Monday, June 15, 2015

Sink of swem liewe Ariel!


Swemlesse vir ‘n meermin deur Marita van der Vyver ( Tafelberg, 2015)

Op die pragtige omslag van die boek word die leser vertel: dit is die opvolg van die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom.  Hierdie boek was destyds ‘n gunsteling, ‘n heerlike storie met ‘n onfunksionele gesin, ‘n boek geskryf met groot opregtheid , snaaks en oorspronklik.

Dadelik dink ek- lekker! Nog ‘n storie uit die pen van ‘n talentvolle skrywer. Hanna Hoekom gaan my op verdere opwindende avonture neem.

Maar toe is dit ‘n handleiding vir haar baba sussie Ariel wanneer sy ‘n tiener is. Sy noem  o.a.dat dit  lewensbelangrike raad is wat Ariel hier gaan kry; ‘n eerlike gids vir ‘n moderne tiener, dat sy nie gaan preek nie. Dit is ‘n oorlewingsgids.En die hoofstukke word ook ingedeel  met opskrifte soos  Skool suig; hoe weet jy as jy verlief is?; ‘n kamer van jou eie;  oor voëls en bye om maar ‘ n paar toe noem. Weliswaar is hier ‘n skatkis van wyshede om Ariel voor te berei vir die emosies , verhoudinge, issues van haar tienerjare. Ariel word selfs gevra of sy nog byhou;  en Hanna gooi by al die wyshede en insigte nog sommer verwysings na boeke en skrywers  soos Tolstoi; Sylvia Plath ; Shakespeare, Jeanne d’Arc; Cyrano de Bergerac; Groucho Marx die komediant met ‘n verwysing na die ekslusiewe klub in London; N.P.van Wyk Louw se Raka; Oscar Wilde se wysheid en sy opmerking dat alle vroue daarna streef om soos hulle ma’s te word; Hamlet se – om te wees of nie te wees nie; en selfs Virginia Woolf se A room with a view en Jane Austin se karakter Darcy uit Pride en Prejudice, en Dorothy van The Wizard of Oz.  Ook Huxley se Brave new world!  Regtig ‘n belese suster die! Boeke wat ek dink die meeste lesers  veel later raakgeloop  het.

Ariel het sowaar ‘n wyse suster en behoort na al hierdie goeie raad ‘n goed geskoolde tiener te wees!  

Maar vir my persoonlik is hierdie veel eerder die stem van ‘n ouer vrou; ‘n ma miskien. Sy merk selfs op dat dit al meer begin klink na terapie vir haarself. Ek is geneig om saam te stem.  Hinderlik is ook die verwysings na Die Baba –waarom nie ook hier die suster direk aanspreek nie?  Die paar Anglisismes wat gebruik word klink ook geforseerd- soos “taf” om ‘n tiener te wees; crap; en skool “suig”.

Die enigste natuurlike “stem” of verteller in die verhaal is wanneer Hanna  die leser bekend stel aan die seun Benjamin, haar stiefbroer se beste vriend op  skool en die seun op wie sy verlief raak. Haar en haar vriendin se pogings om haar mooi te maak vir ‘n partytjie is oortuigend; ook soos hul verhouding ontwikkel veral na Benjamin vir ‘n ruk by hulle tuisgaan na ‘n motor ongeluk, en die verhouding tot iets moois groei . Sy en Benjamin se interaksie is myns insiens die “saving grace” van die verhaal. Van der Vyver kan skryf; maar verkieslik moet hierdie talent vir my aangewend word om ‘n storie te vertel . Dit kan sy tog  baie goed  doen.
Dit sal interessant wees om tieners se reaksie op die boek te hoor. Sekerlik sal baie ma’s die boek koop- dit is dan sulke goeie raad.Dalk sal tieners  hul heerlik verlustig in al die wyshede; ek sou as tiener verkies om hierdie dinge self te ondervind en uit my eie foute of suksesse self tot volwassenheid te groei.  Maar nouja, sy is geregtig daarop

Wednesday, May 27, 2015

Liefde is 'n sprokie!


