Thursday, November 28, 2019

101 Nagmerries deur Jaco jacobs


Jacobs, Jaco:   101 Nagmerries(LAPA, 2019). Illustrasies deur Imile Wepener.

Net om na die inhoudsopgawe van hierdie versameling van 101 nagmerries tekyk laat jou asem behoorlik wegslaan! 296 bladsye met stories meestal nie meer as twee bladsye nie, en ingesluit bangmaak-gediggies met Knoopoog op die laaste bladsy om te verseker dat jy lekker slaap…

Jy vind uit hoekom niemand by tannie Hannie op die plaas kuier nie; ‘n vreemde boom in die tuin van ‘n wetenskaplike wat verdwyn het, ‘n grillerige masker wat jy liewers nie oor jou kop moet trek nie; Ninnie die spookdogtertjie wat sukkel om maats te maak; Vernon wat laat is vir skool omdat ‘n lugskip met ‘n glimmende oog verwoesting saai; Tannie Annie wat uitvind mens kan skrik vir koue pampoen veral as dit lewendig word; Charlie wat met lewende graffiti te doen kry ; ‘n swart kol teen ‘n muur in die skool wat kinders hipnotiseer; Berta wat gelukkig nooit onder haar bed kyk nie; dat wat at jy nie weet nie kan jou werklik seermaak; dat dit is gevaarlik om op ‘n spooktrein te ry; Meneer Pauw die onderwyser wat twee keer per kwartaal vreemd optree en dan verander sy oë ook van kleur; Regard in die klerewinkel met ‘n pop wat op ‘n haar netsoos hy lyk; nare dinge kan jou tref as jy iemand se partytjie prober omver gooi net omdat hulle vreemde goeters eet; ‘n towerpen wat skatte ontbloot; ‘n doodgewone parkie bedek baie geheime want dit was eers ‘n begraafplaas;  pasop vir ‘n haarkapper wat bekend is dat hy so lekker hare knip…;vreemde weer lewer ‘n plaag van verwoestende paddas op; moet nie jou hand in ‘n oop gat in die pad druk nie omdat geluide daaruit kom nie; Abri wat  deur ‘n vlermuis gebyt word en  verander in een; wegkruipertjie speel kan dalk snaakse deelnemers oplewer; ‘n tandarts wat op sy tande kners doen dit dalk want hy is dalk ‘n reptiel met ‘n swart-grys tong; ‘n spook in ‘n koshuis spook dalk regtig; dalk is dit gevaarlik om met die skoolgeraamte te dans, veral as jy met haar beenhand huistoe gaan; waak daarteen om die skub van ‘n draak huistoe te neem en dit nie betyds terug te besorg nie. Kinderspeletjies by ‘n verjaarsdagpartytjie  mag dalk ‘n werklike slangetjies en leertjies speletjie bevat. Iemand se oor in jou wasbak mag dalk gevaarlik wees. Kevin is ‘n stout seun wat uitvind wat Kamp regruk nou werklik vir hom inhou. Ivan slaag daarin om die vinnigste ou in sy klas Basil  te wen toe Basil deur die rondgaande epidemie getref word en aggressief begin optree. Hansworse bly nou maar eenmaal grillerig, veral as jy hulle wegjaag. Gelukkig gaan stap Janke met Kaptein die herdershond want die ou huis mag dalk geheime gevare inhou wat Kaptein instinktief aanvoel. ‘n Gesin wat in voëlverskrikkers verander wanneer hulle op ‘n plaas gaan aarbeie plant; op volmaan nagte gebeur daar snaakse dinge, soos Jenny wat beweer dat sy deur ‘n werewolf aangeval is.

Hierdie uiteenlopende verassende stories word aangevul met ‘n versameling gedigte wat netso angswekkend werk:’n Katvoet juffrou, Koggelmanderman, ‘n Laksman, Halloween, Klaarpraat met jou, Spookasem, die lang skraal man…, die spookhond van Donkerdal; Nagwag en die Egiptiese mummie; die spook van Uniondale; die heks van Hexrivier; Frankenstein, monsterslym; nagmusiek waar twee dansende geraamtes dopgehou word; ‘n Geheime bestanddeel in tannie Annie se souttert; ‘n huis wat sug en kreun, tant Anna se portret wat ‘n mens bangmaak; visvingers; niks om voor bang te wees nie; ‘n ruiter sonder ‘n kop; ‘n bosmeisie; die meermin se lied; ‘n afgekapte hand; as die vloerplanke kraak; die roep van’n uil; Swartbaard die seerower kaptein; die Jeti; Baba jaga; ‘n Waterslang; ‘n lewendige mallemeule; die legend van die middernagman; ‘n nagwind wat jou asem steel; ‘en o.a.my gunsteling rympie van die  Ysvrou :
“Kromverkluimde voëltjie
Onder die winterkaal prieel
Die Ysvrou het laas nag stil-stil
Jou asempie kom steel”.
Daar is self strokiesprent-verhaaltjies soos die Sleutel; Wesens uit die buitenste ruim wat met pruike inpas by aardse skoolkinders; Twiet met gevaarlike voëls, en Voëlverskrikkers.

