Monday, November 10, 2014

Momo en Monsieur Ibrahim


Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran

Die skrywer van Oskar en die pienk tannie  bied die leser hier ‘n grensverskuiwende verhaal wat herinner aan die klassieke  werk The little Prince.  Dit is een van daardie spesiale boeke wat gewoonlik nie ‘n groot lesersaanhang trek nie; maar wanneer dit onder hul aandag gebring word, veral ook as ‘n verhoogstuk soos hier beplan word, is daar skielik groot belangstelling in die werk.

Momo is ‘n tiener-seun wat alleen saam met sy pa in die Rue Bleu-distrik in Parys woon. Sy pa funksioneer nie wonderlik na sy vrou en geliefde seun Popol  weg is nie, en gevolglik voel Momo alleen  en  moet hy self eksperimenteer oor grootword . Monsieur Ibrahim het ‘n kruidenierswinkel in die area, ‘n Arabiese kruidenier in ‘n Joodse straat.  Momo begin by hom blikkieskos  steel, maar die vriendskap tussen die twee groei tot ‘n betekenisvolle en leersame verhouding  vir Momo wat wonderlike lewenslesse van Monsieur Ibrahim  leer.

Ongetwyfeld is hierdie ‘n werk van literêre waarde. Vir my is ‘n teks wat eenvoudig maar met groot deernis en opregtheid geskryf het, die teks wat jou lank bybly en roer. Momo se haat verdwyn. Hy leer van liefde, geloof en vriendskap. Soos hy vertel:” Sedert Monsieur Ibrahim tussenbeide begin tree het, het die grootmenswêreld begin oopkraak. Dit was nie meer die muur waarteen ek my altyd vasgeloop het nie; deur die bars het iemand ‘n hand na my toe uitgesteek.”

‘n Juweel van ‘n boekie wat gekoester moet word.

Schmitt, Eric-Emmanuel( H&R, 2014) In Afrikaans vertaal deur Naòmi Morgan. 

 

No comments:

Post a Comment