Thursday, September 15, 2016

KArel Krokodil en Willem wreedaard ontmoet Jip en Janneke en tem 'n draak...


Stewart, Dianne: Karel die Krokodil( Jacana, 2016) Illustrasies deur Joan Rankin

n Baie omgekrapte Karel is huilerig oor tandpyn. Simon Seekoei neem hom na twee tandartse wat weier om hom te help. Dr. Slagtand, die Leeu is bereid om hom na ure te sien; maar Karel weier dat sy tand getrek word. Die dokter vermaan hom dat hy wel sy tande moet flos en mondspoelmiddel moet  gebruik. Pippa die kiewiet kom egter tot sy redding deurdat sy toe sy tande skoonmaak deur stukkies kos te aas in sy bek; gebruiklik vir Egiptiese kiewiete.

Joan Rankin se bekende sagte waterverf tekeninge maak hiervan ‘n aantreklike boek. Daarby is daar die boodskap vir kinders om hul tande te versorg- dit is net twyfelagtig of Karel goeie motivering gaan wees! Persoonlik hou ek van ‘n baie meer vreesaanjaende krokodil, en sou graag by die illustrasie waar hy huil oor tandpyn meer uitdrukking op sy gesig en so ‘n paar trane wou sien!

Fardell, John: Willem die wreedaard( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Shané Kleyn

“Willem die Wreedaard is geweldig wreed. Met sy bende trawante ontvoer hy briljante uitvinders en dwing hulle om sy duiwelswerk te doen”- hulle moet masjiene bou om vliegtuie te beroof; kunsgalerye te plunder ; en seerowers te speel. Hy behandel ook sy onderdane gevoelloos en is uiters selfsugtig. Maar toe word Willem siek, en niemand help hom nie, want almal is te bly dat hy lamgelê is. Nou besluit Willem om liewer ‘n weldoener te word. Net so af en toe doen hy nog iets wat ‘n bietjie stout is…

Die skrywer illustreer self en is ook ‘n spotprenttekenaar. Sy illustrasies is vol verbeelding en behoort kinders te fassineer. Lekker groot druk maak dit ook maklik om die teks te lees. Hoogs aanbeveel.

Schmidt, M.G. en Westendorp, Fiep: Jip en Janneke omnibus ( PROTEA, 2016)Uit Nederlands vertaal deur Amelia de Waal.

Hierdie bekende Nederlandse kinderboek karaktertjies deel hier in 352 bladsye hul avonture en daaglikse manewales met die leser- dit was selfs vir my verstommend om te lees dat daar seker geen situasie nog kan wees waarran hulle nie deel het nie! Kraletjies inryg, speel in die reën; touspring, wipplank ry, verjaarsdag vier, om net enkeles op te noem.

‘n  Lekker voorleesboek met situasies tipies uit ‘n kind se ervaringswêreld. ‘n Klassieke werk wat ‘n plek verdien in biblioteke en tuisversamelings.

Vir meer ervare lesers:

Cowell, Cressida: Hoe om draak se storm te trotseer-( PROTEA, 2016)(7)  Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Ook die volgende titels: Hoe om ‘n draak se hart te breek(8), en Hoe om ‘n draak se swaard te steel.(9).

Hierdie gewilde fantasie-reeks- Hoe om jou draak te tem, het geen bekendstelling nodig nie! Cowell se lesers sal tog te verheug wees om drie verdere titels in die reeks te ontdek. ‘n Verbeeldingryke reeks met aweregse humor, vindingryke idees , en avonture wat net Cowell kan fabriseer.”’n Aksiebelaaide avontuur wat wemel van karakters met skreeusnaakse name en mitiese monsters wat enige seun se verbeelding sal aangryp”-Books for Keeps. Om nie te vergeet van dogters wat ook fantasie geniet nie. Hoogs aanbeveel. Kobus Geldenhuys doen puik werk met die vertalings.

Jonger lesers:

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe-die Lama-drama( H&R, 2016)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Lotta is baie opgewonde want haar klas gaan op ‘n klasuitstappie na ‘n eiland met ‘n groot herehuis, baie diere, ook ‘n Lama, en ‘n bekende veldskool. Berenice en die Glamour girls, die Rockers, en ’n groep Graad 8 kinders uit ‘n ander deel van die stad- Die Ape, is saam. Gou word dit dan ook ‘n situasie van die Ape wat die ander kinders bang maak en terroriseer, en Lotta en Chantelle wat besluit hulle moet ‘n les geleer word.  Berenice van die Glamour girls is dadelik smoorverlief op Magnus, die jong Baron(LaMa); en net ‘n groot irritasie. Lotta kry dus samewerking van al die kinders om die Ape ‘n les te leer, en die anti-Berenice-sproei, jeukpoeier, stinkbomme en jelliebeertjies kon handig ingespan word!

‘n Klasuitstappie met genoeg opwinding om lesers van hierdie gewilde bekende reeks gelukkig te hou. Die sketse en byskrifte maak die verhaal nog snaakser en vol humor.

