Sunday, August 12, 2018

Van spookmonsters tot by die geheim van die woud



Kaibllinger, Sonja: Harry Griesel en die spookmonster( H&R, 2018) Afrikaans deur Irma Badenhorst.
Asof dit nie genoeg is dat tannie Sharon nie kan begryp dat  Grieselgryper Harry kan eet nie, moet Otto nog al die huis se inwoners se ongeloof verdra wanneer hulle nie wil glo hy word snags getreiter deur ‘n groot skrikwekkende spookmonster wat met ‘n klopgeluid in sy kamer verskyn nie.
Vincent die vlermuis is ongelukkig oor die klein katjie wat die huis se nuwe intrekker troeteldier is; Oom Archibald moet nog aanpas in die huis na sy lang afwesigheid aan die anderkant; Harry kla oor sy nuwe baas Rufus Rittelbeen wat veranderings by die SBI aangebring het waarvolgens Harry nie meer Otto so vryelik kan besoek nie, en Otto probeer vasstel of sy ouers nie dalk in die hoogs geheime Tussenwêreld vasgehou word nie.    
Oom Archibald skryf sy eerste boek met Fernardo as spookskryweroor die ander wêreld, en met behulp van die new sneeuglasbal probeer hulle Kwaalcatraz trunk kontak waar Otto se ouers in die Tussenwêreld aangehou word.   Nou verskyn die spookmonster aan hulle om hulle bang te maak, en verdwyn nadat die manuskrip in die vuur verbrand is. ‘n Konkelry van die oorkant word aontmasker-  Harry dra geen kennis van sy verlede nie; hy moes dalk nooit vir die SBI gewerk het nie…
Rufus Rittelbeen moet eenvoudig vasgetrek word.
Hierdie is die vyfde titel in ‘n gewilde reeks by lesers wat hou van spoke en grillerige goeters, maar ook van ‘n held Otto en sy Grieselgryper vriend wat nooit opgee wanneer ‘n raaisel opgelos moet word nie!
Die skryfstyl is spontaan, die karakters word oortuigend uitgebeeld , en altyd is daar die humor wat kleur aan die gebeure gee.
Smit, Louise: Bennie Boekwurm se mooiste sprokies( H&R, 2018) Illustrasies deur Johann Strauss.
5 Bekende geliefde sprokies soos die drie varkies, Hansie en Grietjie en Repelsteeltjie word hier deur Bennie Boekwurm aan die kinders vertel. Die sprokies is bekend, maar Louise Smit skryf met haar wonderlike gawe om ‘n eie gevoel te skep en die sprokies weer te laat herleef sodat kinders met oorgawe sal  lees en luister.
Terselfdertyd is die boek absoluut ‘n lus vir die oog- Johann Strauss se illustrasies maak elke sprokie soveel mooier en kleurvoller met sy beweeglike, humoristiese lewendige uitbeelding van hierdie ou bekendes.
Absoluut ‘n pragtige boek!
Bee, William:  Stoffel se garage, Stoffel die bouer, Stoffel die boer en Stoffel se skool ( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.
Hierdie bekendstelling aan die oulikste figuurtjie Stoffel is besonder aangenaam. Eenvoudige illustrasies, en ‘n teks uiters geskik vir voorlees of vir beginners om self te probeer lees maak hierdie reeks ‘n welkome toevoeging tot versamelings vir beginner lesers.
In die bouer vra Miekie homom haar nuwe huis te bou. Sy gereedskap word geteken , en jong lesers leer van stootskrapers, ‘n skopgraaf dat bakstene waterpas gebou moet word, die huis word geverf en teëls word op die dak gelê.
In Stoffel se garage kry hy verskeie besoekers met verskillende behoeftes as dit by hulle voertuie kom- vir petrol, ‘n pap wiel, ‘n oorverhitte kar en die insleepwa word ook gebruik.  Aan die iende van elke besige huis gaan Stoffel huistoe om tee et, te bad en te gaan slaap.
Stoffel gaan ongetwyfeld in die harte van jong lesertjies kruip.Hoogs aanbeveel.
Donaldson, Julia: Die lelike vyf( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Axel Scheffler. Rymvertaling deur Philip de Vos.
Hierdie bedrewe skrywer skep weereens ‘n prenteboek wat nie net ‘n morele les leer nie, maar tersefdertyd bygestaan deur Philip de Vos se humoristiese rymvertaling  jong lesers op grappige wyse bekend stel aan die lelike vyf diere- die aasvoël, hiëna, blouwildebees, marabou en vlakvark.
Op ‘n laaste dubbel bladsy word die Groot Vyf ook geteken, die Klein vyf, en die skaam vyf.
Scheffler se illustrasies is heerlik keurvol en in volblad gedoen wat kontrasteer met die teks op ‘n skoon wit agtergrond aan die linkerkant.
‘n Pragtige prenteboek met ‘n teks in rym wat ideal is vir voorlees. Hiep hoera vir die lelike vyf!  Hoogs aanbeveel.
Winckler, Elsa: Wanneer is eendag? ( PROTEA, 2018) Illustrasies deur Marleen Visser.
Abella en die ander feetjies woon in ‘n skeur in die berg, omring deur die mooiste veelkleurige blomme.
Abella dink sy is baie lelik met haar kort rooi hare , maar die Koningin van die Skoenlappers stel haar gerus dat sy eendag as sy groot is, heeltemaal anders gaan lyk.Sy sukkel ook om die danspassies te doen, en kan nie soos die groter feetjies  teen die maan se silwer strale afgly nie.
Die seisoene gaan verby, en Abella wonder wanneer eendag gaan kom. Uiteidelik kom die dag waarna hulle so verlang het- nou moet die jonger feetjies maar wag totdat hulle dag kom om teen die maan se strale af te gly.
Baie jong lesers sal identifiseer met Abella en haar frustrasies as jong fee.
Die illustrasies is besonder kleurvol en amper kinderlik naïef. Hierdie is ‘n Suid-Afrikaanse prenteboek met bekende blomme soos disas en die koningsprotea.
Veral jong meisies sal die kleurvolle vrolike feetjies baie geniet. ‘n Goeie eerste poging.
GArzo, Gustavo Martin: Die geheim van die woud( PROTEA, 2018) Illustrasies deur B.M. Vidal. Uit Spaan s vertaal deur Nicol Stassen.
Amelie en Roland wil elke aand dieselfde storie hoor van die twee konyntjies Oortjies en Tongetjies wat ‘n grys wolfin in die woud  hoor huil het omdat sy blind geword het en so nie vir haar babas kon sorg nie. Tongetjie het egter die modder in die wolf se ooglede weggelek sodat sy weer kon sien. Uit dankbaarheid het die twee konyntjies en die wolwe lewenslange vriende geword. Dit was dan die geheim van die woud.
Wanneer hulle ma begin vertel, verskyn uitbeeldings van die woud teen die kamermuur, en die kinders word afgebeeld met konynore in die agtergrond. Hulle word dus deel van die verhaal en simboliseer die twee konyntjies; want hier is ook ‘n boetie en sussie wat saamsmelt met die natuur om ‘n harmoniese geheel te vorm.
Die moederliefde van twee vroue, ‘n wolf en ‘n mens-ma word uitgebeeld, en die woud word nie gesien as bedreigend vir die kinders nie, omdat diere in die natuur in harmonie saamleef.
Die illlustrasies is uiters ongewoon- donker kleure word gebruik sodat die kinders en die woud ‘n geheel vorm en saamsmelt. Diepblou blomme dien as die enigste kleur teen die donker agtergrond, en wanneer die diere mekaar vind, verskyn daar roesgeel blomme , meer kleur en die kinders word geplaas op ‘n kussing met heldergeel blomme.
Hierdie ongewone prenteboek met sy spesiale boodskap van harmonie tussen mens en dier wat sterk gedra word deur liefde is toeganklik vir volwassenes en kinders . ‘n Besonder mooi aanbieding wat kunsliefhebbers sal bekoor.


