjudantvoël haal ‘n stuk koerantpapier tussen die riete uit. Hulle lees dat die Koel Katte ‘n rock-konsert in die stad hou en hulle almal wens hulle kon die konsert bywoon . Dit sal soveel interessanter wees en meer pret as hier op hul klein dorpie.

Maar op pad huis toe wag daar ‘n groot verassing. Die Koel Katte se groot bus het in die sand vasgeval  en die spul is knorrig. Hulle help die spul om hul bus uit die sand te grawe maar dit neem ‘n hele dag van harde werk . Die Koel katte is verplig om nog ‘n nag hier oor te bly. Maar watter wonderlike ervaring word dit nie vir al die diere nie!

Die boek laat my regtig sprakeloos.  Hoe om in ‘n resensie reg te laat geskied aan Fiona Moodie se illustrasies wat  elke bladsy vul met kleur en besige betrokke diere  teen  ‘n agtergrond van bome en bosse wat die leser betower met die lekker gevoel van iets eg uit Afrika.   Ryk kleure van geel en oranje in die illustrasie van die Koel katte se bus; donker bome die aand van die konsert teen die oranje horison afgeteken. Elke bladsy is ‘n lees en kyk-genot.

Die boek word hoogs aanbeveel veral vir voorlees en selflees vir  3-6jariges+ Hierdie is ‘n juweel en die skryfster het haarself regtig oortref. Baie geluk met ‘n baie spesiale boek.

 

Sunday, October 19, 2014

Van Manenberg met liefde


Van Manenberg met liefde

Graffiti teen ‘n muur in Manenberg lees soos volg: “Family issie ding van die hart”.

Jay bly in n skakelhuis by Ma Koba in Manenberg. Hy het die Los$Boys “gedrop”,en hy weet Alpha ,die bendeleier, gaan  baie ontevrede wees as hy hoor van sy voorneme om in Observatory te gaan bly en aan UCT te gaan studeer met die beurs wat hy gekry het vir maatskaplike werk. Hy moet kies, maar die drang bly sterk om ‘n plek in ‘n gang-familie te hê.

In ‘n verwaarloosde Victoriaanse tweeverdiepinghuis huur hy ‘n kamer by Michelle. Hy hoor dadelik ‘n baba huil.

So begin ‘n hele nuwe avontuur vir Jay Plaatjies. Want Michelle verdwyn spoorloos en Jay word agtergelaat met ‘n baba wat versorg moet word. Sy vriendin Rasheeda probeer hom help met die versorging van die kind, maar die eienaar raai hom aan om die baba na die polisie of die welsyn te neem. Dan lees hy ‘n koerantopskrif wat vertel dat ‘n bendeoorlog dreig op die Kaapse vlakte. Hy weet Alpha en die Lo$Boys gaan betrokke wees. Hy besluit om te wag tot die baba se ouers terugkeer, maar dit gebeur nie. Waar sal die baba veilig wees? Die bendegeweld neem toe, en Alpha vra Jay om weer by hulle aan te sluit; hulle het iemand met verstand nodig in die groep.  Maar Jay  is vasbeslote om nie weer by die bende betrokke te raak nie.  Maar ten einde die baba na veiligheid te bring moet hy verby die bendes tot by Ma Koba se huis kom.

Hierdie verhaal het my beïndruk want daar is ‘n sterk gevoel van opregtheid aanwesig. Jay is as toekomstige maatskaplike werker oortuig dat hy die baba moet beskerm en selfs moet aanneem. Hierdie oortuiging spruit ook deels uit die feit dat hy self gevoel het soos ‘n weggooi kind; hy wil dit nie aan hierdie onskuldige baba doen nie. Terselfdertyd het hy ‘n mate van jojaliteit teenoor die Lo$Boys; Alpha was sy vriend en ook beskermheer. Daar is dus gedurigdeur ‘n tweestryd in Jay.

Ek dink dat die verhaal tog ‘n kykie gee in die lewe en omstandighede van gangsters, en ook hoe dit vriende raak wat emosioneel en vanwee lojaliteit betrokke is, hoewel hulle nie self wil deelneem aan bendegeweld nie. Die aanwending van die spesifieke dialek en taalgebruik werk ook, en in die geheel lees die verhaal lekker en word die spanningslyn goed gehandhaaf. Jay die mens oortuig; selfs as enige regsdenkende mens sy gedrag as uiters ongewoon sal sien en dalk ook nie as geregverdig nie.  Nogtans is Van Manenberg met liefde vir my ‘n boek met waarde  en word hier ‘n mooi  lewensles geleer.