 

 

 

Monday, September 5, 2016

Van Jakkals en Wolf na Asem-skep!


Maartens, Wendy:  Jakkals en Wolf bou huis( LAPA, 2016)Illustrasies deur Chris Venter.

Hierdie Ek lees self reeks bevat 12 titels, waarvan die JAkkals en Wolf-stories 6 titels uitmaak. Hier is ook Jakkals en Wolf en die klip; Jakkals en Wolf wil boer; Jakkals en Wolf wil trou; Jakkals en Wolf in boer se kraal; en Jakkals en Wolf vang vis.

Elkeen van die boekies bestaan uit 23 bladsye met nuttige wenke aan ouers agterop die laaste bladsy.

As Wolf ‘n huis bou, bied Jakkals aan om hom te help, maar dit is net ‘n slinkse manier om Wolf se kos te steel. Wolf glo Jakkals dat hy vis sal vang deur sy stert in die yswater te steek.In Boer se kraal eet Wolf te veel en word te dik om weer onder die kraalmuur deur te kruip.Wanneer altwee op Tier verlief raak, is dit ‘n groot kompetisie sonder dat een wen. Jakkals en Wolf  wil boer, maar soos gewoonlik kry Jakkals al die varke en Wolf bly arm en honger. Jakkals gebruik ‘n klip om Wolf in die laaste storie uit te oorlê.

Chris Venter se oorspronklike interpretasie van die twee hoofkarakters maak die boekies ‘n fees vir beginner lesers. Nie net is die sinne kort en ideaal vir ‘n beginner nie, maar onderaan elke bladsy word woorde uitgelig en weer geïllustreer om die spesifieke woord sterker tuis te bring. Sy kleurkombinasies en agtergrond sketse is ongewoon—Wolf se huis se kamer het ligpers mure, die klip staan teen ‘n ligpienk horizon; Boer se huis het vrolike geel mure en ‘n rooi dak.Tiertjie met haar pragtige groot oë en pienk haarstrik bekoor die twee karakters. Emosies wys duidelik op hul gesigte- verbasing, gelukkig wees,ook woede en frustrasie.

Hierdie is ‘n nuttige reeks vir beginners; en Chris Venter se illustrasies dra grootliks by tot die aantreklikheid van die reeks. Hoogs aanbeveel. 

 

 

 

 

Jeugboek:

Vermeulen, Jan: Asem (LAPA, 2016)

Hierdie roman was die wenner in LAPA se jeugroman kompetisie, en gou was dit vir my duidelik dat die erkenning verdien is. Vanaf die inleidende bladsy beweeg die verhaal  asemloos teen ‘n vinnige pas, aangevuur deur Barries se rebelsheid en agressie.

Barries dink nie dat hy iemand sal kan doodmaak nie, maar hy word oorweldig deur sy haat vir ‘n pa wat hom nie wou hê nie; wat volgens hom ‘n monster is. “Rotte sal altyd rotte bly” volgens hom. Die pa het hom gereeld geslaan; het weggeloop; hom nie met verjaarsdae geluk gewens nie.

Maar nou word hy uitgenooi om by sy pa te gaan kuier. En na ‘n motorongeluk waarin hy en sy vriende betrokke is, word hy geforseer om wel na sy pa toe te gaan. Barries moet in die tyd ook “skoon “ bly van dagga en ander dwelms; en dus is daar min waarna hy kan uitsien met so ‘n besoek, behalwe dat hy rottegif saamneem om in sy pa se drank te gooi!

Hy word dus verplaas van ‘n bekende omgewing en sy ma se ondersteuning , na ‘n afgelëe vissersdorpie waar sy pa skilder en bly. Verhoudinge word baie pynlik en volg ‘n lang proses van botsings en struweling. Hy red ‘n hond uit die see en is bereid om al die kostes te dra sodat Jona gesond kan word. Hy maak vriende met die kleurlingseun Fillie Booysen; leer Olga en haar jaloerse vriend Stef ken; en uiteindelik ook Eunicé, Jona se regte eienaar.

Die beskrywings van Seeplaas laat jou die see ruik en sien; die twee hoofkarakters neem jou saam op ‘n golf van  oorweldigende emosies; en Barries groei tot ‘n volwasse seun wat uiteindelik vrede maak met die omstandighede wat gelei het tot sy oorspronklike haat en aanhoudende verset. Die waarheid omtrent die werklike identiteit van sy pa is verassend en onverwags. Barrie leer dat geweld nie ‘n oplossing bring nie, dat jy eers jouself moet vergewe voordat jy ook die mense naaste aan jou kan vergewe.
Sterk karakteruitbeelding en ontwikkeling; ‘n tema wat tot menige tiener sal spreek; geloofbare situasies en konfrontasies; emosies wat jou as leser aangryp maak van hierdie boek ‘n kragtoer en ‘n boek wat erkenning moet geniet in skole, biblioteke en tuis. Hoogs aanbeveel