Afgesien van hierdie groot verskeidenheid van nagmerrie-stories, is daar die illustrasies van Imile Wepener wat jou asem wegslaan en die teks nog meer angswekkend aanvul. Met ‘n treffende omslag teen ‘n donker agtergrond plaas hy met groot insig en vernuf die kleurvolle bangmaak karakters in die verhaaltjies. Hy gebruik helder kleure, ‘n ryke verbeelding en baie fyn humor om die boodskap te vertel. Hy skilder met selfvertroue en ‘n seker inslag. Sy spinnekop se web is donkerrooi; sy waterslang het diep kleure , ‘n ronde oog omring met rooi en de diamant op sy voorkop vonkel lokkend. Die ou vrou wat herinner aan die heks met Hansie en Grietjie het geel yskoue uitdrukkinglose oë. Die nagwind wat druis deur die begraafplaas is met beweging geteken teen ‘n donker agtergrond en ‘n geel maan. Sy tweede laaste illustrasie van die mense op straat op ‘n dubbel bladsy vertel dat mense skaars sien wat om hulle aangaan.  Die dansende geraamtes in die nag lyk potsierlik en komies maar ook grillerig.
Voorwaar is die venootskap tussen skrywer en illustreerder hier ‘n wenresep. Ek hoop om hom nog meermale te ontmoet.

Wednesday, November 27, 2019

Lulu, Toring van Jasmyn en Sindikaat


Lulu se nuwe avontuur, en die SANLAM pryswenners 2019:


Viljoen, Fanie: Olke bolke, Lulu( LAPA, 2019)Illustreerder Elsbeth Eksteen.

Fanie Viljoen se gewilde reeks oor die dogtertjie Lulu met die talent om klere te ontwerp, deel hier met haar jong lesers ‘n nuwe avontuur, getooi in Elsbeth Eksteen se kenmerkende dogtertjie-vriendelike illustrasies.
Op ‘n dag ruik Lulu babapoeier in hulle  huis. Oom Theuns die motorbestuurder het gevra of hulle ‘n paar dae na die seuntjie kan kyk terwyl sy dagmoeder siek is. By die skool is daar ‘n nuwe leerder in hulle klas, Greta. Greta prober dadelik almal se guns wen met koek uitdeel, maar agter Lulu se rug beskinder sy haar by die tweeling.  Sy daag Lulu uit met ‘n modeparade-kompetisie. Lulu wil graag ‘n modeontwerper word, maar dalk is Greta meer talentvol as sy. Toe haar boek waarin sy al haar idees aanteken verdwyn, maar later weer verskyn,is sy stomgeslaan om  by die kompetisie te sien dat  Greta se ontwerpe presies soos hare is! Behalwe natuurlik vir die finale ontwerp  wat sy nie in haar boek gehad het nie, en waar Greta se gebrek aan talent toe baie duidelik openbaar word. Dalk  het  Greta  nou ‘n les geleer.
 Ideale leesstof vir beginnerlesers wat hou van regte verfynde “dogtertjie”-stories met frilletjies en valle en oulike babas… en ‘n gawe talentvolle hoofkarakter wat ten spyte van Greta se afguns, nogtans bereid is om daarna met haar vriende te wees.

Derick van der Walt:Toring van Jasmyn( Tafelberg, 2019). SANLAM pryswenner- Goud vir Jeuglektuur.