Liefde is ‘n sprokie, saamgestel deur Santie Nel ( H&R, 2015)

Wie van ons onthou nie daardie heerlike jeugjare op  skool waar die  hunk of dalk net die nerd teenwoordig was waarop jy smoorverlief was nie? Gesprekke het lighartig maar soms bekommerd gegaan oor wie gaan my nooi vir die matriekbal of sal daar iemand wees die vakansie by die see om die tyd lekkerder te maak?  Gaan ek gespot word oor my gesig of maniere of net omdat ek die slimste kind in die klas is? Elke jong meisie wil sekerlik behoort en voel sy is spesiaal vir iemand.

Die Fynbosskrywers  bied hier aan 9-12jariges  ‘n versameling van 22  kort liefdesstories met as uitgangspunt bekende sprokies soos Skoonlief en die monster, Rooikappie , die Paddaprins en die Slapende prinses wat aangepas word in ‘n moderne  milieu.

En watter lekker ligte onderhoudende leeservaring is dit nie! Vanaf die eerste verhaal-  ‘n Wolf, drievarkies en ‘n brilpaddaprins mash-up deur Elizbé van der Colff  word die  leser betrek en hiervandaan word alles sommer net nog lekkerder! Die 22 stories is elkeen van ‘n goeie kwaliteit- die verskillende style is lewendig, vol humor , emosies oortuig en soms is dit gevul met lekker verassings . ‘n Mens kry die gevoel dat elke skrywer haar geniet het om haar storie te vertel, en die leeservaring word dus een van groot plesier omdat die eerlikheid en onopgesmuktheid van die vertelling jou tref.    

Die eerste storie vertel van ‘n kampervaring waar Carla verlief raak op die nerd met die aaklige bril. Dan is daar  Clara se nare stiefma(Lemoenkougom) wat nie Renaldo se rose vir Clara gee nie; Bleeksiel en die skoolhunk- Lila en Gerbrand; ‘n Bungee –sprong vir Alana wat dink sy is lelik; ‘n meisie wat kokaïen smokkel na London; ‘n duikoefening wat amper in ‘n tragedie eindig; ‘n juffrou met toorkragte en ‘n winterbal; Wipstert en Krok- ‘n seun met sy bene in ysterstutte en toe nie so ‘n groot krok nie; Vlam von Huten wat ontvoer word; Naidia se vriendinne wat ‘n ou vir haar soek; ‘n buurman wat tennis speel sodat tennissnare hartsnare word; Cindy die Cinderella wat onwetend haar stiefsuster se pragtige rooi rok na die bal dra; Gentian met sy geheime swart boekie; Keira wat soos haar vriendinne in die mode wil wees; ‘n Prins vir vingerhoedjie- Maia se bynaam; Amika wat selfbewus is omdat sy die langste meisie in die skool is en uitvind sy is model-materiaal; Amelia wat haar woorde moet tel as sy padda vra om saam met haar na die matriekbal te gaan-hy is toe nie so’n groot padda nie!; Erella wat ontvoer word met ‘n kamstige skoonheidsfotosessie; Rosabella in die spookhuis wat met ‘n soen ontwaak; Blinkoog versus Bolletjie-  Elfie se nare stiefma stuur haar na ‘n skool vir kinders met leesprobleme; Munah wie se ma haar soos goud oppas maar met haar lang blonde vlegsel haarself uit ‘n penarie red; en laaste Esther en Lizelle wat kragte meet in ‘n musiekblyspel…….

Hierdie versameling is goed geblanseerd; die aanslag is deurgaans lig en vrolik en getrou aan die jong meisie se ervaringswêreld.

Die samesteller verdien ‘n pluimpie, en elke Fynbosskrywer ook!

 

 

Wednesday, April 15, 2015

Olinosters wat kan bangmaak!


Olinosters op die dak deur Marita van der Vyver( Tafelberg, 2015) met illustrasies deur Dale Blankenaar.  Ook in Engels beskikbaar as Rhinocephants on the roof.

