Friday, July 6, 2018

Huppelkind, Raaiselklip, Harry Griesel, Lotta en 'n Superskurk


Kühne, W.O. : Huppelkind en prentjies van Dorothy Hill Kühne( Tafelberg, 2018)

Al huppelend saam met hierdie kind  is dit heerlik om hierdie prag versameling van ‘n klassieke werk in Afrikaans weer beskikbaar te sien vir ons kinders.

Ek het weer gelees, en weer geniet, want hierdie is veral ‘n voorleesboek wat kleintjies nie net sal geniet vir die avonture van die seun nie, maar ook vir die heerlike klankrykheid van die werk.

Huppel is ‘n onskuldige natuurkind; sy vriende is die voëls en diertjies van die veld in Lekkerland daar langs die “diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie”.

Maar daar is ook lummels soos Vlei-Floors wat op sy plek gesit moet word as hy Vlak-Floors bedreig, en Huppel kan mos ‘n plan maak! Huppel moet die woorde leer sodat Ou Storieman vir hom ‘n storie kan vertel en hy vra Haak om hom te help. Ander kleurvolle karaktertjies soos Fiefman en Diefman, Wolman en die Boekwurms, die Horingman wat voëls vang en hom voordoen as die Musiekman sodat Huppel en sy maats Roerdomp uit sy sak moet red, almal draai daartoe by dat kinders tog te lekker na al hul avonture sal luister! Met Huppel se verjaarsdag kry hy ‘n koek-koek horlosie as geskenk van sy maats en dit is nie sommer so ‘n horlosie nie, want ook hierby is daar ‘n storie te vertel. 

‘n Pragtige boek wat klassiek geword het en sal bly. Behoort tot alle biblioteek, skool en tuisversamelings.

Goosen, Troula: Raaiselklip( H&R, 2018)

‘n Gotiese storie wat in die Kaap van die 19de eeu afspeel was die skrywer se inspirasie om hierdie opwindende verhaal te skep.

Gabriel is ‘n seun van Amsterdam wat op sy 14de verjaarsdag wakker word in die Kaap van Storms. Hy weet nie hoe hy daar gekom het nie,en waarom hy nou hier moet wees nie. 

So begin sy avontuur in ‘n verlate teater waar hy drie akteurs ontmoet, die slawemeisie Zytia wat hom probeer help, en as hy begin teken verskyn die gesig van ‘n seun aan hom. En dan ontdek hy ‘n grafsteen met sy naam daarop, gebore in 1654 en reeds oorlede…

Wanneer hy Zytia se meesteres Regina ontmoet is hy al meer in die duister- sy beskuldig hom dat hy gekom het om die “klip” te kom haal, en sy sal dit nie toelaat nie! Waarom is die raaiselklip van soveel belang?

Troula Goosen skep hier ‘n verhaal wat tematies heel uniek is; die spanningslyn word deurgaans gehandhaaf, daar is verassings en ongewone situasies wat die leser deurgaans betrek en nuuskierig hou oor hoe die verhaal uiteindelik gaan ontplooi. “n Goeie storieverteller wat haarself reeds bewys het met die gewilde Maanlig-meermin. Die omslag van die boek verdien ook ‘n kompliment- dit is treffend en trek dadelik jou aandag. 

Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel 4- die zombie –ontvoerder( H&R, 2018). Afrikaans deur Irma Bedenhorst.

Hierdie reeks lees tog te lekker, en soos met elkeen van Otto en Harry en Vincent die troetelvlermuis se avonture,is hierdie vierde titel in die reeks weer nie ‘n teleurstelling nie.

Juffrou Singh hulle kunsonderwyseres word vervang  deur ‘n snaakse vaal klein mannetjie Melvin Malone, en Otto let op dat sy vel grys is soos die van ‘n dooie mens.  

Dan verskyn Sybrand Swaelkop, die mal stigter van die skool ook aan hulle, en nou word dit duidelik dat daar meer van die dooies uit die Oorkant met behulp van ‘n onwettige deurgang in Otto se wêreld beland het.Tannie Sharon verlang nog gedurig na haar man oom Archibald wat reeds aan die Oorkant is. Sy verdwyn om na haar man te gaan soek. Aan die Oorkant is alles kleurloos, en sy sal in lewensgevaar wees.  Otto en sy maats moet dus help om dinge weer normaal te kry…Waarom is Malone so geïnteresseerdf in oom Archibald se nuutste uitvinding, ROOM?

Uitstekende vertaling, boeiend en vermaaklik. Hoogs aanbeveel virHarry bewonderaars en almal wat hou van ‘n goeie storie, hoe “anders” nou ook al.

 

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe- die kattekonsert( H&R, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie is die agsteboek in ‘n reeks wat veral onder meisies , en veral lesers wat daarvan hou dat die teks , in dagboek- vorm,deurgaans aangevul word met sprekende sketse en byskrifte.

Lotta hou dagboek van ‘n week ,10-tot 17 Oktober waarin haar vriendin Chantelle ‘n baba boetie Rocco bygekry het, en die twee vriendinne word baba oppassers. In hierdie week is Lotta se blokfluit ook soek, en sy verdink haar raasbek tweelingboeties.Maar Rocco en hulle uitstappies saam met hom bly die hoof-fokus van die verhaal. Selfs Lotta se ma nooi die baba na hulle huis waar hy met allerhande speelgoed vermaak word. Sy en haar boeties woon ‘n reptieluitstalling op die skougronde by en Lotto kry haar blokfluit terug.

Lotta bly aan die woord met haar kommentaar op al die gebeure, en haar humorsin en kelurvolle verbeelding dra die verhaal. Nie my gunsteling tema in die Lotta boeke nie, maar tog onderhoudend geskryf.

Jacobs, Jaco; Superskurk( LAPA, 2018)  Illustrasies deur Nicolene Louw.

Met sy gebruiklike gemaklike onopgesmukte skryftrant Stel Jaco Jacobs die leser hier bekend aan Wessel wat verplig is om ‘n vakansie by sy oupa deur te bring, en hy het tenminste tienduisend redes waarom dit gladnie ‘n goeie idee is nie, veral waar hulle nie van mekaar hou nie en sy oupa se huis grillerig is met donker kamers en baie streng reëls wat nagekom moet word. Onder andere dat hy nie moet rondsnuffel nie, en Wessel is nou juis ‘n nuuskierige outjie wat mal is oor sy strokiesboekheld, Kaptein Koel, en soos Kaptein Koel ook smag na opwindende avonture.

Toe hy ‘n geboutjie met ‘n swaar ysterdeur ontdek wat in die tuin versteek is, en toegang geweier word indien hy nie die kodewoord ken nie, is dit die begin van ‘n vakansie avontuur sonder gelyke. Vera look leer hy die lewensles dat jy niemand op sy baadjie moet takseer nie,en dat helde dalk nie is wat jy dink nie!Jong lesers sal die verhaal geniet, want so ‘n avontuur is nie te versmaai nie.

Nicolene Louw maak ‘n mooi bydrae met haar aksie tekeninge wat die boek nog meer toeganklik maak. Hoogs aanbeveel.  

No comments:

Post a Comment