Wednesday, September 16, 2015

'n Potpourri van nuwe Afrikaanse kinder en jeugboeke...


‘n Potpourri van nuwe Afrikaanse kinder en jeugboeke:

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die katkrisis( LAPA, 2015)

Hierdie is die elfde titel in ‘n baie gewilde reeks. Zackie en Vincent kry die twyfelagtige voorreg om die buurvrou, Mevrou Langenhoven se kat vir drie dae op te pas. Katinka is nie ‘n gewone kat nie- sy sal heel moontlik groot kopsere veroorsaak. Die seuns hoop dat hulle met hul beloning die nuwe Squekky  Squirrrel Wars VI speletjie kan bekostig! Die enigste oplossing is om haar baie blikkies tuna te voer. Vincent begin om foto’s van haar te neem, en dit word ‘n lekker speletjie met ‘n blog en videos wat baie aanhangers kry.

Jacobs skryf met sy gebruiklike raak aanvoeling vir ‘n teks en situasies wat jong lesers sal geniet; sy humorsin en energieke styl maak dit ‘n genot om die boek te lees.

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die vreeslike verjaarsdag( LAPA, 2015)

In die twaalfde titel word Zackie se idee om vir Vincent ‘n verassings-verjaarsdagpartytjie te reël ‘n kompetisie met Anton wat sy partytjie op dieselfde Saterdagoggend  beplan en telkens probeer om meer lekker dinge as trekpleister te gebruik en so Zackie se verassing te dwarsboom. Maar ‘n seun met ondernemingsgees maak altyd weer ‘n plan!

Beyers-Boshoff, C.F. : Jasper op hoërskool( PROTEA, 2015)

Hierdie is die tweede uitgawe  van ‘n titel  in 1959 verskyn het in die bekende reeks.

Interessant was dit om te lees hoe ‘n skrywer in die vyftiger jare ‘n skoolstorie vir seuns sou skryf.   Leliesvlei is ‘n klein dorpie met onderwysers wat nog met ‘n rottang slae uitdeel waar nodig; ‘n seun se “portret”in ‘n jaarboek verskyn; bendes kleilat-oorloë voer; hul jagtoerusting bestaan uit ‘n knipmes, ‘n rekker en ronde rivierklippies; die wengeld vir ‘n seepkis-kompetisie R50 is en die seepkis om die karretjie te maak vir vyf sent by die winkel gekoop is.   ‘n Brief word nog op ‘n tikmasjien geskryf ; seuns van bendes deel pamflette uit vir die dominee se kerkbasaar; en die dapper seuns red ‘n vierjarige seun wat verdwaal het; hulle prober vir die eerste keer rook en steek ‘n rietbos aan die brand met ‘n stompie; en dan vang hulle nog ‘n skaapdief en sien kans vir Lelievlei se spookhuis.

Ek sal dit geniet om kinders se reaksies op die boek te hoor! Onskuldige vermaak wat ‘n mens laat verlang na kinderjare in die tyd – toe jy nog versigtig was om perskes te steel by Oom Faan wie vertel dat hy sy perskes vergif het om kwaaijongens af te skrik of om die dominee of onderwysers sonder respek te behandel!

Neser, Christien: Middernagklub( LAPA, 2015)

Elle en haar vriendinne bring nog ‘n tiener-avontuur na hul lesers in die sewende titel in ‘n reeks wat met Kondensmelk afgeskop het en steeds bekoor.

Hier is die Lys van Dertig- volgende jaar se prefekte – ‘n doelwit wat vir die meisies beteken dat hulle geen reëls mag oortree nie. En sommer met die intrapslag word hul Middernagklub op heterdaad betrap! Maar die twee meisies Maria en Thandeka wat so deel van hul lewe word –hulle is van die kinderhuis Kaya Kumba en die meisies moet hul help om Graad Elf se werk te hersien- bring ‘n nuwe vriendskap en selfs kontak met ‘n ou Gravitas dame Stella Maas wat nou ‘n modeontwerper in New York is.  