Lank en skraal en donker vertoon  hierdie heruitgawe van die boek wat  in 1996 gepubliseer is met illustrasies deur Piet Grobler en toe ‘n MER pryswenner. Hierdie uitgawe is geïllustreer deur Dale Blankenaar, ‘n voormalikge student van Piet Grobler!

En sal Piet nie trots wees op hierdie keurig versorgde pragboek nie!  Dit herinner aan baie van die Europese publikasies, en is ‘n duidelike bewys dat ons uitgewers in Suid Afrika kan kompeteer met die beste boeke internasionaal.

Daniel kuier by sy ouma en oupa en oornag daar in ‘n vreemde bed.  Hy hoor baie vreemde geluide, en telkens moet sy ouma of oupa hom geruss tel dat dit maar net ‘n olinoster of ‘n krokokoei, of ‘n blouwildekameel of ‘n bobberilla is , almal goeters waarvoor hy gladnie bang hoef te wees nie.  Die regte leeu is toe maar net  oupa se bont kat.

“Want wie’s nou bang vir olinosters?  Of ‘n krokokoei of ‘n blouwildekameel? Buitendien hy het ‘n bobberilla om hom op te pas.  En ‘n regte kat om sy bene warm te lê.”

Kinders leer hier om hul vrese in die nag te oorwin. Die humoristiese aanslag help ook. 

Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend. 

Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel vna ‘n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbel volblad illustrasies van elke spesifieke monster is regtig baie indrukwekkend. Daar is fyn detail in elke vertrek- Daniel in ‘n klein badjie oordonder deur die groot monster met die skubberige vel; ‘n beertjie wat teen die gordyn uitklim; die bobberilla met ‘n snaakse sneeu-kleurige vel en blink holtes vir oë; ‘n reuse leeu wat sy hele bed oordonder en net die klein seunskoppie met handjies wat sy oë toehou is sigbaar; en dan Daniel wat op die dier se rug deur die lug sweef met beertjie wat hom vanuit die huis se skoorsteen toekyk.  Hy is nou baie duidelik in beheer van die situasie.

Die donker kleure in die vertrek word telkens ligter as ouma of oupa hom verseker dat hy nie vir die gediertes bang hoef te wees nie.

Die boek is werklikwaar ‘n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers  sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar wat defnitief  hier werk van hoogstaande gehalte lewer.

Dit is ‘n boek vir fynproewers. 

Tuesday, April 7, 2015

Siembamba bekoor


Siembamba- immergroen rympies vir kinders  saamgestel deur Wendy Maartens met illustrasies deur Alzette Prins ( LAPA, 2015)

 

As kinderbibliotekaresse het ek met groot gesukkel Engelse rympies en vingerspeletjies in Afrikaans vertaal, en altyd gehoop iemand stel ‘n boek saam wat ouers en bibliotekaresse en onderwysers sal help om kleuters lief vir ons wonderlike taal te maak . Want niks onthou ‘n mens mos beter as daardie rympies,  raaisels, tongknopers , gebedjies en s laapliedjies van jou kinderjare nie.

En hier word Siembamba gepubliseer met die volledigste versameling van kinderrympies en versies ooit.

‘n Lys van erkennings en bronne word gegee, en skrywers soos C.J. Langenhoven, P.W.Grobbelaar; D.J.Opperman , Van Bruggen en nog vele meer se werk vind hier ‘n tuiste.

Dit is die heerlikste boek vir elke gesin ; noodsaaklik vir skool-en biblioteekversamelings en oumas en oupas moet maar die sak skud vir die kleinkinders as geskenke.  13 Hoofstukke met die opskrifte soos Duimpie Dikkedoor, Vrot tamaties lekker konfyt, Jorsie Worsie en sy maats, Allawiek, allawak, husse met lang ore, Sarel Marais het ‘n eier gelê, Sing is ‘n lekker ding en Doedoe, ogies toe ,maak jou nog meer lus om verder te lees.