  


 





Thursday, July 26, 2018

'n Verlore pikkewyn en baie honger reus



Freedman, Claire en Hindley, Kate: Die verlore pikkewyn-‘n Paul en Vlekkie verhaal( PROTEA( 2018)Afrikaans deur Carmen Hansen-Kruger

Vir die beste maats Paul, Rosa en Vlekkie is dit die lekkerste van alles om saam na die dieretuin te gaan. Daar merk Vlekkkie ‘n klein pikkewyntjie op wat baie hartseer lyk. Hy is ‘n pikkewyn wat gered is en seker verlang na sy ou huis. Met hul volgende besoek hoor hul dat Piep wel weg is, en die drie begin na hom soek. Dit is al laat toe hulle hom opspoor, en die twee kinders stry oor by  wie hy vir die nag moet oorbly. Daar raak Vlekkie en Piep weg, en die kinders spoor hulle eers die volgende dag by die dieretuin op.Gelukkig word Piep verwelkom deur die ander pikkewyne, en die maats kan gerus huistoe gaan, en gaan roomys eet!
‘n groot formaat prenteboek in hardeband met die mooiste delikaat getekende illustrasies van diere en voëls in sagte kleure . Op elke bladsy is die teks en illustrasies goed gebalanseer, en genoeg wit ruimtes word gelaat om die lekker groot druk sonder hindernis te kan lees. Die twee kinders se helder klere vorm ‘n mooi kontras met die geboue en ander elemente.Die diere word saam gegroepeer en lyk nuuskierig en betrokke by elke gebeurtenis. Ronde oplettende lewendige ogies van die kinders en diere straal energie en meelewendheid uit. ‘n Oulike prenteboek met net genoeg spanning om die aandag te hou wanneer die hondjie en Piep verdwyn.

Woollard, Elli en Davies, Benji: Die Reus van der Bees( PROTEA, 2018) Rymvertaling uit Engels deur Philip de Vos.

Die nare reus kon vreeslik mor en grom as hy honger word.Veral nadat Jan hom by die boontjierank uitoorlê het soek hy Jan se bloed.
Toe hy by die kinders kom word hy net vriendelik ontvang en word gekomplimenteer. So gaan haal hy hul bal uit die fontein, red hul kat uit ‘n hoë boom, en die kleine Jan vra hom om hom te abba. Natuurlik is hy reg vir die reus se pan want sy naam is dan Jan! Maar die kinders oortuig die reus dat reuse in die land baie eerder koek eet, en die reus vergeet van mensvleis want hulle het hom nou oortuig hy is lief, vroom en ‘n “doodgoeie oom!”  
‘n Spelerige humoristiese bekendstelling aan ‘n grommerige reus wat deur kinders tot ander beter insigte gebring word.Die aanfanklike somber donker kleure om by sy gemoedstemming aan te pas nadat Jan hom gefnuik het, verander en word lig en vrolik soos hy die wêreld van die kinders betree. Die kinders is natuurlik in beheer van die verhaal, en wie kan nou die heerlike groot stuk sjokolade koek, versier met aarbeie, weerstaan ?!   ‘n Gelukkige vreedsame reus word in die finale kleur-illustrasie omring deur spelende kinders, selfs ‘n varkie, esel en hasies, en  met die drie tevrede kokke by sy voete waar ‘n hondjie ook aan die een voet hang.  Alles is goed in hierdie kinderland.

