Wednesday, November 5, 2014

Cool Oumas en Bonsende beddens!


Die coolste Ouma op aarde

Wie is die person wat in elke kind se lewe naas hul ouers, en Oupa, seker die belangrikste rol speel?

Hulle ouma natuurlik!

En hier bring Marita van der Vyver met illustrasies deur Zinelda McDonald vir kleintjies die geleentheid om deur die teks te vertel hoe elkeen se ouma lyk. Natuurlik nie soos die oumas in storieboeke wat maar valerig vertoon naas hul eie persoonlike unieke oumas nie.

Hier kan lesers kies en keur:  ‘n Cool ouma wat altyd besig is; ‘n dokter wat seerplekke gesond soen; ‘n ouma wat hou van helder kleure; ‘n rockster; ‘n tuinier; ‘n rosyntjie-ogies ouma lief vir bak; ‘n dame”; ‘n atletiese ouma; ‘n ouma wat stories lees; ‘n reisiger; ‘n onderste-bo ouma wat joga doen; ‘n ouma wat netsoos ‘n storieboek-ouma lyk, maar sy is natuurlik beter want sy is die kind se eie ouma.

“’n Regte ouma is altyd cooler as ‘n storieboek-ouma”. “Druk haar styf teen jou vas en vertel haar sy’s cool”

‘n Heerlike groot formaat prenteboek met die coolste illustrasies wat die teks uitbundig en kleurvol vol beweging  aanvul.   Knap gedaan! Hierdie gaan ongetwyfeld ‘n wenner wees.

Marita van der Vyver( LAPA, 2014) Illustrasies deur Zinelda McDonald    

Ons bons op die bed

Henk en Hestie bons op die bed. Dit lyk tog te lekker vir hul dieremaats, en een vir een sluit hulle by die twee kinders aan. Muis, Kangeroe, Tier, Sebra , Eend en Hond. Tot Olifant kom met dawerende pote by hulle aansluit. O nee! Daar bons die bed op sy rug en skiet deur die venster en vlieg deur die lug.  Olifant wil nie alleen agterbly nie. Saam gaan die avontuurlustiges op ‘n verbeeldingsvlug in die ruimte. Watter planet lyk die lekkerste om te besoek?  Raai nou net.

‘n Prenteboek wat kleintjies sal geniet want wie het nou nognie op ‘n bed rondgebons nie! En wat die ervaring  nog lekkerder maak is die moonlikheid dat hul heeltemaal kan ontsnap uit die werklike situasie na ‘n ongelooflike avontuur.

Bonsende kinders en vrolike bonsende diere maak hierdie boek ‘n lekker leeservaring.

Jarman,Julia(LAPA, 2014) Illustrasies deur Adrian Reynolds. Afrikaanse vertaling Jaco Jacobs

No comments:

Post a Comment