Dan is daar as bonus die illustreerder Alzette Prins se vrolike  lewenslustige en kleurvolle illustrasies wat die boek as geheel ‘n pragboek maak. Haar aanvoeling vir die kind se verbeeldingswêreld is 100% in die kol.

‘n Groot dankie vir ‘n boek wat ‘n mens met groot vreugde kan koester en geniet.   

Prenteboeke van formaat!


Prenteboeke :

Die ruwe berg, deur Einar Turkowski( PROTEA, 2015) Uit Duits vertaal deur Nicol Stassen.

“In die land waar die kerse van onder af boontoe brand en dit uit die grond boontoe reën, is daar ‘n berg met ‘n onheilspellende naam.” Die ruwe berg verander elkeen wat dit waag om teen hom uit te klim emosioneel , fisies of intelektueel. ‘n Man besluit da thy die berg gaan aandurf. So begin die verhaal van sy tog en wedervaringe soos hy gelydelik die berg bestyg.

Hierdie is een van daardie besondere boeke wat die leser betrek, bekoor en waarna jy telkens sal terugkeer; miskien om die gelykenis van ‘n boekkunstenaar weereens te beleef, of om verdiep te raak in die meesterlike  verbeeldingryke keurige illustrasies wat jou intelektueel uitdaag en weer na detail laat kyk.

Hierdie is ‘n treffende voorbeeld van ‘n prenteboek wat kinders kan fassineer, maar veral ook volwassenes sal geniet. Absoluut ‘n kunswerk van gehalte!

Die vallei van die windmeulens deur Noelia Blanco en Valeria Docampo, in Afrikaans  uit Frans vertaal deur Nicol Stassen.  Die Engelse weergawe is vertaal deur Charl J.F.Cilliers.

In die vallei van die windmeulens het mense normaalweg geleef totdat die volmaakte masjiene opgedaag het en so hul hele wêreld verander het. “Dit was nie meer nodig om op ‘n verskietende ster te wag om ‘n wens te wens of ‘n droom te droom nie.

Selfs die windmeulens het ophou werk.

Anna die vallei se kleremaakster het tog nog in haar drome geglo. Sy ontmoet die Voëlma en hy vertel haar dat hy prpobeer om te vlieg sodat hy die hele wêreld kan sien.

Sy besluit om ‘n vliegkostuum vir hom te maak van die wind se hare. Toe die wind begin waai, begin die windmeulens weer werk, en so word die inwoners se wense weer versprei.

‘n Baie spesiale prenteboek wat jou verbeelding aangryp en die simboliek laat jou dink oor ‘n bestaan sonder drome gereguleer deur masjiene .   Die illustrasies is uniek en baie spesiaal. Anna wat die perdeblom pluk en in die wind laat versprei bied ‘n illustrasie wat jou betower.  

Hierdie is soos die Ruwe berg ‘n prenteboek wat hoort in versamelings waar boekliefhebbers die kunstigheid waardeer.

3 Titels  oor ‘n kat: My kat, die mees verspotte kat ter wêreld; Toe my kat nog klein was(2); en Nuus oor my kat(3) deur Gilles Bachelet. Uit Frans vertaal deur Nicol Stassen( PROTEA, 2015)

Die skrywer ,ook illustreerder, vertel deur sy humoristiese illustrasies die leser van sy kat wat baie groot, saggeaard en baie verspot is. Hy weet eintlik nie regtig watter soort kat hy het nie!

 Sy “kat” is ‘n olifant, en hy gaan voort om die leser te vermaak met humoristiese illustrasies van sy kat as hoofkarakter  onder elke denkbare situasie- besig om te eet,  rustende op enigeiets; sy toilet-maniere; as model vir ‘n skildery en met verskeie kleurvolle pelse.

Heel vermaaklik, en met ‘n sterk verbeelding aangedurf!

Toe my kat nog klein was:

Hier vertel die skrywer dat ‘n klein katjie entoesiasties moet wees; speel; slaap;  sonder sy baas moet kan funksioneer met bv. die hulp van ‘n nuwe speelding; of deur op ‘n wortel versot te raak!  Weereens vertel die illustrasies die verhaal oorspronklik en onderhoudend.