Markus en sy sussie Nina en ‘n vriend Neil vergesel hulle pa op ‘n besigheidsreis na  Istanbul.   
Die verhaal is dus geplaas in hierdie kleurvolle maar ook gevaarlike milieu waar ‘n bom onlangs op die lughawe ontplof het. Tipies jongmense verken elkeen die nuwe vreemde omgewing op hul eie manier:  Nina koop net aanmekaar goed, maar Markus word geïnteresseerd in die ou gebou, die toring van Jasmyn op een van sy nagtelike wandelings. Hy let op dat jong mans in swart gekelee die plek besoek en wonder waarom hierdie besoeke gaan.
Nina raak bevriend met die Turk Sahib, en hy nooi Markus om saam met sy span sokker te speel. So word hulle ook genooi na Sahib se oom se huis, en hulle ontmoet ook sy suster Meryem en ander familie. 
Die toeriste bedrywighede van die karakters word   ‘n ervaring vir elkeen op ‘n veel dieper vlak deurdat hulle met ‘n Turkse gesin bevriend raak. Terselfdertyd is daar ‘n sterk spannings-element met Markus se belangstelling in die Toring van Jasmyn wat opbou tot ‘n klimaks wanneer Nina ontvoer word en hy vermoed waar sy aangehou word.
Derick van der Walt kyk na Istanbul met fyn waarneming en interessante kommentaar, en sy beskrywings van die plek is netso kleurvol as Istanbul self.
Die jongmense word ook oortuigend uitgebeeld, elke individu is geloofwaardig en oortuig, ook Neil met sy boodskappe aan ‘n vriendin waarin hy kommentaar lewer oor hierdie gesin. Neil vertel dan aan haar dat Markus ‘n stiefma Charlotte het en dat hy emosioneel nognie die egskeiding van sy ouers aanvaar het nie. Maar ook hier vind daar ontwikkeling plaas en maak Markus kontak met haar d.m.v die lampie wat hy toe vir haar koop.   Die leser hoor ook dat Neil sy ouers verloor het.
Hier is daar dus nie die fout wat so baie skrywers maak om issues ‘n sentrale fokus van die verhaal te maak nie; karakters se emosionele problem plaas soms ‘n demper op die leser se genot met die lees van ‘n verhaal.  Hierdie skrywer weet hoe om ‘n gesonde balans te handhaa. Baie subtiel vertel hy  jou van persoonlike problem waarme die jong karakters worstel, en baie subtiel ook weer is daar die tekens van hoop en vernuwing.  
Van der Walt is gemaklik met Afrikaans, met sy karakters en vertel ‘n boeiende verhaal wat afspeel in ‘n eksotiese omgewing, maar ook word jy as leser bekend gestel aan werklike mense in hierdie vreemde land en die probleme waarmee ook hulle te kampe het. 
‘n Waardige wenner van die SANLAM goue medalje. Die boek sal tieners boei en betrek ook op emosionele vlak.

Barnard, Annerle:  Sindikaat( Tafelberg, 2019).  Silwer medalje wenner.
Paul en sy twee vriende Karlien en Adriaan is in opdrag van Paul se pa op ‘n safari na Zimbabwe en Zambië onder aanvoering van die rowwe onverskrokke recce Bossie. Hulle is in lewensgevaar nadat Paul heel onskuldig en niksvermoedend sy hand in ‘n Chinese vriend  Chang se beskuitblik gesteek het en  hulle so bloot toevallig met ‘n sindikaat en smokkelary kennis gemaak het. Buitendien was Paul voorheen ontvoer, en vandaar sy pa se besluit dat hy ‘n lyfwag moet hê. Bossie moet die jongmense beskerm teen moontlike bendelede wat Paul se bloed soek, en hy tref voorsorgmaatreëls, selfs deur wapens oor die grens te smokkel. Hulle eerste kennismaking met die vyand is by die Victoria Falls Nasionale Park. Bossie reken egter gou met die twee aanvallers af.
Baie  minder vervelig as my verbeeldinglose weergawe van gebeure is die werklike situasies en veral Paul se kommentaar, emosionele uitbarstings en  waarnemings in kleurvolle byderwetse taal wat tieners ken. Daar is wrede situasies ook, soos toe Paul sy geliefde kat Russel gekruisig gesien het voor hul vertrek, of Guinness die hond wat net net ‘n aanval oorleef, of Karlien se poedel se keel wat afgesny word… of die boot aanval op die Zambesi rivier…
Hierdie word ‘n reis van vele spannende ontmoetings tussen die jongmense, hul beskermheer Bossie, en ‘n sindikaat wat hulle medoënloos agtervolg.
Die skrywer plaas die gebeure in Zimbabwe en Zambië in hoofstukke, afgelos met hoofstukke wat die gebeure in Bloemfontein vooraf, vertel. Hierdie is dus ‘n slim manier om die leser geleidelik ‘n volledige prentjie te gee van die hele ontplofbare situasie waarin die karakters hulle bevind.
Paul as verteller is ‘n boeiende energieke hoofkarakter met sterk emosies en hy handhaaf ‘n vinnige tempo van vertel en meelewing.  Sy beskrywing van situasies en insidente is skerp, soms komies en altyd raak, bv. as hy sê: “ Bossie se kop raas in stereo”.  En “As die humiditeit jou alleen in hierdie wêreld kry, pop hy jou soos ‘n springmielie”.   
‘n Verhaal wat op ‘n gallop hardloop en die leser ‘n genotvolle leeservaring bied.  


Prenteboeke vir groot plesier met Tjoppie, die hasie van fluweel en Dr. Seuss


De Villiers, Liz: Tjoppie en die skat(H&R, 2019) Illustreerder Vian Oelofsen.