Mike Michaels( PROTEA, 2014)  Oorspronklik gepubliseer in 1998 as Lost boys. Hierdie publikasie is in Afrikaaans verwerk deur Willem van der Walt en Mike Oberholzer.

 

  

Thursday, October 16, 2014

Nog 'n lekker Nina storie!


 Nina en die funky eksperiment

Nina se pa skryf ‘n storie oor die nuwe koeldrank-fabriek op die dorp en Nina besoek die fabriek saam met haar pa. Die Professor daar is egter baie onbeskof en hulle word omtrent weggejaag. Sy neem egter ongemerk die deur se sleutel saam. Sy en haar vriendin Jes is alweer in die solder en Nina sit die pet op wat haar op buitengewone reise neem- hierdie keer land sy op ‘n seun se kop en sien sy gesig is oortrek met puisies. Sy is toegespits op die atletiekbyeenkoms en wil aan die hoogspring item deelneem. By die skool is daar ‘n nuwe meisie, Mirkia,.en die spring sommer baie hoër as die ander meisies.   Haar boetie het ‘n padda genaamd Brommels in die parkie opgetel,en met die oefening drink Jessie uit die verkeerde koeldrank-bottel en spring toe ook ewe maklik oor die dwarslat! Daar is defnitief iets in die koeldrank wat Mirkia drink. Hulle let ook op dat sy gedurig pleisters op haar gesig het wat goeters toeplak. D.m.v. die pet in die solder besoek sy die fabriek en sien hoe die professor ‘n paar druppels vloeistof by die koeldrank mengsel gooi.Sso begin hulle nuwe avontuur ontvou; en Nina se lesers sal dit geniet om te lees hoe sy die Professor uitoorlê, en selfs daarin slaag om ‘n funky eksperiment te doen met suurlemoene- ‘n supa doepa borrelkoeldrank; en gelukkig ook ‘n koeldrank sonder enige nadelige effekte! 

Nina en die wacky hare was die eerste boek in die reeks ( Wenner van ‘n ATKV-kinderboektoekenning), ‘n boek wat ook op die kortlys was vir die MER prys vir geillustreerde kinderboeke in 2013.

Elizbe van der Colff het ‘n fyn aanvoeling vir die verbeeldingswêreld van jong lesers; sy skep geloofbare karakters wat optree en reageer soos tipiese jong nuuskierige avontuurlustige kinders wat hul omgewing ondersoek en in die skool situasies betrokke is en n verskil probeer maak deur self te presteer, of bose elemente wat nadelig kan impak op die skoolgroep, te ontmasker.  Heerlike groot druk; Chris Venter het weereens bewys dat hy  die skrywer se karakters verstaan en oortuigend kan teken.  Hoogs aanbeveel vir skool, biblioteek en tuis versamelings. 

Van der Colff, Elizbé ( Tafelberg, 2014) Illustrasies deur Chris Venter

 

 

  

 

 

'n Jeugroman van gehalte


  Eggo’s in die Skimberge

Dit is die somervakansie vir Gansdal se graadvyf leerders. ‘n Vakansie wat doodgewoon begin vir Mattie Moolman en haar vriend Henk Velder- beide het min vooruitsigte behalwe tuisbly en vir Henk werk by sy stiefouers se plaas. Maar Mattie is ‘n dromer; en wanneer sy aand vir aand die vreemde sterretjies vanuit haar eikeboom bokant die Skimberge en rafyn waarin die rivier verdwyn sien, skryf sy ‘n briefie aan iemand; en vra of die iemand sal omgee as sy en Henk kom kyk wat dit is.

Hulle vertrek op haar oupa se vlot ; maar die vlot stort by ‘n waterval af en in die rafyn begin hierdie heerlike fantasie avontuur.    Die leser word saamgevoer in die lekkerste fantasie wereld van elwe in die  koningkryk van Loherin  waar die koningin Ellerin nog altyd treur oor haar twee kinders wat jare gelede verdwyn het. Die twee kinders uit die mensewererld word genooi om ‘n paar dae hier te vertoef, en saam met die elwe probeer hulle die twee kinders opspoor.