  


Spanningsverhale maar baie verskillend!


Drie uiteenlopende, maar defnitief spanningsverhale vir tieners:

De Wet Hugo, Kamp van monsters- Grilgrypers 3( H&R, 2018)
Tannie Temba, Clayton se pa se nuwe verloofde waarsku hom dat sy sy grootste nagmerrie is, hoewel hy nog altyd bang was vir bome. Dan vertel sy pa dat  hy vir die hele vakansie na ‘n reabilitasiekamp gestuur word om tot beter insigte te kom oor sy aanstaande stiefma.
Die kamp word voorgedoen as uiters luuks, maar met sy aankoms is dit duidelik dat hierdie sentrum nie naastenby luuks, maar liewer onpersoonlik, kil ,onherbergsaam en ook ongenadiglik gaan wees. Oppad hardloop daar ‘n dier voor hulle in die pad- ‘n ding wat soos ‘n kruising tussen ‘n krokodil en ‘n beer gelyk het!
Sy kampmaat is die gespierde Ferdie.  Kamp Mentors word deur Rooibaard en sy blonde vrou bestuur. Hulle maak vriende met die twee meisies Lerato en Ayesha.
Sommer gou begin snaakse dinge gebeur- ‘n seun verdwyn, dan ‘n meisie wat vlou geword het, en Clayton hoor iets kerm, en Ferdi sien ‘n vieslike ding wat soos ‘n monsteragtige visvrou gelyk het.
Hulle word ook op spesiale diëte geplaas, Ferdi verdwyn, en uit desperaatheid  besluit die jongmense om die omgewing te deursnuffel wat hulle op ‘n versteekte laboratorium in die woud laat afkom:  KAMP MONSTER LABORATORIUM!  Hier word  die kinders gekloon  met diere en in afgryslike monsters omskep. En Clayton se aanstaande stiefma is een van die personeellede….
Die Kamp van monsters is ‘n spannende toevoeging tot die Grilgryper-reeks, en soos die vorige twee titels bied dit genoeg opwinding en grusame elemente om lesers van hierdie genre genotvolle lees-oomblikke te gee. De Wet Hugo het ‘n ryp en oorspronklike verbeelding, en besit die vermoë om sy lesers saam met hom op  grillerige verbeeldingsvlugte te neem. Sê nou maar net dit kan werklik gebeur?! Hoogs aanbeveel in hierdie genre.

Walliams, David: Oupa ontsnap( PROTEA, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. Illustrasies deur Tony Ross
Hierdie gewilde skrywer het alreeds ‘n bekende naam onder Afrikaanse lesertjies geword, en dus is ‘n nuwe storie so welkom.
Jack se oupa begin almeer dinge vergeet, niemand kan dit verstaan nie, behalwe sy kleinseun Jack . Hy het gou besef hy moet net saamspeel wanneer sy oupa hom op hierdie verbeeldingsvlugte neem, :” Sy drome was propvol avonture, sy lewe vol vervelige ure.” Sondae was die hoogtepunt van sy lewe as sy oupa hom op uitstappies neem, veral na hul gunstelingplek, die Keiserlike Oorlogmuseum waar sy oupa se legendariese Spitfire gehuisves word.
Soos sy geheue versleg, en nadat hy in die Spitfire gaan wegkruip het, besluit die polisie  om Jack se oupa na ‘n ouetehuis, Twilight Towers te stuur. Hierdie is ‘n aaklige plek, en sommer gou besluit Jack en sy oupa dat hy hieruit moet ontsnap.   Maar ‘n rit in die Spitfire bly maar sy grootste droom, gaan die twee daarin slaag om die Spitfire uit die museum te steel vir die grootste avontuur van Jack se lewe?
‘n Wonderlike eerbetoning aan die liefde tussen ‘n oupa en sy kleinseun wat met humor, verbeeldingryk en met empatie hanteer word. Daar bly maar ‘n spesiale band tussen kinders en hul oupas en oumas, en dan is dit nog meer spesiaal as die kind die oupa se liefde vir vliegtuie deel. Hoogs aanbeveel.
Ahlers, Nerine en Steenkamp, Alet:  Weg( LAPA, 2018)
Weg, of ontvoering is ‘n tema wat die uitgangspunt vorm van menigte tv rillers, moordstories, spioenasie en politiese intriges.
In hierdie verhaal verdwyn die meisie Niekie uit haar woonstel. Sy is kunstig en haar gedrag dikwels ‘n bietjie onvoorspelbaar, sodat Zack haar vriend aanfanklik net hoogs geïrriteerd is met haar, totdat hy uiteindelik tot die besef kom dat sy werklik”weg” is, selfs haar vriendinne is in die duister oor haar optrede.
Wanneer die polisie se hulp ingeroep word, begin mense dinge onthou, o.a. dat sy by die woonstel weg is vergesel van ‘n man so pas nadat haar paspoort afgelewer is.
Die gebeure word verhaal vanaf die Sondagaand toe Zack vir haar pizza gebring het, tot  die volgende Saterdag. Tipies van hierdie tema is daar gedeeltes in die verhaal waar die ontvoerder se teenwooordigheid by haar uitgebeeld word- hoe hy haar sien as sy pragtige prinses wat hy teruggekry het nadat hy so lank alleen was. Want sy Niekie is weg, en nou het hy weer vir Niekie opgespoor…
‘n Bronnelys word aangeheg en duidelik het die twee skrywers die onderwerp van ontvoering en die motivering agter elke individuele geval goed nagevors.
In die geheel is die verhaal dus oortuigend geskryf, heel spanningsvol, en tieners word weer bedag daarop gemaak dat hierdie dinge gebeur en met hulle eie vriende ook kan gebeur.  Die ideale boek om in te span wanneer die tema van ontvoering bespreek word.  





