Monday, February 20, 2017

Baba is baas en Professor Fungus maak droog


Boekresensies  Februarie 2017:

Frazee, Marla: Baas baba( )ROTEA, 2016)

‘n Prenteboek vir lesers wat ‘n baas baba in die hoofrol wil ervaar. Vanaf sy tuiskoms is hy in beheer en is sy ouers in sy diens –“ op ‘n vier-en-twintig-uur –werkprogram sonder enige aftyd”. Hy is veeleisend, puntenerig, humeurig. Tydens sy vergaderings , selfs in die nag, moet die twee grootmense dit ontgeld. Hy is in beheer van die sitkamer, die “spa”, drankies word aan hom bedien, en hy het sy eie privaatvliegtuig.

Maar op ‘n dag reageer sy twee “slawe” op geen geroep nie; maar toe hy Mamma en Pappa roep, werk dit natuurlik!  Maar dit is slegs ‘n oomblik van tevredenheid.

‘n Oorspronklike aanbieding gerig op ‘n spesifieke leser- defnitief nie nuwe ouers vol vreugde oor ‘n eersteling nie, of  betowerde oupas en oumas nie! Dal vir daardie oujongkêrel  oom of tante?! Vir my was die baba President Trump in aksie!

PROTEA se Buitenste ruimte plakker-boek( PROTEA,2016) Uit Engels vertaal.

Vir al die seuns en dogters met ‘n liefde vir die buitenste ruimte wat tersefdertyd groot plesier gaan hê om die kleurvolle plakkertjies te gebruik om die teks nog meer realisties te maak.

Inligting oor die buitenste ruimte, die eerste mense op die maan, wat gebeur met ‘n lansering, om in ‘n ruimtestasie te woon en selfs ‘n maanbasis en ‘n uitnodiging vir toekomstige toeriste word behandel. ‘n Groot-formaat aantreklike publikasie wat die ideale geskenk vir ruimte entoesiaste kan wees.   

Vir jonger lesers 7+jaar:

Viljoen, Fanie: Aksieheld Austin- operasie sabotasie ( LAPA, 2017)

Ewald Eloffis ‘n akteur en waaghals en hy is die ster in die eerste fliek in die reeks oor die gewilde aksieheld –strokiesprente.

In die rolprentateljee se aantrekkamer ontvang hy ‘n pop –sy ewebeeld- ‘n bemarkings-foefie. Cardo sy vriend vergesel hom op hierdie eerste belangrike dag van verfilming.

Maar dit word selfs meer aksie-belaai as wat selfs Ewald kon droom met ‘n afgedankte spesiale effekte werker wat hom wil wreek op die regisseur deur die fliek te saboteur met kandelare wat val en ‘n vlymskerp saaglem wat ghaos saai. Nog erger: ‘n bom is geplant en kan enige oomblik ontplof- sal Ewald kan vasstel waar die bom versteek is?

‘n Verhaal reg in die kraal van jong lesers wat deel wil wees van hul storieheld se avonture. Volop aksie en verassings. Fanie Viljoen het self die illustrasies gedoen en kon die teks dus oortuigend illustreer. ‘n Nuwe reeks wat gewild behoort te wees.

Jacobs, Jaco: Professor Fungus en die sneeumasjien( LAPA, 2017) Illustrasies deur Johann Strauss.

Hierdie is die 11de titel in die gewilde reeks oor Professor Fungus en die tweeling Bennie en Jenny. Die tweeling se vaardigheid met ‘n afstandbeheer kom handig te pas wanneer die Professor die twee alweer in ‘n gevaarlike situasie laat beland: hierdie keer vergesel hulle hom na ‘n  nuwe pretpark Winterland waar hy ‘n transformator moes bou vir die eienaars Dries en Elize de Vries se sneeumasjien. Daar is robotte wat soos diere uit die Ystydperk lyk .Hulle wil die masjien gebruik om ‘n Ystydperk te begin. Professor Fungus hou nie hiervan nie, maar toe die tweeling gevange geneem word is dit hul geleentheid om hom te help- hiervoor kom die afstandbeheer en robot-olifant goed te pas.

Weereens ‘n lekker leeservaring propvol verbeelding geskryf en dank aan Johann Strauss wat nie genoeg erkenning kan kry vir sy realistiese illustrasies nie!

Jacobs,Jaco: Professor Fungus en die monsterformule( LAPA, 2017) Illustrasies deur Johann Strauss.

Jenny kry die hoofrol as prinses Petunia in die opvoering Die Draakgrot. Bennie is nogal jaloers omdat hy nie een van die ridders gaan wees in die konsert nie. Maar ‘n besoek aan professor Fungus behoort meer opwindend as enige toneelstuk te wees dink hy. Hy is besig om ‘n nuwe engergiedrankie te ontwikkel- W.U.M.A.  Jenny vertel so entoesiasties van die toneelstuk dat sy die verkeerde glas koeldrank wegsluk- dit is die proefbuis met die woema-mengsel – gladnie goeie nuus nie! Jenny verander in ‘n pers monster en slaan op vlug. Gaanhulle haar betyds vang; en hoe sal Bennie daarin slag om die polisie wat op har spoor is om die bos te lei?

‘n Lekker-lees opwindende 12 de avontuur in ‘n gewilde reeks. Lesers kan selfs die prettige pers eksperiment aan die einde van die verhaal probeer.

Hawkins, Sarah: ‘n Katjie vir Sophia( LAPA, 2017) Afrikaans deur Sonette Swanepoel. ‘n Hondjie vir Sherise en ‘n Ponie vir Karla verskyn ook in die reeks.    

Sophia is baie teleurgesteld toe sy die rol van die leeu in hul skoolopvoering van Die Towenaar van Oz kry. Sy wou so graag Dorothy wees.

Haar tweejarige sussie Karli is versot op katte. Haar nuwe prenteboek se titel is Pêrel die prinseskat. Maar Sophia word getroos met ‘n heerlike verassing- ‘n pragtige grys katjie met heldergroen oë!

Die hele verhaal vertel van Sophia , haar gesin en die nuwe katjie in haar lewe. Lesers het die geleentheid om saam met haar te deel in die nuwe avontuur- Pêrel en die onnutsige dinge wat net ‘n spelerige klein katjie kan aanvang; haar versorging en aanpassing in die huis. Sy kry selfs die geleentheid om aan ‘n kat-kompetisie deel te neem- gaan sy dalk ‘n prys kan wen?

‘n Meer tradisionele “ skoon” onskuldige verhaal vir ‘n gehoor wat lief is vir diere en veral van katjies hou!  Die boekomslag skep alreeds die regte skattige gevoel met die mooi grys katjie omring deur harte op die omslag.

  Lona Gericke 20 Feb, 2017.