Die leser word meegevoer in ‘n sprokieswereld met die pragtigste beskywings van diere en plantegroei; van hekse op besems met towerkrag; van nare towenaars en armbande met maansteentjies wat seine kan optel; van reuse aasvoels soos Dizzero en Dwarrel; van kristalballe wat geheime vertel; van skrikwekkende Middeleeuse kastele en baie geheime.

Hierdie is ‘n belangrike boek deurdat ons hier vir die eerste keer in jare ‘n geloofbare fantasie/werklikheids verhaal kry vir 10 tot 12 jariges met  269 bladsye van lekkerlees materiaal.  ‘n Uitstekende balans word gehou tussen gewone alledaagse gebeure en mense,  teenoor die interessante fantasie wereld van die elwe. In die geheel voldoen hierdie verhaal aan al die criteria wat ‘n goeie kinderboek moet he: interessante karakters, ‘n betowerende milieu; ‘n boeiende plot en verhaal struktuur; genoeg opwinding en intrige en verassend ook ‘n heel menslike afsluiting vol menslikheid en deernis.

Die boek word hoogs aanbeveel vir skole, biblioteke en tuisversamelings.  ‘n Groot dankie aan die skrywer vir ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaanse jeuglektuur.      

Kobie Kruger( Tafelberg, 2014)

 

 

Lotta se lewe- bendes, swape en skape

Na die leser se eerste bekendmaking met Lotta in die boek Konyne by dosyne , is hier die geleentheid om nog meer van haar avonture te geniet.  Sy vermaak ons weer in dagboek formaat en vertel van Hekel die papegaai-koketiel wat haar wakker skree en nog vir drie weke haar gaan irriteer.Sy is nog altyd bevrees om haar blokfluit te speel. Berenice begin ‘n Meisiebende,  die Glamour girls, en Lotta stig toe dadelik haar eie bende- Die Kwaai konyne. Omdat net sy en Chantelle daaraan behoort, nooi sy toe maar Paul om ook ‘n lid te wees.   Lotta noem Berenice se bende die Skaapkoppe. Chantelle is bang vir Juffrou Knacker en die wiskunde toets, en draai stokkies. Lotta skryf toe maar self die brief en sê sy het pes en kon nie skooltoe gaan nie. Hulle hou hulle ook besig om die ander bende af te loer.

Hulle word na Berenice se partytjie genooi en slaan tent op daar. Daar is toe ‘n kompetisie waar die person ‘n mini MP3 speler kan wen! Die Rockers is ‘n seunsbende met die sterkste ouens in die klas. Die partytjie is ‘n tipiese kinder-geleentheid:  ‘n verjaarsdagkoeke; speletjies en vermaak en die nag slaap almal oor in hul onderskeie tente. Haar deelname aan die skool orkes is ‘n fiasco:” note het vir my nog altyd gelyk asof ‘n vlieg oral op ‘n stuk papier gebollie het”.

Sportdag by die skool is Berenice weer in bevel. Lotta hoop net dat Berenice tog nie die vergooi kompetisie wen nieen ‘n goue sertifikaat verower nie!  Die vier Rockers begrawe arme Paul in die verspring-sandput, en die twee meisies neem wraak deur hulle met die tennisnet vas te bind. Nou is Paul nie meer kwaad vir hulle nie en weer vriende. Hekel die papegaai word gehaal en Lotta is nogal hartseer hieroor. Die paar grys vere wat van hom agtergebly het, het sy in haar klein skatkis gebere.   

Lekker leesstof vir jonger lesers. Die illustrasies van Daniela Kohl  vul die teks so lekker aan; dit maak die boek nog lekkerder om te lees.      

Pantermuller, Alice ( H&R, 2014)

Jacobs, Jaco: Koebaai, Gorilla ( LAPA, 2014) Illustrasies deur Stephen Wallace 

Hein Venter sal enigeiets doen vir sy Enrico vriend se heerlike toebroodjies, selfs ‘n asblik op sy kop dra en belowe om vir ‘n hele week lank nie sy tande te borsel nie! Die daaglikse toebroodjies dra net daartoe by om sy asem nog walgliker te maak. Dit is so erg dat sy grootouers hom nie wil soen nie, en Lindiwe werklik flou word op die skoolbus langs hom. Maar toe ‘n gorilla ontsnap uit sy hok in die dieretuin en Enrico se lewe bedreig word, kan ‘n slegte asem dalk van groot hulp wees!

