Tuesday, July 5, 2016

Hartbreker na blokkiesraai!


Steyn, Cecilia: Hartbreker( H&R, 2016)  Tienerharte 2

Die eerste boek in die Tienerharte reeks was Hartklop. In Hartbreker is Dewald en Megan ‘n paartjie, en Stefan haar aantreklike broer word deur die welgestelde meisie Surette se pa Professor Delport gevra om die Paasvakansie te kom huis oppas omdat die gesin Milaan toe gaan. Die pragtige huis is in Kampsbaai, en hy nooi sy suster en Dewald saam, asook Ciska Megan se vriendin .  Surette besluit om liewers tuis te bly, want sy is verlief op Stefan. Die Professor dreig om die lewe vir hom moeilik te maak op Universiteit as hy nie naSurette omsien nie. Vir hom is Surette een van daardie meisies” vir wie ‘n mens ‘n prentjie moet teken as jy wil hê sy moet iets verstaan.” Ciska egter, is “nie soos enige meisie wat hy ken nie”.

Hy ontdek gou dat hy eintlik in Ciska belangstel, maar Surette aak die situasie baie gekompliseerd. En dan is daar nog Rowan wat Ciska prober annekseer.

Hier gebruik die skrywer die bekende resep wat ‘n Tienerharte reeks laat werk: Mooi jongmense saamgegooi in ‘n situasie waar daar gedurigdeur onsekerheid is oor wie nou eintlik in wie belangstel; maar uiteindelik word die twee verliefdes tog bymekaar gebring met ‘n gelukkige einde.

Populêre fiksie wat jong tienerharte vinniger sal laat klop; en hul kry ook’n voorsmakie van die volgende boek in die reeks, Hartedief.

Baie mooi omslag wat dadelik die aandag trek.

‘n Heruitgawe van 8 Roald Dahl boeke in Afrikaans!( H&R, 2016:

Die GSR; Marius se merkwaardige medisyne; Fantastiese Mnr. Vos; Matilda;Charlie en die groot glashyser; James en die reuseperske , Charlie en die sjokoladefabriek en Die Twakke. Die GSR is deur Mavis de Villiers vertaal;Marius se merkwaardige medisyne deur Leon Rousseau; en Kobus Geldenhuys is die vertaler van die ander 6 boeke.

Hierdie geliefde skrywer bly een van die grootste kinderboekskrywers van alle tye.  Sy humor, aweregse styl en fyn aanvoeling vir die geesteswêreld van die kind maak hom ‘n welkome gas in elke huis.

In vrolike kleurvolle omslae met interessante illustrasies is hierdie reeks in hierdie heruitgawe keurig versorg,  en as gewese bibliotekaris  weet mens ook hoe nuttig die reeks in biblioteke en vir tuisversamelings gaan wees.

Dinneen, Susie: Nombulelo en die mot(Penguin Random House, 2016)Illustrasies deur Maja Sereda. In Afrikaans vertaal deur Sandra du Toit.

Nombulelo het daarvan gehou om op haar Gogo se skoot te sit en na stories van die bos te luister: dat ‘n luiperd haar Gogo gevolg het in diebos, en van die slang wat Gogo melk gegee het met diebelofte dat sy nie gepik gaan word nie, ook nie haar kinders nie.

Maar vir Nombulelo was Gogo se kosbaarste besitting die pragtige houtdosie waarin ‘n “ droë mot met die kleur van sagte bruinsuiker “ op ‘n geel kaartjie vasgesteek was. Met Gogo se dood het ‘n stem uit die dosie haar gevra om haar vry te laat. Die mot se huis was by die bopunt van die waterval aan die anderkant van die bos. Nombulelo het dapper die bos binne gegaan “ die diep donkergroen wildernis” langs hul huis om die mot tuis te laat kom.  Toe hy wegvlieg het “’n sagte goue stofwolk vansy vlerke afgegly en Nombulelo in ‘n blink mis toegevou”…

Hierdie verhaal kruip diep in jou hart ; dit is die kwaliteit storie waarna ‘n verteller soek om met kinders te deel. Die liefdevolle verhouding tussen ‘n dogtertjie en haar Gogo en Gogo se dood word simbolies in die mot se soeke na bevryding en koestering uitgebeeld.