   
 

Friday, July 6, 2018

Huppelkind, Raaiselklip, Harry Griesel, Lotta en 'n Superskurk


Kühne, W.O. : Huppelkind en prentjies van Dorothy Hill Kühne( Tafelberg, 2018)

Al huppelend saam met hierdie kind  is dit heerlik om hierdie prag versameling van ‘n klassieke werk in Afrikaans weer beskikbaar te sien vir ons kinders.

Ek het weer gelees, en weer geniet, want hierdie is veral ‘n voorleesboek wat kleintjies nie net sal geniet vir die avonture van die seun nie, maar ook vir die heerlike klankrykheid van die werk.

Huppel is ‘n onskuldige natuurkind; sy vriende is die voëls en diertjies van die veld in Lekkerland daar langs die “diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie”.

Maar daar is ook lummels soos Vlei-Floors wat op sy plek gesit moet word as hy Vlak-Floors bedreig, en Huppel kan mos ‘n plan maak! Huppel moet die woorde leer sodat Ou Storieman vir hom ‘n storie kan vertel en hy vra Haak om hom te help. Ander kleurvolle karaktertjies soos Fiefman en Diefman, Wolman en die Boekwurms, die Horingman wat voëls vang en hom voordoen as die Musiekman sodat Huppel en sy maats Roerdomp uit sy sak moet red, almal draai daartoe by dat kinders tog te lekker na al hul avonture sal luister! Met Huppel se verjaarsdag kry hy ‘n koek-koek horlosie as geskenk van sy maats en dit is nie sommer so ‘n horlosie nie, want ook hierby is daar ‘n storie te vertel. 

‘n Pragtige boek wat klassiek geword het en sal bly. Behoort tot alle biblioteek, skool en tuisversamelings.

Goosen, Troula: Raaiselklip( H&R, 2018)

‘n Gotiese storie wat in die Kaap van die 19de eeu afspeel was die skrywer se inspirasie om hierdie opwindende verhaal te skep.

Gabriel is ‘n seun van Amsterdam wat op sy 14de verjaarsdag wakker word in die Kaap van Storms. Hy weet nie hoe hy daar gekom het nie,en waarom hy nou hier moet wees nie. 

So begin sy avontuur in ‘n verlate teater waar hy drie akteurs ontmoet, die slawemeisie Zytia wat hom probeer help, en as hy begin teken verskyn die gesig van ‘n seun aan hom. En dan ontdek hy ‘n grafsteen met sy naam daarop, gebore in 1654 en reeds oorlede…

Wanneer hy Zytia se meesteres Regina ontmoet is hy al meer in die duister- sy beskuldig hom dat hy gekom het om die “klip” te kom haal, en sy sal dit nie toelaat nie! Waarom is die raaiselklip van soveel belang?

Troula Goosen skep hier ‘n verhaal wat tematies heel uniek is; die spanningslyn word deurgaans gehandhaaf, daar is verassings en ongewone situasies wat die leser deurgaans betrek en nuuskierig hou oor hoe die verhaal uiteindelik gaan ontplooi. “n Goeie storieverteller wat haarself reeds bewys het met die gewilde Maanlig-meermin. Die omslag van die boek verdien ook ‘n kompliment- dit is treffend en trek dadelik jou aandag. 

Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel 4- die zombie –ontvoerder( H&R, 2018). Afrikaans deur Irma Bedenhorst.

Hierdie reeks lees tog te lekker, en soos met elkeen van Otto en Harry en Vincent die troetelvlermuis se avonture,is hierdie vierde titel in die reeks weer nie ‘n teleurstelling nie.

Juffrou Singh hulle kunsonderwyseres word vervang  deur ‘n snaakse vaal klein mannetjie Melvin Malone, en Otto let op dat sy vel grys is soos die van ‘n dooie mens.  

Dan verskyn Sybrand Swaelkop, die mal stigter van die skool ook aan hulle, en nou word dit duidelik dat daar meer van die dooies uit die Oorkant met behulp van ‘n onwettige deurgang in Otto se wêreld beland het.Tannie Sharon verlang nog gedurig na haar man oom Archibald wat reeds aan die Oorkant is. Sy verdwyn om na haar man te gaan soek. Aan die Oorkant is alles kleurloos, en sy sal in lewensgevaar wees.  Otto en sy maats moet dus help om dinge weer normaal te kry…Waarom is Malone so geïnteresseerdf in oom Archibald se nuutste uitvinding, ROOM?

Uitstekende vertaling, boeiend en vermaaklik. Hoogs aanbeveel virHarry bewonderaars en almal wat hou van ‘n goeie storie, hoe “anders” nou ook al.

