Wednesday, August 14, 2019

Van towermeisie en 'n kat tot 'n betowerende jeugboek Raaiselster


Grobler, Mari:  Bella en Sebastiaan( Tafelberg, 2019) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

Hierdie aantreklike leesboek vir 9-12jariges bevat vier stories oor Bella en haar kat Sebastiaan, nl. Bella en die dorpsmoles, Bella en die talentkonsert, Bella en die katteskou en dan Briljante Bella waar sy met ‘n kamera versteek in haar bril besighede ondersoek om vas te stel of hulle goeie diens aan die publiek lewer.
Die dorpie Wag-‘n bietjie waarheen sy met haar kat en towerstaffie getrek het, is maar bra vervelig. Maar Sebastiaan weet onverwagte situasies kan opduik as Bella impulsief begin toor, soos nou waar hulle hele huis in die dorpstraat verwyn!
Bella besluit om aan ‘n talentkompetisie deel te neem, natuurlik sonder veel talent. Haar groot talent as towenaar sal beter gebruik word as sy kulkunstenaar speel. End it is sowaar ‘n briljante idee van Sebastiaan.
Bella besluit om Sebastiaan vir ‘n katteskou in te skryf, want daaris ‘n afdeling vir gewone huiskatte ook. Hy is gladnie ingenome met die idee nie, maar toe hy hom vererg vir die verwaande skoukatte, word hy ‘n baie mak ramkat met goeie skoumaniere!

Die lewendige teks en oortuigende verhouding tussen Sebastiaan en Bella sal katliefhebbers onder die jongklomp lekker pret verskaf. Die vier stories is net die regte lengte en so vermaaklik dat jong lesers nie verveeld sal word nie.

Goosen, Troula: Raaiselster( H&R, 2019).

Met die eerste boek in hierdie historiese jeugroman reeks, Raaiselklip, het Troula Goosen reeds 12-14jariges betower met die kombinasie van fantasie en avontuur wat afspeel in die Kaap van lank gelede.
Raaaiselster neem sommer vanuit die staanspoor die leser mee op ‘n opwindende en verassende avontuur  met Leopold en sy reis saam met die togryer na die diamantvelde van destyds.   
Die storie”verhoog” word geskep met Leopold wat na sy ma se dood haweloos en geldloos met net sy ma se beursie en onervare ‘n togryer se handlanger word omdat die ou man se hond Asem hom uitgesoek het om een of ander onverklaarbare rede. Sarel is die ander metgesel, en hy vertel hom gou dat dit ‘n gevaarlike rit gaan wees, veral met gerugte van die Verdwaalding wat in die Skurweberge ronddwaal. Die trio word aangevul deur die tolwagter Arius en in Ceres met die pragtige donkerkop meisie wat in ‘n lykswa ry en hom dadelik betower. 

Emily se pa is ‘n geoloog, en hy bring gereeld stersplinters van ‘n ster wat in 1838 geval het huistoe.

Die raaisel verdiep as ook Leopold ontdek dat hy ‘n soortgelyke “klip” van sy ma ronddra, en wat is in die sakkie wat Arius vir oom Barend gestuur het?  En toe is Sarel ook ‘n meisie Sara!  Emily glo hulle is gestuur om haar te help om die raaisel van die stersplinters te verstaan.

Die swart doodskis van Arius ontsluit nog meer geheime oor hul herkoms ; en dan is daar nog altyd die rondsluipende Verdwaalding waarvoor hulle almal baie bang is, en wat die leser menigmaal na jou asem laat snak!
Die verhaal ontwikkel tot ‘n interessante klimaks met Sara wat haar voorouers se teken vind, en vir al die karakters word die simboliese betekenis van die stersplinters, en die openbaring van die ware identiteit van die Verdwaalding waarin hulle almal ‘n sentrale rol speel, duidelik.

Hierdie is ‘n uitmuntende verhaal waarin geskiedenis, avontuur, raaisels, kalwerliefde en  interessante karakters elkeen met ‘n persoonlike rol en plek, nou verweef word tot ‘n leeservaring wat jongmense sal betower. Stadig maar seker word elke stukkie van die raaisel bymekaar gebring, en die boodskap is duidelik dat elke individu kan bydra om iets positiefs en blywend te laat gebeur, en dat haat en hartseer tog met deernis uit hierdie Skurweberge kan verdwyn voordat dit die hele gemeenskap oorweldig en vernietig.

Troula Goosen verdien ‘n groot kompliment vir haar heerlike verbeeldingsvlug wat sy gebruik om soveel lesers te betrek by die genot van lees en die blywende waarde van ‘n goed beplande en deurdagte leeservaring. Hoogs aanbeveel..