Om te grawe is Tjoppie se gunsteling tydverdryf. Toe hy op iets eienaardigs in die tuin afkom wat bo die grond uitsteek, begin hy dadelik grawe en ontdek toe sy been tot Warrie se blydskap om ontslae te wees van die harde been wat sy slap so bederf het!
Die illustrasies Van die bekoorlike grootoog hondjie is eenvoudig treffend en effektief. Die teks is ook heerlik leesbaar sodat die boek sal werk as voorless of selflees materiaal. 

De Villiers, Liz: Tjoppie en die tweeling( H&R, 2019) Illustreerder Vian Oelofsen.
Tjoppie gaan kuier by nuwe maatjies, tweeling hondjies Flapsie en Flopsie. So leer hy ook hoe hulle speelgoed deel  en elkeen ‘n beurt kry om die bal te gooi. En hy gaan doodgelukkig huistoe met ‘n foto van hulle drie.
Weer netso prettig en kleurvol; die hondjies is oulik en kleuters leer sommer saggies ook oor mededeelsaamheid.


Dr. Seuss: Vier titels, naamlik  Een vis, twee visse…;Hoe die Grons kersfees gesteel het; Horton hoor ‘n hoe!; en Kane k vir my ‘n troeteldier kry? ( PROTEA, 2019). Afriaanse vertaler : Philip de Vos.
Dr. Seuss se boeke bly deur die jare gunstelinge vir jong lesers, en baie kinders het leer lees en lief geword vir boeke juis deur bloot gestel te word aan sy skerp humorsin, slim gebruik van woorde en klanke  en waarnemingsvermoeë.   
Philip de Vos vertaal weereens soos die meester wat hy is, en so is hierdie titels in Afrikaans ‘n groot bydrae tot Afrikaanse versamelings tuis en in biblioteke. Hoogs aanbeveel.

Flanders, Bianca: Prinses Pampoenpit( LAPA, 2019) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Prises Pampoenpit is die allerpragtigste dogtertjie met ‘n bos krulhare. Maar sy hou nie van die krulle nie, en wild it net wegsteek. Haar sussie oortuig haar egter dat haar hare towerkrag besit- dat dit in die reën vanself begin kartel  en baie spesiaal is. Toe sy besluit om die hairband los te maak , is daar ‘n krul-ontploffing, en sy gaan nou haar hare soos ‘n regte prinses begin dra!
‘n Vrolike boek met beweging, energie,en met die teks wat rym gekombineer met Zinelda McDonald se uitbundige speelse illustrasies, sal die boek menige dogtertjies wat hulle krulhare verwens , tot nuwe insigte bring.

Jacobs, Jaco: Sasha word stil(LAPA, 2019) Illustrasies deur Angela Banks.
Sasha luister graag na al die verskillende geluide wat haar omringwaar sy ookal gaan. Toe alles om haar tjoepstil word maak sy ‘n plan om haar eie musiek ook te maak.
Banks se illustrasies is heel treffend en mooi. Ek het veral gehou van die dogtertjie en die met die ysblokkie wat op die warm sement smelt ; die naaldekoker “wat roerloos in die lug hang”, en die goudgeel blom “wat stadig-staadig oopvou”.  Hier is ‘n wêreld van klanke wat kinders kan namaak en na luister, terwyl hulle die stemmingsvolle illustrasies geniet.

Williams, Margery: Die hasie van fluweel-‘n storie oor hoe speelgoed rêrigwaar word( H&R, 2019) Vertaal en verwerk deur Linda Rode. Illustrasies deur Theodore Key.
Hierdie pragtige boek kan nie anders as om my gunsteling prenteboek te wees van die afgelope tyd nie!  Dit was nog altyd my eie begeerte dat hierdie klassieke werk in Afrikaans vertaal moet word, en wie is nou meer geskik as Linda Rode met haar kennis van en liefde vir stories, en haar wonderlike vermoë om die mooiste sensitiewe teks te skep.
Dit is ‘n voorleesboek, selfleesboek vir oud en jonk. ‘n Nostalgiese reis na die wêreld van ‘n kind met sy speelgoed-hasie wat sy  kosbaarste speelding is. Totdat hy siek word, die hasie weggegooi moet word, en in die asblik beland.
Maar wanneer jy baie lief was vir iemand, en dalk self droom om werklik te word soos die ander hasies, is daar altyd ‘n towerfee wat jou hiermee kan help. 
‘n Boek om te  koester en met kleinkinders, grootmense en alle kinders te deel.
Hoogs aanbeveel. Die illustreerder verdien ook spesiale erkenning vir sy fyn aanvoeling vir die teks waar hy belangrike elemente verweef in die agtergrond en in situasies. Sagte kleurskakerings dra by tot die sensitiewe verhaal deur die regte atmosfeerte skep.