Stewart, Dianne:
Karel die Krokodil( Jacana, 2016) Illustrasies deur Joan Rankin
n Baie omgekrapte Karel is huilerig oor tandpyn. Simon
Seekoei neem hom na twee tandartse wat weier om hom te help. Dr. Slagtand, die
Leeu is bereid om hom na ure te sien; maar Karel weier dat sy tand getrek word.
Die dokter vermaan hom dat hy wel sy tande moet flos en mondspoelmiddel
moet gebruik. Pippa die kiewiet kom
egter tot sy redding deurdat sy toe sy tande skoonmaak deur stukkies kos te aas
in sy bek; gebruiklik vir Egiptiese kiewiete.
Joan Rankin se bekende sagte waterverf tekeninge maak
hiervan ‘n aantreklike boek. Daarby is daar die boodskap vir kinders om hul
tande te versorg- dit is net twyfelagtig of Karel goeie motivering gaan wees! Persoonlik
hou ek van ‘n baie meer vreesaanjaende krokodil, en sou graag by die
illustrasie waar hy huil oor tandpyn meer uitdrukking op sy gesig en so ‘n paar
trane wou sien!
Fardell, John: Willem
die wreedaard( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Shané Kleyn
“Willem die Wreedaard is geweldig wreed. Met sy bende
trawante ontvoer hy briljante uitvinders en dwing hulle om sy duiwelswerk te
doen”- hulle moet masjiene bou om vliegtuie te beroof; kunsgalerye te plunder ;
en seerowers te speel. Hy behandel ook sy onderdane gevoelloos en is uiters
selfsugtig. Maar toe word Willem siek, en niemand help hom nie, want almal is
te bly dat hy lamgelê is. Nou besluit Willem om liewer ‘n weldoener te word.
Net so af en toe doen hy nog iets wat ‘n bietjie stout is…
Die skrywer illustreer self en is ook ‘n spotprenttekenaar.
Sy illustrasies is vol verbeelding en behoort kinders te fassineer. Lekker
groot druk maak dit ook maklik om die teks te lees. Hoogs aanbeveel.
Schmidt, M.G. en
Westendorp, Fiep: Jip en Janneke omnibus ( PROTEA, 2016)Uit Nederlands vertaal
deur Amelia de Waal.
Hierdie bekende Nederlandse kinderboek karaktertjies deel
hier in 352 bladsye hul avonture en daaglikse manewales met die leser- dit was
selfs vir my verstommend om te lees dat daar seker geen situasie nog kan wees
waarran hulle nie deel het nie! Kraletjies inryg, speel in die reën; touspring,
wipplank ry, verjaarsdag vier, om net enkeles op te noem.
‘n Lekker
voorleesboek met situasies tipies uit ‘n kind se ervaringswêreld. ‘n Klassieke
werk wat ‘n plek verdien in biblioteke en tuisversamelings.
Vir meer ervare lesers:
Cowell, Cressida: Hoe
om draak se storm te trotseer-( PROTEA, 2016)(7) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Ook die volgende
titels: Hoe om ‘n draak se hart te breek(8), en Hoe om ‘n draak se swaard te
steel.(9).
Hierdie gewilde fantasie-reeks- Hoe om jou draak te tem, het
geen bekendstelling nodig nie! Cowell se lesers sal tog te verheug wees om drie
verdere titels in die reeks te ontdek. ‘n Verbeeldingryke reeks met aweregse
humor, vindingryke idees , en avonture wat net Cowell kan fabriseer.”’n
Aksiebelaaide avontuur wat wemel van karakters met skreeusnaakse name en
mitiese monsters wat enige seun se verbeelding sal aangryp”-Books for Keeps. Om
nie te vergeet van dogters wat ook fantasie geniet nie. Hoogs aanbeveel. Kobus
Geldenhuys doen puik werk met die vertalings.
Jonger lesers:
Pantermüller, Alice
en Kohl, Daniela: Lotta se lewe-die Lama-drama( H&R, 2016)Afrikaans deur
Kobus Geldenhuys.
Lotta is baie opgewonde want haar klas gaan op ‘n
klasuitstappie na ‘n eiland met ‘n groot herehuis, baie diere, ook ‘n Lama, en
‘n bekende veldskool. Berenice en die Glamour girls, die Rockers, en ’n groep
Graad 8 kinders uit ‘n ander deel van die stad- Die Ape, is saam. Gou word dit
dan ook ‘n situasie van die Ape wat die ander kinders bang maak en terroriseer,
en Lotta en Chantelle wat besluit hulle moet ‘n les geleer word. Berenice van die Glamour girls is dadelik
smoorverlief op Magnus, die jong Baron(LaMa); en net ‘n groot irritasie. Lotta
kry dus samewerking van al die kinders om die Ape ‘n les te leer, en die
anti-Berenice-sproei, jeukpoeier, stinkbomme en jelliebeertjies kon handig
ingespan word!
‘n Klasuitstappie met genoeg opwinding om lesers van hierdie
gewilde bekende reeks gelukkig te hou. Die sketse en byskrifte maak die verhaal
nog snaakser en vol humor.
No comments:
Post a Comment