Die skoolhoof se verjaarsdagviering word ‘n groot plesierige geleentheid, en die dertig leiers wat ‘n verpligte kamp by Thaba Thula aangebied deur Staal en Yster en die gemaskerde Russiese instrukteur Kalashnikoff moet bywoon, ervaar meer as net opleiding en ‘n heerlike verassing vir Elle. Is enige van die vriendinne dalk skoolleiers volgende jaar?

Neser hanteer hierdie verhaal met haar gebruiklike vaardigheid; ‘n goeie balans van jeugdige vermaak , oortuigende karakteruitbeelding en ‘n verhaal wat ontplooi tot ‘n einde wat die lesers sal laat uitsien na Elle en haar vriendinne se avonture in Graad 12! Lekker ligte leesstof.      

Baggot, Stella: Protea se plakpoppies modeontwerper trouversameling( PROTEA, 2015) In Afrikaans vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl.

 

   Jong meisies het hier die geleentheid om modeontwerper te speel met ‘n pragtige versameling van  ontwerpe, kleure en patrone, plakkers  en poppe wat gereed staan om aangetrekte word vir verskillende troues en sprokiesbruide.

Hierdie is ‘n wenner-geskenk idee vir meisies wat sou belang stel om kreatief modeontwerpers te “speel”. ‘n Boek wat dadelik die aandag trek en tematies ‘n groot mark kan bereik.

Baggot, Stella: Protea se Plakpoppies Modes van lank gelede( PROTEA, 2015) Vertaler Rentia Bartlett-Möhl.

Plakkerblaaie bevat die modes van o.a.Antieke Egipte, Rome, Sjina; die Middeleeue; Frankryk, Engeland(1810),  Victoriaanse tye ; Amerika in die 1950’s en Londen in die 1960’s.

Hoe lekker sal kinders nie die mooi poppe kan aantrek nie! Terselfdertyd vind daar ‘n leerproses plaas.Ek onthou hoe daar dikwels in biblioteke gevra word na die tradisionele drag van ‘n spesifieke tydperk; en hierdie boek is weereens ‘n bewys dat nie-fiksie nie noodwendig  nie-plesier beteken nie! Baie inspirerend.

Reeks:  Leer ken Woorde, Getalle  en Diere( H&R, 2015) Ook beskikbaar in Engels.

‘n Reeks van kleurvolle aantreklike hardeband boeke ‘n groot formaat stel kinders bekend aan woorde in verskeie situasies –‘n leerproses wat prettig kan wees, Die illustrasies is van werklike items en nie tekeninge nie. ‘n Tuinslang is ‘n tuinslang, ‘n erdwurm die werklike een, ;n hark en spinnekop en leunstoel werklik en in mooi kleure voorgestel.

In die getalle-boek leer die kind getalle met interaktiewe vrae en eenvoudige speletjies; groepering, vorms , patrone en sekwensies.  

Die  diere-boek bevat o.a. troeteldiere, plaasdiere, reusediere, skubdiere, babadiere, diere se huise , wegkruipers en diere in aksie.

Die groot format sal dit ook maklik maak vir kinders om saam deur die boek te kyk,of met ouers ‘n leersame leeservaring prettig te beleef.  Hoogs aanbeveel vir skool, tuis en biblioteekversamelings.

Daly, Nike en Jude: Baie dankie, Jackson( Jacana, 2015)Vertaal deur Alet Kruger.

Die eenvoudige treffende verhaal van ‘n boer, sy vrou Beauty en hul seun Goodwill. Hul donkie Kackson moes elke markdag ‘n vrag groente teen die bult uitdra en hy het nooit gekla of gerus in die taak nie. Een oggend verseg hy egter om verder te loop om so’n ondankbare taak te vervul. Die boer dreig om die donkie met ‘n groot stok te slaan as hy nie opstaan nie. Goodwill kom tot sy redding deur iets in die donkie se oor te fluister.

