Thursday, October 16, 2014

Voorleesstories


Pensie spoeg vuur en ander draakstories ( H&R, 2014 Afrikaans deur Linda Rode. Illustrasies deur Stefanie Dahle

Watter kind hou nie van draak-stories nie?!  Veral wanneer ‘n meester illustreerder die leser bekend stel aan die oulikste drakies ooit! Hierdie pragtige voorleesboekie bevat 12 stories ideaal vir voorlees saans met slaaptyd.

In die Grotspook word drie klein kabouters gehelp deur ‘n draak om die indringer in hul grot te ontmasker- nogal ‘n krimpvarkie.    Mokkel die draak wil weer tog te graag ‘n kostuum vir die fees hê; en met Fliertjie se hulp word hy die allermooiste fantastiese fee.   In Towerverjaarsdag loop die drie seuns se wens om regte drakekostuums te kry heel skeef, maar gelukkig is daar weer ‘n geleentheid om die drake terug te neem Drakeberg toe.   Lewinia die draak is verlief op Ronaldo en sy wil so graag saam met hom rondvlieg. Dalk kan die ridder haar hiermee help.   ‘n Kasteelfees loop amper op ‘n trandedal uit, totdat die drake wat so vraatsig die feeesgangers se kos opgeeet het, self inspring met eetgoed.   Loelie die draak kan netnie slaap met volmaan nie.   ‘n Draak help Lara om haar lammetjie terug te vind en  om hulle teen die wolf te beskerm.   ‘n Koning sluit homself per ongeluk in die kasteel-toring toe, en Mommel die draak verwyder die raserige ridders sodat die towerfee hom kan bevry.   In die drakieskool leer Frummel tog te lekker om te tel en letters te identifiseer.   Pensie slag netnie daarin om self vuur te spoeg nie. Dit is iets wat elke draak moet kan doen.  Gelukkig maak haar boeties haar so kwaad dat sy dit regkry om vuur spoeg.  Die drakies Flappies en Plots wil so graag op die oorkantste oewer van die rivier speel, maar hoe om daar te kom?   Arme Joris die draak trap per ongeluk die elwe se blommetjietent flenters.  Hulle is oortuig hy is ‘n nare booswig todat hulle ‘n aangename verassing kry!    

Linda Rode bewys weereens met haar fyn vertaling dat sy ‘n meester is met teks interpretasies. Sy skryf met oortuiging en getuig van ‘n ryk verbeelding in haar  sensitiewe verbeeldingryke teks verwerking. Die name wat vir die drake en ander karakters uitgedink word is net ongelooflik! Bolke, Olke en Kabous; Mokkel, Fliertjie, Wiekie, Frannie, Lewinia, Loelie, Mommel, Frummel, Pensie Flappie en Plots-  die name sing heerlik saam met die lewendige teks. Elke verhaaltjie loop oorl van humor en  verassings, en terselfdertyd lê daar mooi lewenslesse verskuil in die ontplooiing van die storie.  Temas van vriendskap, hulpvaardigheid,  emosies wat wissel van verliefdheid tot woede; met elke avontuur gebeur daar iets interessants en leer ons iets.

Natuurlik is die besondere bydrae van die illustreerder hier duidelik ‘n groot aanwins vir die werk as geheel. Met  die aantreklike omslag word jy dadelik lus om die boekie oop te maak en uit te vind wat die karaktertjies doen; sagte delikate waterverf illustrasies getuig van ‘n fyn waarnemingsvermoë en  ‘n sterk sensitiewe kindervriendelike verbeelding wat die leser absoluut betower en bekoor  deur die vrolike onnutsige detail en  die warmte wat uit elke illustrasie straal.  Hierdie is uitstaande werk wat getuig van ‘n fyn gees.

Lita in Towerland en ander towerponie-stories( H&R, 2014) Uit Duits in Afrikaans vertaal deur Linda Rode; illustrasies deur Stefanie Dahle.

In hierdie versameling is  ponies die hoofkarakters. En hierdie is nie sommer gewone ponies nie; gewoonlik is hulle towerponies of word verander na ponies met towerkrag.

Leo die lekkerbek ponie het nog nooit seegras geeet nie. Maar hoe moet ‘n ponie nou onder die water  duik?  ‘n Klein meerminnetjie kom tot sy redding.   Wanneer Lita ‘n mallemeule ponie begeer, kry sy baie meer as waarop sy gereken het. ‘n Seepbel-ponie land tot sy groot vreugde op die maan en nou speel hy lekker wegkruipertjie saam met die maanmannetjie ;’n ander ponie motiveer die eienaar om nuwe avonture aan te pak; twee towerponies help ridders om Koning Gierig se prutteldraak te ontmasker; ‘n towerponie help Nina om briewe na haar twee vriende te neem; Prinses Wanda moet gered word uit die toring waar die bose towenaar haar geplaas het en net die towerponie kan help; Miekie is ‘n sirkusponie wat met sy verassinde toertjie die Krokodil Karel help om die sirkus eienaar se dogter te vra om te trou; Pollie die ponie word getoor en kry ‘n verkleurmanntjie-vel van ou Grompot die towenaar. Sy verlang na Piet die kombuishulp van die towenaar. Tot haar vreugde word ook hy onsigbaar gemaak en nou is die twee vriende herenig. Liesel verlang om ‘n eie ponie te hê. Haar ouma gee haar ‘n hangertjie met ‘n towerponie . So word haar wens vervul as ‘n nuwe buurvrou intrek met twee kuifkopponies Lieseltjie en Lottie. Met ‘n toorkompetisie deel Tangel die eenhoring en die kabouter hul vier punte elk sodat hul gesamentlik sal kwalifiseer om in die towersirkus op te tree. Hanna is verras toe sy sien dat haar gunsteling ponie Grietjie elegant vertoon en die hele perdestal feestelik versier is.Sy dink dit is towery, en dat Fritz daarvoor verantwoordelik is, maar later vind sy uit wat regtig aan die gang is.