 

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe- die kattekonsert( H&R, 2018)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie is die agsteboek in ‘n reeks wat veral onder meisies , en veral lesers wat daarvan hou dat die teks , in dagboek- vorm,deurgaans aangevul word met sprekende sketse en byskrifte.

Lotta hou dagboek van ‘n week ,10-tot 17 Oktober waarin haar vriendin Chantelle ‘n baba boetie Rocco bygekry het, en die twee vriendinne word baba oppassers. In hierdie week is Lotta se blokfluit ook soek, en sy verdink haar raasbek tweelingboeties.Maar Rocco en hulle uitstappies saam met hom bly die hoof-fokus van die verhaal. Selfs Lotta se ma nooi die baba na hulle huis waar hy met allerhande speelgoed vermaak word. Sy en haar boeties woon ‘n reptieluitstalling op die skougronde by en Lotto kry haar blokfluit terug.

Lotta bly aan die woord met haar kommentaar op al die gebeure, en haar humorsin en kelurvolle verbeelding dra die verhaal. Nie my gunsteling tema in die Lotta boeke nie, maar tog onderhoudend geskryf.

Jacobs, Jaco; Superskurk( LAPA, 2018)  Illustrasies deur Nicolene Louw.

Met sy gebruiklike gemaklike onopgesmukte skryftrant Stel Jaco Jacobs die leser hier bekend aan Wessel wat verplig is om ‘n vakansie by sy oupa deur te bring, en hy het tenminste tienduisend redes waarom dit gladnie ‘n goeie idee is nie, veral waar hulle nie van mekaar hou nie en sy oupa se huis grillerig is met donker kamers en baie streng reëls wat nagekom moet word. Onder andere dat hy nie moet rondsnuffel nie, en Wessel is nou juis ‘n nuuskierige outjie wat mal is oor sy strokiesboekheld, Kaptein Koel, en soos Kaptein Koel ook smag na opwindende avonture.

Toe hy ‘n geboutjie met ‘n swaar ysterdeur ontdek wat in die tuin versteek is, en toegang geweier word indien hy nie die kodewoord ken nie, is dit die begin van ‘n vakansie avontuur sonder gelyke. Vera look leer hy die lewensles dat jy niemand op sy baadjie moet takseer nie,en dat helde dalk nie is wat jy dink nie!Jong lesers sal die verhaal geniet, want so ‘n avontuur is nie te versmaai nie.

Nicolene Louw maak ‘n mooi bydrae met haar aksie tekeninge wat die boek nog meer toeganklik maak. Hoogs aanbeveel.  

Tuesday, May 29, 2018

Paddington, Boelies, en Hanli die hasie


Bond,  Michael:  Paddington( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Amelia de Vaal.Illustrasies deur R.W. Alley

Drie Paddington verhaaltjies word hier in een publikasie aangebied- Paddington die kunstenaar, in die hospitaal en by die dieretuin.

Paddington word geïnspireer deur ‘n buiteluguitstalling om sy verfkwaste ook nader te pluk en sy eie uitstalling te hou. Hy raak aan die slaap , en tot sy verbasing is al sy werke verkoop toe hy wakker word. Meneer Gruber was nauurlik die weldoener, en Paddington is so gelukkig dat hy nou ‘n familieportret wil aanpak, min wetende dat hy nou nie die kunstigste beertjie ooit is nie! Maar selfs bere het mos vriende wat hul ondersteun.

 In Paddington in die hospitaal maak hy sy skouer seer, ly blykbaar aan geheueverlies sodat die familie besluit hy moet in die hospital opgeneem word vir toetse en observasie. So word ‘n beers verblyf  in die hospitaal lesers se bekendstelling aan hierdie omgewing, en ook  ‘n goeie leerskool vir die dokter.   Paddington het dit ook geniet om n proefkonyn te wees, en deur sy voorbeeld kan kinders leer om nie bang te wees vir ‘n hospitaal en dokters nie.

Paddington by die dieretuin:

 Op ‘n uitstappie na die dieretuin neem Paddington ‘n stapel marmeladetoebroodjies saam wat hy een vir een verloor by die verskillende diere wat hy besoek. Paddington besluit agterna dat dieretuin mens honger maak, want al jou toebroodjies word gegaps,  en dat net die pappegaai sy gunsteling dieretuin-bewoner is, want net hy het vir hom dankie gesè vir die toebroodjie.

Paddington is ‘n geliefde karakter wat kinders al baie jare lank vermaak met sy onskuldige manewales, en  tersefdertyd is daar ‘n lewensles ook telkens subtiel ingeweef in die gebeure.  ‘n Aantreklike boek met die oulikste beertjie illustrasies deur Alley; onskuldige pret vir kleintjies wat van bere hou, en wie dan nie?

 

De Kinder, Jan: Is jy bang in die bos, Pappa Wolf?: (PROTEA, 2018)  Vertaal uit Nederlands deur Amelia de Vaal.

Tot groot vermaak van kinders is Pappa Wolf die bang karakter in die storie wat deur sy seun die klein Wolfie teen sy sin saamgesleep word na die bos. Klein Wolfie moet sy pa deurgaans gerusstel as hy skrik vir iets.  Hy hardloop verskrik weg as die dogtertjie haar verskyning maak, en die twee kinders bespreek saam die feit dat hulle ouers so versigtig is vir mekaar!

‘n Pragtige boek met die mooiste volblad illustrasies in die bos . Subtiele kleure oorheers, die enigste helder kleur rooi is Rooikappie se rokkie, met hier en daar ook spatsels rooi in die teks en aan die wolwe se klere.

