Tuesday, September 18, 2018

'n Krismisengel met 'n boodskap


Maartens, Wendy : Kerneels en die Krismisengel (PROTEA, 2017) . Illustrasies deur Anneliese Voigt-Peters. Ook beskikbaar in Engels: Chris and the Christmas Angel.
Kerneels is ‘n agt-jarige seuntjie. Sy ma werk as ‘n skoonmaakster by ‘n winkelsentrum. Sy beste vriend is oom Sol, die veiligheidswag. Kerneels se droom is om na die sterre te vlieg in die hoop om ‘n regte engel te sien.
Op Kersdag gee oom Sol aan hom ‘n spierwit veer wat ‘n boodskap van ‘n engel is. Kerneels weet nou dat hy ‘n regte engel gesien het.”Nie een met ‘’n goue rok en ‘n stralekransnie. ‘n Regte Krismisengel met ‘n fiets en ‘n kosblik en ‘n radio… en ‘n gaatjie in sy een skoen.”
Die eenvoud en opregtheid van die verhaal raak die leser, met die treffende boodskap dat kosbare vriende wat jou liefhet die beste voorbeeld van ‘n Kersfeesengel kan wees. Die milieu is tipies Suid Afrikaans, die twee hoofkarakters verteenwoordig die omstandighede en lewens van so baie kinders en volwassenes in ons land.
Die illustreerder Anneliese Voigt-Peters het die Vivian Wilkes Toekenning vir “Die rooi rok” in 1997 ontvang, en die Exclusive Books/IBBY Suid Afrika vir “Ouma Ruby’s secret. Beide hierdie boeke verteenwoordig die werk van ‘n illustreerder wat identifiseer met die mense van haar land. Kerneels en die Krismisengel se illustrasies bevestig haar talent en versterk die kwaliteit van die verhaal.   ‘n Belangrike boek wat in biblioteke, skole en tuisversamelings ‘n tuiste behoort te vind. Hoogs aanbeveel.


Sunday, September 9, 2018

Boeke vir kleintjies



Kleure- H&R, 2018 
‘n Kleurvolle kartonboekie met stewige bladsye en twee skuifslotte wat kleintjies in staat sal stel om die kleure rooi, blou, groen, oranje, geel,bruin, pienk, pers, swart en wit te leer identifiseer deur nab v. rooi voorwerpe te kyk end an met die skuif- apparaat op die volgende bladsy nog ‘n rooi treintjie te vind, maar ook met die blou kleur nog ‘n blou blokkie op te spoor.

Syfers- H&R, 2018
Kinders leer tel van 1-10 op  elke bladsy wat aaan een getal gewy word. Die spesifieke getal word ook baie mooi aangedui in die boonste hoek van die bladsy. Met die skuif-en-loer aksie word bv. nog  ‘n robot of bal opgespoor.
Die twee boeke is baie kleurvol en die voorwerpe is eenvoudig geteken sodat daar geen verwarring kan ontstaan nie.
Ouers en kinders kan saam die boeke geniet, of die kleintjies kan hulleself heerlik op hul eie vermaak.

Bee, William: Stoffel se skool  en Stoffel die boer ( H&R, 2018). Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
In hierdie reeks is daar ook Stoffel se garage en Stoffel die bouer.
Stewige sagteband boeke waaar elke titel onderskei word in ‘n spesifieke kleur, bv. Stoffel se skool in ‘n blou strook aan die onderkant van die omslag.
Hierdie reeks is vir my besonder oulik en nuttig, want inleidend word al die voorwerpe wat gebruik word eers geïllustreer, dan volg bv. ‘n illustrasie van die skool,  gevolg deur die aktiwiteite wat chronologies op mekaar volg-die klok word gelui, die kinders hang hulle sakke en pette op, hulle name word afgemerk, hulle luister na ‘n stoire, , speeltyd, middagete en rustyd.  
‘n Baie oulike reeks wat baie gewild behoort te wees.



Fletcher, Tom en Poynter, Dougie: Dino poef ‘n planet!( H&R, 2018) Illustrasies deur Garry Parsons. Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
 Dirkman en Dino is op ‘n dag verveeld van by die huis bly, en besluit om die ruimte te gaan verken. Gewapen met padkos vertrek die twee in ‘n ruimteskip . Heel gou is Dino resend honger, en Dirkman het sowaar hul padkos by die huis vergeet! Dino begin toe om alles in die ruimye te verslind wat soos kos lyk. Toe is daar net ‘n boepens-dinosourus en ‘n verskrikte seuntjie gestrand in die ruimte. Dino besef gelukkig hoe om hulle te red….
Skreeu snaaks en baie vermaaklik. ‘n Vrolike humoristiese verhaal wat kleintjies baie gaan geniet. Dinosaurusse bly maar ‘n groot aantrekkingskrag, veral as hulle stoute dinge aanvang en interessante avonture beleef. Hoogs aanbeveel.

Handford, Martin: Waar’s Willie? Die fantastiese reis, Waar’s Willie in Hollywood, en Wonderwêreld ( PROTEA, 2018).
Die Waar’s Willie –reeks is beskikbaar in 31 tale, en hierdie drie titels sal soos die vorige Wallie-boeke met groot opgewondenheid ontvang word. In biblioteke is hierdie reeks uiters gewild, en hoewel verliese gebeur omdat party kinders nie die versoeking kan weerstaan om  Wally to omkring met ‘n pen of potlood as hulle die figuurtjie opspoor tydens sy opwindende avonture nie, word heraankope gedoen, want die aanvraag is net te groot!

