Monday, July 25, 2016


Vels, Verna: Liewe Heksie se groot omnibus( H&R, 2016)Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Wat kan nou lekkerder wees as ‘n omnibus van al 41 oorspronklike Liewe Heksie-stories, aanloklik in n helder geel sagteband omslag en met Vian Oelofsen se sprekende illustrasies wat al so bekend geword het! Die swart-en wit tekeninge is netso beweeglik en treffend soos wanneer Vian kleur gebruik.

Hierdie is ongetwyfeld die ideale kers/verjaarsdag/ en sommer net geskenk vir ‘n kind: ouers kan eers voorlees vir die peuters, en later is dit hul geleentheid om self in die teks verdiep te raak.

Liewe Heksie hou verjaarsdag, sing in die straat, dra ‘n bikini, sy maakdie koning gesond,gebruik toorwoorde; word ‘n babawagter, gaan skool toe,en is in ‘n sirkus betrokke. Net maar ‘n paar van die snaakse en dierbare geleenthede om ons geliefde heldin in aksie te sien.

Hierdie is ‘n kosbare versameling en behoort ‘n tuiste te vind in elke biblioteek, skool en huis. Hoogs aanbeveel.   

Wat maak so? Plaasdiere, wilde diere, wouddiere en troeteldiere(H&R, 2016)

Die vier titels in die reeks , elk in ‘n kleurvolle omslag en in hardeband, bied kleuters die geleentheid om bv. na ‘n kleurvolle rooi pappegaai te kyk, dan die kartonbladsy uit te trek en hopenlik sal die voorleser dan die geluid namaak wat op die karton geskryf  is- hier Krys! Krys! Krys! Die boekies is dus ideaal vir ‘n  gedeelde leeservaring. Die boeke is stewig en behoort bestand te wees teen baie hantering. Elke dier vul kleurvol die twee bladsye; die illustrasies het min detail wat elke dier lekker laat uitstaan.

Rousseau, Leon: Storiemuis Boek 4( H&R, 2016)Met ‘n ousio-CD. Illustrasies deur K. Ahlschläger, J.Strauss en M.van Heerden.

Vanselfsprekend moet voornemende kopers al 4 boeke in die reeks koop, aangesien die skrywer hier  voortgaan met die bekendstelling aan verdere getalle-hier 16-20; letters van M tot O; kleure-oranje en bruin, die driehoek, teenoorgesteldes groot en klein , geluide en tussendeur ook ‘n paar lekker stories. Beertjie leer die woorde vir dinge in sy slaapkamer, in die badkamer , in die sitkamer en kombuis.  ‘n Baie aantreklike reeks waar die teks ook lekker groot gedruk is en toeganklik is vir beginner –lesers.

Thursday, July 14, 2016

Van monsters ,weerwolwe ,gedigte en 'n Boudebiljoener


Steyn, Sanri: Die monsters van Middernagstraat( LAPA, 2016)

Wanneer Sanri en Markus ‘n besoek aan Middernagstraat bring, is Sanri seker een van die drie Yorkies by een van die huise se gesiggie het in die van ‘n monster verander, maar netso skielik was dit weg. Maar sy is nou eenmaal ‘n joernalis en altyd op soek na ‘n nuwe storie. Met ‘n troeteldierskou verdwyn Markus se kat, ‘n poedel en ‘n skaaphond ook, en die twee gaan terug na Claudia Müller se huis waar die drie Yorkies tuisgaan. Hul soektog eindig in ‘n huisie in die hoek van die tuin waar hulle op ‘n skrikwekkende fonds afkom- ‘n laboratorium waar diere verander word in monsters! Gaan die twee daarin slaag om die twee skurke wat Claudia en haar pa gevangenes hou uit te oorlê? 

Die ideale leesstof vir jonger lesers in ‘n reeks wat reeds baie gewild is. Sanri se verslag in die Raaiselfontein Gazette van die gebeure aan die einde van die storie rond die verhaal mooi af.

Theresa van Balen se illustrasies is puik ; die omslag  treffend sodat die boek dadelik jou aandag trek.

