“Die een
oomblik is ek Dale Steyn, wêredklasbouler, die volgende oomblik lê ‘n vrou
leweloos op die veld. Dis hoe hierdie hele sage begin het. Hierdie sage van kop
verloor or ‘n moord per suurlemoen. Van ‘n gesteelde Gold Wing. Van Russiese
akteurs. Van ‘n Romanof-prinses met ‘n veel gesoende handjie. Van getikte
dwelmoperateurs. Van vergeefse liefde….”
Vanaf die
eerste inleidende paragrawe besef die leser dat hierdie ‘n opwindende leeservaring
gaan wees! Dale Steyn en sy suster Brunhilde is so gefrusteerd met die twee
“blaffers van formaat” die buurvrou se honde - dat hulle besluit dit is nodig
om met die hulp van ‘n vrag suurlemoene die twee stil te kry. Maar die idee was
nou regtig nie om die buurvrou in die proses dood te gooi met ‘n suurlemoen
nie! Impulsief besluit die twee dadelik
dat hulle sal moet vlug. En hul getroue vriend Ben word ook betrek. Sy broer se
geliefde Gold Wing motorfiets moet die drie na die naaste veilige dorpie bring.
Hier vind ‘n
wonderbaarlike transformasie van die drie tieners plaas- hulle doen hulle voor
as Russiese akteurs en gaan tuis in die
gastehuis die Groen lantern.
Sersant
Japie Kleynhans van die plaaslike polisie is dadelik verlief op die bekoorlike
Russiese prinses. Maar die eienaar van die Groen lantern het gou ander planne
met die drie- Brunhilde is volgens hom die dogter van die legendariese
dwelmkoning Pappie, vergesel van haar twee luitenante. En hierdie is ‘n
geleentheid vir die klomp dwelm-handelaars om hul network uit te brei! Maar
nouja… lees en sien wat gebeur!
Moord per
suurlemoen is ‘n waardige wenner van die SANLAM silwer medalje vir jeuglektuur.
Die skrywer
praat die taal wat tieners sal geniet. Die teks is deurspek met humor en
kwinkslae en die drie jongmense se vermommings en lawwe idees om die moeilike
situasies te fnuik, sorg vir lekker en opwindende leesstof. Tieners sal wens hulle kon ook in so ‘n situasie beland
! Dale Steyn as verteller beïndruk met
sy skerp waarneming van situasies en karakters, hy verwys byvoorbeeld na die
eienaar van die Groen Lantern as ‘n man met ‘n “ ongesonde psige”; en wanneer
hulle uit “blommerige koppies” tee drink merk hy op dat die prentjie van
verfyndheid effens bederf word deur die manier waarop hy en sy addelike vriende
die sjooladekoek aanval. Die teks is
deurspek met oorspronklike beskrywings van die omgewing, die inwoners van die
dorpie , die Groen Lantern se personeel, die Negosiegat waar hulle hul verskeie
kostuums aanskaf, en die ete in die
restaurant die Goue Pampoen. Hier is geen geleentheid vir die leser om verveeld
te wees nie.
Juis die
gedagte dat twee tieners kan aanvaar dat hulle die buurvrou doodgegooi het met
‘n suurlemoen en dus van moord aangekla gaan word, maak die hele leeservaring
een van groot absurde aweregse lekkerte. Aanbeveel vir biblioteek, skool-en
tuisversamelings.
Wierenga, Jelleke: Moord per suurlemoen( Tafelberg, 2014)
Lona
Gericke.
No comments:
Post a Comment