De Kinder skryf met humor en tong-in-die-kies en gee ‘n oorspronklike kinkel aan die klassieke verhaal. Die kinders is in beheer van die verhaal, wat hul selfvertroue ‘n hupstoot sal gee.

De Kinder, Jan: Rooi waarom boelies nie snaaks is nie( PROTEA, 2018). 

‘n Dogtertjie wys ewe onskuldig na die seun Tobie se rooi wange, en wanneer meer kinders bykom, verander die onskuldige oomblik in ‘n ernstige situasie waar almal hom konfronteer oor sy rooi wange, veral aangevuur deur Paul die boelie . Hy raak al meer luidrugtig en onsmaaklik soos hy Tobie spot, en die dogter vra hom om op te hou. Maar selfs sy word bang vir Paul: ”Paul se tong is so skerp soos’n mes. En sy vuis is so hard soos ‘n baksteen”. Wanneer die juffrou die klas uitvra oor die geboelie, is sy uiteindelik dapper genoeg om haar hand op te steek, gevolg deur die ander kinder swat hulle nou by haar skaar teen die boelie Paul.

De Kinder vertel die verhaal van ‘n boelie subtiel en effektief ,en die eenvoudige dog treffende  illustrasies maak ook ‘n sterk bydrae tot die impak van die verhaal. Onskuldige kindergesigte word geplaas teen ‘n rooi agtergrond en ‘n aaklige wolf figuur,  om hul vrees vir die paaiboelie en sy venyn uit te beeld. Teen hierdie rooi agtergrond vertel die dogter dat sy nie wil doodgaan nie, maar ewe dapper steek sy tog haar hand op sodat die boelie uitgewys kan word, gevolg deur die ander kinders.  Nou is Paul se lag hol, en vir die meisie lyk hy nou behoorlik groen.

Die illustrasies is so effektief gedoen- - die kindergesiggies is byvoorbeeld  in rooi, met net die wit van hulle oë en haar streeptrui en wit gesiggie om die donker emosies van die boelie te kontrasteer.‘n Oorspronklike boek wat nuttig gebruik kan word om  kinders te leer dat standpunt ingeneem moet word,verkieslik as ‘n groep, teen paaiboelies.

Stanley, Mandy: Hanli(PROTEA, 2018). In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal.

Drie Hanli-stories is saamgevat in een boek- Die vlieënde hasie, die Ysprinses en die Kersfeeswens.

Ek onthou nog hoe ek die Engelse titels in Afrikaans vertaal het om vir kinders te vertel aangesien Hanli net eenvoudig die oulikste hasie ooit kan wees en hulle moes haar stories hoor! Nou is die Afrikaanse weergawes gelukkig beskikbaar.

Hanli wil tog te graag leer om te vlieg, maar al haar pogings misluk. Sy sien ‘n klein pienk vliegtuigie en besluit om in te klim.  Die vliegtuigie word deur ‘n dogtertjie op afstand beheer, en toe Hanli weer grondvat,beheer die dogter haar vlug terug huistoe, tot die bewondering van die heleHasie-familie.

Eeen wintersmiddag sluit Hanli aan by kinders wat ‘n fees op die ys hou waar die ysprinses gekroon gaan word.   Hulle maak vir haar ‘n rokkie en sy kry klein ysskaatse Die prinses se tiara val a fen Hanli red dit uit die struike. Haar belonging is ‘n sterretjiesarmband en as sy tuiskom, dans sy die dans van die ysprinses vir haar familie.

Hanli in die Kersfeeswens val op die ys en volg kinder swat oppad is om Kersfees te gaan vier by hul huis.  Sy wou nog altyd wee twat Kersfees beteken.  By die huis sien sy koekies, en toe ‘n glinsterende boom met onder die boom ‘n  feetjiepop!  Sy vertel aan die kinders dat sy graag ‘n kersfeetjiewil wees, en hulle trek haar aan. Toe sy huistoegaan, versier hulle die boom buite hul gat. Soword die hasies se Kersfees ook betowerend mooi en gelukkig.

‘n Pragtige  boek wat baie dogtertjies met vreugde sal wil lees en besit. Hoogs aanbeveel vir jong lesertjies.

 

Wednesday, May 23, 2018

Van perde, mummies, drakies ,kewers en Max die masjien


Resensies van Afrikaanse kinder/jeugboeke nr 6/2018

Van Balen, Theresa: ‘n Piekniek op die strand( LAPA, 2018) Illustrasies Zinelda McDonald.

Beginner lesers het hier die geleentheid om saam met die twee vriendinne Jana en Alisha te deel in hul vakansiepret by die see. Wat is nou lekkerder as om piekniek te hou op die strand? Maar die seuns wil hulle pret bederf, en die meisies klim toe maar op ‘n hoë duin waar hulle nie lastig geval word nie. Hul hondjie Ben let op dat ‘n wit wollerige hondjie op die strand sy poot seergemaak het, en hulle help om hom weer by sy eienaar te besorg. Hulle word beloon met heerlike roomys, en dit word die beste dag ooit!

Van Balen, Theresa: Vlieërs en filmsterre( LAPA, 2018)

Die tweede titel in die Vakansiepret-reeks hou ook heerlike vakansie pwinding vir die twee in as hulle op soek na ‘n vlieër deel word van ‘n film wat geskiet word waar twee blommemeisies dringend benodig word. End it nogal saam met Clint du Bell, hulle filmheld.

