Monday, February 11, 2019

Hokaai Lulu, Die dag van die draak, Zackie Mostert, Kleuterland en Skuif


Resensies 1/2019:

Viljoen, Fanie: Hokaai, Lulu( LAPA, 2018)  Illustrasies deur Elsbeth Eksteen.

Die gewilde reeks met kunstige Lulu as hoofkarakter kry ‘n 5de titel by! Lulu verjaar, en nadat die tweeling Alex en Alet haar eers skrik gemaak het met ‘n monster uit twee opblaas balle, word haar verjaarsdag soveel lekkerder as sy ‘n pragtige ponie Roset as geskenk ontvang!
Dadelik begin sy met rylesse by die skool waar die tweeling ook perdry.
Tannie Magriet van die Sonskyn-stalle vertel aan die kinders dat hulle binnekort op ‘n piekniek uitstappie gaan, en dat hulle kostuums kan dra. Dit is so reg in Lulu se kraal. Sy ontwerp eers vir haar vriendin Carmen ‘n pragtige rok, en vir haarself later ‘n verassing- sy is die koninging Marie Antoinette.
Hulle trek name uit ‘n hoed oor wie hul rymaat gaan wees. Sy trek  Alet se naam, , en is nie opgewonde om met ‘n aardsvyand saam te ry nie. Maar wanneer haar ponie skrik vir ‘n slang en sy in die gevaarlike woud beland, is dit Alet wat haar help. Die twee bring ‘n nag saam deur in die woud, maar word die volgende dag gered deur Lulu se pa. Alet moet saam met Alex kamstig ‘n vyand bly, maar Lulu besluit om Alet se droomrok te maak.   
Hierdie reeks tokkel die hartsnare van elke dogter wat soos Lulu pragtige klere wil dra, en wie se huislike omstandighede kommerloos en geborge is met genoeg versorging en omgee.  Elsbeth Eksteen sorg vir pragtige verbeeldingryke uitrustings en versterk die gevoel van sagte vroulikheid met haar illustrasies.

Viljoen, Fanie: Die dag toe die draak kom( Human& Rousseau, 2019). Illustrasies deur Tumi K. Steyn.
Twee boeke , een vir meisies en een vir seuns, met die hoofkarakters onderskeidelik ‘n seun en ‘n meisie , vertel die verhaal van ‘n jong kind in ‘n gesinsverband met ‘n ma en ‘n boetie of suster en die ma se vriend, Oom Jason.
Kyla is ‘n onskuldige jong kind wat nie kan verstaan hoekom haar suster gedurig in haar kamer wegkruip nie, en haar ook waarsku dat daar ‘n draak in hulle huis is. Kyla wonder wie die draak is, en eers wanneer sy alleen by die huis is en swem, word sy met die waarheid gekonfontreer.  Gelukkig is sy dapper, en gewapen met die rympie wat Juffrou Arendse die kinders geleer het, o.a. dat sy ‘n lyf het, maar dit is hare alleen.
Die skrywer sluit ‘n belangrike afdeling in waarin die kinders  geleer word hoe om ‘n draak te identifiseer, oor goeie en slegte vrees, veilige en onveilige vat, geheime wat goed en sleg is, en wat jy kan doen om jou teen ‘n draak te beskerm.  
Daar is ook handige inligting vir ouers en onderwysers, ‘n verwysing na webblaaie op die internet, en instansies waar hul om hulp kan gaan met selnommers. Philip de Vos het gehelp met die rympie.
Hierdie twee boeke behoort in elke biblioteek, skool en ook in tuisversamelings, veral waar dit aanvullend is tot min, indien enige, soortgelyke boeke in Afrikaans. Hoogs aanbeveel.

Jacobs, Jaco:  Zackie Mostert en die monster-melkskommel( LAPA, 2019)
Zackie en Vincent is oortuig hierdie gaan die goorste skoolvakansie ooit wees, want Anton en sy neef verhoed hulle om in die park te speel en bedreig hulle met hul monster watergewere; by Vincent hulle se huis word gebou, en Zackie se huis is ook ‘n gevaar-sone met die tweeling Zita en Zander wat langsaan by mevrou Langenhoven kuier, en uiters vervelige  geselskap is.
Maar dan is daar ‘n kompetisie om monster-mekskommels te drink, en dit is dalk die geleentheid vir die twee maats om die Zirts 4000 waterpistole te wen!
Ongelukkig neem Anton ook aan die kompetisie deel. Zackie dink hy is sy grootste teenstander, hulle is gelykop, maar die tweeling wen sowaar die kompetisie! So bring die vakansie ook nuwe maats, en dit mag dalk die beste vakansie ooit wees!
‘n Gewilde reeks, altyd groot pret.