Steyn, Sanri: Die nag van die weerwolwe(LAPA, 2016)

Sanri en Markus is betrokke by hul skool se opvoering van  Prinses Leila en die blou draak, min wetende dat die aankoms van die nuwe meisie Chrissie Wolvaardt en haar pa as aflosonderwyser ‘n gewone skoolopvoering uiteindelik gaan verander in ‘n onvergeetlike aand van groot skrik! Want Chrissie en haar pa is eintlik weerwolfjagters wat werk vir ‘n organisasie wat toegewei is aan die bekamping van weerwolfgeweld teen Mense. Die opvoering is juis Vrydag die 13de en volmaan, en Chrissie waarsku hulle dat daar wel ‘n werewolf rondsluip wat gekeer moet word…

Lekker onderhoudende leesstof met genoeg aksie en verassings om jong lesers te boei. Weereens tref Theresa van Baalen se illustrasies my en dra dit grootliks by tot die aantreklike boek.

 Sterkykers-gedigte vir tieners( LAPA, 2016)Saamgestel deur Jaco Jacobs.

50 gedigte deur ‘n groot verskeidenhied van skrywers soos o.a. Koos Kombuis, Izak de Vries,Fanie Viljoen, Pieter Hugo en Nathan Tantraal maak van hierdie klein bundel iets heel spesiaal en kosbaar.

Die stemme is eietyds, vol gevoel en deurgaans word jy getref deur die oorspronklikheid en sterk individuale uitbeelding van die diepste emosies en ook sosiale kommentaar oor verhoudings en o.a. skool, ‘n lugskou, ‘n sinkdak-begin, biologieklas, geleerdheid, troetelwoorde, die kuns van hande vashou, om te lig bevind te word, 18 keuses van ‘n 18-jarige; die dood van ‘n pa; ma wat sop kook terwyl sy emosieloos die wêreld om haar laat verbygaan; ‘n skooltrui:”vasgeknoop deur twaalf winters uitgerek straitjacket geloop”( Tania Joubert); ‘n mesaanval; en Hani se begrafnis.

Toulopers was die eerste bundel saamgestel deur Jaco Jacobs, en Sterkykers sluit treffend hierby aan:

“om te dig

Was om vlees aan siel geweef te hou

En om jou lief te hê…”( Hamartia deur Sisca Julius)

 

Walliams, David: Mnr Stink( PROTEA, 2016). In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

“Meneer Stink het gestink. Hy was die stinkste superstankstinker wat nog ooit gelewe het”.

Chloe, ‘n twaalfjarige meisie besluit om die ou boemelaar in die park met sy hond, Hertogin, te nader en ‘n geselsie aan te knoop. Dit is die begin van ‘n besondere vriendskap . Meneer Stink word genooi om in haar ouers se tuinhuisie te bly, en Chloe smokkel eetgoed uit na hom.Haar ma aspireer na ‘n politieke loopbaan, en Chloe oortuig haar om Meneer Stink te gebruik om haar kanse te versterk-sy ontferm haar dan oor ‘n hawelose mens!

Hierdie is fyn sosiale kommentaar en die skrywer spot heerlik met mense se sosiale front en valse goedheid en pretensies. Chloe en haar pa gee werklik om, en mettertyd ontdek sy ook die waarheid oor Meneer Stink se afkoms en verlede.

Die verhaal behoort aanklank te vind by jong lesers wat aweregse humor geniet en ook ‘n “omgee” sosiale bewustheid het. Dit gaan ook oor vriendskap, soms tussen die mees onwaarskynlike persone- Meneer Stink waardeer die meisie wat self ook eensaamheid ken:”Chloe weet niks van Menner Stink af nie. …Hy lyk ook eensaam, nie net alleen nie, maar eensaam in sy siel. Dit maak Chloe hartseer. Sy weet maar te goed hoe dit voel om eensaam te wees”.   

Rotburger en Ouma is ‘n kroek het in 2015 by PROTEA verskyn.

Walliams, David: Boudebiljoenêr( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Ontmoet Joe Spud. Sy pa is ‘n “boudebiljoenêr”wat ryk geword het deur “varsboude” toiletpapier te ontwerp .Joe het alles wat sy hart kan begeer, behalwe ‘n opregte vriend. Hy vra dat sy pa hom vanuit ‘n rykmansskool moet oorplaas na ‘n gewone staatskool waar die kinders nie sal weet hoe ryk sy pa is nie. Dalk sal hy hier ‘n ware vriend ontmoet. So word Bob sy vriend. Maar Bob word afgeknou deur die tweeling, die goorgatte. Joe koop hulle om om Bob uit te los. Toe hy sy pa vra om vining sy geskiedenis opstel by die skool te kry, land die met ‘n helicopter en nou is sy geheim bekend. Hy kan sy geluk nie glotoe die beeldskone meisie Lauren by die skool aansluit en dadelik te kenne gee dat sy van hom hou.