Daar is net geen einde aan Jaco Jacobs se vrugbare verbeelding nie!  ‘n Snaakse storie; en een wat jou gou weer tande laat borsel!

In die land van Pamperlang


 

“In die land van Pamperlang maak gogga nooit vir baba bang; in die land van Wieliewalie sit ‘n apie op ‘n balie; in die land van Dikkedensie val Piet Pollewiet plat op sy pensie. In die land van Koekmakrank loop Klossie Jakkals kamma mank. In die land van Ritserympies fluister almal woordgeheimpies; in dieland van Appelliefie is jy die liefste hartediefie”“Stories uit die skat van wereldfolklore is ‘n erfenis so oud soos die berge; tog vernuwe hulle hulself telkens na gelang van die oorverteller”. Hier word onder andere klassieke gunstelinge van vroeere geslagte by herhaling in ‘n nuwe vorm oorvertel.

Met hierdie prag bundel  het Linda Rode weereens bewys dat sy die doyenne van kinderliteratuur is.

Met herhalimg, rym en klankspel  , die fynste aanvoeling vir taal , woorde wat spreek tot die kind , voer sy die leser vanuit ons alledaagse werklikheid na ‘n fantasiewereld waar Trommeltjie Rollerommetje, Diedeldonsie, ‘n liewe Kokkenennetjie, ‘n lappieskombers van drome en ‘n jakkals wat gaan trou en ‘n ploemserige , plomserige waterding  jou wegvoer na die mooiste , lekkerste leeservaring ooit.  Haar woorde en beskywings sing en dans en haar fyn humorsin maak die algehele ervaring een van die grootste lekkerte ooit!  Hierdie is soos sy tereg skryf:” ‘n storie sonder einde. ‘n storie wat aan-en aan-en aanhou, so lank as wat mense na stories luister.  Die leeservaring is hier so lekker en vervullend dat ‘n mens baie traag die einde bereik. Gelukkig is daar die volgende keer van weer lees en weer geniet.

Die illustreerder Johann Strauss lewer hier van die mooiste en fynste werk wat die beoordelaars nog teegekom het. Kleurvolle volblad illustrasies met vrolike vriendelike karaktertjies wat sing en dans getuig van ‘n kinder-vriendelike gemoed en ‘n fyn aanvoeling vir dit wat die pragtige teks sal aanvul en verdere dimensie gee. Se Linda Rode tereg: “ Sy besonderse ruimtelike persepsie en onnutsige aandag aan detail is ‘n bonus vir sowel die kinderkyker as  die volwasse voorleser.”

‘n Keurig versorgde boek en ‘n waardige wenner van die MER prys vir geillustreerde kinderboeke.
Geskryf deur Linda Rode met illustrasies deur Johann Strauss

Voorleesstories


Pensie spoeg vuur en ander draakstories ( H&R, 2014 Afrikaans deur Linda Rode. Illustrasies deur Stefanie Dahle

Watter kind hou nie van draak-stories nie?!  Veral wanneer ‘n meester illustreerder die leser bekend stel aan die oulikste drakies ooit! Hierdie pragtige voorleesboekie bevat 12 stories ideaal vir voorlees saans met slaaptyd.

In die Grotspook word drie klein kabouters gehelp deur ‘n draak om die indringer in hul grot te ontmasker- nogal ‘n krimpvarkie.    Mokkel die draak wil weer tog te graag ‘n kostuum vir die fees hê; en met Fliertjie se hulp word hy die allermooiste fantastiese fee.   In Towerverjaarsdag loop die drie seuns se wens om regte drakekostuums te kry heel skeef, maar gelukkig is daar weer ‘n geleentheid om die drake terug te neem Drakeberg toe.   Lewinia die draak is verlief op Ronaldo en sy wil so graag saam met hom rondvlieg. Dalk kan die ridder haar hiermee help.   ‘n Kasteelfees loop amper op ‘n trandedal uit, totdat die drake wat so vraatsig die feeesgangers se kos opgeeet het, self inspring met eetgoed.   Loelie die draak kan netnie slaap met volmaan nie.   ‘n Draak help Lara om haar lammetjie terug te vind en  om hulle teen die wolf te beskerm.   ‘n Koning sluit homself per ongeluk in die kasteel-toring toe, en Mommel die draak verwyder die raserige ridders sodat die towerfee hom kan bevry.   In die drakieskool leer Frummel tog te lekker om te tel en letters te identifiseer.   Pensie slag netnie daarin om self vuur te spoeg nie. Dit is iets wat elke draak moet kan doen.  Gelukkig maak haar boeties haar so kwaad dat sy dit regkry om vuur spoeg.  Die drakies Flappies en Plots wil so graag op die oorkantste oewer van die rivier speel, maar hoe om daar te kom?   Arme Joris die draak trap per ongeluk die elwe se blommetjietent flenters.  Hulle is oortuig hy is ‘n nare booswig todat hulle ‘n aangename verassing kry!    

