Wie is Koning?- Tien magiese stories
uit Afrika , deur Beverley Naidoo en Piet Grobler( Jacana, 2015). In Afrikaans vertaal
deur Alet Kruger.
In hierdie
10 stories kom diere en mense voor verskillende uitdagings
te staan, en altyd is daar ‘n les om te leer. Leeu word op sy plek gesit deur
olifant as hy dink hy is koning van die diere; die twee vriende os en donkie
moet hard vir ‘n boer werk; skilpad en sy banjo red die ander diere wat deur
luiperd misbruik word; apie help vir vaalboskat om van sy vlooie ontslae te
raak, maar eindig self in ‘n boom nadat hy die kat se stert aan ‘n boom
vasgebind het; seekoei en vuur se vriendskap eindig rampspoedig as seekoei al
sy hare verloor toe hy nie vuur se hitte kon ontsnap nie; olifant se kort slurpie word gerek in ‘n
toutrek kompetisie met krokodil; ‘n eentand olifant kom tot sy einde as hy ‘n
vuur in sy maag kry ; hiëna verloor sy respek vir hoenderhaan toe hy ontdek hy
het nie regtig ‘n vuur in sy kam nie en nou moet hoenderhaan kraai vir sy kos.
Die Meulenaar
se slim dogter help haar pa om die sultan se toetse te slaag en word so sy
bruid, en ‘n vrou gebruik haar muiskind om al die huiswerk te doen.
Daar bestaan
reeds baie versamelings diere-legendes en stories, maar sekerlik kan daar nooit
genoeg wees nie! Hierdie 10 stories is geskikte voorlees-materiaal , en Piet
Grobler sorg met sy vrolike illustrasies dat die regte atmosfeer geskep word. Diere en voëls gee hom die geleentheid om
uiting te gee aan sy ryk verbeelding, en weereens bewys Piet dat hy ‘n meester
is.
Sy sterk
humorsin kry ook vrye teuels- ‘n donkie het ‘n klein voëltjie op sy rug, die
kleurvolle blomme op kameelperd se rug is vol beweging; klein goggatjies en
voëltjies verskyn oral. Skilpad met sy banjo lyk tog te vrolik; en luiperd kan
nie kwaaier lyk met sy lang naels en skerp tande nie. Die diere lyk slinks as
hulle moet;, en blou apie is blouer as blou! Seekoei met die stoppeltjies oral
op sy lyf waar daar voorheen hare was het nog ‘n brandende tak op sy voorkop;
-die brandende vuur lyk skrikwekkend in diep oranje gele en bruine .Krokodil
steek amper nie by die water uit as olifant niksvermoedend buk om water te
drink nie. Die uiteindelike toutrekkery
is ‘n skets met olifant se ogie wat baie verskrik lyk. Unanana is liefdevol
geskets waar sy die kinders versorg, en ou een-oog olifant lyk verskriklik as
sy kop begin brand van die vuur binne-in hom. Hiëna het net die regte
nadenkende kyk op sy gesig as hy die niksvermoedende hoenderhaan konfronteer.
Die klein muisie wat so hard werk met die besem lyk regtig of hy verbete klou
aan die lang dun stok. Die skutbladsye is kleurvol en vol detail.
‘n
Kleurvolle en oorspronklike aanbieding. Piet Grobler gebruik deurgaans sterker
helder kleure en daar is ‘n oortuigende Afrika gevoel met die warmte van ‘n
Afrika son en sy diere. Mooi aanbieding.