Bambaduze, deur Derick van der Walt( Tafelberg, 2015)
En toe doen hy dit weer! Die skrywer van drie vorige
jeugromans- Lien se lankstaanskoene,
Willem Poprok en Hoopvol met bekronings soos Goue en Silwer Sanlam-pryse, die
MER –prys vir Jeuglektuur , die Scheepersprys vir Jeuglektuur en insluiting op
IBBY se ererol het weereens bewys dat hy
‘n storie kán vertel; dat hy ‘n fyn aanvoeling en begrip het vir
menseverhoudings en veral die emosionele aspekte van ‘n tiener se lewe
oortuigend kan analiseer en verwoord.
Ek het die boek met een sitting deurgelees, en was tot aan
die einde betrokke en gewilliglik saamgeneem
op ‘n emosioneel vaartbelynde reis.
Jurie steel karre, nie om regtig te steel nie, maar vir die
gevoel van bevryding wat hy geniet wanneer hy die motor vir ‘n rukkie bestuur
en dan weer terugbesorg na ‘n nabye staanplek.” Dit was op ‘n koelerige
Saterdagoggend in September dat hy sy eerste kar gesteel het”. Hy beskryf hulle
huis soos volg:
“Die huis is ‘n eensame plek, al is die tuin mooi en die
meubels duur..Dalk is dit omdat dit net ‘n huis met ‘n pappie is, sonder ‘n
mammie of ‘n hondjie of ‘n katjie. Net die enkele debatable point of
interest-hy- wat gereeld met ‘n motorfiets iewers heen vlug.
Sy ma het vir ses maande padgegee Engeland toe na sy ouer
broer selfmoord gepleeg het. Hy neem haar kwalik dat sy hulle twee so alleen
agtergelaat het; hy en sy pa sukkel om te kommunikeer; hy verwaarloos sy
skoolwerk; begin swem vir die skool maar hou gou weer op; sy vriende voel
verwaarloos, en sy isolasie en afsondering neem net toe. Selfs e-posse aan sy
ma delete hy en word nooit afgestuur nie. Hierin word van sy emosies so mooi
uitgebeeld. Sy word o.a.aangespreek as Mammie Mooi, Moeder, Maanskyn, Moekie en
Ma. Hy sluit af met name soos Jou liefhebbende
seun Jurie; Boetie; Jou eie Ryk Neethling Viljoen en Jurie( die oorblywende).
Maar dan misluk sy poging om die meisie Nadi se Opel te steel
toe hy ontdek dat sy nog in die motor
is. Sy verloor haar beursie in haar haas om weg te kom, en hy probeer haar
opspoor. So begin ‘n vriendskap waaruit beide
baat vind- sy kan gesels oor haar ma se siekte en die ryk mense in wie se
agterplaas hulle bly; hy is getroos deur haar aanvaarding van hom en sy
probleem- sy moet tog net hom “Bambaduze”- sy gebrekkige interpretasie van die
Xhosa woord- hom vashou en so vertroos.
Kort na hul ontmoeting vra sy aan hom: “Is jy daai bedorwe seuntjie wat alles
het en nou steel jy karre omdat niks anders jou meer ‘n high gee nie?”
Maar die risiko wat hy neem met die motors moet een of ander
tyd verkeerd loop. Hy word gevang, en dan volg ‘n periode van skorsing uit die skool maar ‘n geleentheid om
met ‘n sielkundige te gesels en op sy studies te konsentreer. Hierdie word ‘n
suiwerings-proses waardeur die verhoudings tussen die verskillende karakters
verbeter en baie issues opgeklaar word.
Hiermee het ek slegs ‘n oorsigtelike bo-langse kykie in ‘n interessante verhaal
gegee. Wat maak die boek dan so goed? Kortliks:
Vanaf die treffende inleidende kort paragraaf besef jy hierdie
gaan ‘n juweel van ‘n jeugboek wees!
Jurie is ‘n werklike karakter en jy word toegelaat om hom behoorlik
te leer ken.Dit gebeur in ‘n teks deurtrek met fyn waarneming; treffende
dialoog; verassende insidente ; goed gebalanseerde karakterisering en interaksie
tussen die karakters wat deurgaans oortuig en met groot gemak en ‘n juiste
aanslag verhaal word. Jurie se e-posse aan sy ma sluit hoofstukke af en tref
telkens- jy weet hoekom hy so kommunikeer; jy het begrip vir sy worsteling en
woede. Sy pa en sy vriende is geloofbare karakters; selfs die huisbediende Hope
is ‘n gerustellende teenwoordigheid met haar lekker kos! Soos die verhaal ontplooi vind jy eers
mettertyd uit wat daar gebeur het.
Dit voldoen aan al die vereistes wat aan ‘n goeie verhaal gestel
word- treffende karakterisiering; ‘n interessante plot; goed gestruktueer , ‘n geskikte milieu; en aangebied in ‘n skryfstyl
wat deurspek is met treffende beskrywings en raak kommentaar wat getuig van ‘n bedrewe
talent.
Bambaduze is Derick van der Walt op sy beste. Mooi gedaan.
Dit behoort ‘n suksesvolle teksboek vir hoërskole te word,en moet in
biblioteek-en tuisversamelings ‘n tuiste vind.
Lona Gericke Maart
2015