Liewe Heksie Leesboekies bring die
mees geliefde dierbare heksie terug!
Verna Vels: Liewe Heksie –Leesboeke 1-4(H&R, 2015)
Noem jy die
naam Liewe Heksie aan grootmense, jongmense en kinders wat lees is daar dadelik
en altyd ‘n reaksie van vrolike glimlagte en opmerkings dat sy
een van hulle mees geliefde Kinderboek-karakters is. Sy is nou nie een van daardie nare storieboek-hekse
met skrikwekkende toorkragte waarteen menige ouer hul kinders waarsku nie.
Liewe Heksie vergeet selfs haar toorwoorde en is naïef, impulsief, onopgesmuk ,
sagmoedig en baie vriendelik.
Waarom sou
ons almal so met haar identifiseer, en veral juis toe ons kinders was? Want
Liewe Heksie is die onskuld vanself; sy vergeet dinge; sy is “dom”; sy verdraai woorde; sy kan skielik
nie lees nie; sy maak foute; sy is maar net soos elke kind lief vir avonture en
wil verjaarsdag hou; raak gou verveeld en wil in ‘n blink rooi motor rondry; weet
nie wat ‘n verassing is nie; wil haar hulp aanbied waar sy kan, en saam met
haar vriende in Blommeland piekniek hou of ‘n vakansie by die see geniet in ‘n
pragtige bikini- al is hare onwetend sommer erg ouderwets maar tog te dierbaar.
Wat maak
hierdie nuwe reeks leesboekies ‘n noodsaaklike toevoeging vir tuis-skool en
biblioteekversamelings?
Vir die
eerste keer word Verna Vels se stories oor Liewe Heksie en die karakters van
Blommeland in kleur aangebied as ‘n
reeks leesboeke vir jong lesers. Elke leesboekie bevat 3 van die oorspronklike
stories wat ietwat verkort is vir 3-6jariges. Hier is dus die geleentheid vir
kinders in ‘n gesin om elk uit sy of haar eie kopie te lees of aan voorgelees
te word. Dit is nie oorweldigend bonkig nie, word maklik hanteer en is keurig versorg met helder kleurvolle omslae
duidelik gemerk as Leesboek 1 - 6. Verskillende
kleure word vir die titels gebruik, en ‘n klein Liewe Heksie gesiggie is in die
regterhoek in ‘n sirkeltjie geplaas. Jy voel dadelik lus en opgewonde om die
boek oop te maak.
Die
illustreerder Vian Oelofsen het die liefdestaak met groot vreugde aangepak want
hy is baie duidelik ‘n Liewe Heksie bewonderaar. Hier benut hy die geleentheid
om met ‘n nuwe oorspronklike kunstige
interpretasie die stories te help vertel.
Dit doen hy met oorgawe en gee hier ’n meesterlike vertolking in verbeeldingryke illustrasies wat grootliks
bydra tot die sjarme van die hele aanbieding. Teen ‘n kleurvolle agtergrond
word die leser vermaak met die interessanste collages van vallende borde, ‘n
trein en rooi motor, ‘n regte frikkadel, Koning Rosenkrans in al sy glorie en Blommeland
se kwaai Gifappeltjies.
Hy vertel
dat hy baie ge-eksperimenteer het met teken en animeer en speel
met die gebruik van illustrator en Photoshop. Hy het papierpoppe van die
karakters gemaak, Blommeland is opgebou met teksture met ‘n tipe collage
metode. Die blommetjies van Blommeland het lewe gekry met blomme op sy
grasperk, rokke en materiaal is gekombineer met “brushes” en geverf met vorms
op sy rekenaar. Fotos is gebruik soos met die frikadelle wat gemaak is en
afgeneem is. Sy mees gekompliseerde karakter was die Fee koningin omdat haar
rok verskillende lae vereis het en die vlerke deurskynend moes wees. Sy is saam
met Karel, Koring Rosenkrans en die Gifappels sy gunstelinge. Die Silwerroos is
volgens hom die moeilikste en beste blom wat hy nog getekenhet. . Hy sê dat hy
van al die karakters hou en dat Verna Vels se storie besonder en tydloos is en dat
hy dit sooo geniet het om dit te lees en te teken.
Verna Vels
se bekende Liewe Heksie karakter het haar debut in 1961 gemaak in die Siembamba
–programme van die SAUK. Verskeie Liewe Heksie reekse is uitgesaai.
Human &
Rousseau uitgewers het dadelik besef dat die karaktertjie ook in boekvorm
vasgelê moet word, en in 1965 verskyn die eerste Liewe Heksie-boek deur H&R
met swart en wit lyntekeninge deur Dorothy Hill. Nuwe Liewe Heksie-stories het
in 1999 by Human & Rousseau as Liewe Heksie en die rekenaar verskyn. Daarna
is die oorspronklike , volledige stories in 2002in ‘n omnibus-formaat
gepubliseer as Die Liewe Heksie Omnibus.
Hierdie
stories is dus vanjaar 50 jaar oud. Verna Vels is in 2014 oorlede, en die uitgewer
bring met hierdie leesboekies ‘n spesiale erkenning en viering van haar groot
bydrae tot kinderlektuur in Suid Afrika. .
