Thursday, December 3, 2015

Sarel seemonster, Karel Kraai en Haas Das leer die kleintjies!


Smit, Louise en Fischer, Shân: Sarel seemonster leer ons van kleure( H&R,

2015)

‘n Reeks van 4 titels in die Wielie Walie Woelwaters reeks met elkeen van die 4 titels in ‘n helder kleurvolle omslag- blou, geel, rooi en groen.

Die boekies is in hardeband gedoen, met ‘n draaiwiel waar kleure opgespoor kan word. Verskillende aktiwiteite kan gedoen word en kinders kan hulleself ‘n regmerkie in die blokkie gee as hulle dit korrek doen. Kleurvolle balonne kan verbind word met ‘n tou in dieselfde kleur; in die park word kleurvolle dinge uitgewys; ‘n stopstraat se tekens word verduidelik; en selfs hoe kleur vermeng word om ‘n ander kleur te kry word verduidelik. ‘n Rëen boog se kleure verskyn, asook kleure wat nie in die rëenboog voorkom nie. Kinders leer hoe om ‘n kleurwiel te maak en dit te gebruik. ‘n Pen is ingesluit wat weer skoongevee kan word.  Baie mooi kleurvol en behoort kleintjies besig te hou terwyl hulle leer.

Smit, Louise en Fischer Shân: Karel Kraai leer ons van syfers( H&R, 2015)

Die wiel kan gedraai word om die eiers in ‘n nes te tel. Vanaf die getal 1tot 20 kan elke getal geidentifiseer word  en die kolletjies in ‘n blokkie word verbind en die kind kan dan die getal skryf. Elke getal word weer verteenwoordig deur bv. Blomme, of kersies of skoenlappers . ‘n telspeletjie word ook ingesluit.

Smit, Louise en Fischer, Shân: Haas Das leer ons van teenoorgesteldes( H&R, 2015)

Woelwaters kan die wiel draai en na al die groot diere kyk. Met die omblaai leer hulle weer van die kleinste diere. Vinnig en stadig word dan verduidelik met die luiperd en ‘n slakkie; en lank en kort diere is verteenwoordig deur kameelperd en dassie. Nat en droog kry ‘n beurt, hard en sag en sterk en swak. Selfs op en af, bo en onder fluks en lui is nie vergeet nie. Kinders kan teenoorgestelde stomstreke speel deur teenoorgesteldes te verduidelik met gebare en aktiwiteite.

Smit, Luise en Fischer, Shân: Bennie Boekwurm leer on van vorms( H&R, 2015)

Deur die wiel te draai kan kinders ‘n fiets kies met wiele wat elk van die 6 die verskillende vorms verteenwoordig. Verder word elke vorm verduidelik met voorbeelde. Die vriendelike Bennie Boekworm is deurgaans teenwoordig as die karaktertjie wat hulle help om te leer. Laastens word hul uitgenooi om hul eie vorm-prentjie te maak, bv. soos die vuurpyl wat maan toe vertrek.

Die boeke is by die Suid Afrikaanse  storietyd karakters in die Wielie Walie Woelwaters reeks aangepas in samewerking met die Cheeky Monkey uitgewersmaatskappy in Engeland. Hierdie aktiwiteitsboeke kan ook op Facebook opgespoor word by www.facebook.com/NBJongklomp.

Vir ouers en grootouers wat kinders besig wil hou terwyl hulle sommer leer ook, is hierdie boeke net die regte ding!

Lona Gericke Oktober 2015.

 

Pragtige rympiesboek


Rympies vir Pikkies en Peuters, saamgestel deur Riana Scheepers. Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit( Tafelberg, 2015)

Met Linda Rode se In die land van Pamperlang, het Tafelberg die leserspubliek ‘n boek aangebied  wat as bundel so mooi en kosbaar is dat ‘n mens net dankbaar is vir die insig wat geopenbaar is met die keuse van skrywer en illustreerder.