Soos in die vorige boek kwyt Linda Rode haar meesterlik van haar taak , en die illustrasies is visueel ‘n vreugde en klim diep in jou hart in.
Alie Aarbeifee en ander feetjiestories uit die aarbeituin( H&R, 2014) Afrikaanse vertaling uit Duits deur Linda Rode; illustrasies deur Stefanie Dahle

Alie Aarbeifee se rokkie word vasgelê deur Klaks die kakkerlak, want hy weet almal is lief vir Alie maar nie vir hom nie. Die feekoningin maak egter ‘n plan om Klaks te help. Slikkie die slak is oortuig ruimtewesens land in hul tuin. Sy maak ‘n plan om hom gelukkig te hou. Piepsie spitsmuis nooi Ali en Bibo die skoenlapper na ‘n middagtee, maar Piepsie het verkoue en is misrabel. Gedeelde swaaarkry is net halwe swaarkry vind die klomp vriende uit. Don Karolus, die grassprinkaan is verlief op Karlientjie en hy speel vir haar ‘n liefdeslied. Alie roep die hulp van die gemmerkat in om hom goed skrik te maak sodat hy kan ophou sing en viool speel. Alie val af in ‘n konyngat en ‘n draak vertel vir haar ‘n storie sodat sy nie bang is gedurende die nag nie. Maar die arme draak het ‘n vuurrooi maag en rooi kamtande en almal is bang vir hom. Eintlik is hy ‘n salamander en Alie gebruik ‘n towerspreuk omhom minder skrikwekkend te laat lyk. Alie ontdek drie geel balletjies met bont kolle onder ‘n blaar en toe hulle uitbroei is dit ruspes wat haar aarbeie opvreet. Zoets die krimpvarkie slag nie daarin om sy winter blaretentjie te bou nie. Eintlik is hy ongelukkig omdat hy met sy beste vriend baklei het . Bella die klokkies-elf sing graag ‘n slaapliedjie. Alie roep haar hulp in want Wammie wil nie wakker word nie. Hulle vind uit hoekom niemand wakker wil word nie, want die winterkoninkie is besig om haar slaapliedjie ook bedags te sing! Alie is op pad na die oesfees van die feë . Sy tel ‘n muiskutteltjie langs die pad op . Daar vind sy uit dat daar ‘nkompetisie is van elkeen se towerspel. Sy word egter beloon oor haar pragtige aarbeie en die bemesting wat sy gebruik.

Alie se aarbeie verdwyn uit haar tuin. Hulle is oortuig dit is aarbeispoke, maar ontdek dit is ‘n snuitkewer war die sondebok is. Dalk moet hulle die snuitkewer skrik maak ? Alie het per ongeluk Snuffels die muis rooi getoor. Nou is hy baie lief vir himself en baie ydel. Maar hy tuimel uit die boom waar hy himself sit en bewonder het, en eekhoring red hom. Hy dink nou dit is beter dat Alie hom weer terugtoor na ‘n muisgrys muis, maar met ‘n fraai aarbeirooi vlek op sy pensie. Alie besluit om ‘n aarbeifees te hou. Sy berei die heerlikste eetgoed voor, maar drie beertjies kom en gaps alles wat sy maak. Gelukkig voel die bere sleg en bring hul eie eetgoed na die fees.

Alie is die allerliefste fee en met haar rooi aarbei-rokkie steel sy jou hart. Terselfdertyd is sy hardwerkend, altyd besorg oor haar diere en gogga maats se welstand, en volgens die Feëkoningin ‘n innoverende ster. Sy het die mooiste rooi krulhare, vet pienk wangetjies en ‘n wipneus en sal elke lesertjie se harte steel. Sy word vergesel van ‘n snaakse slak, Bibo die skoenlapper, Fletter die vlermuis; gloeiwurmpies, ‘n muis met ‘n druppende rooi neus; ‘n grassprinkaan met ‘n blou viool; ‘n salamander wat lyk soos ‘n waterdraak; die oulikste drie ruspes; Zoets die krimpvarkie; klein kewertjies wat pootjies in die lug lê en slaap; ‘n pragtige feekoningin in ‘n oranje rok; en die mooiste rooi aarbeie in die hele wêreld!

Hierdie drie boeke is ideaal vir voorlees en word sterk aanbeveel vir tuis-en biblioteekversamelings.  ‘n Fees vir die oog en vir lekker lees by uitstek.

 

No comments:

Post a Comment