Pensie spoeg vuur en
ander draakstories ( H&R, 2014 Afrikaans deur Linda Rode.
Illustrasies deur Stefanie Dahle
Watter kind
hou nie van draak-stories nie?! Veral
wanneer ‘n meester illustreerder die leser bekend stel aan die oulikste drakies
ooit! Hierdie pragtige voorleesboekie bevat 12 stories ideaal vir voorlees
saans met slaaptyd.
In die
Grotspook word drie klein kabouters gehelp deur ‘n draak om die indringer in
hul grot te ontmasker- nogal ‘n krimpvarkie. Mokkel die draak wil weer tog te graag ‘n
kostuum vir die fees hê; en met Fliertjie se hulp word hy die allermooiste
fantastiese fee. In Towerverjaarsdag loop
die drie seuns se wens om regte drakekostuums te kry heel skeef, maar gelukkig
is daar weer ‘n geleentheid om die drake terug te neem Drakeberg toe. Lewinia die draak is verlief op Ronaldo en sy
wil so graag saam met hom rondvlieg. Dalk kan die ridder haar hiermee help. ‘n
Kasteelfees loop amper op ‘n trandedal uit, totdat die drake wat so vraatsig die
feeesgangers se kos opgeeet het, self inspring met eetgoed. Loelie
die draak kan netnie slaap met volmaan nie. ‘n Draak help Lara om haar lammetjie terug te
vind en om hulle teen die wolf te
beskerm. ‘n Koning sluit homself per ongeluk in die
kasteel-toring toe, en Mommel die draak verwyder die raserige ridders sodat die
towerfee hom kan bevry. In die
drakieskool leer Frummel tog te lekker om te tel en letters te identifiseer. Pensie
slag netnie daarin om self vuur te spoeg nie. Dit is iets wat elke draak moet
kan doen. Gelukkig maak haar boeties
haar so kwaad dat sy dit regkry om vuur spoeg.
Die drakies Flappies en Plots wil so graag op die oorkantste oewer van
die rivier speel, maar hoe om daar te kom?
Arme Joris die draak trap per
ongeluk die elwe se blommetjietent flenters.
Hulle is oortuig hy is ‘n nare booswig todat hulle ‘n aangename
verassing kry!
Linda Rode
bewys weereens met haar fyn vertaling dat sy ‘n meester is met teks
interpretasies. Sy skryf met oortuiging en getuig van ‘n ryk verbeelding in haar
sensitiewe verbeeldingryke teks
verwerking. Die name wat vir die drake en ander karakters uitgedink word is net
ongelooflik! Bolke, Olke en Kabous; Mokkel, Fliertjie, Wiekie, Frannie,
Lewinia, Loelie, Mommel, Frummel, Pensie Flappie en Plots- die name sing heerlik saam met die lewendige
teks. Elke verhaaltjie loop oorl van humor en verassings, en terselfdertyd lê daar mooi
lewenslesse verskuil in die ontplooiing van die storie. Temas van vriendskap, hulpvaardigheid, emosies wat wissel van verliefdheid tot woede;
met elke avontuur gebeur daar iets interessants en leer ons iets.
Natuurlik is
die besondere bydrae van die illustreerder hier duidelik ‘n groot aanwins vir
die werk as geheel. Met die aantreklike
omslag word jy dadelik lus om die boekie oop te maak en uit te vind wat die
karaktertjies doen; sagte delikate waterverf illustrasies getuig van ‘n fyn
waarnemingsvermoë en ‘n sterk sensitiewe
kindervriendelike verbeelding wat die leser absoluut betower en bekoor deur die vrolike onnutsige detail en die warmte wat uit elke illustrasie straal. Hierdie is uitstaande werk wat getuig van ‘n
fyn gees.
Lita in Towerland en ander
towerponie-stories( H&R, 2014) Uit Duits in Afrikaans vertaal deur Linda
Rode; illustrasies deur Stefanie Dahle.
In hierdie
versameling is ponies die hoofkarakters.
En hierdie is nie sommer gewone ponies nie; gewoonlik is hulle towerponies of
word verander na ponies met towerkrag.
Leo die
lekkerbek ponie het nog nooit seegras geeet nie. Maar hoe moet ‘n ponie nou
onder die water duik? ‘n Klein meerminnetjie kom tot sy redding. Wanneer Lita ‘n mallemeule ponie begeer, kry
sy baie meer as waarop sy gereken het. ‘n Seepbel-ponie land tot sy groot
vreugde op die maan en nou speel hy lekker wegkruipertjie saam met die
maanmannetjie ;’n ander ponie motiveer die eienaar om nuwe avonture aan te pak;
twee towerponies help ridders om Koning Gierig se prutteldraak te ontmasker; ‘n
towerponie help Nina om briewe na haar twee vriende te neem; Prinses Wanda moet
gered word uit die toring waar die bose towenaar haar geplaas het en net die
towerponie kan help; Miekie is ‘n sirkusponie wat met sy verassinde toertjie
die Krokodil Karel help om die sirkus eienaar se dogter te vra om te trou;
Pollie die ponie word getoor en kry ‘n verkleurmanntjie-vel van ou Grompot die
towenaar. Sy verlang na Piet die kombuishulp van die towenaar. Tot haar vreugde
word ook hy onsigbaar gemaak en nou is die twee vriende herenig. Liesel verlang
om ‘n eie ponie te hê. Haar ouma gee haar ‘n hangertjie met ‘n towerponie . So
word haar wens vervul as ‘n nuwe buurvrou intrek met twee kuifkopponies
Lieseltjie en Lottie. Met ‘n toorkompetisie deel Tangel die eenhoring en die
kabouter hul vier punte elk sodat hul gesamentlik sal kwalifiseer om in die towersirkus
op te tree. Hanna is verras toe sy sien dat haar gunsteling ponie Grietjie
elegant vertoon en die hele perdestal feestelik versier is.Sy dink dit is
towery, en dat Fritz daarvoor verantwoordelik is, maar later vind sy uit wat
regtig aan die gang is.