Helmore, Jim: Die sneeuleeu( PROTEA, 2018) . Illustrasies deur Richard Jones. Afrikaans deur Carmen Hansen-Kruger.
Anders as prenteboeke wat op glanspapier gedruk is, verskyn hierdie verhaal op dowwe papier  in sagte pastel kleure om so ‘n gedempte gerusstellende atmosfeer te skep. Kara en haar ma verhuis na ‘n huis op ‘n heuwel waar wit die oorheersende kleur is. Kara verlang na ‘n maat om mee te speel, en toe verskyn ‘n spierwit leeu aan haar wat haar uitnooi om saam te speel. Bertie ‘n seun nooi haar om in die park saam met hom te speel, en vervolgens ontmoet sy ook sy maats. Haar ma nooi al die nuwe maats om die huis te kom verf in helder kleure. Nou is die leeu nie meer in die kleurvolle huis nie, maar buite in die natuur. Hy stel haar gerus dat hy, wanneer sy hom nodig het, wel daar sal wees.
‘n Gevoelvolle uitbeelding van die verbeeldingswêreld van ‘n alleen-kind, wat d.m.v. ‘n maat wat syself geskep het, leer om na ander kinders uit te reik.
‘n Pragtige boek wat emosioneel baie kinders gaan raak.

McKee, David: Elmer(PROTEA, 2018)
Mckee, David: Elmer op stelte( PROTEA, 2018) en
McKee, David: Elmer Alweer Elmer( PROTEA, 2018). Afrikaans deur Philip de Vos.
David McKee se Elmer-boeke is internasionaal bekend en in meer as 40 tale vertaal.
Wie sal nou nie verlief raak op ‘n olifant wat soos ‘n lappieskombers ingekleur is tussen al sy vaal tropgenote nie!
Op ‘n dag is hy moeg om anders te wees, en hy glip weg van die trop en stap alleen deur die oerwoud op soek na die bos met olifantkleur-bessies waarin hy wil rol om soos die ander te lyk. Dit verskaf die trop oneindig baie pret, en jaarliks vier hulle nnou Elmer dag waar hy olifantkleur vir himself gebruik, en die ander olifante kleurvol ingekleur word om soos Elmer te lyk.
Elmer op stelte is sy voorstel aan die trop dat die jagters hulle so nooit sal kan opspoor nie.   Monstervoete aan die stelte moet die jagters in ‘n ander rigting stuur,maar as die jagters dink daar is monsters hardloop hulle natuurlik in die teenoorgestelde rigting, in die stelte vas, sodat die olifante die vet jagters platval. Die jagters het nooit weer teruggekom nie, en die stelte kon nou net vir die pret gebruik word.
Al weer Elmer vertel hoe hy uit verveling voor doe Elmer Dag-optog waarin net hy vaal word soos die trop, stilletjies in die nag al die olifante versier om soos hy te lyk. Die trop is nou heeltemaal verward en weet nie wie Elmer is nie. Selfs as hulle almal in die water spring om van die kleur ontslae te raak, is Elmer alweer eens te slim vir hulle.
Op ‘n speelse wyse word lewenslesse geleer oor selfaanvaarding, hoe om deel van ‘n groep te wees en in die groep mekaar te vermaak en saam te speel en ook mekaar te help beskerm.

Riddell, Chris: Eendag in ‘n woeste woud( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
“Die weg deur die woud is donker en diep
met ‘n les om elke draai.
Die pad wat jy kies is die storie wat jy skep,
elke tree ‘n blad om te blaai”.
Klein Groenkappie stap die woud binne met ‘n uitnodiging na Raponsie se partytjie. Oppad kom sy verskeie karakters uit bekende feëverhale teë- die heks met die appel, ‘n troll, die Ondier se kasteel, Jan en die boontjierank, die drie bere , rooikappie, Duimelientjie, Skoonlief, die drie varkies, die sewe dwergies, en die twaalf dansende prinsesse. Uiteindelik is al die karakters bymekaar by Raponsie se partytjie, en gelukkige re-unies vind plaas, veral die van Skoonlief en die Ondier.
Die volgende dag vertrek Groen verder deur die woeste woud, en wonder wat volgende gaan gebeur…
Baie oorspronklik en verbeeldingryk. ‘n Pragtige boek met genoeg verassings en humor om kinders te betrek.

Smit, Louise: Haasdas se nuuskas- episode 5( H&R, 2018) Illustrasies deur Vian Oelofsen.
Vier titels het reeds in hierdie pragtige reeks verskyn.
Al die diere in Diereland wonder wie nou eintlik die gemaskerde Wonder in hulle midde is wat gaan veg teen Kongo Kangaroe van Diereland-Oorsee, die rofstoeikampioen van die wêreld. Kleinskillie deel die geheim van sy identiteit  met sy pa, sy afrigter, en hy mag vir niemand vertel nie. Maar hulle vind wel uit dat hy ‘n geheime stertgreep het.
Na die geveg breek daar skielik ‘n gevaarlike veldbrand uit, en niemand kan vir Kleinskillie opspoor nie. Totdat Soks Sjimpansee sy kamerasak wil oopmaak…
Kan daar nou ‘n vroliker meer vermaaklike groep diere wees as juis hierdie maats in Diereland?
Die reeks is besonder kleurvol en kry ekstra betekenis en lewe met Oelofsen se wonderlike illustrasies. Elke diertjie word spesiaal, en tog te dierbaar is die illustrasie van Haasdas wat Kleinskillie in sy arms omhoog hou. ‘n skrywer wat die verbeeldingswêreld van kinders baie goed verstaan en kan binnedring.
‘n Baie spesiale reeks. Oelofsen se werk is puik!

