Thursday, November 27, 2014

Stalmaats, Spookstories , 'n Eiland avontuur...


Stormnag:  Stalmaats 15

Perdestories in Afrikaans is altyd op aanvraag in biblioteke. Die Stalmaats-reeks vul hierdie gaping baie suksesvol. Stormnag oortuig weer, en veral ‘n lekker boek omdat Anri deur Jacques uitgenooi word na ‘n Valentynsdans en Vinette planne beraam om Anri  te oorskadu met die rok wat Anri wou koop. Gelukkig bestaan daar nog “fairy godmothers” wat ‘n meisie kan omtower in iets baie mooi. Anri kry ook die geleentheid  om  Jacques te oortuig dat sy regtig omgee vir  Thunder toe daar probleme  opduik met die kalfie se geboorte.    

‘n Perdestorie wat perdeliefhebbers van9+ jaar  sal verslind.

Roux, Lize( LAPA, 2014)

Wegholrit: Stalmaats 16

Storm, Thunder se vulletjie word groot. ‘n Afrigtingskamp word aangebied deur Kate Greeff, ‘n ruiter van formaat. Anri en haar vriendinne is dadelikgretig om in te skryf, maar kan hulle almal dit bekostig? Karen begin snaaks optree, veral toe hulle sien dat sy in ‘n gesprek is met Vinette, hul grootste vyand. Wat is aan die gang? En dan is daar nog die verassings-verjaarsdagpartytjie vir Jacques en Anri moet kopkrap oor ‘n geskikte geskenk.

‘n Wegholrit vir die betrokke jongmense. Lesers sal saam naels kou!

Roux, Lize (LAPA, 2014)    

Die beste Suid-Afrikaanse spookstories

18 spookstories waarvan sommige heel bekend is, loop deur onder Maartens se pen wat dit oorvertel. Daar kan nooit genoeg spookstories in Afrikaans wees nie. Ek onthou nog hoe ek gedurig moes soek vir Langenhoven se Brolloks en Bittergal vir lesers.

‘n Mens lees sommer weer lekker van die rooi os van Riebeek-kasteel; Sir Lowryspas se padvark, die heks van Hexrivier, die spook van Uniondale en die Vlieënde Hollander en nog baie minder bekende spookstories.

Na elke storie is daar ‘n bladsy met Het jy geweet? Kan jy dit glo? en een of ander spoke-grap, bv. Waar doen spoke graag inkopies?  Boe-tieks!

Die styl is heel gemaklik en vloei lekker. Die boekie het ook sulke regte spookagtige illustrasies deur David Griessel wat bydra tot ‘n bangmaak-atmosfeer. (Nogal  David GRIESSEL!)Vir 9+ jariges.

Maartens, Wendy (LAPA, 2014)

Wouter en die eienaardige eilandavontuur

Hierdie verhaal is in Engels uitgegee as Oliver and the seawigs . In  Afrikaans vertaal deur Jaco Jacobs.

Daar is min fantasie verhale in Afrikaans vir kinders, en hier word die leser saamgeneem op ‘n amper ongelooflike avontuur saam met Wouter wat op soek is na sy pa en ma- verkenners- wat skielik spoorloos verdwyn as die gesin aankom by die dorpie Krewelfontein waar die twee wil gaan rus na al hul omswerwinge. Maar hulle nuuskierigheid laat hulle in groot moeilikhied beland, en Wouter is genoodsaak om hulle te gaan soek. Hy het intussen kennis gemaak met ‘n beduiwelde albatros en ‘n bysiende meermin, en die eiland Frans wat almal wil help.

So begin ‘n avontuur wat oorloop van fantasie , eilande met die ongelooflikste hoofbedekkings want elkeen wil aangewys word as die heerser –die eiland-indoena vir die volgende sewe jaar. Die Ruwelrots met sy ouers as gevangenes in glasballe, endie skeepswrak wat ‘n wonderlike hooftooisel maak, wil triomfeer. En Ruwelrots word bygestaan deur die groen seeapies met hul skerp tandjies. Gaan Wouter daarin slaag om sy ouers te red? En wat van Frans?   

Hier is genoeg fantasie en opwinding om enige jong leser se verbeelding aan te gryp. Ek het nognie iets soortgelyks in Afrikaans gelees nie. ‘n Welkome leeservaring vir fantasie liefhebbers. Die swart-en wit illustrasies is netso aweregs en opwindend soos die teks.

Reeve, Philip en McIntyre, Sarah ( LAPA, 2014)

No comments:

Post a Comment