Monday, March 16, 2015

Bambaduze - wanneer woorde nie werk nie...


Bambaduze, deur Derick van der Walt(  Tafelberg, 2015)

 

En toe doen hy dit weer! Die skrywer van drie vorige jeugromans-  Lien se lankstaanskoene, Willem Poprok en Hoopvol met bekronings soos Goue en Silwer Sanlam-pryse, die MER –prys vir Jeuglektuur , die Scheepersprys vir Jeuglektuur en insluiting op IBBY se ererol  het weereens bewys dat hy ‘n storie kán vertel; dat hy ‘n fyn aanvoeling en begrip het vir menseverhoudings en veral die emosionele aspekte van ‘n tiener se lewe oortuigend kan analiseer en verwoord.

Ek het die boek met een sitting deurgelees, en was tot aan die einde betrokke en  gewilliglik saamgeneem op ‘n  emosioneel vaartbelynde reis.

Jurie steel karre, nie om regtig te steel nie, maar vir die gevoel van bevryding wat hy geniet wanneer hy die motor vir ‘n rukkie bestuur en dan weer terugbesorg na ‘n nabye staanplek.” Dit was op ‘n koelerige Saterdagoggend in September dat hy sy eerste kar gesteel het”. Hy beskryf hulle  huis soos volg:

“Die huis is ‘n eensame plek, al is die tuin mooi en die meubels duur..Dalk is dit omdat dit net ‘n huis met ‘n pappie is, sonder ‘n mammie of ‘n hondjie of ‘n katjie. Net die enkele debatable point of interest-hy- wat gereeld met ‘n motorfiets iewers heen vlug.

Sy ma het vir ses maande padgegee Engeland toe na sy ouer broer selfmoord gepleeg het. Hy neem haar kwalik dat sy hulle twee so alleen agtergelaat het; hy en sy pa sukkel om te kommunikeer; hy verwaarloos sy skoolwerk; begin swem vir die skool maar hou gou weer op; sy vriende voel verwaarloos, en sy isolasie en afsondering neem net toe. Selfs e-posse aan sy ma delete hy en word nooit afgestuur nie. Hierin word van sy emosies so mooi uitgebeeld. Sy word o.a.aangespreek as Mammie Mooi, Moeder, Maanskyn, Moekie en Ma.  Hy sluit af met name soos Jou liefhebbende seun Jurie; Boetie; Jou eie Ryk Neethling Viljoen en Jurie( die oorblywende).

Maar dan misluk sy poging om die meisie Nadi se Opel te steel toe hy  ontdek dat sy nog in die motor is. Sy verloor haar beursie in haar haas om weg te kom, en hy probeer haar opspoor. So begin ‘n vriendskap waaruit  beide baat vind- sy kan gesels oor haar ma se siekte en die ryk mense in wie se agterplaas hulle bly; hy is getroos deur haar aanvaarding van hom en sy probleem- sy moet tog net hom “Bambaduze”- sy gebrekkige interpretasie van die Xhosa woord- hom vashou en so  vertroos. Kort na hul ontmoeting vra sy aan hom: “Is jy daai bedorwe seuntjie wat alles het en nou steel jy karre omdat niks anders jou meer ‘n high gee nie?”

Maar die risiko wat hy neem met die motors moet een of ander tyd verkeerd loop. Hy word gevang, en dan volg ‘n periode van  skorsing uit die skool maar ‘n geleentheid om met ‘n sielkundige te gesels en op sy studies te konsentreer. Hierdie word ‘n suiwerings-proses waardeur die verhoudings tussen die verskillende karakters verbeter en baie issues opgeklaar word.

Hiermee het ek slegs ‘n oorsigtelike  bo-langse kykie in ‘n interessante verhaal gegee. Wat maak die boek dan so goed? Kortliks:

Vanaf die treffende inleidende kort paragraaf besef jy hierdie gaan ‘n juweel van ‘n jeugboek wees!

Jurie is ‘n werklike karakter en jy word toegelaat om hom behoorlik te leer ken.Dit gebeur in ‘n teks deurtrek met fyn waarneming; treffende dialoog; verassende insidente ; goed gebalanseerde karakterisering en interaksie tussen die karakters wat deurgaans oortuig en met groot gemak en ‘n juiste aanslag verhaal word. Jurie se e-posse aan sy ma sluit hoofstukke af en tref telkens- jy weet hoekom hy so kommunikeer; jy het begrip vir sy worsteling en woede. Sy pa en sy vriende is geloofbare karakters; selfs die huisbediende Hope is ‘n gerustellende teenwoordigheid met haar lekker kos!  Soos die verhaal ontplooi vind jy eers mettertyd uit wat daar gebeur het.

Dit voldoen aan al die  vereistes wat aan ‘n goeie verhaal gestel word- treffende karakterisiering; ‘n interessante plot; goed gestruktueer , ‘n  geskikte milieu; en aangebied in ‘n skryfstyl wat deurspek is met treffende beskrywings en raak kommentaar wat getuig van ‘n bedrewe talent.  

Bambaduze is Derick van der Walt op sy beste. Mooi gedaan. Dit behoort ‘n suksesvolle teksboek vir hoërskole te word,en moet in biblioteek-en tuisversamelings ‘n tuiste vind.

 

Lona Gericke   Maart 2015