Smit, Gertie: Stories vir pikkies en peuters( Tafelberg, 2018 ) Illustrasies deur Samantha van Riet, Tasia Rosser, Melany Pietersen en Tumi K. Steyn.
Die kort verhaaltjies in die boek  is gegroepeer onder somer(in die huis), herfs(in die tuin),  winter(in die dorp), en lente(op die plaas).
Die gebruiksgids gee ‘n volledige uiteensetting van die teikengroep, hoe die bundel saamgestel is, die doel van die stories en die vroeë leer-en ontwikkelingsareas van kinders word uiteengesit. Elke storie word in ‘n tabel aangegee met die tema, titel, en die konsepte wat aangespreek word en woordeskat wat aangegee word.   
Hierdie is die vierde in ‘n reeks publikasies vir voorskoolse kinders. Die titels is Rympies vir pikkies en peuters, Rympies vir kleintjies en kleuters, Liedjies vir pikkies en peuters en hier stories vir pikkies en peuters.
Hierdie vier titels is van onskatbare waarde vir elke kleuterskool onderwyseres.
Gertie Smit verdien wye erkenning vir haar bydrae tot die opleiding van kinders, met die doel om hulle lief vir stories, gedigte en liedjies te maak wat bydra tot hul persoonlike ontwikkeling op al die gemelde terreine.
‘n Absolute onmisbare toevoeging tot skool, tuis- en biblioteek versamelings. Elke bladsy bevat groot wit ruimtes sodat die teks in groot druk maklik herkenbaar is, die illustrasies van die 4 kunstenaars is uiters kinder-vriendelik en toeganklik, en die hele publikasie is Keurig versorg en visueel baie aantreklik. Hoogs aanbeveel. Werklik ‘n baie belangrike boek vir onderwysers.  

Wednesday, August 29, 2018

Wiplala is 'n leesgenot!


Schmidt, Annie M.G. : Wiplala ( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Philip Hopman.Vertaler Amelia de Vaal.

Die gesin Blom en hulle kat Vlieg voer maar ‘n vervelige bestaan met Menner Blom wat wat besig is om’n boek te skryf en die kinders wat hulleself maar moet vermaak.

Maar alles verander wanneer ‘n klein mannetjie so groot soos ‘n kabouter in hul huis verskyn, en homself bekend stel as  ‘n Wiplala.  Hy is weggestuur deur sy mense omdat hy sukkel om goeters te “betinkel”- of in standbeelde te verander.

Hy betinkel eers die kat, toe Meneer Blom, maar op die kinders se versoek toor hy hom weer terug. Die digter Arthur is volgende aan die beurt, en gelukkig veroorsaak sy standbeeld ‘n opskudding in die gemeenskap wat hom nooit ge-eer het nie! Dit is die begin van  ‘n ongelooflike avontuur wat die gesin saam met Wiplala beleef, want hy toor hulle om netso klein soos hy te wees en op die rug van ‘n duif vertrek die gesin na ‘n wêreld vol nuwe kennisse en avonture.

Annie Schmidt is intenasionaal bekend as kinderboekskrywer. Hierdie verhaal het in 1957 in Nederlands verskyn, en is in verskeie tale vertaal en ook verfilm.

Die verhaal lees tog te lekker; daar is nie ‘n vervelige oomblik vir die leser nie, en as voorleesboek vir kinders behoort dit in elke tuisversameling! Die boek is pragtig versorg, en die illustrasies pas perfek by die styl en tyd. Hoogs aanbeveel. ‘n Leesgenot.

Jacobs, Jaco: Die swakste restaurant in die heelal(LAPA, 2018) Illustrasies deur Dale Blankenaar.

‘n Versameling van 10 skreeusnaakse stories deur ‘n skrywer wat die psige en taal van jongmense maar alte goed verstaan.

Die verwaande Zander leer ‘n duur les in die swembad waar hy gedurig vir Tyrone afknou omdat hy swak swem.

Wanneer Leah se oefenry op haar nuwe elektriese kitaar die buurvrou tannie Tina tot raserny wil dry f en haar selfs motiveer om Tina oor die lawaai by die polisie te laat aangee, moet sy egter ‘n les geleer word.  Die rockgroep Lizzard trek in hul huis toe hulle verhuis- en die groep maak die wildste en hardste rockmusiek ooit; veel erger as Leah se onskuldige oefenpogings.

Anton Smit is ‘n doodgewone seun wat alewig aangesien word as die popster Brandon Skye.  Hy het een besondere talent- hy is nie bang vir hoogtes nie, en sy heldedaad laat toe die bordjies verhang oor wie nou eintlik die “pop”ster is.

Wanneer die twee alien professors probeer om die aarde deur aliens te laat oorneem  gebruik Lienke  Karlo Karelse se kougom om ‘n stokkie of liewer ‘n prop in hulle masjienerie te steek.