‘n Oorspronklike roerende verhaal word gekomplimenteer met Maja Sereda se ongelooflik mooi illustrasies. Sy openbaar die fynste aanvoeling vir die verhaal in haar weergawe van die teks – gevoelvol en uiters verbeeldingryk. Hierdie is ‘n spesiale prenteboek wat gekoester moet word. 

Kinney, Jeff: Dagboek van ‘n Wimp( Puffin, 2012) Heruitgawe 2016. Afrikaans deur Carina Diedericks-Hugo- ‘n Tekenprent roman.

Greg Heffley stel dit onomwonde dat hierdie sy joernaal is, en as sy ma sou dink dat hy sy “gevoelens” hierin gaan skryf, is sy “lekker koekoes”!

Greg betrek die leser by sy interpretasie van skool en grade en kinders en die manewales wat hy en sy klasmaats deel. Die stem van die verteller is droog, vol humor en uiters vermaaklik. Daarby sal elke kind kan identifiseer met Greg se waarnemings en opinies:

“ Virdie rekord: Ek dink die hoërskool is die domste ding wat nog ooit uitgedink is. Dis ‘n plek waar outjies soos ek, wat nog nie begin uitskiet nie, tussen gorillas moet oorleef wat twee keer per dag skeer”.

Hierdie boek en die reeks “dagboeke” wat hierop volg bly van die gewildste boeke in ‘n biblioteek en defnitief word dit hartlik ontvang in elke huis en skool. Kinney verstaan die emosies en gedagtewêreld van ‘n kind.

Die verlater het terselfdertyd briljant vertaal.

Beskikbaar deur Puffin is ook die titels Rodrick regeer, In die hondehok; Die laaste strooi; en Die nare waarheid(2016). Die vertaler van laasgenoemde is Tinus Horn.

In die New York Times”’n Pittigheid wat die spyker op die kop slaan, en ‘n oortuigende selfgesentreerde held”. Volgens ‘n ander resensent is dit die reeks vir kinders wat hou van lees en die wat nie daarvan hou nie.  Ek stem volmondig saam!

RAPPORT Junior blokraaiboek(Tafelberg, 2016) Saamgestel deur G. Olwagen.

Hierdie kleurvolle versameling van blokraaie verskyn weekliks in RAPPORT. Ek was beïndruk met die kwaliteit , noukeurige keuses van inligting wat selfs ‘n volwassene se algemene kennis verskerp. Die uitgewer het die noodsaaklikheid gesien om so ‘n blokraai-skat in een bundel aan ‘n wyer leserspubliek beskikbaar te stel. Die blokraaisels handel oor ‘n groot uitgebreide verskeidenheid van onderwerpe om kinders se kennis te toets en te verbeter: o.a. die ruimte, plante en diere; die mens; selfs spreekwoorde; ‘n blokraai opgedra aan die renosterhoring, piramides, en Suid Afrikaanse geskiedenis.

Die oplossings word aan die einde vir elke bladsy gegee. Werklikwaar ‘n pragtige nuttige publikasie wat kinders gaan vermaak terwyl hulle kennis opdoen. Hoogs aanbeveel.  

 

 

 

 

    

Monday, June 13, 2016

Afkop groot Kaptein en Zackie...


Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie: die padda-poets( LAPA, 2016)

Die geliefde karakters Zackie en sy vriend Vincent gee hier die geleentheid vir beginner lesers om self ook van hul manewales te lees. Min teks in groot druk maak die leeservaring maklik; en Alex van Houwelingen se illustrasies is in  die kol met dierbare kindergesiggies wat spreek van ondeundheid en pret.

Toe Zackie en Vincent besluit om die padda Meneer Slym skool toe te neem om die tweeling ‘n poets te bak – twee meisies wat van pienk en ponies en prinsesse hou, word selfs die boelie Anton verras met die meisies se reaksie!

Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie- Die rowwe resies( LAPA, 2016)

Zackie en incent verf hul kaskar om aan die resies deel te neem. Anton die boelie het natuurlik ‘n duur, vinnige kar en is reg om die twee te wen. Maar hul kaskar se wiel val af, en Anton is die wenner. Maar Jolanda het ‘n foto van die resies geneem, en wie verdien nou om te wen?...

Jaco Jacobs skryf weereens in die kol met sy aanvoeling vir die gedagte-en ervaringswêreld van die kind. Twee boekies wat Zackie nog meer aanhangers gaan besorg!