Ek verwys
kortliks na gedeeltes van die stories ter illustrasie van die kinderlike opregtheid , fyn humorsin ,
bekoring en sjarme van Verna Vels se verbeeldingswêreld :
Dit is Blommie
Kabouter se verjaarsdag. Al die kabouters van Blommeland is by sy partytjie.
Net Liewe Heksie is hartseer omdat sy nog nooit ‘n verjaarsdagpartytjie gehad
het nie. Sy is mos maar nie baie slim nie en vergeet maklik dinge. Sou haar
ouma Levinia Heks dalk vir haar gesê het wanneer, het sy al vergeet. Hulle
besluit op ‘n datum en Karel Kat word ook uitgenooi. Tipies Liewe Heksie is sy
bekommerd oor hoe haar hare lyk, wil sy die rooi koeldrank dêps voor haar
gaste; vergeet sy om die roomys in die yskas te sit, en is daar ‘n gestryery
omdat sy nou meer gereeld wil verjaar!
Lesers kan
hul verkyk aan kleurvolle sonneblomme
met dansende dwergies wat ballonne dra, kunstige blomme netjies gerangskik in
vrolike rye met heerlike roomyse in hul kelke; Blommie en Heksie se gesigsuitdrukkings
wat boekdele spreek; die pragtigste huisie
met pampoene op die dak en gehuisves in ‘n veld van fyn blommetjies; ‘n laáng
tafel met koppies in ‘n netjiese ry op ‘n blom-tafeldoek en ‘n reuse beker rooi
koeldrank; geskenkpapiere wat oral rondwaai soos sy geskenke oopmaak; Heksie
wat met haar groottoon in die grond boor soos sy skaamkry wanneer sy vra dat
haar gaste haar presente teruggee.
Koning
Rosekrans, deftig in sy rooi pak met rose versier, versoek sy onderdane in die
volgende storie om geld in te samel vir die bou van ‘n hospitaal. Liewe Heksie
vergeet sy naam gedurig en noem hom sommer Koning Rosedoring, en kasterolie is volgens haar kasterboomolie
of kosteralie. En sy moet tog liewers nie sing nie!
Oelofsen
teken hier ‘n groot goue blik as geldbussie; musieknote soos blomme en
geldstukke wat vrolik dans; ‘n R50 noot versier met Nelson Mandela se kop-hul
wengeld vir ‘n see-vakansie. Heksie in haar outydse swempak, haar”bikini”
waarin sy die Juffrou Seesand kompetisie wen; ‘n indrukwekkende swart
lokomotief en interessante detail is versteek op die bladsye- ‘n klein krappie,
‘n regte horlosie, ‘n
selfoon en seevoëls wat entoesiasties toekyk.
In Leesboek
2 word ‘n verassings-besoek van Karel
Kat ‘n heerlike avontuur met Heksie wat verdwyn in sy pragtige rooi motor,
later gehelp deur Trompetter die
olifant wat die motor weer terugstoot-
’n oulike illustrasie met Heksie wat voor aan die motor hang, halfpad in die lug met haar dun beentjies
uitgestrek. Die illustrasie van Karel wat woedend kwaad is vir haar, spreek
boekdele!
Wanneer
Koning Rosekrans baie siek word is die “enigste en beste en mooiste Heksie” ‘n gewillige
helper wat borde breek; en aanbied om
Koningin te word as hy sou doodgaan . Dit is genoeg motivering vir hom om
dadelik gesond te word. Weer illustreer Oelofsen met musieknote wat vloei na sy kop. Een loerende oog
rus op ‘n kussing van blommetjies, en Heksie se kinderlike briefie is skeef teen
die bedstyl vasgeplak.
‘n Piekniek met Hessie se “dikkefrelletjies” en ‘n brood wat
so hard is dat jy dit met ‘n saag moet sny gebeur langs die Gifappeltjie-land.
Hul motor word uit die modder getrek deur Toorperd Griet en Heksie vergeet
alweer die towerwoord. Die toorperd met sy hol rug en lang ore ; lekker bruin
modder wat teen ‘n gifappeltjie spat, en Blommie met ‘n parmantige tongetjie
wat hy uitsteek vir die Gifappeltjies,
dra weereens by tot die lekker leeservaring.
In ‘n verdere leesboek
is Liewe Heksie betrokke by ‘n donkie- sy beland agterstevoor op sy rug
en huil omdat hy dan nie ‘n kop het nie! Sy word ‘n babawagter, en in die land
van die Gifappeltjies word sy en Koning Rosekrans gevange geneem omdat die
Gifappeltjies Blommeland wil oorneem.
Maar Liewe Heksie red hul uit die situasie want in haar eie woorde, is
sy tog die slimste Heksie wat sy ken!
En hiermee stem elke leser en natuurlik ‘n toekomstige geslag van lesers wel deeglik
saam!
Baie geluk
aan die uitgewer Human & Rousseau wat hier pragtige toeganklike leesboeke
uitgegee het.
Lona
Gericke, Augustus 2015
No comments:
Post a Comment