Hierdie is maar ‘n paar voorbeelde uit die 10 kortverhale wat elkeen ‘n verassende humoristiese einde het, subtiele lewenslesse leer, en Jacobs se talent vir skryf en stories vertel Die tweede titel in ‘n reeks baie duidelik onderstreep. Hoogs aanbeveel.

Jacobs,Jaco : Professor Fungus en die onsigbare skurk en Professor Fungus en die gekloonde konyn ( LAPA, 2018) Illustrasies deur Johann Strauss.

Hierdie is die 13de en 14de titels in die geliefde Professor Fungus reeks, en weereens is die leser nie teleurgestel nie. Van die onsigbare skurk Boete Breed wat  die Professor se nuwe verdwyn formule steel om die kosbare Keiserlike Knewel diamant by ‘n uitstalling te steel, tot in die 14de titel met sy nuwe kloon-masjien waar ‘n konyn per ongeluk getref word en die getal konyne eers op die plaas vermeerder tot ‘n vernietigende groep wat die boer Neef Naas se hele oes kon verwoes as daar nie ingegryp word nie-  die verhale vir jong lesers bly groot pret, is aksie belaai en Strauss se illustrasies bly maar net ‘n groot aanvulling tot die vrolilke energieke teks. Lekker lees is almal se voorland!

Maartens, Wendy : Helde van Suid Afrika, 2( LAPA, 2018)Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

Ses verhale wat aan beginner lesers vertel van die heldedade van onbekende figure soos Sultan die groot herdershond wat sy baas se lewe red deur ‘n elektriese koord vas te byt;  en o.a. die bushelde van Westdene –seuns wat die lewens red van  van hul skoolmaats in die bus wat in ‘n dam weggesink het.

John Ross wat 1000 kilometers gestap het om medisyne vir sy vriende te gaan haal, en Richard Simelane van die City Deep-goudmyn wat 100 meter ver met sy kaal hande gegrawe het om 18 lewens te red.  Of die verhaal van Klara  Majola die dapper dogtertjie wat haar blinde pa gaan soek het in ‘n ysige stormagtige nag en toe self verkluim het.

Kinders in skole kry gereeld die opdrag om die lewe van ‘n dapper person uit ons eie geskiedenis te vertel. Hierdie boekie kan dien as ‘n hulpmiddel e nook ‘n inspirasie vir ander om onselfsugtig ‘n pad deur die lewe te loop.

 

 