Biegel, Paul: Die groot klein Kaptein( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Daniel Hugo

In die sewentiger jare verskyn hierdie klassieke werk as drie individuele publikasies, hier in een pragtige boek saamgevoeg.

Die klein Kaptein woon in ‘n boot. Hy moet sy boot , die Nooitlek, weer vaarbaar maak om die reis na die Eiland van Groot en Groei te begin. Die kinders in die hawedorpie help hiermee, en Dimi, Dik Druif en Marinka en Bang Tonie word sy metgeselle op die vele avonture wat gaan kom. Hulle vaar deur ‘n draakpoort van klip, vind ‘n geheimsinnige eiland waar mak sirkusdiere hulle inwag; ‘n spookstad waar alles grys is behalwe die plakkate van ‘n kleurvolle vrou; die land van Waan en Wys; en later die land van Skrik en Vrees.Seerower Skobbedonk op sy spookskip sal eers losgetoor word van die stuur van die boot wanneer die skate wat hy gesteel het by al die regmatige eienaars afgelewer word. En die klein Kaptein is gedetermineerd om dit reg te kry…

‘n Fees van fantasie met kleurvolle karakters en verbeeldingryke situasies wat aan jong lesers ure van vermaak gaan verskaf. Marinka wat elke probleemsituasie prober oplos met pannekoek bak; en Bang Tonie wat gedurigdeur te bang is om homself te laat geld.

Die teks word aangevul met ongelooflike illustrasies deur Carl Hollander. Kleurvolle volblad illustrasies van ‘n reus teenoor die klein bootjie; kleurvolle blomme met die kinders wat die groot sakhorlosie prober dra; skrikwekkende drake; seetonele met vlieende visse; sirkusdiere; ‘n grys stad; Vader Bloukrap se seetuin; ‘n vuurtoring wat hoër gebou moet word; selfs ‘n kameelperd in die woestyn; ‘n drywende stad; en ‘n wit yskasteel waarin die hartseer edeldame woon- hierdie is ‘n fantasie wêreld waarin elke kind wat lief is vir lees weer en weer ‘n nuwe avontuur kan beleef. En die boek is ook ideal vir voorlees . Hoogs aanbeveel as ‘n baie spesiale boek, knap vertaal deur Daniel Hugo.

Tiener boek:

Viljoen, Fanie: Afkop( LAPA, 2016)

Doller as afkop kan dit mos nie gaan nie! Of hoe?

Fanie Viljoen neem die leser hier op ‘n wilde spannende opwindende rit wat net groei en aanhou sodat jy amper nie asemhaal voor dit by die laaste bladsy kom nie!

Trent wil so graag inpas by ‘n groep jongmense dat hy enige iets sal doen; selfs saamgaan op ‘n motorrit in ‘n gesteelde motor wat eindig in ‘n ongeluk met net hy wat agterbly en toe die sak ontdek met die half miljoen Rand daarin. Decker vertel  hom later:

“ Omdat jy so needy is . Jy wil saam met die groot ouens speel, maar hulle wil nie saam met jou speel nie”.

Eers is daar die genot van soveel geld net vir himself te hê. :

“ Dis tweehonderdrandnote. Daardie oranje luiperds wat nog nooit ‘n draai in hierdie kamer of my beursie gemaak het nie.”

Maar gou verskyn sy sogenaamde vriende ook op die toneel en dit verander in ‘n toutrekkery- wie gaan nou wegkom met die geld? Ongelukkig is die regte eienaars gou  op hul spoor, en die hele riller word groter en gevaarliker vir hulle almal. Wat gaan uiteindelik gebeur? Sal die jongmense ontsnap uit die hande van die dwelmsmokkelaars?

Viljoen skryf hier op sy beste met ‘n sekere hand en tegniek wat getuig van ervaring. Die taalgebruik is eenvoudig; die spanningselement word gehandhaaf, en dan is dit ook ‘n toets vir Trent om te besluit wat vir hom die belangrikste is- die geld of ‘n terugkeer na sy normale bestaan .

Op ‘n stadium sê hy:” skietgebedjies met beloftes om vir altyd en ewig ‘n model tiener te wees as hy net lewendig kan uitkom”.

