Bezuidenhout, Zelda: As mens geluk
kon proe( LAPA, 2018)
Hierdie
naaswenner in LAPA se jeugromankompetisie bied ‘n oortuigende verhaal wat
sentreer om die hoofkarakter, Arnelia van Zyl wat besluit om die draaiboek van
haar lewe te herskryf. Sy en haar ma trek na Potchefstroom , en in die nuwe
skool val sy sommer met die intrap met ‘n skinkbord vol kos, en dadelik word sy
volgens haar nou Honger Neelsie of kry ‘n nuwe bynaam: Vreetzilla.
Sy maak
vriende met Dineo en Ilana, maar haar belangstelling is gou gefokus op Dewald
Fourie, “omdat hy die sort cool is wat net iemand kan wees wat eenhonderd
present oorspronklik is.” Maar sy is oortuig hy sal nooit na ‘n
“gemmerpokkel sonder sosiale vaardighede
“ soos sy kyk nie.
Arelia draai
nie doekies om oor haar voorkoms nie- sy verwys na haar groot kuite, en dan die
Van Zyl-borste! En dan sien sy vir
Dewald in Checkers met ‘n meisie –net genoeg om haar verder te ontstel.
Maar Dewald
se ma word ernstig siek sodat hy nie meer die gewone skoolklasse kan bywoon nie
maar tuis moet studeer, en sy vind uit dat dit sy suster is wat ook gekom het
om hul ma te help versorg. Hierdie
situasie inspireer die jongmense se idee om te begin met ‘n mobiele snoepie wat
hulle by die skool kan parkeer om fondse in te samel sodat Dewald sy studies by
die skool kan hervat.
Die projek
is ‘n groot sukses, maar wanneer sy ‘n rol in die skoolproduksie Haarsproei
kry, is die vriendskap met die Snoeperheroes vereers verby. Veral waar Dineo so
graag hierin wou speel.
Arelia word
in ‘n persoonlike dilemma geplaas, maar sy neem tog die regte besluit omdat
vriendskap meer tel as eiewaan.
Die roman
het meriete, die karakters word oortuigend uitgebeeld, en veral in woordkeuses
openbaar die skrywer talent en oorspronklikheid. Kosfundies sal Dewald se
passie vir kos geniet, en as toegif volg ‘n paar resepte aan die einde van die
verhaal- Ouma Dina se appelkooskonfyt, Dewald se uiemarmelade, en frikadelle
met balls- Mevrou Ball se blatjang.
Arelia kan
uiteindelik geluk proe, want ‘n “gemmerpokkel” kan deur ‘n seun met die regte
waardes waardeer word. Sy is nou nie meer ongelukkig nie- dit is haar maats wat
haar aanvaar het, die ure se beplanning en werk aan Snoeperheroes, haar ouma se
appelkooskonfyt, haar ma se liefde en ondersteuning, “maar veral elke liewe
skewe glimlag van Dewald Fourie”.
Ligte
leesstof vir jongmense met groot drome.
No comments:
Post a Comment