So leer die boer dat dit belangrik is om asseblief en dankie te sê. Klein dingetjies maak ‘n groot verskil in verhoudinge en gesindhede.

Jude Daly slaag daarin om met haar gebruiklike eevoudige manier van illustreer die storie te dra tot iets besonder mooi en kosbaar. Haar landskap is ontneem van detail en “clutter”; plante staan in netjiese rye; die heuwel se steilte word ge-aksensueer met die groot oop ruimtes waarin slegs ln man en sy donkie die kaal landskap vul. Veral bly die donkie se passiewe gesit jou bly wanneer die boer een twee en drie tel. Daar is reeds ‘n afstand tussen die twee en die vrou en kind wat agterbly, maar die seun Goodwill pak die bult dapper aan, oortuig da thy die sleutel dra tot die donkie se uiteindelike bereidwilligheid om verder te loop.

Die marktoneel is kleurvol en die verkopers en hul ware word netjies en noukeurig uitgestal.In die laaste twee illustrsies is daar ‘n glimlag om elke gesig; nog steeds uiters subtiel en fyn soos net Jude kan illustreer.

‘n Besonder kunstige werk; die storie hou ‘n les in vir elkeen van ons; die illustrasies verbeeld ‘n liefde vir die eenvoud van ‘n spesifieke Afrika-landskap.   

 

Wednesday, September 9, 2015

Uitmuntende vertaalde boeke van PROTEA!


Vier belangrike vertaalde werke deur PROTEA uitgewers:

Van de Vendel, Edward:  En toe kom Tom(PROTEA,   2015). Illustrasies deur Philip Hopman. In Afrkaans vertaal deur Daniel Hugo.

“Die hond is sommer net daar”. Kix en sy sussie Emilia word onverwags besoek deur die mooiste wit Piranese berghond met die hartseer oë.  Hy is nie ‘n spookhond nie, hy wil duidelik by hulle gesin wees. Met hul Oupa se koms woed dit duidelik dat hy aan die bure oorkant die straat behoort; hy is hul seun Cracker se hond, maar  Cracker is opgesluit nadat hy mal geword het omdat hy al sy diere verloor het.  Hulle doop die hond Tom, maar sy naam is eintlik Nanook. So word Tom al meer deel van die gesin;hy is mal oor liefkosings en baie beskermend teenoor die gesin.

Maar die bure dring daarop  aan dat die gesin seshonderd dollar vir die hond betaal. Totdat Cracker een nag tuis is, en die verhaal tot sy  dramatiese einde kom.

Hierdie is ‘n boek wat elke kind wat lief is vir diere sal geniet. Daniel Hugo se vertaling lees lekker; hy hou by die eenvoud van die teks en die leser word juis betrek by die verhaal omdat dit spreek van opregte gevoel en omgee.  Dit is geskik vir ‘n wye ouderdomsgroep enword hoog aanbeveel ook vir biblioteek versamelings.

Kuijer, Guus: Die boek van alle dinge ( PROTEA, 2015)   Uit Nederlands vertaal deur Martjie Bosman.

Die skrywer vertel in sy voorwoord dat ‘n Meneer Klopper hom genader het om sy boek te lees. Dit is oneerbiedig geskryf, want sy jeugjare was nie gelukkig nie.

Thomas is ‘n sensitiewe seun wat dinge sien wat niemand anders sien nie. Hy skryf Die boek van alle dinge as ‘n 9jarige seun, en hoop om eendag gelukkig te wees, Volgens sy pa handel alle belangrike boeke oor God. Maar sy ma  weer glo dit handel oor die liefde en oor God.  Die Bybel en hul pa se benadering tot godsdiens is baie sentraal aan die gebeure geheg.

Dit is dus ‘n verhaal wat belangrike kwessies soos ‘n pa wat sy gesin met ‘n ysterhand regeer en sy vrou slaan as hy nie hul gedrag goedkeer nie. Margot Thomas se suster prober gewoonlik om die situasie te ontvlam met ‘n gegiggel of dom opmerkings. Tot die dag wat sy standpunt inneem en hul pa konfronteer oor die briefie wat Thomas in sy pa se bybel gesit het. Die briefie wat sê:”’n Man wat sy vrou slaan onteer homself”.