Spanning en intrige op ‘n gevaarlike drafstappie, soos ‘n weghol trein wat nie tot stilstand wil kom nie! Hoogs aanbeveel; Viljoen se lesers sal weer kennis maak met sy besondere talent.   


 

 

 

.

Thursday, June 2, 2016

Snitch is a youth novel of note


Bulbring, Edyth:  Snitch( Tafelberg, 2016)

Ben and his two friends Tsietsi and William are just regular kids at school; Ben plays rugby and does well at school. He has a sister and mother, his father died, and his mother  is the person he can confide in; she never blabs.  But when he tells her that Adrian’s unexpected heart attack might be caused by steroids, she breaks their code of not telling by talking to a nurse and the story gets back to the school. This makes Ben an outcast; the boy everybody loves to hate. Ben is now the rat, the weasel, the sneak. “No longer Ben-OK. I was Snitch”.

This is the beginning of a very rough period at school. He is treated with disrespect, abused, and eventually his two friends are also targeted and this results in him losing his two best friends.

Will Ben survive this ordeal; is this the test of his personal strength? His dad left a letter for him with the following comment: “My hope for you is that you will have decided to stand outside the boxes that trap the ones who race with the pack”.

A brilliantly written utterly believable story of a boy and his experiences as a teenager in a school environment, but also with his family, Uncle Charlie , the dog Terror, the girl Elizabeth who he worships mostly from afar.

The writing is exceptionally good; written in the first person, Ben is the narrator, and the author does not waste a single word in telling a story which moves at a fast pace and keeps you involved. Bulbring is a writer of substance and noteworthy. I am sure the book will be well received and well read.    

Wednesday, June 1, 2016

Drie prenteboeke uit Afrika en nog boeke vir peuters en kleuters!


Drie prenteboeke deur Jacana uitgewers beïndruk met hul Afrika aanslag:

Hartman, Wendy: Die musiek van Afrika( JACANA, 2016) met illlustrasies deur Joan Rankin. The African orchestra is ook beskikbaar in Afrikaans, isiXhosa en isiZulu.

“Uit ‘n rietfluit se pypie sypel ons liriek op die maat van die Afrika –luit se musiek”

Hierdie pragtige prenteboek is die resultaat van die samewerking deur twee ervare kinderboek skeppers.Die skrywer gee gestalte aan die musiek van Afrika, die geluid van krieke, torre, paddas; knetterende vure, donderende hoewe; die voëls in die lug die ritselende wind; die warmte in knetter en knal; sprinkane wat die klik op vingerpunte is, ‘n padda wat sing vir die maan …

Joan Rankin se fyn waterverf illustrasies vul die lieflike poëtiese teks volkome kleurvol en baie oorspronklik aan. ‘n Boom in die nag is silwer gekleur en drie uile is mooi versteek tussen die takke; haar kleurskakerings werk saam om sagte strelende prente te skilder.Waarlik ‘n baie spesiale boek ; die musicale teks sal tog te lekker voorlees! Hoogs aanbeveel.

Stewart, Dianne : Dudu se mandjie ( JACANA, 2016) Illustrasies deur Elizabeth Pulles. Ook in Engels, isiXhosa en isiZulu.

Dudu maak haar eerste geweefde mandjie klaar. Haar oom vertel haar dat haar eerste mandjie verkoop of weggegee moet word. So koop ‘n handelaar die mandjie by ‘n padstalletjie; dit word eers gebruik vir vars gemmer; toe die meneer se mandjie vir sy kos om werktoe te gaan. Later weer is groente en vrugte na kopers se huise daarin gedra. ‘n Dogtertjie kkry die mandjie om haar hamster in te sit; maar gooi dit gou op ‘n ashoop as die hamster weghardloop. ‘n Kleinseuntjie kry die mandjie en sleep dit strand toe waar ‘n brander dit gryp en intrek in die see.

Maar dit is nognie die einde van die storie nie!

Die waterverf illustrasies het ‘n amper kinderlike bekoring en Pulles teken prentjies wat aanpas by ‘n landelike mileu en die see. Dit is ook lekker om te lees van gemmer en hoenderkerrie, warm rissiehappies en bros samosas. Die smous wat deur die voorstede ry en sy ware verkoop is so bekend aan ons kinders. Die storie  kan ook in klaskamers gebruik word waar kinders die waarde van om self ‘n eie mandjie te maak kan leer; die lewensverhaal van Dudu se mandjie is ‘n geloofbare storie en eg uit Afrika.