Linda Rode bewys weereens met haar fyn vertaling dat sy ‘n meester is met teks interpretasies. Sy skryf met oortuiging en getuig van ‘n ryk verbeelding in haar  sensitiewe verbeeldingryke teks verwerking. Die name wat vir die drake en ander karakters uitgedink word is net ongelooflik! Bolke, Olke en Kabous; Mokkel, Fliertjie, Wiekie, Frannie, Lewinia, Loelie, Mommel, Frummel, Pensie Flappie en Plots-  die name sing heerlik saam met die lewendige teks. Elke verhaaltjie loop oorl van humor en  verassings, en terselfdertyd lê daar mooi lewenslesse verskuil in die ontplooiing van die storie.  Temas van vriendskap, hulpvaardigheid,  emosies wat wissel van verliefdheid tot woede; met elke avontuur gebeur daar iets interessants en leer ons iets.

Natuurlik is die besondere bydrae van die illustreerder hier duidelik ‘n groot aanwins vir die werk as geheel. Met  die aantreklike omslag word jy dadelik lus om die boekie oop te maak en uit te vind wat die karaktertjies doen; sagte delikate waterverf illustrasies getuig van ‘n fyn waarnemingsvermoë en  ‘n sterk sensitiewe kindervriendelike verbeelding wat die leser absoluut betower en bekoor  deur die vrolike onnutsige detail en  die warmte wat uit elke illustrasie straal.  Hierdie is uitstaande werk wat getuig van ‘n fyn gees.

Lita in Towerland en ander towerponie-stories( H&R, 2014) Uit Duits in Afrikaans vertaal deur Linda Rode; illustrasies deur Stefanie Dahle.

In hierdie versameling is  ponies die hoofkarakters. En hierdie is nie sommer gewone ponies nie; gewoonlik is hulle towerponies of word verander na ponies met towerkrag.

Leo die lekkerbek ponie het nog nooit seegras geeet nie. Maar hoe moet ‘n ponie nou onder die water  duik?  ‘n Klein meerminnetjie kom tot sy redding.   Wanneer Lita ‘n mallemeule ponie begeer, kry sy baie meer as waarop sy gereken het. ‘n Seepbel-ponie land tot sy groot vreugde op die maan en nou speel hy lekker wegkruipertjie saam met die maanmannetjie ;’n ander ponie motiveer die eienaar om nuwe avonture aan te pak; twee towerponies help ridders om Koning Gierig se prutteldraak te ontmasker; ‘n towerponie help Nina om briewe na haar twee vriende te neem; Prinses Wanda moet gered word uit die toring waar die bose towenaar haar geplaas het en net die towerponie kan help; Miekie is ‘n sirkusponie wat met sy verassinde toertjie die Krokodil Karel help om die sirkus eienaar se dogter te vra om te trou; Pollie die ponie word getoor en kry ‘n verkleurmanntjie-vel van ou Grompot die towenaar. Sy verlang na Piet die kombuishulp van die towenaar. Tot haar vreugde word ook hy onsigbaar gemaak en nou is die twee vriende herenig. Liesel verlang om ‘n eie ponie te hê. Haar ouma gee haar ‘n hangertjie met ‘n towerponie . So word haar wens vervul as ‘n nuwe buurvrou intrek met twee kuifkopponies Lieseltjie en Lottie. Met ‘n toorkompetisie deel Tangel die eenhoring en die kabouter hul vier punte elk sodat hul gesamentlik sal kwalifiseer om in die towersirkus op te tree. Hanna is verras toe sy sien dat haar gunsteling ponie Grietjie elegant vertoon en die hele perdestal feestelik versier is.Sy dink dit is towery, en dat Fritz daarvoor verantwoordelik is, maar later vind sy uit wat regtig aan die gang is.