Maar weereens het die skrywer ‘n eenvoudige belangrike lewensles om te vertel: geld maak jou nie noodwendig gelukkig nie; wat sal gebeur as sy pa skielik alles moet verloor; wie is regtig Joe se vriend?

Joe kry ook die geleentheid om  sy pa te wys dat die klein toiletrol-ruimtevuurpyl wat sy pa vir hom gemaak het toe hulle nog niks besit het nie, die beste present is wat sy pa nog ooit vir hom gegee het.  Humor,  en ‘n sterk verbeelding laat Walliams toe om sy gehoor te betrek. Sy lys van alles wat Joe reeds besit ;Sapphire se wenslys vir haar verjaarsdag,’n lys van snaakse name en vanne en selfs die voorstelling van die grade van pers boude dra alles by tot die aweregse humor.   

 

 

 

 

 

 

Tuesday, July 5, 2016

Hartbreker na blokkiesraai!


Steyn, Cecilia: Hartbreker( H&R, 2016)  Tienerharte 2

Die eerste boek in die Tienerharte reeks was Hartklop. In Hartbreker is Dewald en Megan ‘n paartjie, en Stefan haar aantreklike broer word deur die welgestelde meisie Surette se pa Professor Delport gevra om die Paasvakansie te kom huis oppas omdat die gesin Milaan toe gaan. Die pragtige huis is in Kampsbaai, en hy nooi sy suster en Dewald saam, asook Ciska Megan se vriendin .  Surette besluit om liewers tuis te bly, want sy is verlief op Stefan. Die Professor dreig om die lewe vir hom moeilik te maak op Universiteit as hy nie naSurette omsien nie. Vir hom is Surette een van daardie meisies” vir wie ‘n mens ‘n prentjie moet teken as jy wil hê sy moet iets verstaan.” Ciska egter, is “nie soos enige meisie wat hy ken nie”.

Hy ontdek gou dat hy eintlik in Ciska belangstel, maar Surette aak die situasie baie gekompliseerd. En dan is daar nog Rowan wat Ciska prober annekseer.

Hier gebruik die skrywer die bekende resep wat ‘n Tienerharte reeks laat werk: Mooi jongmense saamgegooi in ‘n situasie waar daar gedurigdeur onsekerheid is oor wie nou eintlik in wie belangstel; maar uiteindelik word die twee verliefdes tog bymekaar gebring met ‘n gelukkige einde.

Populêre fiksie wat jong tienerharte vinniger sal laat klop; en hul kry ook’n voorsmakie van die volgende boek in die reeks, Hartedief.

Baie mooi omslag wat dadelik die aandag trek.

‘n Heruitgawe van 8 Roald Dahl boeke in Afrikaans!( H&R, 2016:

Die GSR; Marius se merkwaardige medisyne; Fantastiese Mnr. Vos; Matilda;Charlie en die groot glashyser; James en die reuseperske , Charlie en die sjokoladefabriek en Die Twakke. Die GSR is deur Mavis de Villiers vertaal;Marius se merkwaardige medisyne deur Leon Rousseau; en Kobus Geldenhuys is die vertaler van die ander 6 boeke.

Hierdie geliefde skrywer bly een van die grootste kinderboekskrywers van alle tye.  Sy humor, aweregse styl en fyn aanvoeling vir die geesteswêreld van die kind maak hom ‘n welkome gas in elke huis.

In vrolike kleurvolle omslae met interessante illustrasies is hierdie reeks in hierdie heruitgawe keurig versorg,  en as gewese bibliotekaris  weet mens ook hoe nuttig die reeks in biblioteke en vir tuisversamelings gaan wees.

Dinneen, Susie: Nombulelo en die mot(Penguin Random House, 2016)Illustrasies deur Maja Sereda. In Afrikaans vertaal deur Sandra du Toit.