Sunday, August 12, 2018

Van spookmonsters tot by die geheim van die woud



Kaibllinger, Sonja: Harry Griesel en die spookmonster( H&R, 2018) Afrikaans deur Irma Badenhorst.
Asof dit nie genoeg is dat tannie Sharon nie kan begryp dat  Grieselgryper Harry kan eet nie, moet Otto nog al die huis se inwoners se ongeloof verdra wanneer hulle nie wil glo hy word snags getreiter deur ‘n groot skrikwekkende spookmonster wat met ‘n klopgeluid in sy kamer verskyn nie.
Vincent die vlermuis is ongelukkig oor die klein katjie wat die huis se nuwe intrekker troeteldier is; Oom Archibald moet nog aanpas in die huis na sy lang afwesigheid aan die anderkant; Harry kla oor sy nuwe baas Rufus Rittelbeen wat veranderings by die SBI aangebring het waarvolgens Harry nie meer Otto so vryelik kan besoek nie, en Otto probeer vasstel of sy ouers nie dalk in die hoogs geheime Tussenwêreld vasgehou word nie.    
Oom Archibald skryf sy eerste boek met Fernardo as spookskryweroor die ander wêreld, en met behulp van die new sneeuglasbal probeer hulle Kwaalcatraz trunk kontak waar Otto se ouers in die Tussenwêreld aangehou word.   Nou verskyn die spookmonster aan hulle om hulle bang te maak, en verdwyn nadat die manuskrip in die vuur verbrand is. ‘n Konkelry van die oorkant word aontmasker-  Harry dra geen kennis van sy verlede nie; hy moes dalk nooit vir die SBI gewerk het nie…
Rufus Rittelbeen moet eenvoudig vasgetrek word.
Hierdie is die vyfde titel in ‘n gewilde reeks by lesers wat hou van spoke en grillerige goeters, maar ook van ‘n held Otto en sy Grieselgryper vriend wat nooit opgee wanneer ‘n raaisel opgelos moet word nie!
Die skryfstyl is spontaan, die karakters word oortuigend uitgebeeld , en altyd is daar die humor wat kleur aan die gebeure gee.
Smit, Louise: Bennie Boekwurm se mooiste sprokies( H&R, 2018) Illustrasies deur Johann Strauss.
5 Bekende geliefde sprokies soos die drie varkies, Hansie en Grietjie en Repelsteeltjie word hier deur Bennie Boekwurm aan die kinders vertel. Die sprokies is bekend, maar Louise Smit skryf met haar wonderlike gawe om ‘n eie gevoel te skep en die sprokies weer te laat herleef sodat kinders met oorgawe sal  lees en luister.
Terselfdertyd is die boek absoluut ‘n lus vir die oog- Johann Strauss se illustrasies maak elke sprokie soveel mooier en kleurvoller met sy beweeglike, humoristiese lewendige uitbeelding van hierdie ou bekendes.
Absoluut ‘n pragtige boek!
Bee, William:  Stoffel se garage, Stoffel die bouer, Stoffel die boer en Stoffel se skool ( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Hierdie bekendstelling aan die oulikste figuurtjie Stoffel is besonder aangenaam. Eenvoudige illustrasies, en ‘n teks uiters geskik vir voorlees of vir beginners om self te probeer lees maak hierdie reeks ‘n welkome toevoeging tot versamelings vir beginner lesers.
In die bouer vra Miekie homom haar nuwe huis te bou. Sy gereedskap word geteken , en jong lesers leer van stootskrapers, ‘n skopgraaf dat bakstene waterpas gebou moet word, die huis word geverf en teëls word op die dak gelê.
In Stoffel se garage kry hy verskeie besoekers met verskillende behoeftes as dit by hulle voertuie kom- vir petrol, ‘n pap wiel, ‘n oorverhitte kar en die insleepwa word ook gebruik.  Aan die iende van elke besige huis gaan Stoffel huistoe om tee et, te bad en te gaan slaap.
Stoffel gaan ongetwyfeld in die harte van jong lesertjies kruip.Hoogs aanbeveel.
Donaldson, Julia: Die lelike vyf( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Axel Scheffler. Rymvertaling deur Philip de Vos.
Hierdie bedrewe skrywer skep weereens ‘n prenteboek wat nie net ‘n morele les leer nie, maar tersefdertyd bygestaan deur Philip de Vos se humoristiese rymvertaling  jong lesers op grappige wyse bekend stel aan die lelike vyf diere- die aasvoël, hiëna, blouwildebees, marabou en vlakvark.
Op ‘n laaste dubbel bladsy word die Groot Vyf ook geteken, die Klein vyf, en die skaam vyf.
Scheffler se illustrasies is heerlik keurvol en in volblad gedoen wat kontrasteer met die teks op ‘n skoon wit agtergrond aan die linkerkant.
‘n Pragtige prenteboek met ‘n teks in rym wat ideal is vir voorlees. Hiep hoera vir die lelike vyf!  Hoogs aanbeveel.
Winckler, Elsa: Wanneer is eendag? ( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Marleen Visser.
Abella en die ander feetjies woon in ‘n skeur in die berg, omring deur die mooiste veelkleurige blomme.
Abella dink sy is baie lelik met haar kort rooi hare , maar die Koningin van die Skoenlappers stel haar gerus dat sy eendag as sy groot is, heeltemaal anders gaan lyk.Sy sukkel ook om die danspassies te doen, en kan nie soos die groter feetjies  teen die maan se silwer strale afgly nie.
Die seisoene gaan verby, en Abella wonder wanneer eendag gaan kom. Uiteidelik kom die dag waarna hulle so verlang het- nou moet die jonger feetjies maar wag totdat hulle dag kom om teen die maan se strale af te gly.
Baie jong lesers sal identifiseer met Abella en haar frustrasies as jong fee.
Die illustrasies is besonder kleurvol en amper kinderlik naïef. Hierdie is ‘n Suid-Afrikaanse prenteboek met bekende blomme soos disas en die koningsprotea.
Veral jong meisies sal die kleurvolle vrolike feetjies baie geniet. ‘n Goeie eerste poging.
GArzo, Gustavo Martin: Die geheim van die woud( PROTEA, 2018) Illustrasies deur B.M. Vidal. Uit Spaan s vertaal deur Nicol Stassen.
Amelie en Roland wil elke aand dieselfde storie hoor van die twee konyntjies Oortjies en Tongetjies wat ‘n grys wolfin in die woud  hoor huil het omdat sy blind geword het en so nie vir haar babas kon sorg nie. Tongetjie het egter die modder in die wolf se ooglede weggelek sodat sy weer kon sien. Uit dankbaarheid het die twee konyntjies en die wolwe lewenslange vriende geword. Dit was dan die geheim van die woud.
Wanneer hulle ma begin vertel, verskyn uitbeeldings van die woud teen die kamermuur, en die kinders word afgebeeld met konynore in die agtergrond. Hulle word dus deel van die verhaal en simboliseer die twee konyntjies; want hier is ook ‘n boetie en sussie wat saamsmelt met die natuur om ‘n harmoniese geheel te vorm.
Die moederliefde van twee vroue, ‘n wolf en ‘n mens-ma word uitgebeeld, en die woud word nie gesien as bedreigend vir die kinders nie, omdat diere in die natuur in harmonie saamleef.
Die illlustrasies is uiters ongewoon- donker kleure word gebruik sodat die kinders en die woud ‘n geheel vorm en saamsmelt. Diepblou blomme dien as die enigste kleur teen die donker agtergrond, en wanneer die diere mekaar vind, verskyn daar roesgeel blomme , meer kleur en die kinders word geplaas op ‘n kussing met heldergeel blomme.
Hierdie ongewone prenteboek met sy spesiale boodskap van harmonie tussen mens en dier wat sterk gedra word deur liefde is toeganklik vir volwassenes en kinders . ‘n Besonder mooi aanbieding wat kunsliefhebbers sal bekoor.