Die skrywer hanteer hier ‘n belangrike tema met sensitiwiteit, intelligensie en ‘n sterk poetise aanslag,  en selfs ‘n tikkie humor. Dit is nie ‘n boek wat sonder handskoene aangepak kan word deur jong kinders nie; in der waarheid is dit’n boek wat ook sterk tot volwassenes sal spreek.

Prenteboek:  Velthuijs, Max: Padda is ‘n padda( PROTEA, 2015). VertalerAmelia de Vaal.

Die skrywer is in 2005 oorlede. Voor sy dood in 2004 ontvang hy die Hans Christian –medalje vir sy bydrae tot kinderlektuur. Hy was veral bekend vir sy Padda-prenteboeke.  Die Padda karaktertjie sal altyd tot lesers spreek met die lewenslesse wat op ‘n eenvoudige wyse oorgedra word.

Padda dink hoe gelukkig hy is dat hy kan swem en spring en pragtig is met sy groen kleur. “Om ‘n padda te wees is die beste ding op aarde!” Maar sy vriende konfronteer hom met hul spesiale eienskappe- eend sê  hy kan tog vlieg, en padda probeer hard om ook te vlieg. Maar al sy pogings misluk. Rot prober hom oortuig dat dit nie belangrik is nie; en Vark weer vertel da thy baie ander dinge kan doen soos koekbak. Haas leen Padda ‘n boek , maar Padda kan ook nie lees nie. Haas troos hom met die woorde dat hulle almallief is vir hom, al is hy net ‘n Padda.

‘n Pragitge hardeband boek in groot formaat waarin Velthuijs se eenvoudige dog treffende illustrasies sonder beperkings kan leef. Die illustrasies is bedrieglik eenvoudig , onopgesmuk “geraam” in prente wat elkeen ‘n skildery op eie meriete kan wees, die boodskap is duidelik een van aanvaarding van wat jy is; en die krag van opregte vriendskap. So spring Padda in die finale illustrasie ‘n groot paddaspring” soos wat net paddas kan spring. Dit voel sowaar asof hy vlieg”.

Ek is bly dat so ‘n belangrike illustreerder se werk in Afrikaans beskikbaar gemmak is. Hoogs aanbeveel.

Morpurgo, Michael: Hoekom die walvisse gekom het(PROTEA, 2015) Uit Engels vertaal deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie verhaal is ‘n belangrike klassieke werk deur die skrywer van Krygsperd (War horse); die rolprent en teater opvoering is internasionaal bekend.   

Gracie en haar vriend Daniel is maats wat saam bootjies bou en dan gaan seil.  Hulle bly in ‘n vissersgemeenskap, en word gereeld deur hul ouers gewaarsku om weg te bly van die Voëlman af, want hy is ‘n kluisenaar , en volgens die mense mal, die duiwel self wat jou toor en vervloek as jy naby hom kom. “Hy is meer soos ‘n uil wat jy net in die donkerof teen dagbreek en skemer sien verby fladder”.

Maar die twee kinders is altyd op soek na ‘n lekker plek waar hulle met hul bootjies kan seil. So is Rushy-baai die mees geskikte plek. Ongelukkig is dit naby die Voëlman se huisie .

Hier is dit onvermydelik dat hulle hom sal teëkom, endit is die begin van ‘n geheime vriendskap met die ou man wat doof is en met hulle kommunikeer deur in die sand te skryf en boodskappe vir mekaar te laat.  Op ‘n stadium breek die oorlog uit en Gracie se pa besluitom aan te sluit by die Vloot. Moeilike tye kom vir die vissersgemeenskap, en sy en

haar ma oorleef met skenkings van brood en heuning wat die Voëlman by hul voordeur laat.