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die fantastiese fliek( LAPA, 2019).
Agent Felix en sy hond Flitz is die twee maats se gewildste aksie program. Zackie se pa vertel hom dat die vervaardigers ‘n Felix en Flitz –fliek gaan maak, en hulle is op soek na jong akteurs om in die fliek te speel.
Hulle besluit om vir die oudisies te gaan, maar eers moet hulle karatelesse neem. Maar natuurlik is Anton die boelie hier en trek Zackie en Vincent ‘n nare  streep- altwee doen beserings op en word buite aksie gestel.
In die parkie lyk dit asof  Frankenstein  die vreemde hond herken wat verdwaal het.  Zackie besef dat dit Fitz van die tv-reeks is, eintlik Peanut, en hulle  moet die hond by die teater aan sy eienaar terug besorg.  So kry die twee maats tog rolle in die fliek, en Anton kry die rol van Goor Elsa, ‘n meisie!, tot hul groot vermaak.
Die 16de titel in hierdie gewilde reeks waarin die twee maats tog vir Anton die boelie die stof laat byt.

Omnibusse :  Roux, Lize: Stalmaats omnibus 3( LAPA, 2019);  en   Van Baalen, Theresa:  Sanri Steyn omnibus 1 en 2( LAPA, 2019 ).
Dit is so belangrik dat gewilde reekse soos die Stalmaats-reeks en Sanri Steyn-reeks ook in omnibusse verskyn.  Enkel titels in reekse verdwyn gereeld uit biblioteke , deur diefstal of omdat die boek reeds in ‘n swak toestand is en onttrek moet word uit die versameling.  Lesers van reekse wil die volgende titel in die reeks lees, en met die omnibusse word  ‘n reeks soveel meer toeganklik.
Johan Strauss verdien komplimente vir sy wonderlike illustrasies vir die Sanri Steyn- reeks.

Lochner, Helena J.F. : Kleuterland( PROTEA, 2019) Illustrasies deur Alida Bothma.
Kleuterland was oorspronklik deel van die reeks van ses bundels, naamlik Diereland, Storieland, Kammaland en Avontuurland.   PROTEA uitgewers bring hiermee  die geliefde reeks weer na nuwe jong lesers sodat Lochner se bydrae tot die Afrikaans kinderlektuur nie verlore gaan nie. Alida Bothma het gesorg vir ‘n bekoorlike vars nuwe omslag. Die inhoud word keurig aangebied op glanspapier, en met Bothma se illustrasies deurgaans effektief geplaas sodat teks en illustrasies saamwerk tot ‘n baie aantreklike boek.
Kleuterland is ‘n versameling van 40 stories . In die eerste ses stories bestaan die woorde slegs uit drie letters, gevolg deur woorde wat groei na vier tot  vyf letters en later moeiliker langer woorde.
Die druk is lekker groot en mooi gespasiëer op die bladsye. Kleuterland is ideal vir voorlees en vir kinders wat self begin lees.Soos hul vorder in die boek kan hulle ook geleidelik langer en moeiliker woorde  baasraak.  Ek is dankbaar oor hierdie inisiatief om ‘n geliefde skrywer ook vir ‘n nuwe generasie beskikbaar te maak.

Nie-fiksie:
Ince, Martin:  Skuif( PROTEA, 2019)
Vanaf die begin van lewe tot in die toekoms word die evolusie van die wêreld in hierdie groot formaat-boek ( 370x272mm) uitgebeeld in ‘n toeganklike verstaanbare teks en met kaarte en illustrasies wat die publikasie uiters aantreklik maak.
‘n Tydlyn, woordelys, indeks en  erkennings, ook aan die Natuurhistoriese museum in London vir illustrasies.
Inleidend word die dans van die kontinente bespreek, gevolg deur die verskillende chronologiese tydperke wat 4,5 miljard jaar gelede begin met die vorming van die aarde, gevolg deur tydperke tot 50 miljoen jaar gelede en vandag-2000HJ- die Antroposeen tydperk, en ter afsluiting die toekoms vanaf bladsy 72.
Prakties gesproke met biblioteek versamelings in gedagte, sou ek nie die boek plaas in sirkulasie nie, maar wel in ‘n naslaan afdeling.  Hierdie is meer wat ek sou beskryf as ‘n “koffietafel-boek”, baie pragtig , maar moeilik om te hanteer –dit moet op ‘n oppervlakte neergesit word vir makliker hantering.