Damm, Antje: Die besoeker( PROTEA, 2017)
In ‘n donker
vertrek sit ‘n eensame figuurtjie Elise wat so bang vir alles is dat sy
altyd by haar huis bly waar sy minder
bedreig voel as in die wêreld daar buite.
Op ‘n dag
vlieg ‘n vreemde voorwerp by die venster in- ‘n papiervliegtuig wat sy dadelik
verbrand. ‘n Seuntjie klop aan haar deur
op soek na sy speelding, en vra om haar toilet te gebruik. Met sy verskyning bring die skrywer ‘n helder
lig in hierdie donker omgewing , en wanneer hy haar vra om vir hom ‘n storie te
lees, word die besoek net al lekkerder – hulle speel saam, en sy maak vir hom
‘n toebroodjie toe hy honger is. Na sy
vertrek weet Elise dat sy ‘n vlieër vir haar nuwe vriendjie moet maak.
‘n Oorspronklike
klein verhaal oor vriendskap en eensaamheid. Teen die agtergrond van vertrekke in
har huis sit die figuurtjie wat soos ‘n papierpop ingeteken is op elke bladsy. Die toevoeging
van kleur in hierdie somber omgewing met die koms van die seun is treffend en verhelder
haar omgewing en lewensomstandighede.
Baie treffend.
Ongansie, Susan: Kattekwaad ( LAPA,
2017) Illustrasies deur Linki Lutz
Mietsie en
Maas speel tog te lekker, maar as sy aan die slaap raak gaan soek hy iemand
anders om mee te speel. Mietsie word wakker, en begin haar boetie soek. In die proses kom sy op gevaarlike
straatkatte af, en toe hulle drie deur
straatbrakke gejaag word, vlug die drie en klim in ‘n boom. Hierna gewaar sy
haar boetie en nooi die straatkatte om saam met hulle te gaan speel.
‘n Oulike
storie met ‘n mooi kinkel waar die straatkatte en huiskatte maats maak. Die illustrasies het ‘n kinderlike gevoel en
kon deur ‘n kind self gedoen gewees het wat heel van pas is. Sagte kleurskakerings skep ‘n rustige gevoel.
Scherz, Oliver: Ben ( PROTEA, 2017)
Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal.
Ben en sy
skilpad Meneer Minni is maats wat amper alles saam doen. Hulle speel saam in
die bad, besoek sy broer se boomhuis wat
verbode terrein is, en saam vang hulle vis in die bure se visdammetjie en moet
die vis weer terug besorg word by sy maatjie. Ben probeer ‘n dapper Indiaan wees nadat hy
nie dapper by die dokter was nie!
10
verskillende insidente en ontmoetings o.a. met die nuwe bure se dogters , sy oupa, en die
silwer sjokolade munte wat hy by sy broer vaslê, en ‘n besoek aan die veearts
as Minni siek word , dra elkeen by om hierdie bundel genotvol te maak. So word
sy wêreld vir hom oornag groter as hy sy eerste skooldag beleef, maar die nuwe
ervaring word met ope arms verwelkom.
Heerlike
groot druk in ‘n keurig versorgde aanbieding waarin Ben en sy skilpad
Minni dadelik in die leser se hart
kruip met sy eerlike waarneming en vertelling van hul avonture saam. ‘n
Pragtige boek!
Janosch : Kyk hoe mooi is Panama( PROTEA, 2017)Uit
Duits vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl
Janosch is
een van die bekendste Duitse kinderboek skrywer/illustreerders. In hierdie prag publikasie word al ses Tier-en Beer-verhale aangebied met sy
kenmerkende illustrasies van die twee avonturiers wat net absoluut behoort tot die
klassieke skat van kinderboeke.
“Eendag was
daar ‘n klein beer en ‘n klein tier wat aan die onderkant van ‘n rivier gewoon
het”… so begin die eerste verhaal in die bundel waar die twee besluit om na
Panama te gaan soek want dit is klein beer se land van sy drome.
Met elke
avontuur laat die skrywer die leser verstaan dat jou tuiste tog maar die
lekkerste kan wees, dat ‘n skat in die grond nie die rykdom rondom hulle kan
vervang nie, en deurgaans word hulle hieraan herinner deur die ander diere in
die stories soos die mol wat wil hê dat hulle na die winter-koninkie se mooi gesang
moet luister, en dan smaak die blomkool ook tog te lekker!
Maar die
twee hou nooit op om nuuskierig en skeppend te wees nie, bv. toe hulle
briefpos, lugpos en die telefoon uitgevind het waarby al hul vriende se
kommunikasie verbeter. Klein vark laat tier vergeet van sy
verpligtinge tuis as hulle so lekker speel en dinge saam doen. As hy dan weer
huistoe gaan, is beer nie daar nie. Gelukkig vind die twee toe weer mekaar.
Toe tier
verjaar besluit hulle om partytjie te hou en al die diere word uitgenooi na die
geselligheid. Padda besluit om die huisie vol water te laat loop om die
partytjie darem vroliker te maak, en as die bokram laat daar aankom en die deur
oopmaak, swem al die gaste heerlik na
buite!