Soos in die
vorige boek kwyt Linda Rode haar meesterlik van haar taak , en die illustrasies
is visueel ‘n vreugde en klim diep in jou hart in.
Alie Aarbeifee en ander feetjiestories
uit die aarbeituin( H&R, 2014) Afrikaanse vertaling uit Duits deur Linda
Rode; illustrasies deur Stefanie Dahle
Alie
Aarbeifee se rokkie word vasgelê deur Klaks die kakkerlak, want hy weet almal
is lief vir Alie maar nie vir hom nie. Die feekoningin maak egter ‘n plan om
Klaks te help. Slikkie die slak is oortuig ruimtewesens land in hul tuin. Sy maak
‘n plan om hom gelukkig te hou. Piepsie spitsmuis nooi Ali en Bibo die
skoenlapper na ‘n middagtee, maar Piepsie het verkoue en is misrabel. Gedeelde
swaaarkry is net halwe swaarkry vind die klomp vriende uit. Don Karolus, die
grassprinkaan is verlief op Karlientjie en hy speel vir haar ‘n liefdeslied.
Alie roep die hulp van die gemmerkat in om hom goed skrik te maak sodat hy kan
ophou sing en viool speel. Alie val af in ‘n konyngat en ‘n draak vertel vir
haar ‘n storie sodat sy nie bang is gedurende die nag nie. Maar die arme draak
het ‘n vuurrooi maag en rooi kamtande en almal is bang vir hom. Eintlik is hy
‘n salamander en Alie gebruik ‘n towerspreuk omhom minder skrikwekkend te laat
lyk. Alie ontdek drie geel balletjies met bont kolle onder ‘n blaar en toe
hulle uitbroei is dit ruspes wat haar aarbeie opvreet. Zoets die krimpvarkie
slag nie daarin om sy winter blaretentjie te bou nie. Eintlik is hy ongelukkig
omdat hy met sy beste vriend baklei het . Bella die klokkies-elf sing graag ‘n
slaapliedjie. Alie roep haar hulp in want Wammie wil nie wakker word nie. Hulle
vind uit hoekom niemand wakker wil word nie, want die winterkoninkie is besig
om haar slaapliedjie ook bedags te sing! Alie is op pad na die oesfees van die
feë . Sy tel ‘n muiskutteltjie langs die pad op . Daar vind sy uit dat daar
‘nkompetisie is van elkeen se towerspel. Sy word egter beloon oor haar pragtige
aarbeie en die bemesting wat sy gebruik.
Alie se
aarbeie verdwyn uit haar tuin. Hulle is oortuig dit is aarbeispoke, maar ontdek
dit is ‘n snuitkewer war die sondebok is. Dalk moet hulle die snuitkewer skrik
maak ? Alie het per ongeluk Snuffels die muis rooi getoor. Nou is hy baie lief
vir himself en baie ydel. Maar hy tuimel uit die boom waar hy himself sit en
bewonder het, en eekhoring red hom. Hy dink nou dit is beter dat Alie hom weer
terugtoor na ‘n muisgrys muis, maar met ‘n fraai aarbeirooi vlek op sy pensie.
Alie besluit om ‘n aarbeifees te hou. Sy berei die heerlikste eetgoed voor,
maar drie beertjies kom en gaps alles wat sy maak. Gelukkig voel die bere sleg
en bring hul eie eetgoed na die fees.
Alie is die
allerliefste fee en met haar rooi aarbei-rokkie steel sy jou hart.
Terselfdertyd is sy hardwerkend, altyd besorg oor haar diere en gogga maats se
welstand, en volgens die Feëkoningin ‘n innoverende ster. Sy het die mooiste
rooi krulhare, vet pienk wangetjies en ‘n wipneus en sal elke lesertjie se
harte steel. Sy word vergesel van ‘n snaakse slak, Bibo die skoenlapper,
Fletter die vlermuis; gloeiwurmpies, ‘n muis met ‘n druppende rooi neus; ‘n grassprinkaan
met ‘n blou viool; ‘n salamander wat lyk soos ‘n waterdraak; die oulikste drie
ruspes; Zoets die krimpvarkie; klein kewertjies wat pootjies in die lug lê en
slaap; ‘n pragtige feekoningin in ‘n oranje rok; en die mooiste rooi aarbeie in
die hele wêreld!
Hierdie drie
boeke is ideaal vir voorlees en word sterk aanbeveel vir tuis-en
biblioteekversamelings. ‘n Fees vir die
oog en vir lekker lees by uitstek.
No comments:
Post a Comment