Nuus oor my kat:

Die skrywer en sy kat verhuis. Die huis is so groot soos sy kat. Hier ontmoet hy sy verloofde- sy is ‘n regte kat!  Die illustrasies hier laat die leser toe om hul verhouding mee te maak; snaakse voorbeelde van hoe sy hom was en mooimaak enin die tuin wegkruipertjie speel. 

Ek dink die skrywer het sy verbeelding vrye teuels gegee om alle denkbare situasies uit te beeld. Die boeke is in hardeband en van groot formaat; ouer kinders sal die humor waardeer.  Kleuters kan hul verdiep in die kleurvolle illustrasies.

Mimus 'n grootse verhaal


Mimus deur Lilli Thal( PROTEA, 2015)  In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

Vanaf ‘n rustige toneel waarin die toekomstige heersers van Monfiel insluitende die kroonprins Florin na sprokies sit en luister, ontwikkel hierdie lywige verhaal na ‘n boeiende meesleurende vertelling van die kroonprins se gevangeniskap in Vinland, die koningkryk wat met Monfiel in ‘n oorlog gewikkel was.  Florin ontvang die tyding dat ‘n vredesverdrag gesluit is en gaan op uitnodiging na Vinland vir ‘n vredesfees. Daar ontdek hy dat sy pa , koning Philip , en sy gevolg gevange geneem is. Florin word verdoem deur Koning Theodo om as hofnar opgelei te word deur Mimus- die gemene raaiselagtige hofnar.

So word dit die verhaal van Florin die hofnar. Mimus leer hom lawwe toertjies doen, grappe vertel, rympies voordra terwyl hy soos Mimus onder haglike omstandighede in strooi slaap en gedurig honger lei. Vir selfbehoud doen hy mee; vermaak die koning en sy gevolg, ook sy bekoorlike dogter prinses Alix. Terselfdertyd probeer hy sy vader wat gevange gehou word besoek. Sal hulle ooit gered word uit hierdie gevangeniskap?

‘n Verhaal wat enduit boei. Die skrywer het ‘n meestersgraad in Middeleeuse geskiedenis. In 2004 is die boek met die Deutscher Jugenliteraturpreis ( Duitse jeug-literatuur prys) beoordeel. Om die uitgewer aan te haal:

“Mimus is ‘n verhaal van konings en narre, mag en vernedering, humor en hartseer, en in die middel ‘n enkele hofnar wat terselfdertyd lig en donker verteenwoordig.”  Geskikvir jeug-12-18 jaar, maar ook vir volwassenes wat ‘n storie geniet waarin jy jou tande lekker kan inslaan. Hoogs aanbeveel. 

Monday, March 16, 2015

Bambaduze - wanneer woorde nie werk nie...


Bambaduze, deur Derick van der Walt(  Tafelberg, 2015)

 

En toe doen hy dit weer! Die skrywer van drie vorige jeugromans-  Lien se lankstaanskoene, Willem Poprok en Hoopvol met bekronings soos Goue en Silwer Sanlam-pryse, die MER –prys vir Jeuglektuur , die Scheepersprys vir Jeuglektuur en insluiting op IBBY se ererol  het weereens bewys dat hy ‘n storie kán vertel; dat hy ‘n fyn aanvoeling en begrip het vir menseverhoudings en veral die emosionele aspekte van ‘n tiener se lewe oortuigend kan analiseer en verwoord.

Ek het die boek met een sitting deurgelees, en was tot aan die einde betrokke en  gewilliglik saamgeneem op ‘n  emosioneel vaartbelynde reis.

Jurie steel karre, nie om regtig te steel nie, maar vir die gevoel van bevryding wat hy geniet wanneer hy die motor vir ‘n rukkie bestuur en dan weer terugbesorg na ‘n nabye staanplek.” Dit was op ‘n koelerige Saterdagoggend in September dat hy sy eerste kar gesteel het”. Hy beskryf hulle  huis soos volg:

“Die huis is ‘n eensame plek, al is die tuin mooi en die meubels duur..Dalk is dit omdat dit net ‘n huis met ‘n pappie is, sonder ‘n mammie of ‘n hondjie of ‘n katjie. Net die enkele debatable point of interest-hy- wat gereeld met ‘n motorfiets iewers heen vlug.