Hierdie boek
behoort in elke biblioteek/skool en ook tuisversamelings waar kinders
blootgestel moet word aan die ryke skat van die internasionale kinderboek
wêreld.
Viljoen, Fanie: Aksieheld Austin-nag
van grille ( LAPA, 2018)
Vir jong
lesers 9jaar + verskyn die tweede boek in die nuwe reeks Aksieheld Austin na Operasie Sabotasie.
Ewald Eloff
speel weereens die held Austin en spesiale gaste word uitgenooi na die fliek se
première. Die hotel-joggie Toni met die skewe gesig vertel aan Ewald en sy
vriend Cardo van die museum agter die
Marconi-teater waar die fliek gewys gaan word wat hulle moet besoek want dit is
baie grillerig en word bestuur deur sy ma Madame Marconi. Ewald die waaghals stem in dat hulle voor die
aand se vertoning wel daar ‘n draai kan gaan maak.
Min het die
twee vermoed dat hierdie besoek ‘n groot uitdaging en toets vir hulle
dapperheid en ondernemingsgees gaan word, want die museum is die bêreplek van
ou fliek-goeters uit rillers en grillers. Madame Marconi waarsku hule ook dat
sommige plekke in die museum verbode is en onveilig is. En dan hoor hulle ook
dat Toni nie lekker in sy kop is nie en
nie meer reg kan dink nie… waarom sou hy aandring dat hulle die museum besoek?
Ligte
vermaak vir jong lesers wat hou van grillerige spanningsvolle stories met ‘n
gelukkige einde want is Austin dan nie verniet ‘n aksieheld nie?!
Jeugboek:
Fouché, Jaco: Somer ( H&R, 2018)
Hierdie is
die bekroonde skrywer se tweede jeugroman.
Na ‘n
rugbyoefening nooi André Lourens vir Maison
Jonkers ‘n kleurlingseun om ‘n draai by hom te kom maak. Beide vaar gemiddeld op skool, is vinnige atlete
en lief vir duik en swem. Altwee se ma’s
is uithuisig- Andrè se ma reis op soek na ‘n nuwe tuiste oorsee vir die gesin,
en Maison se ma doen liefdadigheidswerk na sy tot bekering gekom het.
Dit is die
begin van ‘n vriendskap wat na matriek deur die somervakansie ontwikkel en die
twee word gaandeweg goeie vriende wat saam die lewe leer ken. Hulle drink saam
en steel drank, breek in by die seiljagklub, probeer vriende maak met die
meisie Mimi, en kap bome af en verwerk die hout vir sakgeld.
André se
broer Martin ly aan sy senuwees , sy pa werk in die boubedryf terwyl Maison se
pa ‘n visserman is wat aan die begin van die verhaal sy boot in die see verloor
en ander werk moet vind.
Die verhaal
is dus gebou rondom twee seuns wat eers traag vriende word maar geleidelik al
meer deel word van mekaar se lewens. Die milieu is die area rondom Onrus en
Hermanus waar hulle die somervakansie deurbring en die tyd verwyl met
kattekwaad en kuier en besoeke aan die strand.
Die roman is
geskryf in eenvoudige onopgesmukte taal en baie oortuigend word die gevoel tuisgebring
dat hier seuns aan die woord is. Sekere opmerkings en raak gesegdes bly ‘n mens
by; die skrywer is absoluut in beheer van sy verhaal en tuis in hierdie omgewing
waaroor hy skryf.
Maison se pa
reageer op sy opmerking dat Andre dink dat hulle nou beste tjomme isterwyl hy
volgens Maison ‘n paar jaar gelede hom nie raakgesien het nie:”Jy’s te jonk om
daai wrok te dra. En soos ek sê,dis ‘n ander land…Howel ek baie keer wonder wat
de hel demokrasie nou eintlik beteken”. Sy ma weer vra dat hy die wit seun moet
help waar hy kan , want : “’n mens reageer wanneer iemand na jou uitreik”.
Hierdie is ‘n nasie in wording, is die boodskap, so ook ‘n vriendskap in
wording tussen die twee hoofkarakters.
Elke individu
is oortuigend geteken. Wat ek veral
geniet het is dat die verhaal so ‘n rustige tempo het, daar is geen doelbewuste
gejaag nie en die somervakansie beweeg teen die stadige pas wat so geloofbaar
is. Die skrywer skryf nie doelbewus”mooi” nie, deurgaans bly die stemtoon opreg
en direk. Byvoorbeeld:”Die lente kom met nuwe plantreuke en meer son wanneer ek
soggens langs die pad vir die taxi wag”. “Ek gaan by die huis bly en visvang of
sleg word of waddehel ook al. En dis as dinge goed gaan.”
Somer is
geskikte leesstof vir klas besprekings oor identiteit, vriendskap, literêre
meriete en kuturele verskille. Dit is ‘n leesbare jeugroman met ‘n eie stem wat
jou bybly en aangenaam verras.
Lona
Gericke, Januarie 2018.
No comments:
Post a Comment