Wednesday, October 5, 2016

Harry Griesel vergesel Padda van Max Velthuijs...


Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel 1-operasie spookredding( H&R, 2016)Afrikaans deur Irma Badenhorst.

“Alles het begin die aand toe Meneer Olsen oorlede is”. Elfjarige Otto lees rillers en hou daarvan om Meneer Olsen vanuit sy dakkamer dop te hou as hy besig is in sy radystuin. Maar vanaand sterf hy in sy radystuin. Otto se vriend Vincent is ‘n vlermuis en woon in sy eikehoutkas. ‘n Grieselrige gedaante verskyn in ‘n rammelkar en met ‘n skoenlappernet probeer hy die gloeiende vuurbal bokant Meneer Olsen se lyk vang. Otto glo aan spoke, maar besef dat hierdie nie ‘n gewone spook is nie. Die huisspook is Sir Tony. Hy woon in ‘n stofsuier in die huis. Bert weer bly in haar yskas, en Molly in die wasmasjien.

Die Grieselgryper steel die siele van dooies en sit hulle in agurkiebottels. Otto en sy vriende besluit die insident beteken groot moeilikheid. Harry Griesel vervoer siele na die anderkant deur sy tante se staanhorlosie as lid van die SBI- Siele-Bevorderings-Instituut. ‘n Besoek aan die spookagtige pretpark Donkerland is die begin van ‘n avontuur waar Otto probeer om sy spookvriende te red uit die kloue van die eienaar, Meneer Bleu.  Hy hou hulle gevangene om besoekers aan die pretpark bang te maak…  So word dit werklik ‘n operasie spookredding!

Hierdie nuwe reeks deur Kaiblinger is al in 11 tale vertaal en baie gewild internasionaal. Dit is vol humor, avontuur en deurtrek van grieselrige karakters wat seuns en dogters tussen 10-13jaar wat van spoke hou, sal geniet. ‘n Paar wenkbroue mag egter gelig word oor die Grieselgryper se beroep! Nouja, defnitief was daar nog nie so ‘n reeks in Afrikaans nie!  

Vir kleuters en peuters:

Rousseau, Leon: Storiemuis Boek 5( H&R, 2016) Met oudio-CD.

‘n Verdere toevoeging tot hierdie baie gewilde reeks boeke, keurig versorg en pragtig geïllustreer deur o.a. Marjorie van Heerden.

In Boek 5 leer kinders tel van 21-30; leer die letters p tot t ken met gediggies, stories en woordeskat wat die verskillende letters vergesel. Die muisgesin leer iets van seisoene; Beertjie leer woorde in die koswinkel soos heuning, ham en hoender; en met die letter r verskyn die kleure van die rëenboog.Rakkertjie gaps sy verjaarsdag-vriend se rooi karretjie, en leer dat leen sonder dat die eienaar daarvan weet, eintlik steel is.

Daar is dus genoeg verskeidenheid en nuwighede om kinders te wys dat lees net ‘n groot plesier kan wees.

Bruna, Dick: ‘n reeks klein formaat hardeband boekies(PROTEA, 2016)    Titels: Ek kan lees; Diere;die appel;  Rond, vierkantig , driehoekig; en Die eier.

‘n Klassieke reeks wat reeds in die sewentiger jare in Afrikaans verskyn het. Hierdie is die tweede Afrikaanse uitgawes vertaal deur Amelia de Vaal uit Nederlands.

Bruna se boekies het altyd ‘n plek in biblioteke en tuisversamelings; afhangende van hoeveel kopiëe nog beskikbaar is. Diere en Ek kan lees is geskik vir kleuters met min teks en eenvoudige illustrasies van  bv. ‘n kind wat na sy neus wys en die woord neus verskyn op die bladsy langsaan. Die Appel is ‘n blinkrooi appeltjie wat graag plekke wil ruil met iets anders. Haan laai hom op sy rug en hy kry die geleentheid om te sien wat bine-in ‘n huis gebeur. Die teks rym en is baie bekoorlik; ook is die teks in rym vir die eier en die koning.  Hopenlik sal die tweede uitgawe ook goed ontvang word.

Velthuijs, Max: Padda is verlief( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Carla Lang.

‘n Belangrike Nederlandse skrywer en illustreerder se verhaal van ‘n verliefde padda kry erkenning in Afrikaans. Padda voel vreemd en is nie seker of hy vrolik of hartseer is nie. Vark dink hy het verkoue, maar Haas sê hy is verlief. Dit maak padda baie gelukkig. Hy skilder ‘n prent vir Eend, sit blomme voor haar huis, maar het netnie die moed om met haar te praat nie. Hy dink al manier sal wees om die hoogspringwêreldrekord te breek. Natuurlik val hy hom amper disnis , maar Eend kom tot sy hulp. Van daardie dag af het hulle mekaar baie lief-“’n Padda en ‘n eend…Groen en wit. Liefde ken geen grense nie”.

Velthuijs se eenvoudige treffende ilustrasies het hom dan ook dieH.C.Andersen medalje besorg vir sy bydrae tot kinderliteratuur. Hoogs aanbeveel.

Velthuijs, Max: Padda en die vreemdeling( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Amelia de Vaal.

Velthuijs se persoonlike sterk sosiale bewustheid kom ook na vore in hierdie verhaal waar Padda anders as Vark enEend self wil besluit of die vreemdeling in hul midde ‘n “grillerige vuil rot” en skelm is.Eend maan ook dat rotte lui en astrant is. Maar Rot is heeltyd besig. Padda en hy word vriende en Padda geniet sy interessante stories van avonture rondom die wêreld. Toe vark se huis afbrand is dit Rot wat kom help. Hy red ook vir Haas uit die rivier. Nou is hy welkom en ‘n vriend. Rot moet weer vertrek- die “sloridige maar gaw, bekkige, hulpvaardige , slim rot”.

‘n Goeie lewensles is opgesluit in ‘n eenvoudige verhaal van vriendskap en bevooroordeel. Hoogs  aanbeveel.