Ideale leesstof vir 7+jariges. Oulike illustrasies toepaslik vir die ouderdomsgroep.

Maartens, Wendy: Max die dapper gorilla en ander ware dierestories(LAPA, 2018) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

 

   6 Ware dierestories met Max die dapper gorilla, Huberta die seekoei, ‘n vlermuis, ‘n bobbejaan wat lus is vir koek, Zhu die sterk Chinese vark en ‘n beer wat soldaat word. 

Ware diereverhale was nog altyd gewild in biblioteke, en hier is ‘n goeie balans getref tussen net genoeg teks en lewendige kleurvolle illustrasies sodat beginner lesers se aandag gehou kan word.  Die gesegde aan die einde van elke storie dra by tot die leersaamheid van die teks.

Jacobs, Jaco: 101 Dieregrappe, 101 Klop-klop-grappe, 101 lawwe grappe, en grappe vir pousetyd ( LAPA, 2018)

Elkeen van die 4 boekies bevat 101 grappe vir 7+jariges, met Jaco Jacobs se gebruiklike fyn humorsin weerspieël in elke grappie!  Daar kan nooit genoeg boeke met grappe in sirkulasie wees nie.  Ek kan net sien hoe kinders dit vir mekaar gaan voorlees en vra.

Siegner, Ingo: Klapper die drakie en die swart ridder( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhhuys.

Klapper en die ystervarkie Matilda vergesel sy oom Hardus na die ridderryk om te gaan waakby die appelboom wat die ridders wil afkap. Maar Hardus beland in die Swart ridder se kloue wat hom wil gebruik om die koning te oortuig da thy met sy dogter kan trou. Gelukkig is Klapper en Matilda byderhand om die minnesanger te help wat werklik lief is vir die prinses, en met Hardus se hulp word die swart ridder verslaan, en het die verhaal ‘n gelukkige einde vir die jongmense.

Herdie is ‘n baie aantreklike volkleur reeks met genoeg aksie en verassings om jong lesers te boei. 

Siegner, Ingo: Klapper die drakie en die groot towenaar( H&R, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Klapper enMatilda loop ‘n bol in die veld raak wat aan hulle vertel dathy eintlik die groot towenaar Rikus Ringkop is, die heerser van Bottelland, maar dat die slegte Bokbaard sy towerstaffie gesteel het. Hulle besluit om hom te help om terug te keer na Bottelland, en die nare Bokbaard ‘n streep te trek.

‘n Heerlike aksiebelaaide avontuur wat jong lesertjies baie gaan geniet.

Bloemhof, François en Ackermann, Alistair: Agent Snoet 5 in 1( LAPA, 2018)

Hierdie uiters gewilde strokiesprente-reeks verskyn nou in een bundel Keurig versorg met ‘n omslag wat dadelik die aandag trek. Agent Snoet en die Botterdiamant. Kattekwaad, en die Hondelewe, en die Groen Genugtig,en die Windlawaai  is ‘n reeks wat uniek is in Afrikaans en baanbrekerswerk is gedoen met boeke wat strokiesprente bevat. Kinders is gaande oor hierdie tipe aanbieding, end it was ‘n briljante idee om dit in een publikasie saam te vat. Hoogs aanbeveel.

 

Jacobs, Jaco: Max die masjien( LAPA. 2018) Illustrasies deur Stephen Wallace.

Zander word op ‘nSondagoggend verras deur ‘n vrou in ‘n goue sweetpak wat hom meedeel dat hy die  groot prys in ‘n kompetisie waaraan hy deelgeneem het, gewen het. Hy verwag ‘n nuwe Playstation , maar wen ‘n week met Max die Masjien as sy persoonlike lyfwag!  Hy is ‘n rofstoeier, en Zander het nie ‘n idee wat hy met hom gaan doen nie. By die skool moet hy baie spot verduur, veral van sy grootste vyand, die boelie  Wynand.  Miskien gaan dit sy geleentheid word om Wynand ‘n les te leer?  En Max verbaas die gesin verder as hy Zander se pa leer om meer oortuigend vir werk aansoek te doen, en dan is hy nog goed met wiskunde ook… 

Jaco Jacobs stel weereens nie teleur met sy ongelooflike insig in die wêreld van jongmense nie- hulle drome en behoeftes ook in gesinsverband. Snaaks, onderhoudend en ‘n wenner. Hoogs aanbeveel.

Wallace se illustrasies is in die kol- Max die masjien lyk absoluut skrikwekkend!

Taute, Dihanna: Die legendariese Lua Verwey( H&R, 2018)  Illustrasies deur Theodore Key.

Lua en haar gesin se manewales herinner my sterk aan die gewilde Lotta- reeks. Sy is ‘n dogtertjie wat haarself as super slim beskou, seuns haat, uitgesproke en parmantig is, en dolgraag krieket wil speel- nogal nie iets wat die ander meisies gaan beïndruk nie! 

Sy is deurgaans aan die woord, en neem die leser saam na haar huis en skool.  Die teks is eenvoudig, direk, en weerspieël die dogtertjie se sterk karakter. Sy sal sommer gou ‘n klomp lesers aantrek wat met so ‘n karakter kan identifiseer. Veral verassend is die ouers se groot nuus aan die einde van die verhaal,en soos Lua tereg opmerk: “Ons is nogal ‘n unieke klomp bymekaar…”

De Wet Hugo: Web van die mummie- Grilgrypers 2( H&R, 2018) illustrasies deur Shân Fischer.

