Sunday, April 7, 2019

Skandalige susters Smit, tweede kans en ruk-en-rol-rugby



Radloff, Adeline en Van Houwelingen, Alex: Die skandalige susters Smit( Tafelberg, 2019)

Sara Sloot-Smit hoor herhaaldelik van haar ouers hoe ‘n gelukkige meisie sy is. Sy woon in ‘n buurt wat getuig van welvaart, sy het al die geleenthede moontlik in haar goeie skool waar sy blootgestel is aan opgevoede kinders en bekwame onderwysers.  Haar ouers is baie belangrik en besig, en gevolglik spandeer hulle min tyd aan hul dogter.
Wanneer haar ouers met vakansie oorsee gaan, stuur hulle haar na haar drie tantes, haar pa se susters wat in die stad woon. Haar pa verwys gewoonlik na hulle drie onderskeidelik as die feeks,die flerrie en die rissiepit.

Met haar aankoms word sy oorval met liefde en opregte belangstelling. Die drie susters bestee elkeen ‘n week aan Sara en stel haar bekend aan hulle eie lewenswyses.
Sy leer dat die sirkus ‘n wonderlike plek is, saam met haar mooi tannie Silvie gaan sy swem, en tannie Sofia neem haar saam na die ouditeursfirma  waar sy werk.
Deesdae is sy ‘n baie gelukkige meisie want sy kuier gereeld by haar tantes:”want wat kan beter wees as om te kuier by die skone, die sompatieke, die sensasionele susters Smit?”

Wat ‘n heerlike leeservaring!  Radloff se teks laat die leser krul van plesier- met rym en lewendig en baie snaaks!  Beginner lesers se woordeskat sal met rasse skrede uitbrei, en vir voorlees is die boek ook ‘n wenner.

Die illustrasies sluit pragtig aan by die teks en maak ‘n groot bydrae tot die algemene aantreklike voorkoms van die boek. Hoogs aanbeveel.
Net so jammer dat Sara se ouers nie ook van die maniere en karaktertrekke van die drie susters wil aanleer nie! Dalk ‘n volgende keer.

Roux, Lize: Tweede kans ( LAPA, 2019)
 Hierdie is die 21ste titel   in die baie gewilde Stalmaats-reeks.
Anri en haar twee vriendinne ontmoet die nuwe seun Josh op sy eerste dag by hulle skool. Hy vertel hulled at sy pa ‘n nuwe ryskool op die dorp begin, Hoefslae, en nooi hulle uit om die opedag by te woon. Die drie vriendinne is betrokke by Dagbreek , die ryskool wat al die jare die enigste groot skool in die omgewing was.
Hoefslae gaan dus baie duidelik kompetisie wees, en so word die meisies se lojaliteit getoets.
Dan is Josh nog aantreklik ook, maar Anri is Jacques se meisie al word hy omgekrap omdat hulle die nuwe ryskool ondersteun het.
Hulle ontdek dat Josh se pa voorheen die Pegasus-ryskool in Pretoria gehad het waar hy gedagvaar is omdat ‘n ruiter ‘n ernstige nekbesering opgedoen het tydens ‘n ryles. Tannie Maja stel hulle gerus dat die skool nie skuldig was aan nalatigheid nie, end at Hoefslae Josh se pa se geleentheid is om weer te begin, en selfs as direkte kompetisie vir Dagbreek, sal hulle hom ondersteun indien die stories uitlek.

Lize Roux skryf met gemak; haar karakters word oortuigend uitgebeeld, en perdestories bly gewild by jong lesers; veral  waar die boek deel is van ‘n gewilde reeks met karakters wat reeks bekend is vir die lesers. Tweede kans verdien ‘n kans!  Lekker ligte leesstof.

Bergesio, Daniele en Fagnani, Francesco: Ruk-en Rol- Rugby( H&R, 2019) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Wat ‘n aantreklike prenteboek! 

Dit is Rico se droom om rugby te speel, al is hy brandmaer en veertjie-lig.
Die span se afrigter gee hom ‘n kans om te speel teen die gevaarlike rooispan. Rico is aanfanklik verskrik en raak nie aan die bal nie. Hy word plat geduik en uitgelag. 
Maar Rico is ‘n geweldige goeie danser, en toe ‘n ruk-en-rol-liedjie oor die luidsprekers begin speel gebruik hy sy ratsheid en vlugtige voete om punte aan te teken!  “So word ‘n rugbyster gebore: maer soos spaghetti en blugvoetig soos ‘n danser!”

Teen ‘n donkergroen agtergrond word die twee spanne in geel en rooi geteken. Beweeglike illustrasies wat met enkele kunstige lyne die spel aksie en vaart gee.  Die omslag met die maer seuntjie wat soos’n ballerina hom op die rugbybal balanseer is uiters treffend, ook met die heldergeel letters teen die donkergroen agtergrond. En Naas Botha, bekende oud-rugbyspeler dra ‘n positiewe aanmoedigende boodskap by met sy woorde” moenie die outjie vlak kyk nie- hy het murg in sy pype!”

Hierdie is ‘n mooi boodskap vir jong seuns wat dink hulle is nie fisies geskik vir rugby nie, om ook te probeer.