Thursday, March 5, 2020

Pragtige prenteboeke om die jaar in te lui1


Prenteboeke  1/2020:

Baker-Smith, Grahame: Die ritme van die reën( PROTEA, 2020). Uit Engels vertaal deur Deborah Steinmair.

Hierdie pragtige poëtiese teks en illustrasies is ‘n viering van water en die reën waarsonder ons aarde nie kan bestaan nie.

Isak neem die leser saam op ‘n ontdekkingstog waar hy, soos die reën val, sy waterbottel vul en die stroompies bergaf volg tot dit aansluit by die rivier , by ‘n waterval aftuimel en uiteindelik in die oseaan uitmond. Die seewater word mis en dryf na ‘n verre dorstige land. ‘n Nuwe rivier vloei weer terug na die see. Die siklus is voltooi.

In 2011 het die skrywer die Greenaway medalje verower vir sy kinderboek, Farther. Die ritme van die reën is ‘n ongelooflik spesiale prenteboek ,sowel tematies as deur die sagte gevoelvolle illustrasies . Die omslag met die vallende druppels is treffend. Hoogs aanbeveel.

Davies, Benji: Ouma voëltjie( PROTEA, 2020).

Soos sy vorige twee prenteboeke , Die Stormwalvis en Oupa se eiland, is Ouma se voëltjie weereens ‘n treffende bydrae tot boeke wat die see en omgewing met groot deernis uitbeeld. Noi  gaan in die somer by sy ouma bly. Sy woon op ‘n klein rots alleen. Sy is altyd besig, en Noi moet maar himself besig hou. So beland hy in ‘n grot waar ‘n klein voëltjie by hom aansluit. Ouma kom tot sy redding , en die res van die somer geniet hulle saam en gaan op menige verkenningstogte.

Die see, maar ook die verhouding tussen ‘n ouma en haar kleinseun word liefdevol uitgebeeld. Die teks is lekker groot en lees maklik; die illustrasies tref met Noi se heldergeel reënjassie wat teen die grysblou kleure van die see en rotse uitstaan. Hy bring klelur in die lewe vansy ouma, en selfs die klein voëltjie word lief vir haar.  Hoogs aanbeveel.

Jones, Richard: Pootjies: (PROTEA, 2020).Vertaal in Afrikaans deur Kristèl de Weerd.

Pootjies is ‘n verlore klein hondjie , sonder ‘n huis en al wat hy het is ‘n rooi serp.

Hy volg ‘n dartelende blaar toe dit wegdryf in die nag. Nou bevind hy hom in die stad, en weet dat hy ‘n huis moet vind.  Maar oral wor hy weggejaagm Hy beland in ‘n park met hoë bome. Hy maak vir hom ‘n nessie van klippies en blarewaarin hy opkrul. Maar skielik verskyn ‘n dogtertjie wat sy rooi serp nah om uithou. Hy het iemand gevind wat hom aanvaar en nou het hy ‘n eie huis.

Die verhaal van ‘n eensame hondjie wat op soek is na ‘n tuiste sal byval vind by elke jong lesertjie met ‘n liefde vir diere en met die behoefte om hul te versorg en lief te hê.

Die omslag van die boek met sy naam Pootjies in verskillende kleure geskryf teen ‘n roomkleurige agtergrond, en daarby die klein bruin hondjie met die rooi serpie om sy nek, wat klein en verdwaal lyk teen die agtergrond,  is treffend en werk.  Mooi bydrae.

Sussman, Michael: Mynhardt die moeilike kind(PROTEA, 2020). Illustrasies deur Júlia Sardá. Vertaal in Afrikaans deur Rentia Bartlett-Möhl.

Mynhardt se ouers lees die boek Hoe om ‘n moeilike kind te hanteer, en op Mynhardt se opmerking dat ‘n yslike kobra uit sy kas uitgekom het, is hulle reaksie maar net dat hy te oud is om hom van monsters te verbeel.

Hulle raad vir sy verbeeldingsvlugte is om hom in die werk te steek, maar na ‘n middagslapie word hy sowaar  deur die kobra ingesluk terwyl hy op sy blokfluit oefen!Sy ouers dink dit is ‘n slangkostuum, en steur hulle nie aan sy stem binne die kobra wat vertel dat die slang hom regtig ingesluk het nie.

Hy eet so saam met sy ouers, en gaan op ‘n wandeling saam met hulle . Sy nefie word uitgenooi om die aand by hom te kom slap, maar gelukkig maak Mynhardt ‘n plan om hom van die slang te bevry.

Die skrywer is ‘n kliniese sielkundige, en hy skaar hom by die seun wat eintlik moeilike ouers moet hanteer, en nie andersom nie.

Die illustreerder vul die teks treffend aan met die reuse rooi slang wat elke lesertjie grootoog sal laat luister en kyk. Die donker kleure skep die regte somber atmosfeer in die aand,en die “formele” p;asings van sy ouers in ‘n gestruktueerde toneel met sterk lyne baie formeel, suggereer die swak verwyderde kommunikasie tussen die seun en sy ouers.  Baie oorspronklik en uniek. Hoogs aanbeveel.

Valentine, Rachel:  Moenie met ‘n prinses mors nie! ( H&R, 2020). Illustrasies deur Rebecca Bagley. In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

‘n Pragtige koningkryk word bedreig deur ‘n troll wat alles om hom verwoes en die onderdane in vrees laat leef. Die koning waarsku sy drie kleindogters om nie met die trolskoor te soek nie. Hulle is egter vasberade om die trol te konfronteer en ‘n les te leer.  ‘n Betowerde woud stuit hulle nie, ook nie krioelende spinnekoppe nie, ook nie ‘n gebreekte brug met die trol aan die anderkant van die kloof nie. Nadat hulle hom gevang het in ‘n wasgoedlyn, wag ‘n verassing op die drie.

‘n Vrolike beweeglike teks en illustrasies wat jong lesers sal geniet, veral sal dogters identifiseer met die drie prinsessies wat nie met hulle laat mors nie, en planne kan maak om probleem situasies te hanteer.  Bagley se illustrasies is vol humor, die gesigsuitdrukkings van die karakters spreek boekdele, en elke situasie is groot pret om saam met die skrywer te deel.  Die boek behoort goed ontvang te word en sal gewild wees. Lekker ligte leesstof, tog met ‘n mooi boodskap.