 

Browne, Eileen: Handa se verrassing( JACANA, 2016) In Afrikaans vertaal deur Marlise Joubert.

Goed onthou ek nog hoe die boek my beïndruk het toe ek dit destyds in Engels in die biblioteek ontvang het. Dit is die lekkerste verhaal om te vertek- Handa wat sewe vrugte in ‘n mandjie pak vir haar maatjie, Akeyo. Systap na haar dorpie, enoppad wonder sy watter vrug haar maat nou die meeste gaan hou. Soos sy ‘n spesifieke vrug opnoem, is daar ‘n dier wat skelmpies die vrug uit haar mandjie op haar kop steel! ‘n Volstruis steel die koejawel, ‘n Sebra die lemoen;’n olifant die rooi mango; ‘n kameelperd die pynappel’n bok gaps die avokadopeer… en toe haar mandjie dolleeg is bestorm ‘n bok gelukkig ‘n boom gevul met nartjieswat weer die mandjie vul- en gelukkig ook haar maat se gunsteling vrug!

Die verhaal werk op verskeie vlakke- die illustrasies van die diere en vrugte is kleurvol en realisties gedoen; daar is die oulike spannings element van ‘n dogtertjie wat onbewus is dat die vrugte een vir een uit die mandjie verdwyn- hier is die leser of luisteraar dadelik betrokke want ons ervaar aksies waarvan die meisie onbewus is!   Die tweedogtertjies is pragtig en so mooi geteken- ‘n boek met die mooiste ryk kleure wat Afrika in sy verskeidenheid van diere en vrugte gestalte gee. Hoogs aanbeveel.

Handa’s surprise is ook beskikbaar in Xhosa, Zulu, Lesotho Sesotho, South African Sesotho, Sepedi, Setswana en Xitsonga. 

‘n Kleurvolle fees van boeke vir kleuters en peuters!

Supersagte sponsboekies ( H&R, 2016 ) In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

‘n Reeks van 4 boeke- Ek kan sê!; Ek kan ry!; Ek kan speel! en Ek kan sien!

Die materiaal waarvan die boeke gemaak is maak hulle lig om te hanteer en ook baie stewig. Uiters keurvol met eenvoudige illustrasies sodat objekte maklik ge-identifiseer kan word. In die eerste boekie is daar ‘n blink sappige rooi appel; blomme; ln huis , bome ‘n blou skoenlapper , vrugte ‘n sambreel en roomys en ‘n horlosie. Identifikasie van die spesifieke item word aangevul met teks ,bv. Dat die blomme lekker ruik en mooi is.

Ek kan ry gee voorbeelde van al die bekende vervoer-middele soos ‘n brandweerwa, ‘n trein, polisiekar en fiets.

Ek kan speel stel die kind bekend aan speelgoed soos ‘n xilofoon, lappop, ‘n robot en ‘n drom.

Ek kan sien bevat diere soos ‘n leeu en troeteldiere, ‘n papegaai en pikkewyn.

Die aanvullende teks rym ook met die item op die volgende bladsy se teks, wat die hele leeservaring speels en vrolik maak.

 Lekker boekies om babas en kleuters aan boeke bekend te stel.

Blokkieskuns( H&R, 2016)Seerowers, Prinsesse, Diere en Voertuie

‘n Reeks van 4 titels met blokkieskuns wat elk meer as 1500 pikselplakkers insluit sodat kinders met die nodige handvaardigheid besig kan bly met die plad van ‘n afdruk van die objek op die teenoorgestelde baldsy . Voertuie, diere, prinsesse en  seerowers kan geplak word . Elke opdrag gee die kleure wat gebruik moet word, en ook hoeveel plakkers van elke kleur.

Skeppende kinders kan lank besig bly met hierdie boeke!

Vingerverf 1 en 2 (H&R, 2016)

Watter kind sal dit nie geniet om vingerverf te doen nie!  Hier is die geleentheid oom diere, indiane, marsmannetjies, op die plaas, krokodille en nog baie meer situasies in te kleur met die vingerverf wat by die boeke ingesluit word.  Vir tuisversamelings; en sommer ‘n lekker geskenk vir vriende.

Liewe Heksie en die Silwer Roos( H&R,2016) Gebaseer op die oorspronklike verhale deur Verna Vels met illustrasies deur Vian Oelofsen.

