Thursday, July 26, 2018

Spanningsverhale maar baie verskillend!


Drie uiteenlopende, maar defnitief spanningsverhale vir tieners:

De Wet Hugo, Kamp van monsters- Grilgrypers 3( H&R, 2018)
Tannie Temba, Clayton se pa se nuwe verloofde waarsku hom dat sy sy grootste nagmerrie is, hoewel hy nog altyd bang was vir bome. Dan vertel sy pa dat  hy vir die hele vakansie na ‘n reabilitasiekamp gestuur word om tot beter insigte te kom oor sy aanstaande stiefma.
Die kamp word voorgedoen as uiters luuks, maar met sy aankoms is dit duidelik dat hierdie sentrum nie naastenby luuks, maar liewer onpersoonlik, kil ,onherbergsaam en ook ongenadiglik gaan wees. Oppad hardloop daar ‘n dier voor hulle in die pad- ‘n ding wat soos ‘n kruising tussen ‘n krokodil en ‘n beer gelyk het!
Sy kampmaat is die gespierde Ferdie.  Kamp Mentors word deur Rooibaard en sy blonde vrou bestuur. Hulle maak vriende met die twee meisies Lerato en Ayesha.
Sommer gou begin snaakse dinge gebeur- ‘n seun verdwyn, dan ‘n meisie wat vlou geword het, en Clayton hoor iets kerm, en Ferdi sien ‘n vieslike ding wat soos ‘n monsteragtige visvrou gelyk het.
Hulle word ook op spesiale diëte geplaas, Ferdi verdwyn, en uit desperaatheid  besluit die jongmense om die omgewing te deursnuffel wat hulle op ‘n versteekte laboratorium in die woud laat afkom:  KAMP MONSTER LABORATORIUM!  Hier word  die kinders gekloon  met diere en in afgryslike monsters omskep. En Clayton se aanstaande stiefma is een van die personeellede….
Die Kamp van monsters is ‘n spannende toevoeging tot die Grilgryper-reeks, en soos die vorige twee titels bied dit genoeg opwinding en grusame elemente om lesers van hierdie genre genotvolle lees-oomblikke te gee. De Wet Hugo het ‘n ryp en oorspronklike verbeelding, en besit die vermoë om sy lesers saam met hom op  grillerige verbeeldingsvlugte te neem. Sê nou maar net dit kan werklik gebeur?! Hoogs aanbeveel in hierdie genre.

Walliams, David: Oupa ontsnap( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. Illustrasies deur Tony Ross
Hierdie gewilde skrywer het alreeds ‘n bekende naam onder Afrikaanse lesertjies geword, en dus is ‘n nuwe storie so welkom.
Jack se oupa begin almeer dinge vergeet, niemand kan dit verstaan nie, behalwe sy kleinseun Jack . Hy het gou besef hy moet net saamspeel wanneer sy oupa hom op hierdie verbeeldingsvlugte neem, :” Sy drome was propvol avonture, sy lewe vol vervelige ure.” Sondae was die hoogtepunt van sy lewe as sy oupa hom op uitstappies neem, veral na hul gunstelingplek, die Keiserlike Oorlogmuseum waar sy oupa se legendariese Spitfire gehuisves word.
Soos sy geheue versleg, en nadat hy in die Spitfire gaan wegkruip het, besluit die polisie  om Jack se oupa na ‘n ouetehuis, Twilight Towers te stuur. Hierdie is ‘n aaklige plek, en sommer gou besluit Jack en sy oupa dat hy hieruit moet ontsnap.   Maar ‘n rit in die Spitfire bly maar sy grootste droom, gaan die twee daarin slaag om die Spitfire uit die museum te steel vir die grootste avontuur van Jack se lewe?
‘n Wonderlike eerbetoning aan die liefde tussen ‘n oupa en sy kleinseun wat met humor, verbeeldingryk en met empatie hanteer word. Daar bly maar ‘n spesiale band tussen kinders en hul oupas en oumas, en dan is dit nog meer spesiaal as die kind die oupa se liefde vir vliegtuie deel. Hoogs aanbeveel.
Ahlers, Nerine en Steenkamp, Alet:  Weg( LAPA, 2018)
Weg, of ontvoering is ‘n tema wat die uitgangspunt vorm van menigte tv rillers, moordstories, spioenasie en politiese intriges.
In hierdie verhaal verdwyn die meisie Niekie uit haar woonstel. Sy is kunstig en haar gedrag dikwels ‘n bietjie onvoorspelbaar, sodat Zack haar vriend aanfanklik net hoogs geïrriteerd is met haar, totdat hy uiteindelik tot die besef kom dat sy werklik”weg” is, selfs haar vriendinne is in die duister oor haar optrede.
Wanneer die polisie se hulp ingeroep word, begin mense dinge onthou, o.a. dat sy by die woonstel weg is vergesel van ‘n man so pas nadat haar paspoort afgelewer is.
Die gebeure word verhaal vanaf die Sondagaand toe Zack vir haar pizza gebring het, tot  die volgende Saterdag. Tipies van hierdie tema is daar gedeeltes in die verhaal waar die ontvoerder se teenwooordigheid by haar uitgebeeld word- hoe hy haar sien as sy pragtige prinses wat hy teruggekry het nadat hy so lank alleen was. Want sy Niekie is weg, en nou het hy weer vir Niekie opgespoor…
‘n Bronnelys word aangeheg en duidelik het die twee skrywers die onderwerp van ontvoering en die motivering agter elke individuele geval goed nagevors.
In die geheel is die verhaal dus oortuigend geskryf, heel spanningsvol, en tieners word weer bedag daarop gemaak dat hierdie dinge gebeur en met hulle eie vriende ook kan gebeur.  Die ideale boek om in te span wanneer die tema van ontvoering bespreek word.  





   
 

No comments:

Post a Comment