Die Voëlman vertel ook aan die twee kinders dat hulle nooit na Samson eiland moet gaan nie, aangesien die eiland vervloek is en net groot gevaar inhou. Toe die twee een nag uit desperaatheid een van Daniel se pa se bote steel om vis te vang verdwaal hulle in digte mis en land op Samson.  Hulle weet dat die Voelman wel Samson besoek om vure aan te steek teneinde seevaaarders daar weg te hou. Met hul tuiskoms word die twee verbied om met mekaar te speel en hou net Daniel vol om hom skelm te besoek.  Hulle twee doen saam houtwerk want die ou man maak die pragtigste beelde van seevoëls, en Daniel leer by hom.

Daniel se ouer broer Groot Tim is ‘n boelie en hy en sy vriende beluit  die Voelman is ‘n spioen vir die viand en moet ‘n les geleer word.

Die twee kinders prober hom waarsku, en dit gaan gepaard met die klimaks van die verhaal wat gaan oor ‘n walvis wat terug in die see moet kom sodat al die walvisse nie nader swem en doodgemaak word nie.  Hoe gaan dit moontlik wees?

Genoeg van die storie! Die verhaal kwalifiseer op alle gebiede aan die vereistes van ‘n goeie jeugverhaal-  ‘n goeie plot, interessante kleurvolle karakters; ‘n oortuigende milieu wat deeglik geskep word vergesel van ‘n kaart wat baie help met die leser se orientering; ‘n wonderlike lewensles oor verdraagsaamheid en vriendskap en bygelowe;  ‘n sterk spanningselement ; sommer net ‘n wonderlike storie wat boei en jou bybly. Defnitief hoogs aanbeveel vir alle versamelings. 

 

Lona Gericke  Augustus 2015.

 

Die mees geliefde dierbare Heksie is terug!


Liewe Heksie Leesboekies bring die mees geliefde dierbare  heksie terug!

Verna Vels:  Liewe Heksie –Leesboeke 1-4(H&R, 2015)

Noem jy die naam Liewe Heksie aan grootmense, jongmense en kinders wat lees is daar dadelik en altyd ‘n reaksie van vrolike glimlagte en opmerkings  dat sy  een van hulle mees geliefde Kinderboek-karakters is. Sy is  nou nie een van daardie nare storieboek-hekse met skrikwekkende toorkragte waarteen menige ouer hul kinders waarsku nie. Liewe Heksie vergeet selfs haar toorwoorde en is naïef, impulsief, onopgesmuk , sagmoedig  en baie vriendelik. 

Waarom sou ons almal so met haar identifiseer, en veral juis toe ons kinders was? Want Liewe Heksie is die onskuld vanself; sy vergeet dinge;  sy is “dom”; sy verdraai woorde; sy kan skielik nie lees nie; sy maak foute; sy is maar net soos elke kind lief vir avonture en wil verjaarsdag hou; raak gou verveeld en wil in ‘n blink rooi motor rondry; weet nie wat ‘n verassing is nie; wil haar hulp aanbied waar sy kan, en saam met haar vriende in Blommeland piekniek hou of ‘n vakansie by die see geniet in ‘n pragtige bikini- al is hare onwetend  sommer erg ouderwets maar tog te dierbaar.

Wat maak hierdie nuwe reeks leesboekies ‘n noodsaaklike toevoeging vir tuis-skool en biblioteekversamelings?

Vir die eerste keer word Verna Vels se stories oor Liewe Heksie en die karakters van Blommeland in kleur aangebied as ‘n reeks leesboeke vir jong lesers. Elke leesboekie bevat 3 van die oorspronklike stories wat ietwat verkort is vir 3-6jariges. Hier is dus die geleentheid vir kinders in ‘n gesin om elk uit sy of haar eie kopie te lees of aan voorgelees te word. Dit is nie oorweldigend bonkig nie, word maklik hanteer en is  keurig versorg met helder kleurvolle omslae duidelik gemerk as Leesboek 1 - 6.  Verskillende kleure word vir die titels gebruik, en ‘n klein Liewe Heksie gesiggie is in die regterhoek in ‘n sirkeltjie geplaas. Jy voel dadelik lus en opgewonde om die boek oop te maak.