Vanjaar verskyn Rympies vir Pikkies en Peuters, en weereens is dit ‘n bundel wat absoluut te pragtig vir woorde is!  Die samestellers is gesoute ervare mense, en ek is so verheug dat hulle ‘n groot leemte gevul het. As kinderbibliotekaresse het ek maar self bekende rympies in Afrikaans vertaal vir storietyd, want rympies is so uiters belangrik in die kind se ontwikkeling. Nou kan elke kinderbibliotekaress, ouers en grootouers ‘n boek bekom wat so uiters noodsaaklik en belangrik is!

Rympies is ingedeel onder die hoofde- hier is ek, ek speel, rondom my, ek raak slim, en in die natuur. Dit is oorspronklike digwerk deur verskeie digters wat bydraes gelewer het.

Die vier afdelings is deur verskillende kunstenaars geïllustreer-  Maja Sereda doen Hier is ek; Adelle van Zyl  ek speel; Alzette Prins –rondom my; Susie Appleby –ek raak slim; en Sam van Riet – in die natuur.

Elkeen se uitbeelding van die rympies is heel besonder , vrolik en treffend. Die omslag is gedoen in liggeel en blou met vriendelike kinders en ‘n baba wat beweeg tussen ‘n muis op ‘n fiets, ‘n beertjie wat aan ‘n sambreel rondvlieg, ‘n voëltjie op sy hok en ‘n spelerige worshondjiewat baba se gesig wil lek.

‘n Gebruiksgids is saamgestel deur Gertie Smit Grondslslagfase-lektor by die Onderwyskollege en Kaapse Skiereiland Universitiet op Wellington.

Met oortuiging kan ek sê hierdie is een van die mooiste boeke ooit!  Hoogs aanbeveel vir alle versamelings. Kinderbibliotekaresse- hier is ‘n belangrike boek vir julle.

Lona Gericke  Oktober 2015

Oorlogwinter


Oorlogwinter, deur Jan Terlouw( PROTEA, 2015) Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo.

Hier bied die skrywer ‘n lekker geleentheid vir jeugdiges en ook volwassenes om ‘n verhaal oor gebeure in die Tweede Wêreldoorlog te lees wat jy moeilik kan neersit. Die vertaling is gedoen in Afrikaans wat amper “ouderwets” klink en juis so getrou bly as ‘n aanvaarbare vertaling van die Nederlandse teks.

Michiel is die hoofkarakter- ‘n 15-jarige seun  wat  op sy eie manier ‘n persoonlike versetbeweging voer teen die Duitsers. Hy help die duisende vlugtelinge deur fietse en ander vervoermiddels te herstel; help kos vind vir die honger mense, en die verhaal word meer opwindend en spanningsvol wanneer hy verantwoordeliklheid neem vir die versorging van ‘n Engelse vlieënier in ‘n versteekte skuilplek. Sy suster raak ook betrokke met die verpleging van Jack.

Maar hy help ook ‘n Jood en sy seun om te ontvlug.  Daar is onvergeetlike  en dapper karakters soos die  interessante barones Weddik Wansfeld wat haar verset teen die Duitsers; Michiel se vriend Dirk wat gevange geneem word; die raaiselagtige dood van die Duitse soldaat vir wie se dood Michiel se pa ook doodgeskiet word; Schafter wie Michiel oortuig is ‘n verraaieris. En sy oom Ben?  Oom Ben se identiteit word ook ‘n verassing. 

Die spanningslyn word goed gehandhaaf tot die einde; die verhaal word ‘n ontroerende boodskap van dapperheid en verset teen oorlog. Die boodskap dat oorlog soveel smart veroorsaak word telkens gedemonstreer in die verhaal: “  Sy pa was reg toe hy gesê het oorlog beteken honger, trane,ontberings, angs, pyn…”Terselfdertyd is daar die boodskap van hoop en dat jy iets kan leer van die oorlog, dat daar iets aan oorlog is waarop jy die res van jou lewe kan steun- die onblusbaarheid van die menslike gees.

Soos Michiel en Dirk finaal besluit:” Net een ding het sin”. “Om nooit weer in ‘n oorlog te veg nie, net teen oorlog”.

Oorlogswinter sal inderdaad ‘n leemte vul by Afrikaaanse jeugverhale.

 

Lona Gericke Desember 2015