Thursday, October 16, 2014

'n Jeugroman van gehalte


  Eggo’s in die Skimberge

Dit is die somervakansie vir Gansdal se graadvyf leerders. ‘n Vakansie wat doodgewoon begin vir Mattie Moolman en haar vriend Henk Velder- beide het min vooruitsigte behalwe tuisbly en vir Henk werk by sy stiefouers se plaas. Maar Mattie is ‘n dromer; en wanneer sy aand vir aand die vreemde sterretjies vanuit haar eikeboom bokant die Skimberge en rafyn waarin die rivier verdwyn sien, skryf sy ‘n briefie aan iemand; en vra of die iemand sal omgee as sy en Henk kom kyk wat dit is.

Hulle vertrek op haar oupa se vlot ; maar die vlot stort by ‘n waterval af en in die rafyn begin hierdie heerlike fantasie avontuur.    Die leser word saamgevoer in die lekkerste fantasie wereld van elwe in die  koningkryk van Loherin  waar die koningin Ellerin nog altyd treur oor haar twee kinders wat jare gelede verdwyn het. Die twee kinders uit die mensewererld word genooi om ‘n paar dae hier te vertoef, en saam met die elwe probeer hulle die twee kinders opspoor.

Die leser word meegevoer in ‘n sprokieswereld met die pragtigste beskywings van diere en plantegroei; van hekse op besems met towerkrag; van nare towenaars en armbande met maansteentjies wat seine kan optel; van reuse aasvoels soos Dizzero en Dwarrel; van kristalballe wat geheime vertel; van skrikwekkende Middeleeuse kastele en baie geheime.

Hierdie is ‘n belangrike boek deurdat ons hier vir die eerste keer in jare ‘n geloofbare fantasie/werklikheids verhaal kry vir 10 tot 12 jariges met  269 bladsye van lekkerlees materiaal.  ‘n Uitstekende balans word gehou tussen gewone alledaagse gebeure en mense,  teenoor die interessante fantasie wereld van die elwe. In die geheel voldoen hierdie verhaal aan al die criteria wat ‘n goeie kinderboek moet he: interessante karakters, ‘n betowerende milieu; ‘n boeiende plot en verhaal struktuur; genoeg opwinding en intrige en verassend ook ‘n heel menslike afsluiting vol menslikheid en deernis.

Die boek word hoogs aanbeveel vir skole, biblioteke en tuisversamelings.  ‘n Groot dankie aan die skrywer vir ‘n belangrike bydrae tot die Afrikaanse jeuglektuur.      

Kobie Kruger( Tafelberg, 2014)

 

 

No comments:

Post a Comment