  


 





Thursday, July 26, 2018

'n Verlore pikkewyn en baie honger reus



Freedman, Claire en Hindley, Kate: Die verlore pikkewyn-‘n Paul en Vlekkie verhaal( PROTEA( 2018)Afrikaans deur Carmen Hansen-Kruger

Vir die beste maats Paul, Rosa en Vlekkie is dit die lekkerste van alles om saam na die dieretuin te gaan. Daar merk Vlekkkie ‘n klein pikkewyntjie op wat baie hartseer lyk. Hy is ‘n pikkewyn wat gered is en seker verlang na sy ou huis. Met hul volgende besoek hoor hul dat Piep wel weg is, en die drie begin na hom soek. Dit is al laat toe hulle hom opspoor, en die twee kinders stry oor by  wie hy vir die nag moet oorbly. Daar raak Vlekkie en Piep weg, en die kinders spoor hulle eers die volgende dag by die dieretuin op.Gelukkig word Piep verwelkom deur die ander pikkewyne, en die maats kan gerus huistoe gaan, en gaan roomys eet!
‘n groot formaat prenteboek in hardeband met die mooiste delikaat getekende illustrasies van diere en voëls in sagte kleure . Op elke bladsy is die teks en illustrasies goed gebalanseer, en genoeg wit ruimtes word gelaat om die lekker groot druk sonder hindernis te kan lees. Die twee kinders se helder klere vorm ‘n mooi kontras met die geboue en ander elemente.Die diere word saam gegroepeer en lyk nuuskierig en betrokke by elke gebeurtenis. Ronde oplettende lewendige ogies van die kinders en diere straal energie en meelewendheid uit. ‘n Oulike prenteboek met net genoeg spanning om die aandag te hou wanneer die hondjie en Piep verdwyn.

Woollard, Elli en Davies, Benji: Die Reus van der Bees( PROTEA, 2018) Rymvertaling uit Engels deur Philip de Vos.

Die nare reus kon vreeslik mor en grom as hy honger word.Veral nadat Jan hom by die boontjierank uitoorlê het soek hy Jan se bloed.
Toe hy by die kinders kom word hy net vriendelik ontvang en word gekomplimenteer. So gaan haal hy hul bal uit die fontein, red hul kat uit ‘n hoë boom, en die kleine Jan vra hom om hom te abba. Natuurlik is hy reg vir die reus se pan want sy naam is dan Jan! Maar die kinders oortuig die reus dat reuse in die land baie eerder koek eet, en die reus vergeet van mensvleis want hulle het hom nou oortuig hy is lief, vroom en ‘n “doodgoeie oom!”  
‘n Spelerige humoristiese bekendstelling aan ‘n grommerige reus wat deur kinders tot ander beter insigte gebring word.Die aanfanklike somber donker kleure om by sy gemoedstemming aan te pas nadat Jan hom gefnuik het, verander en word lig en vrolik soos hy die wêreld van die kinders betree. Die kinders is natuurlik in beheer van die verhaal, en wie kan nou die heerlike groot stuk sjokolade koek, versier met aarbeie, weerstaan ?!   ‘n Gelukkige vreedsame reus word in die finale kleur-illustrasie omring deur spelende kinders, selfs ‘n varkie, esel en hasies, en  met die drie tevrede kokke by sy voete waar ‘n hondjie ook aan die een voet hang.  Alles is goed in hierdie kinderland.

  


Spanningsverhale maar baie verskillend!


Drie uiteenlopende, maar defnitief spanningsverhale vir tieners:

De Wet Hugo, Kamp van monsters- Grilgrypers 3( H&R, 2018)
Tannie Temba, Clayton se pa se nuwe verloofde waarsku hom dat sy sy grootste nagmerrie is, hoewel hy nog altyd bang was vir bome. Dan vertel sy pa dat  hy vir die hele vakansie na ‘n reabilitasiekamp gestuur word om tot beter insigte te kom oor sy aanstaande stiefma.
Die kamp word voorgedoen as uiters luuks, maar met sy aankoms is dit duidelik dat hierdie sentrum nie naastenby luuks, maar liewer onpersoonlik, kil ,onherbergsaam en ook ongenadiglik gaan wees. Oppad hardloop daar ‘n dier voor hulle in die pad- ‘n ding wat soos ‘n kruising tussen ‘n krokodil en ‘n beer gelyk het!
Sy kampmaat is die gespierde Ferdie.  Kamp Mentors word deur Rooibaard en sy blonde vrou bestuur. Hulle maak vriende met die twee meisies Lerato en Ayesha.
Sommer gou begin snaakse dinge gebeur- ‘n seun verdwyn, dan ‘n meisie wat vlou geword het, en Clayton hoor iets kerm, en Ferdi sien ‘n vieslike ding wat soos ‘n monsteragtige visvrou gelyk het.
Hulle word ook op spesiale diëte geplaas, Ferdi verdwyn, en uit desperaatheid  besluit die jongmense om die omgewing te deursnuffel wat hulle op ‘n versteekte laboratorium in die woud laat afkom:  KAMP MONSTER LABORATORIUM!  Hier word  die kinders gekloon  met diere en in afgryslike monsters omskep. En Clayton se aanstaande stiefma is een van die personeellede….
Die Kamp van monsters is ‘n spannende toevoeging tot die Grilgryper-reeks, en soos die vorige twee titels bied dit genoeg opwinding en grusame elemente om lesers van hierdie genre genotvolle lees-oomblikke te gee. De Wet Hugo het ‘n ryp en oorspronklike verbeelding, en besit die vermoë om sy lesers saam met hom op  grillerige verbeeldingsvlugte te neem. Sê nou maar net dit kan werklik gebeur?! Hoogs aanbeveel in hierdie genre.

