Van Manenberg
met liefde
Graffiti teen
‘n muur in Manenberg lees soos volg: “Family issie ding van die hart”.
Jay bly in n
skakelhuis by Ma Koba in Manenberg. Hy het die Los$Boys “gedrop”,en hy weet
Alpha ,die bendeleier, gaan baie
ontevrede wees as hy hoor van sy voorneme om in Observatory te gaan bly en aan
UCT te gaan studeer met die beurs wat hy gekry het vir maatskaplike werk. Hy
moet kies, maar die drang bly sterk om ‘n plek in ‘n gang-familie te hê.
In ‘n
verwaarloosde Victoriaanse tweeverdiepinghuis huur hy ‘n kamer by Michelle. Hy
hoor dadelik ‘n baba huil.
So begin ‘n
hele nuwe avontuur vir Jay Plaatjies. Want Michelle verdwyn spoorloos en Jay
word agtergelaat met ‘n baba wat versorg moet word. Sy vriendin Rasheeda probeer
hom help met die versorging van die kind, maar die eienaar raai hom aan om die
baba na die polisie of die welsyn te neem. Dan lees hy ‘n koerantopskrif wat
vertel dat ‘n bendeoorlog dreig op die Kaapse vlakte. Hy weet Alpha en die
Lo$Boys gaan betrokke wees. Hy besluit om te wag tot die baba se ouers
terugkeer, maar dit gebeur nie. Waar sal die baba veilig wees? Die bendegeweld
neem toe, en Alpha vra Jay om weer by hulle aan te sluit; hulle het iemand met
verstand nodig in die groep. Maar
Jay is vasbeslote om nie weer by die bende
betrokke te raak nie. Maar ten einde die
baba na veiligheid te bring moet hy verby die bendes tot by Ma Koba se huis
kom.
Hierdie
verhaal het my beïndruk want daar is ‘n sterk gevoel van opregtheid aanwesig.
Jay is as toekomstige maatskaplike werker oortuig dat hy die baba moet beskerm
en selfs moet aanneem. Hierdie oortuiging spruit ook deels uit die feit dat hy
self gevoel het soos ‘n weggooi kind; hy wil dit nie aan hierdie onskuldige
baba doen nie. Terselfdertyd het hy ‘n mate van jojaliteit teenoor die Lo$Boys;
Alpha was sy vriend en ook beskermheer. Daar is dus gedurigdeur ‘n tweestryd in
Jay.
Ek dink dat
die verhaal tog ‘n kykie gee in die lewe en omstandighede van gangsters, en ook
hoe dit vriende raak wat emosioneel en vanwee lojaliteit betrokke is, hoewel
hulle nie self wil deelneem aan bendegeweld nie. Die aanwending van die
spesifieke dialek en taalgebruik werk ook, en in die geheel lees die verhaal
lekker en word die spanningslyn goed gehandhaaf. Jay die mens oortuig; selfs as
enige regsdenkende mens sy gedrag as uiters ongewoon sal sien en dalk ook nie as
geregverdig nie. Nogtans is Van Manenberg met liefde vir my ‘n boek
met waarde en word hier ‘n mooi lewensles geleer.
Mike
Michaels( PROTEA, 2014) Oorspronklik
gepubliseer in 1998 as Lost boys. Hierdie publikasie is in Afrikaaans verwerk
deur Willem van der Walt en Mike Oberholzer.
No comments:
Post a Comment