Thursday, November 27, 2014

Moord per suurlemoen


 
“Die een oomblik is ek Dale Steyn, wêredklasbouler, die volgende oomblik lê ‘n vrou leweloos op die veld. Dis hoe hierdie hele sage begin het. Hierdie sage van kop verloor or ‘n moord per suurlemoen. Van ‘n gesteelde Gold Wing. Van Russiese akteurs. Van ‘n Romanof-prinses met ‘n veel gesoende handjie. Van getikte dwelmoperateurs. Van vergeefse liefde….”

Vanaf die eerste inleidende paragrawe besef die leser dat hierdie ‘n opwindende leeservaring gaan wees! Dale Steyn en sy suster Brunhilde is so gefrusteerd met die twee “blaffers van formaat” die buurvrou se honde - dat hulle besluit dit is nodig om met die hulp van ‘n vrag suurlemoene die twee stil te kry. Maar die idee was nou regtig nie om die buurvrou in die proses dood te gooi met ‘n suurlemoen nie!  Impulsief besluit die twee dadelik dat hulle sal moet vlug. En hul getroue vriend Ben word ook betrek. Sy broer se geliefde Gold Wing motorfiets moet die drie na die naaste veilige dorpie bring.

Hier vind ‘n wonderbaarlike transformasie van die drie tieners plaas- hulle doen hulle voor as  Russiese akteurs en gaan tuis in die gastehuis die Groen lantern.

Sersant Japie Kleynhans van die plaaslike polisie is dadelik verlief op die bekoorlike Russiese prinses. Maar die eienaar van die Groen lantern het gou ander planne met die drie- Brunhilde is volgens hom die dogter van die legendariese dwelmkoning Pappie, vergesel van haar twee luitenante. En hierdie is ‘n geleentheid vir die klomp dwelm-handelaars om hul network uit te brei! Maar nouja… lees en sien wat gebeur!

Moord per suurlemoen is ‘n waardige wenner van die SANLAM silwer medalje  vir jeuglektuur.  

Die skrywer praat die taal wat tieners sal geniet. Die teks is deurspek met humor en kwinkslae en die drie jongmense se vermommings en lawwe idees om die moeilike situasies te fnuik, sorg vir lekker en opwindende leesstof. Tieners sal  wens hulle kon ook in so ‘n situasie beland !  Dale Steyn as verteller beïndruk met sy skerp waarneming van situasies en karakters, hy verwys byvoorbeeld na die eienaar van die Groen Lantern as ‘n man met ‘n “ ongesonde psige”; en wanneer hulle uit “blommerige koppies” tee drink merk hy op dat die prentjie van verfyndheid effens bederf word deur die manier waarop hy en sy addelike vriende die sjooladekoek aanval.  Die teks is deurspek met oorspronklike beskrywings van die omgewing, die inwoners van die dorpie , die Groen Lantern se personeel, die Negosiegat waar hulle hul verskeie kostuums aanskaf,  en die ete in die restaurant die Goue Pampoen. Hier is geen geleentheid vir die leser om verveeld te wees nie.

Juis die gedagte dat twee tieners kan aanvaar dat hulle die buurvrou doodgegooi het met ‘n suurlemoen en dus van moord aangekla gaan word, maak die hele leeservaring een van groot absurde aweregse lekkerte. Aanbeveel vir biblioteek, skool-en tuisversamelings.

Wierenga, Jelleke: Moord per suurlemoen( Tafelberg, 2014)

Lona Gericke.

  

  

No comments:

Post a Comment