Walliams, David: Oupa ontsnap( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. Illustrasies deur Tony Ross
Hierdie gewilde skrywer het alreeds ‘n bekende naam onder Afrikaanse lesertjies geword, en dus is ‘n nuwe storie so welkom.
Jack se oupa begin almeer dinge vergeet, niemand kan dit verstaan nie, behalwe sy kleinseun Jack . Hy het gou besef hy moet net saamspeel wanneer sy oupa hom op hierdie verbeeldingsvlugte neem, :” Sy drome was propvol avonture, sy lewe vol vervelige ure.” Sondae was die hoogtepunt van sy lewe as sy oupa hom op uitstappies neem, veral na hul gunstelingplek, die Keiserlike Oorlogmuseum waar sy oupa se legendariese Spitfire gehuisves word.
Soos sy geheue versleg, en nadat hy in die Spitfire gaan wegkruip het, besluit die polisie  om Jack se oupa na ‘n ouetehuis, Twilight Towers te stuur. Hierdie is ‘n aaklige plek, en sommer gou besluit Jack en sy oupa dat hy hieruit moet ontsnap.   Maar ‘n rit in die Spitfire bly maar sy grootste droom, gaan die twee daarin slaag om die Spitfire uit die museum te steel vir die grootste avontuur van Jack se lewe?
‘n Wonderlike eerbetoning aan die liefde tussen ‘n oupa en sy kleinseun wat met humor, verbeeldingryk en met empatie hanteer word. Daar bly maar ‘n spesiale band tussen kinders en hul oupas en oumas, en dan is dit nog meer spesiaal as die kind die oupa se liefde vir vliegtuie deel. Hoogs aanbeveel.
Ahlers, Nerine en Steenkamp, Alet:  Weg( LAPA, 2018)
Weg, of ontvoering is ‘n tema wat die uitgangspunt vorm van menigte tv rillers, moordstories, spioenasie en politiese intriges.
In hierdie verhaal verdwyn die meisie Niekie uit haar woonstel. Sy is kunstig en haar gedrag dikwels ‘n bietjie onvoorspelbaar, sodat Zack haar vriend aanfanklik net hoogs geïrriteerd is met haar, totdat hy uiteindelik tot die besef kom dat sy werklik”weg” is, selfs haar vriendinne is in die duister oor haar optrede.
Wanneer die polisie se hulp ingeroep word, begin mense dinge onthou, o.a. dat sy by die woonstel weg is vergesel van ‘n man so pas nadat haar paspoort afgelewer is.
Die gebeure word verhaal vanaf die Sondagaand toe Zack vir haar pizza gebring het, tot  die volgende Saterdag. Tipies van hierdie tema is daar gedeeltes in die verhaal waar die ontvoerder se teenwooordigheid by haar uitgebeeld word- hoe hy haar sien as sy pragtige prinses wat hy teruggekry het nadat hy so lank alleen was. Want sy Niekie is weg, en nou het hy weer vir Niekie opgespoor…
‘n Bronnelys word aangeheg en duidelik het die twee skrywers die onderwerp van ontvoering en die motivering agter elke individuele geval goed nagevors.
In die geheel is die verhaal dus oortuigend geskryf, heel spanningsvol, en tieners word weer bedag daarop gemaak dat hierdie dinge gebeur en met hulle eie vriende ook kan gebeur.  Die ideale boek om in te span wanneer die tema van ontvoering bespreek word.  





   
 

Friday, July 6, 2018

Huppelkind, Raaiselklip, Harry Griesel, Lotta en 'n Superskurk


Kühne, W.O. : Huppelkind en prentjies van Dorothy Hill Kühne( Tafelberg, 2018)

Al huppelend saam met hierdie kind  is dit heerlik om hierdie prag versameling van ‘n klassieke werk in Afrikaans weer beskikbaar te sien vir ons kinders.

Ek het weer gelees, en weer geniet, want hierdie is veral ‘n voorleesboek wat kleintjies nie net sal geniet vir die avonture van die seun nie, maar ook vir die heerlike klankrykheid van die werk.

Huppel is ‘n onskuldige natuurkind; sy vriende is die voëls en diertjies van die veld in Lekkerland daar langs die “diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie”.

Maar daar is ook lummels soos Vlei-Floors wat op sy plek gesit moet word as hy Vlak-Floors bedreig, en Huppel kan mos ‘n plan maak! Huppel moet die woorde leer sodat Ou Storieman vir hom ‘n storie kan vertel en hy vra Haak om hom te help. Ander kleurvolle karaktertjies soos Fiefman en Diefman, Wolman en die Boekwurms, die Horingman wat voëls vang en hom voordoen as die Musiekman sodat Huppel en sy maats Roerdomp uit sy sak moet red, almal draai daartoe by dat kinders tog te lekker na al hul avonture sal luister! Met Huppel se verjaarsdag kry hy ‘n koek-koek horlosie as geskenk van sy maats en dit is nie sommer so ‘n horlosie nie, want ook hierby is daar ‘n storie te vertel. 

‘n Pragtige boek wat klassiek geword het en sal bly. Behoort tot alle biblioteek, skool en tuisversamelings.