Stel jou voor dat jy spinnekoppe uit jou neusgate sien kriewel as jy in die spieël kyk, jouself troos dat dit net ‘n aaklige nagmerrie is en dan nog verder ontstel word met die nuus dat daar ‘n kaal mummie op die plaas ontdek word, opgehang, en dat dit dalk haar pa se vermiste suster Annette kan wees!

Dit is maar die begin van ‘n uiters spannende en grillerige verhaal wat my enduit geboei het!

In die nuwe skool is sy in ‘n kamer saam met 3 ander meisies. Haar Dame is die gawe Melinda wat haar vertel dat haar boetie Adriaan in die Paarl Hoërskool vir seuns is.  Haar koshuismoeder is ‘n reusagtige vrou wat die meisies Weerbeer noem. Sy sien weer die mummie wat die massiewe spinnekop se kop afbyt as sy gaan stort…dinge is regtig nie pluis in die skool nie. En dan sterf Melinda as sy by die trappe afval, en nog erger, toe sy ontdek is, was haar liggaam oortrek van spinnekoppe!  Die een grillerige gebeurtenis volg op die ander; wat is werklik aan die gang?

Die spanningslyn word deurgaans baie effektief gehandhaaf;  ek is oortuig die reeks gaan sommer baie aanhangers kry!  Hoogs aanbeveel. Ek het die boek selfs meer geniet as Grilgrypers 1.

Leonard, M.G. : Kewerwraak( PROTEA, 2018) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Hierdie is die finale boek in die kewertrilogie en volg op Kewerknaap en Kewerkoningin.

Soos die vorige twee titels is die boek deurspek met inligting oor kewers, bevat ‘n entomoloog se woordeboek , bronne en webwerwe waar lesers meer kan leer oor hierdie interessante ongewerweldes.

Maar terselfdertyd is dit goed geskryf, is daar interessante avonture waarop die karakters gaan, en die finale reeks gebeurtenisse waar Darkus en sy vriende Lucretia Cutter se geheime vesting- die bioom in die Amasone-reënwoud probeer opspoor, is opwindend en vol verassings.

Die verhaal bereik ‘n klimaks met die deurslaggewende geveg in die bioom- gaan Darkus en sy oom Lucretia kan verslaan?

Die reeks word hoogs aanbeveel vir lesers wat ‘n verhaal soek met baie lyf en detail en defnitief met  literère meriete.

Van den Berg, Jacolet: Kate in Harmonie( LAPA, 2018)

Kate en haar ouers en broer Dieter moet hul geliefde Johannesburg groet om op ‘n plaas naby die Paarl te gaan woon sodat haar pa weer kan werk.

Sommer dadelik word sy aangetrek tot die perd Harmonie wat duidelik ‘n probleemperd is , en niemand waag dit om ‘n saal op sy rug te sit nie. Will is die plaasseun wat haar tuis laat voel, asook Els wie se pa Vrydagaande te veel drink.  Kate besluit sy moet Harmonie se vertroue wen,en sy spandeer baie tyd langs sy kamp sodat hy aan haar gewoond moet raak. Maar nou is daar die moontlikheid dat hy verkoop gaan word, en dit mag netnie. Aanfanklik is sy ook bekommerd oor haar broer wat hom onttrek en met verkeerde seuns deurmekaar raak.

Hierdie was nie vir my sommer net ‘n gewone voorspelbare perdestorie nie. Dit is goed geskryf, die karakters is oortuigend, en die boek raak spesiaal met die uitbeelding van Kate en Harmonie se verhouding. Karakter ontwikkeling vind plaas, elkeen groei op ‘n eie spesiale manier, en as leser gee dit jou ‘n warm gevoel. ‘n Potensiële goeie skrywer wat hopenlik nog gaan skryf.      

 

  

 

 

 

Tuesday, May 8, 2018

Nina en die crazy klere


Van der Colff, Elizbè : Nina en die crazy klere( Tafelberg, 2018) Illustrasies deur Chris Venter.

Hierdie is die derde boek in die gewilde Nina-reeks en volg op Nina en die wacky hare , en Nina en die funky eksperiment.

Nina en haar vriendin Jessie het kaartjies gewen om die Eksotiese Eksperimente Ekspo in die stad by te woon waar ook nuwe uitvindings uitgestal gaan word.  Hulle besluit dit sal dalk die ideale geleentheid wees om ‘n kenner te nader wat dalk sal help om  of hulle towerpet se kragte wetenskaplik te verklaar. Die pet wys hulle vooraf twee jingmense wat werk aan ‘n masjien, die rommeloplosser. Hulle verneem ook dat Dr. Crower, ‘n wetenskaplike uitvinder, sy nuwe gedagteleser, die Animus Recitator vir die eerste keer gaan ten toon stel. Dalk is hy die regte persoon om hulle met die pet te help.

Min het hulle geweet hoe interessant en gevaarlik hul besoek aan die Ekspo gaan wees! 

Die skrywer slaag daarin om die leser saam met die twee vriendinne op ‘n opwindende avontuur te neem waar hulle inisiatief en dapperheid getoets word.  Haar karakters is oortuigend en geloofbaar, veral aantreklik is die natuurlikheid van die meisies en die verligting dat hier net skoon plesier te vind is sonder die drama van ‘n gesin wat nie funksioneer of afwykend is nie! Lekker leesstof.  Die skrywer en illustreerder Chris Venter is ‘n wen-kombinasie.