Tuesday, November 4, 2014

Chuck Norris 'n leeservaring


Chuck Norris kan deel  deur  nul

Hierdie jeugroman het so pas die SANLAM-prys vir jeuglektuur se goue medalje 2013 verower.

Die Mullers se huis in 12de straat : Hier woon Albert se Ouma, ‘n wewenaar Pa, Marlie die 16jarige dogter, die verkleurmannetjie Dompeldorius ,en Albert. Albert dink Steve Jobs was cool. Hy is mal oor Chuck Norris grappe . Hy is die verteller in die verhaal en vanaf die inleidende paragraaf neem hy die leser op ‘n reis waarin jy sy drome leer ken, sy beste vriend Ashish, sy Ouma wat heel dikwels wegraak in winkels; Lungelo die skoolseun van wie hy aanfanklik nie baie hou nie; en dan die nuwe intrekkers oorkant die straat- Janine wat verwagtend is en ‘n man wat later blyk haar broer te wees. Twee onderwysers is betrokke by die verhaal se verloop- Meneer Potgieter wat hulle ‘n EWB taak laat doen en die Yskoningin- die LO onderwyseres.

Albert se bynaam by die skool is Mini-Me want hy is kort. Maar Albert is “lank” as ‘n  dromer, want hy voel “voor jy iets kan doen, moet jy iets kan droom”. Soos Steve Jobs. Hy neem fotos as ‘n stokperdjie  en hy en Ashish is mal oor games en speel gereeld in die Akasia Mall. Hulle hoor dat die games arcade gaan toemaak. Baie later sal hul uitvind wie die eienaar is.

 Hierdie is die dinge en mense in sy lewe wat hom raak:

Hulle gesin: sy ouma se gereelde wegrakery; Marlie se simple eks-boyfriends; sy Pa wat gedurig besig is en hom as die toekomstige Drain Wizard and Son kandidaat sien; en Marlie se snaakse idees dat hul oorlede ma nie dood is nie.

 Die skool:  Hy en Ashish se belangrike projek vir EWB wat handel oor sy droom om elke minderbevoorregte kind in die land van tweedehandse selfone te voorsien.

Marlie se vriendin Suzanne –‘n droom-meisie;  die verkleurmannetjie Dompeldorius vir wie Albert baie lief is; en baie belangrik- Chuck Norris –grappe – Albert is mal oor sulke grappe en vertel dit gedurig. 

Hierdie verhaal  bied die leser ‘n interessante, geloofwaardige en vermaaklike kykie in die lewe van ‘n gewone Suid Afrikaanse gesin en die jongmense met Albert as die spreekbuis vir hul drome en gevoelens.

Die karakteruitbeelding is oortuigend . Die styl gemaklik, snaaks, kort  sinne vertel die storie. Die spanningselement word goed gehandhaaf- hoekom verdwyn Ouma gedurig?; waarom dink Marlie hul ma leef nog?; wie stuur eposse aan Marlie en wie is die man Steve  wat sy gaan ontmoet?; gaan sy e-pos aan Bill Gates vrugte afwerp?; gaan  Janine na haar baba se geboorte ‘n groter rol in hul gesin speel?; wat gaan gebeur met hul EWB taak wat Meneer Potgieter administreer?

Dit is veral Albert se humorsin, beeldspraak en kommentaar en Chuck Norris grappe wat ek die meeste geniet het. Sy verhouding met sy Ouma is ook heerlik om te deel.Hy is altyd besorg oor haar; spot oor die slegte kos wat sy maak:Sy Ouma se Chinese herderspastei: As die Chinese dit regtig gereeld eet , kan daar onmoontlik soveel van hulle op die aarde wees”;-Sy Ouma se verdwynery wat dalk ‘n “alien abduction” kan wees; die baie visvingers wat sy koop is genoeg “vir ‘n gesin robbe vir ‘n jaar lank”.Hy sê van Steve:”As daai man hot is, is ek wraggies so warm jy kan met my sweis”.

Tieners sal kan identifiseer met die Muller gesin en die mense by wie hulle betrokke is. Die tieners verteenwoordig menige tiener in die drome wat hul nastreef, die frustrasies van verhoudinge met maats en ouers; maar ook die issue van ‘n oorlede ma en ‘n dogter se behoefte om met haar kontak te maak. Daar is ‘n opregte warm gevoel wat dwarsdeur die boek loop. Selfs die feit dat sy Ouma se optrede suggereer dat sy mediese hulp nodig het, word fyn ingeweef in die verhaal. Die verskillende spanningselemente word ook dwarsdeur die verhaal gedra en tot ‘n klimaks gebring.

Hierdie is ‘n volwaardige wenner van die SANLAM prys virJeuglektuur.Ideaal vir biblioteke en sal ‘n welcome voorgeskrewe  werk vir skole kan wees.

Ferreira, Annelie(Tafelerg, 2014)

 

 

No comments:

Post a Comment