Nombulelo het daarvan gehou om op haar Gogo se skoot te sit en na stories van die bos te luister: dat ‘n luiperd haar Gogo gevolg het in diebos, en van die slang wat Gogo melk gegee het met diebelofte dat sy nie gepik gaan word nie, ook nie haar kinders nie.

Maar vir Nombulelo was Gogo se kosbaarste besitting die pragtige houtdosie waarin ‘n “ droë mot met die kleur van sagte bruinsuiker “ op ‘n geel kaartjie vasgesteek was. Met Gogo se dood het ‘n stem uit die dosie haar gevra om haar vry te laat. Die mot se huis was by die bopunt van die waterval aan die anderkant van die bos. Nombulelo het dapper die bos binne gegaan “ die diep donkergroen wildernis” langs hul huis om die mot tuis te laat kom.  Toe hy wegvlieg het “’n sagte goue stofwolk vansy vlerke afgegly en Nombulelo in ‘n blink mis toegevou”…

Hierdie verhaal kruip diep in jou hart ; dit is die kwaliteit storie waarna ‘n verteller soek om met kinders te deel. Die liefdevolle verhouding tussen ‘n dogtertjie en haar Gogo en Gogo se dood word simbolies in die mot se soeke na bevryding en koestering uitgebeeld.

‘n Oorspronklike roerende verhaal word gekomplimenteer met Maja Sereda se ongelooflik mooi illustrasies. Sy openbaar die fynste aanvoeling vir die verhaal in haar weergawe van die teks – gevoelvol en uiters verbeeldingryk. Hierdie is ‘n spesiale prenteboek wat gekoester moet word. 

Kinney, Jeff: Dagboek van ‘n Wimp( Puffin, 2012) Heruitgawe 2016. Afrikaans deur Carina Diedericks-Hugo- ‘n Tekenprent roman.

Greg Heffley stel dit onomwonde dat hierdie sy joernaal is, en as sy ma sou dink dat hy sy “gevoelens” hierin gaan skryf, is sy “lekker koekoes”!

Greg betrek die leser by sy interpretasie van skool en grade en kinders en die manewales wat hy en sy klasmaats deel. Die stem van die verteller is droog, vol humor en uiters vermaaklik. Daarby sal elke kind kan identifiseer met Greg se waarnemings en opinies:

“ Virdie rekord: Ek dink die hoërskool is die domste ding wat nog ooit uitgedink is. Dis ‘n plek waar outjies soos ek, wat nog nie begin uitskiet nie, tussen gorillas moet oorleef wat twee keer per dag skeer”.

Hierdie boek en die reeks “dagboeke” wat hierop volg bly van die gewildste boeke in ‘n biblioteek en defnitief word dit hartlik ontvang in elke huis en skool. Kinney verstaan die emosies en gedagtewêreld van ‘n kind.

Die verlater het terselfdertyd briljant vertaal.

Beskikbaar deur Puffin is ook die titels Rodrick regeer, In die hondehok; Die laaste strooi; en Die nare waarheid(2016). Die vertaler van laasgenoemde is Tinus Horn.

In die New York Times”’n Pittigheid wat die spyker op die kop slaan, en ‘n oortuigende selfgesentreerde held”. Volgens ‘n ander resensent is dit die reeks vir kinders wat hou van lees en die wat nie daarvan hou nie.  Ek stem volmondig saam!

RAPPORT Junior blokraaiboek(Tafelberg, 2016) Saamgestel deur G. Olwagen.

Hierdie kleurvolle versameling van blokraaie verskyn weekliks in RAPPORT. Ek was beïndruk met die kwaliteit , noukeurige keuses van inligting wat selfs ‘n volwassene se algemene kennis verskerp. Die uitgewer het die noodsaaklikheid gesien om so ‘n blokraai-skat in een bundel aan ‘n wyer leserspubliek beskikbaar te stel. Die blokraaisels handel oor ‘n groot uitgebreide verskeidenheid van onderwerpe om kinders se kennis te toets en te verbeter: o.a. die ruimte, plante en diere; die mens; selfs spreekwoorde; ‘n blokraai opgedra aan die renosterhoring, piramides, en Suid Afrikaanse geskiedenis.

Die oplossings word aan die einde vir elke bladsy gegee. Werklikwaar ‘n pragtige nuttige publikasie wat kinders gaan vermaak terwyl hulle kennis opdoen. Hoogs aanbeveel.