Monday, November 10, 2014

Bennie Boekwurm is hier


Bennie  Boekwurm vertel  lekker stories

Die 4 stories in die boek is gebaseer op die TV-reeks wat in die tagtiger jare op SABC was.

Bennie Boekwurm is lief om vir kinders stories te lees.  Hy woon diep onder die grond in Wielie-Walie-park, en die kinders moet hom wakker raas as hulle stories wil hoor.  En dan soek hy gewoonlik ook nog sy bril.

Japie Apie soek sy mamma, Tokka die stoute kabouter, Mimi Mier dink diep en Die wurmpie wat nie vroeg wou opstaan nie is elkeen ‘n storie waarna kleintjies lekker sal kan luister. Die temas is welbekend- ‘n mamma  wat soek is; stoute kinders wat so lief is om blomme se koppe af te skop,  een wesentjie wat verkies om te dink terwyl haar span werk, en dan die bekende wurmpie wat uiteindelik in ‘n skoenlapper verander.

Louise Smit praat die taal van kinders. Hier is ‘n eerlike onopgesmukte teks wat lekker lees. Die rympies is ook toepaslik en maak die leeservaring nog vroliker.

Séan Verster se lewendige, opgewekte en kleurvolle illustrasies maak regtig die boek! Ek het by hom navraag gedoen oor die prosesse wat hy volg: Met potloodtekeninge word die illustrasies eers sorgvuldig op die bladsy geplaas. Dan word dit met swart ink ingekleur . Hierna word die illustrassies geskandeer en met Photoshop ingekleur.

Die resultaat is ‘n boek wat vanaf die omslag die leser aantrek  en lus maak om te lees.  Die diere , kinders en selfs die natuur  leef en beweeg en die gesigsuitdrukkings is ongelooflik korrek  in die  weerspieëling van die spesifieke dier of mens se gevoelens.    

Hierdie is sowaar ‘n fees vir die oog!  Goed gedaan.  Vir voorlees of selflees.

Louise Smit( H&R, 2014) Illustrasies deur Séan Verster.

 

No comments:

Post a Comment