Die illustreerder Vian Oelofsen het die liefdestaak met groot vreugde aangepak want hy is baie duidelik ‘n Liewe Heksie bewonderaar. Hier benut hy die geleentheid om  met ‘n nuwe oorspronklike kunstige interpretasie die stories te help vertel.  Dit doen hy met oorgawe en gee hier ’n meesterlike vertolking  in verbeeldingryke illustrasies wat grootliks bydra tot die sjarme van die hele aanbieding. Teen ‘n kleurvolle agtergrond word die leser vermaak met die interessanste collages van vallende borde, ‘n trein en rooi motor, ‘n regte frikkadel, Koning Rosenkrans in al sy glorie en Blommeland se kwaai Gifappeltjies.

Hy vertel dat hy baie ge-eksperimenteer het met teken en animeer  en speel  met die gebruik van illustrator en Photoshop. Hy het papierpoppe van die karakters gemaak, Blommeland is opgebou met teksture met ‘n tipe collage metode. Die blommetjies van Blommeland het lewe gekry met blomme op sy grasperk, rokke en materiaal is gekombineer met “brushes” en geverf met vorms op sy rekenaar. Fotos is gebruik soos met die frikadelle wat gemaak is en afgeneem is. Sy mees gekompliseerde karakter was die Fee koningin omdat haar rok verskillende lae vereis het en die vlerke deurskynend moes wees. Sy is saam met Karel, Koring Rosenkrans en die Gifappels sy gunstelinge. Die Silwerroos is volgens hom die moeilikste en beste blom wat hy nog getekenhet. . Hy sê dat hy van al die karakters hou en dat Verna Vels se storie besonder en tydloos is en dat hy dit sooo geniet het om dit te lees en te teken.

Verna Vels se bekende Liewe Heksie karakter het haar debut in 1961 gemaak in die Siembamba –programme van die SAUK. Verskeie Liewe Heksie reekse  is uitgesaai.

Human & Rousseau uitgewers het dadelik besef dat die karaktertjie ook in boekvorm vasgelê moet word, en in 1965 verskyn die eerste Liewe Heksie-boek deur H&R met swart en wit lyntekeninge deur Dorothy Hill. Nuwe Liewe Heksie-stories het in 1999 by Human & Rousseau as Liewe Heksie en die rekenaar verskyn. Daarna is die oorspronklike , volledige stories in 2002in ‘n omnibus-formaat gepubliseer as Die Liewe Heksie Omnibus.

Hierdie stories is dus vanjaar 50 jaar oud.  Verna Vels is in 2014 oorlede, en die uitgewer bring met hierdie leesboekies ‘n spesiale erkenning en viering van haar groot bydrae  tot kinderlektuur in Suid  Afrika.  .

Ek verwys kortliks na gedeeltes van die stories ter illustrasie van  die kinderlike opregtheid , fyn humorsin , bekoring en sjarme van Verna Vels se verbeeldingswêreld :

Dit is Blommie Kabouter se verjaarsdag. Al die kabouters van Blommeland is by sy partytjie. Net Liewe Heksie is hartseer omdat sy nog nooit ‘n verjaarsdagpartytjie gehad het nie. Sy is mos maar nie baie slim nie en vergeet maklik dinge. Sou haar ouma Levinia Heks dalk vir haar gesê het wanneer, het sy al vergeet. Hulle besluit op ‘n datum en Karel Kat word ook uitgenooi. Tipies Liewe Heksie is sy bekommerd oor hoe haar hare lyk, wil sy die rooi koeldrank dêps voor haar gaste; vergeet sy om die roomys in die yskas te sit, en is daar ‘n gestryery omdat sy nou meer gereeld wil verjaar!

