Tuesday, February 20, 2018

Van prenteboeke tot Asterix


Resensies van kinder/jeugboeke 2/2018:

Davies, Benji: Die stormwalvis in die winter( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Rentia Bartlett-Möhl.

Die Stormwalvis se verhaal word verder vertel in hierdie verhaal waar Noi maar netnie die klein walvis kan vergeet wat hy gered het toe ‘n storm dit op die strand uitgespoel het nie. Toe dit winter word vaar sy pa vir ‘n laaste rit uit op die see, maar hy bly lank weg en Noi verdwaal as hy na sy pa gaan soek.Hy vind die boot, en die walvisse dra hom en die boot terug na veiligheid. Die vissermanne het sy pa gered, en sy walvis-vriend is weer terug. ‘n Treffende verhaal van vriendskap en moed met seetonele wat ‘n mooi agtergrond vorm.

Donaldson, Julia: Tirannosourus Sot( PROTEA, 2018). Illustrasies deur David Roberts. Rymvertaling deur Philip de Vos.

Die platbek-dinosourusse hou van water , riete en gras en waterblommetjies. In teenstelling met die vriendelike vreedsame groep is daar die tirannosorous-paar wat net wil moor en jag en oorlog maak. ‘n platbek-eier beland tussen die eiers van die moordadige groep, en toe die kleintjie uitbroei is dit tot almal se konsternasie want die een lyk vreemd met ‘n bek soos ‘n eend. Hy kry toe sommer die naam Tirannosourus Sot omdat hy net plante wil eet. Gelukkig beland hy in die water tussen sy groep en beland die nare klomp in die see. “ En op die wal sing eendbek-D’s- Daai T’s was naar en vrot en nou roe pons hiep=hiep –hoera vir Dinosourus  Sot!”

Verhale oor dinosourusse bly altyd gewild by kleintjies, en met Philip de Vos se vrolike beryming en Roberts se oorspronklike groep gediertes behoort die boek groot byval te vind.

Donaldson, Julia: Amok op ‘n besemstok( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Axel Scheffler.

Daar is amok op die besemstok as die heksie se gepunte hoed deur die wind weggewaai word. Gelukkig red ‘n hond die hoed, en hy word genooi om by die heks en haar kat aan te sluit.Hierna word haar strik weggewaai, en opgeteldie ‘n voël wat nou ook by die groep aansluit. Haar towerstaf word deur ‘n padda gered. Ongelukkig breek die besem, en haar metgeselle beland in ‘n modderige moeras. Toe ‘n draak haar wil verslind, verskyn die aardige monster uit die moeras wat die draak wegjaag. Die dankbare heksie stook ‘n potjie en uit die pot verrys ‘n wonderbesemstok! “Met skittermooi stoele vir die heks, kat en hond, ‘n nes vir die voël en vir padda ‘n stort”.

Die skeppers van dei gewilde Goorgomgaai betower weereens met die prettige avontuur met die aller-vrolikste illustrasies, reg in die smaak van menige kind.  

Goes, Peter: Tydlyn- ‘n reis deur die geskiedenis( PROTEA, 2018)Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

‘n Asemberowende ontdekkingsreis deur die geskiedenis, absoluut uniek en met groot sorg ontwerp in ‘n groot-formaat boek wat 16 uitgawes in België gehad het en in verskeie tale vertaal is.

Daar is geweldig baie detail in die illustrasies en kinders kom voor ‘n uitdaging te staan wat hulle sal boei as hulle tyd spandeer om elke fase in die wêreldgeskiedenis deeglik na te  speur en die fyn druk te lees wat die spesifieke fase verduidelik.

Die verhaal begin met die begin van lewe, gevolg deur die dinosourusse, die eerste mense, eerste nedersettings, Mesopotamië, Antieke Egipte, Antieke Griekeland, Die Kelte, Romeinse Ryk tot en met ruimtevaart en uiteindelik die 2010’s.

Daar is geen indeks of bladsyverwysings nie; die leser word weggevoer deur die geskiedenis deur te blaai en te lees wat volg op die vorige tydperk.

Die boek sal spreek tot lesers wat op soek is na ‘n oorspronklike talent en unieke uitbeelding, en volwassenes behoort die boek tot tuisversamelings te voeg omdat dit ‘n spesiale tuiste verdien. ‘n Prag-aanbieding.   

Palmer, Jose en Reinette: Leer my lees reeks Vlak 4 Boeke 1-10( LAPA, 2018) Illustreerder Zinelda McDonald.

In hierdie nuttige reeks het reeds Vlakke 1-3 verskyn, elk met 10 boekies. Tippie die olifant is die hoofkarakter wat sy avonture deel met jong lesers 5+jaar. Hy maak nuwe maats, besoek die dieretuin, besoek die leeupark, die lughawe, leer om pizza te maak, hou sywurms aan, soek insekte, vang vis, verjaar , en gaan selfs ysskaats.

Die skrywers het jare se ervaring in onderwys en wil met die boeke kinders lief vir lees maak. Elke boek is gekram, net 25 bladsye en is kleurvol en kinder-vriendelik met McDonald se toeganklike illustrasies wat die boekies nog lekkerder maak. Aktiwiteite is ingesluit met ‘n woordelys, hul begrip word getoets en nuwe woorde kan gemaak word. Onderwysers sal die boeke nuttig vind in klaskamers, en ouers kan dit handig tuis gebruik.    ‘n UIters leersame reeks met ‘n hoofkaraktertjie wat in kinders se harte sal kruip.

Viljoen, Fanie:   Slym  se stories( LAPA, 2018)

In 2004 het die eerste Slym-boek in die biblioteek aangekom, en dadelik het ek besef dat dit ‘n treffer is wat werk vir 7+jariges. Nou verskyn al vier Slym-boeke in ‘n volkleur- omnibus, deur die skrywer self geillustreer. Die boeke het reeds  twee ATKV-Woordveertjies gewen.

“Daar gebeur nooit iets opwindends met wurms nie. “ So het die klein wurmpie Slym gedink. Totdat hy sowaar in ‘n paddakonsert beland!Giftand die slang betrek Slym sodat hy paddas kan vang, maar gelukkig het Slym ‘n geheime wapen om Giftand ‘n les te leer. Hy neem selfs die rol van die paddaprins in die skoolkonsert oor, en word die eerste wurm wat in ‘n paddaskool toegelaat word.  En dit is maar net die eerste verhaal in hierdie omnibus!

Die boek hanteer lekker, is kleurvol, die illustrasies pret en vol humor, en Slym is die oulikste wurmpie ooit.  Die lekker groot druk maak die boek nog meer aantreklik en leesbaar.

Goscinny , R en Uderzo: Asterix en die groot moles ( PROTEA, 2017)  en

                                                Asterix in Helvesië(PROTEA, 2017)

Aanhangers van die Asterix boeke sal verheug wees om twee nuwe titels te sien , en bibliotekaresse verwelkom twee toevoegings tot ‘n reeks wat deur al die jare van die gewildste boeke in die kinderafdelings bly.Albert Uderzo se illustrasies uit hierdie geskiedkundige tydperk is onverbeterlik.

Lona Gericke Feb/2018