Sy ma het vir ses maande padgegee Engeland toe na sy ouer broer selfmoord gepleeg het. Hy neem haar kwalik dat sy hulle twee so alleen agtergelaat het; hy en sy pa sukkel om te kommunikeer; hy verwaarloos sy skoolwerk; begin swem vir die skool maar hou gou weer op; sy vriende voel verwaarloos, en sy isolasie en afsondering neem net toe. Selfs e-posse aan sy ma delete hy en word nooit afgestuur nie. Hierin word van sy emosies so mooi uitgebeeld. Sy word o.a.aangespreek as Mammie Mooi, Moeder, Maanskyn, Moekie en Ma.  Hy sluit af met name soos Jou liefhebbende seun Jurie; Boetie; Jou eie Ryk Neethling Viljoen en Jurie( die oorblywende).

Maar dan misluk sy poging om die meisie Nadi se Opel te steel toe hy  ontdek dat sy nog in die motor is. Sy verloor haar beursie in haar haas om weg te kom, en hy probeer haar opspoor. So begin ‘n vriendskap waaruit  beide baat vind- sy kan gesels oor haar ma se siekte en die ryk mense in wie se agterplaas hulle bly; hy is getroos deur haar aanvaarding van hom en sy probleem- sy moet tog net hom “Bambaduze”- sy gebrekkige interpretasie van die Xhosa woord- hom vashou en so  vertroos. Kort na hul ontmoeting vra sy aan hom: “Is jy daai bedorwe seuntjie wat alles het en nou steel jy karre omdat niks anders jou meer ‘n high gee nie?”

Maar die risiko wat hy neem met die motors moet een of ander tyd verkeerd loop. Hy word gevang, en dan volg ‘n periode van  skorsing uit die skool maar ‘n geleentheid om met ‘n sielkundige te gesels en op sy studies te konsentreer. Hierdie word ‘n suiwerings-proses waardeur die verhoudings tussen die verskillende karakters verbeter en baie issues opgeklaar word.

Hiermee het ek slegs ‘n oorsigtelike  bo-langse kykie in ‘n interessante verhaal gegee. Wat maak die boek dan so goed? Kortliks:

Vanaf die treffende inleidende kort paragraaf besef jy hierdie gaan ‘n juweel van ‘n jeugboek wees!

Jurie is ‘n werklike karakter en jy word toegelaat om hom behoorlik te leer ken.Dit gebeur in ‘n teks deurtrek met fyn waarneming; treffende dialoog; verassende insidente ; goed gebalanseerde karakterisering en interaksie tussen die karakters wat deurgaans oortuig en met groot gemak en ‘n juiste aanslag verhaal word. Jurie se e-posse aan sy ma sluit hoofstukke af en tref telkens- jy weet hoekom hy so kommunikeer; jy het begrip vir sy worsteling en woede. Sy pa en sy vriende is geloofbare karakters; selfs die huisbediende Hope is ‘n gerustellende teenwoordigheid met haar lekker kos!  Soos die verhaal ontplooi vind jy eers mettertyd uit wat daar gebeur het.

Dit voldoen aan al die  vereistes wat aan ‘n goeie verhaal gestel word- treffende karakterisiering; ‘n interessante plot; goed gestruktueer , ‘n  geskikte milieu; en aangebied in ‘n skryfstyl wat deurspek is met treffende beskrywings en raak kommentaar wat getuig van ‘n bedrewe talent.  

Bambaduze is Derick van der Walt op sy beste. Mooi gedaan. Dit behoort ‘n suksesvolle teksboek vir hoërskole te word,en moet in biblioteek-en tuisversamelings ‘n tuiste vind.

 

Lona Gericke   Maart 2015