Tuesday, November 4, 2014


Plons

Dink nou net as julle ‘n swembad in die tuin het wat slymerig en groen van vuilheid is, en onverwags daag die mooiste meisie by julle voordeur op en bied aan om die swembad “blinkblou” te kry? Dis nou as jy die seun in die huis is met ‘n klein sussie Lanie wat met niks help nie.

Impulsief sê Hein gretiglik ja vir die aanbod.  Gou sal hy ontdek dat alles nie pluis is met sy skoonmakertjie nie-  sy het dan  skubbe. En toe die res van haar meermin-familie ook by haar aansluit en heerlik hul intrek in die swembad en later in hul badkamer neem, word Hein se probleem al meer oorweldigend!

Hy moet met alle geweld sy gesin van die swembad af weghou; in die see gaan swem is die alternatief, en met hul tuiskoms word die boodskap van hierdie aweregse verhaaltjie duidelik- selfs die meerminne kan nie meer die besoedeling in die see verduur nie. Met ‘n skoner see, sal hulle natuurlik liewer teruggaan see toe.

‘n Heerlike ligte leeservaring, moeiteloos geskryf, ‘n kombinasie van fantasie /realiteit wat 9-11jariges sal geniet. Arnelle Woker se volblad illustrasies van grootoog meerminne en mense werk sagkens teen ‘n deurgaans sagte groen agtergrond.  Dalk is daar ‘n regte meermin in elke swembad verskuil!   Maak seker …….

Viljoen, Fanie( LAPA, 2014)

 

No comments:

Post a Comment