Soos in die vorige boek kwyt Linda Rode haar meesterlik van haar taak , en die illustrasies is visueel ‘n vreugde en klim diep in jou hart in.
Alie Aarbeifee en ander feetjiestories uit die aarbeituin( H&R, 2014) Afrikaanse vertaling uit Duits deur Linda Rode; illustrasies deur Stefanie Dahle

Alie Aarbeifee se rokkie word vasgelê deur Klaks die kakkerlak, want hy weet almal is lief vir Alie maar nie vir hom nie. Die feekoningin maak egter ‘n plan om Klaks te help. Slikkie die slak is oortuig ruimtewesens land in hul tuin. Sy maak ‘n plan om hom gelukkig te hou. Piepsie spitsmuis nooi Ali en Bibo die skoenlapper na ‘n middagtee, maar Piepsie het verkoue en is misrabel. Gedeelde swaaarkry is net halwe swaarkry vind die klomp vriende uit. Don Karolus, die grassprinkaan is verlief op Karlientjie en hy speel vir haar ‘n liefdeslied. Alie roep die hulp van die gemmerkat in om hom goed skrik te maak sodat hy kan ophou sing en viool speel. Alie val af in ‘n konyngat en ‘n draak vertel vir haar ‘n storie sodat sy nie bang is gedurende die nag nie. Maar die arme draak het ‘n vuurrooi maag en rooi kamtande en almal is bang vir hom. Eintlik is hy ‘n salamander en Alie gebruik ‘n towerspreuk omhom minder skrikwekkend te laat lyk. Alie ontdek drie geel balletjies met bont kolle onder ‘n blaar en toe hulle uitbroei is dit ruspes wat haar aarbeie opvreet. Zoets die krimpvarkie slag nie daarin om sy winter blaretentjie te bou nie. Eintlik is hy ongelukkig omdat hy met sy beste vriend baklei het . Bella die klokkies-elf sing graag ‘n slaapliedjie. Alie roep haar hulp in want Wammie wil nie wakker word nie. Hulle vind uit hoekom niemand wakker wil word nie, want die winterkoninkie is besig om haar slaapliedjie ook bedags te sing! Alie is op pad na die oesfees van die feë . Sy tel ‘n muiskutteltjie langs die pad op . Daar vind sy uit dat daar ‘nkompetisie is van elkeen se towerspel. Sy word egter beloon oor haar pragtige aarbeie en die bemesting wat sy gebruik.

Alie se aarbeie verdwyn uit haar tuin. Hulle is oortuig dit is aarbeispoke, maar ontdek dit is ‘n snuitkewer war die sondebok is. Dalk moet hulle die snuitkewer skrik maak ? Alie het per ongeluk Snuffels die muis rooi getoor. Nou is hy baie lief vir himself en baie ydel. Maar hy tuimel uit die boom waar hy himself sit en bewonder het, en eekhoring red hom. Hy dink nou dit is beter dat Alie hom weer terugtoor na ‘n muisgrys muis, maar met ‘n fraai aarbeirooi vlek op sy pensie. Alie besluit om ‘n aarbeifees te hou. Sy berei die heerlikste eetgoed voor, maar drie beertjies kom en gaps alles wat sy maak. Gelukkig voel die bere sleg en bring hul eie eetgoed na die fees.

Alie is die allerliefste fee en met haar rooi aarbei-rokkie steel sy jou hart. Terselfdertyd is sy hardwerkend, altyd besorg oor haar diere en gogga maats se welstand, en volgens die Feëkoningin ‘n innoverende ster. Sy het die mooiste rooi krulhare, vet pienk wangetjies en ‘n wipneus en sal elke lesertjie se harte steel. Sy word vergesel van ‘n snaakse slak, Bibo die skoenlapper, Fletter die vlermuis; gloeiwurmpies, ‘n muis met ‘n druppende rooi neus; ‘n grassprinkaan met ‘n blou viool; ‘n salamander wat lyk soos ‘n waterdraak; die oulikste drie ruspes; Zoets die krimpvarkie; klein kewertjies wat pootjies in die lug lê en slaap; ‘n pragtige feekoningin in ‘n oranje rok; en die mooiste rooi aarbeie in die hele wêreld!

Hierdie drie boeke is ideaal vir voorlees en word sterk aanbeveel vir tuis-en biblioteekversamelings.  ‘n Fees vir die oog en vir lekker lees by uitstek.