Goosen, Troula: Raaiselklip( H&R, 2018)

‘n Gotiese storie wat in die Kaap van die 19de eeu afspeel was die skrywer se inspirasie om hierdie opwindende verhaal te skep.

Gabriel is ‘n seun van Amsterdam wat op sy 14de verjaarsdag wakker word in die Kaap van Storms. Hy weet nie hoe hy daar gekom het nie,en waarom hy nou hier moet wees nie. 

So begin sy avontuur in ‘n verlate teater waar hy drie akteurs ontmoet, die slawemeisie Zytia wat hom probeer help, en as hy begin teken verskyn die gesig van ‘n seun aan hom. En dan ontdek hy ‘n grafsteen met sy naam daarop, gebore in 1654 en reeds oorlede…

Wanneer hy Zytia se meesteres Regina ontmoet is hy al meer in die duister- sy beskuldig hom dat hy gekom het om die “klip” te kom haal, en sy sal dit nie toelaat nie! Waarom is die raaiselklip van soveel belang?

Troula Goosen skep hier ‘n verhaal wat tematies heel uniek is; die spanningslyn word deurgaans gehandhaaf, daar is verassings en ongewone situasies wat die leser deurgaans betrek en nuuskierig hou oor hoe die verhaal uiteindelik gaan ontplooi. “n Goeie storieverteller wat haarself reeds bewys het met die gewilde Maanlig-meermin. Die omslag van die boek verdien ook ‘n kompliment- dit is treffend en trek dadelik jou aandag. 

Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel 4- die zombie –ontvoerder( H&R, 2018). Afrikaans deur Irma Bedenhorst.

Hierdie reeks lees tog te lekker, en soos met elkeen van Otto en Harry en Vincent die troetelvlermuis se avonture,is hierdie vierde titel in die reeks weer nie ‘n teleurstelling nie.

Juffrou Singh hulle kunsonderwyseres word vervang  deur ‘n snaakse vaal klein mannetjie Melvin Malone, en Otto let op dat sy vel grys is soos die van ‘n dooie mens.  

Dan verskyn Sybrand Swaelkop, die mal stigter van die skool ook aan hulle, en nou word dit duidelik dat daar meer van die dooies uit die Oorkant met behulp van ‘n onwettige deurgang in Otto se wêreld beland het.Tannie Sharon verlang nog gedurig na haar man oom Archibald wat reeds aan die Oorkant is. Sy verdwyn om na haar man te gaan soek. Aan die Oorkant is alles kleurloos, en sy sal in lewensgevaar wees.  Otto en sy maats moet dus help om dinge weer normaal te kry…Waarom is Malone so geïnteresseerdf in oom Archibald se nuutste uitvinding, ROOM?

Uitstekende vertaling, boeiend en vermaaklik. Hoogs aanbeveel virHarry bewonderaars en almal wat hou van ‘n goeie storie, hoe “anders” nou ook al.

 

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe- die kattekonsert( H&R, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie is die agsteboek in ‘n reeks wat veral onder meisies , en veral lesers wat daarvan hou dat die teks , in dagboek- vorm,deurgaans aangevul word met sprekende sketse en byskrifte.

Lotta hou dagboek van ‘n week ,10-tot 17 Oktober waarin haar vriendin Chantelle ‘n baba boetie Rocco bygekry het, en die twee vriendinne word baba oppassers. In hierdie week is Lotta se blokfluit ook soek, en sy verdink haar raasbek tweelingboeties.Maar Rocco en hulle uitstappies saam met hom bly die hoof-fokus van die verhaal. Selfs Lotta se ma nooi die baba na hulle huis waar hy met allerhande speelgoed vermaak word. Sy en haar boeties woon ‘n reptieluitstalling op die skougronde by en Lotto kry haar blokfluit terug.

Lotta bly aan die woord met haar kommentaar op al die gebeure, en haar humorsin en kelurvolle verbeelding dra die verhaal. Nie my gunsteling tema in die Lotta boeke nie, maar tog onderhoudend geskryf.

Jacobs, Jaco; Superskurk( LAPA, 2018)  Illustrasies deur Nicolene Louw.

Met sy gebruiklike gemaklike onopgesmukte skryftrant Stel Jaco Jacobs die leser hier bekend aan Wessel wat verplig is om ‘n vakansie by sy oupa deur te bring, en hy het tenminste tienduisend redes waarom dit gladnie ‘n goeie idee is nie, veral waar hulle nie van mekaar hou nie en sy oupa se huis grillerig is met donker kamers en baie streng reëls wat nagekom moet word. Onder andere dat hy nie moet rondsnuffel nie, en Wessel is nou juis ‘n nuuskierige outjie wat mal is oor sy strokiesboekheld, Kaptein Koel, en soos Kaptein Koel ook smag na opwindende avonture.

Toe hy ‘n geboutjie met ‘n swaar ysterdeur ontdek wat in die tuin versteek is, en toegang geweier word indien hy nie die kodewoord ken nie, is dit die begin van ‘n vakansie avontuur sonder gelyke. Vera look leer hy die lewensles dat jy niemand op sy baadjie moet takseer nie,en dat helde dalk nie is wat jy dink nie!Jong lesers sal die verhaal geniet, want so ‘n avontuur is nie te versmaai nie.

Nicolene Louw maak ‘n mooi bydrae met haar aksie tekeninge wat die boek nog meer toeganklik maak. Hoogs aanbeveel.