Lesers kan hul verkyk aan  kleurvolle sonneblomme met dansende dwergies wat ballonne dra, kunstige blomme netjies gerangskik in vrolike rye met heerlike roomyse in hul kelke; Blommie en Heksie se gesigsuitdrukkings wat boekdele spreek;  die pragtigste huisie met pampoene op die dak en gehuisves in ‘n veld van fyn blommetjies; ‘n laáng tafel met koppies in ‘n netjiese ry op ‘n blom-tafeldoek en ‘n reuse beker rooi koeldrank; geskenkpapiere wat oral rondwaai soos sy geskenke oopmaak; Heksie wat met haar groottoon in die grond boor soos sy skaamkry wanneer sy vra dat haar gaste haar presente teruggee.

Koning Rosekrans, deftig in sy rooi pak met rose versier, versoek sy onderdane in die volgende storie om geld in te samel vir die bou van ‘n hospitaal. Liewe Heksie vergeet sy naam gedurig en noem hom sommer Koning Rosedoring,  en kasterolie is volgens haar kasterboomolie of kosteralie. En sy moet tog liewers nie sing nie!

Oelofsen teken hier ‘n groot goue blik as geldbussie; musieknote soos blomme en geldstukke wat vrolik dans; ‘n R50 noot versier met Nelson Mandela se kop-hul wengeld vir ‘n see-vakansie. Heksie in haar outydse swempak, haar”bikini” waarin sy die Juffrou Seesand kompetisie wen; ‘n indrukwekkende swart lokomotief en interessante detail is versteek op die bladsye- ‘n klein krappie, ‘n regte horlosie, ‘n selfoon en seevoëls wat entoesiasties toekyk.

In Leesboek 2  word ‘n verassings-besoek van Karel Kat ‘n heerlike avontuur met Heksie wat verdwyn in sy pragtige rooi motor, later  gehelp deur Trompetter die olifant  wat die motor weer terugstoot- ’n oulike illustrasie met Heksie wat voor aan die motor hang,  halfpad in die lug met haar dun beentjies uitgestrek. Die illustrasie van Karel wat woedend kwaad is vir haar, spreek boekdele!

Wanneer Koning Rosekrans baie siek word is die “enigste en beste en mooiste Heksie” ‘n gewillige helper wat borde breek;  en aanbied om Koningin te word as hy sou doodgaan . Dit is genoeg motivering vir hom om dadelik gesond te word. Weer illustreer Oelofsen met  musieknote wat vloei na sy kop. Een  loerende oog  rus op ‘n kussing van blommetjies,  en Heksie se kinderlike briefie is skeef teen die bedstyl vasgeplak.

‘n Piekniek met Hessie se “dikkefrelletjies” en ‘n brood wat so hard is dat jy dit met ‘n saag moet sny gebeur langs die Gifappeltjie-land. Hul motor word uit die modder getrek deur Toorperd Griet en Heksie vergeet alweer die towerwoord. Die toorperd met sy hol rug en lang ore ; lekker bruin modder wat teen ‘n gifappeltjie spat, en Blommie met ‘n parmantige tongetjie wat hy uitsteek vir die Gifappeltjies,  dra weereens by tot die lekker leeservaring.

In ‘n verdere leesboek  is Liewe Heksie betrokke by ‘n donkie- sy beland agterstevoor op sy rug en huil omdat hy dan nie ‘n kop het nie! Sy word ‘n babawagter, en in die land van die Gifappeltjies word sy en Koning Rosekrans gevange geneem omdat die Gifappeltjies Blommeland wil oorneem.  Maar Liewe Heksie red hul uit die situasie want in haar eie woorde, is sy tog die slimste Heksie wat sy ken!

En hiermee stem elke leser en natuurlik  ‘n toekomstige geslag van lesers wel deeglik saam!

 

Baie geluk aan die uitgewer Human & Rousseau wat hier pragtige toeganklike leesboeke uitgegee het.

Lona Gericke, Augustus 2015