Wat ‘n pragtige huldeblyk aan Verna Vels is hierdie groot formaat goudkleurige boek nie! Liewe Heksie staan lekker groot met die Silwer Roos in ‘n pot teen die goue agtergrond, terwyl ‘n gifappeltjie hande uitsteek na die begeerlike roos.

Die Silwer Roos is Blommeland se kosbaarste blom en moet soos goud bewaar word, want as dit moet wegraak sal al die blomme doodgaan en koning Rosekrans en sy kabouters en Heksie sonder ‘n blyplek wees.

Daarom kry  Heksie die opdrag om die blom op te pas want die gifappeltjies wil die Roos steel.

Sal Heksie daarin slaag, of moet Griet die getoorde perd tot haar hulp kom? Liewe Heksie vertel mos ander hekse toor paddas en muisvlerre- vlermuise- maar sy toor vir Griet!

Liewe Heksie is mos maar geneig om te vergeet en goedertrou op te tree!

Die mooiste mooiste boek! Vian Oelofsen laat die verhaaltjie blom en skyn en die leser betower met vrolike geel blomme, ‘n reuse perd, en hier die mooiste Silwer Roos ooit.  Die kleure van die agtergrond op elke bladsy is slim gekies sodat die illustrasies mooi vertoon en nog treffender is. Hoogs aanbeveel as ‘n ware kunswerk en defnitief vir elke skool, huis en biblioteek versameling.

Tuesday, May 17, 2016

Prins donkerkuif en Monster rugby...


Koch, Miriam: Andries Anders ‘n reis met die wind( PROTEA, 2016)In Afrikaans vertaal deur Nicol Stassen

Andries Anders woon naby ‘n vuurtoring op ‘n dyk met sagte gras.  Hier vertel die winde en die see stories , en Andries  luister en droom van hierdie interessante vreemde plekke, en reuke – ‘n wit land, groen tropiese gebiede, ‘n woestyn.

Maar Andries keer graag terug na sy tuiste waar hy verder drome kan droom.

Hierdie verhaal se teks is baie poëties,  en neem fyngevoelige lesers op reis- net vir ‘n wyle- saam met Andries. 

‘n Sensitiewe verhaal met fyn tekeninge deur ‘n talentvolle illustreerder.

Die boek se formaat is heel verskillend van die meeste kinderboeke- ‘n langwerpige smal boek wat hantering vir kleintjies kan bemoeilik . My gevoel is dat die aanbieding meer tot volwassenes en of gesofistikeerde jeugdiges sal spreek.

 

Jeugboeke:

Taute, Dihanna: Ek en  Prins donkerkuif( H&R, 2016)

Lehandi is gladnie beïndruk met hul nuwe huis – ‘n groot dubbelverdieping rondawel wat onder ‘n “strooihoed” staan en dan nog in Pretoria waar sy oortuig is hul gesin nie maklik kwaliteit gesinstyd sal beleef nie- ‘n totale “myth”.

Haar ma se kleresmaak is outyds, haar pa suinig en alles moet op sy  manier gedoen word en “bogger die res”.

By die nuwe skool probeer die nerd Rochelle Olivier dadelik met haar vriende maak.  Sy praat aanhoudend  en het  daarby ‘n vispatee-asem wat Lehandi wil laat opgooi.

Sy besluit dat sy op 16 nou regtig ‘n boyfriend moet kry – die perfekte kandidaat is Frans Bruwer met sy donker hare en bruin oë , pragtig gebou en tog te hoflik.

Maar daar is ook  die buurseun Drayke Hunter , en hulle het altwee probleme met hul ouers-hare wil skei, en syne is geskei.  En hy wil haar maar netnie ophou verpes nie!

Dit is duidelik ‘n tipiese tienerverhaal  met karakters met wie lesers sal identifiseer. Wat die boek ‘n wenner maak is Taute se skryfstyl en talent – haar woordkeuses is verfrissend oorspronklik , en die verhaal lees lekker en ek kon genot put uit haar beskrywings van situasies en karakters. Hoogs aanbeveel vir ‘n lekker onderhoudende ligte leeservaring.

Honikman, M J : There should be five( Tafelberg, 2016)

This is the story of a South African WW11 hero, Job Maseko . In 1942 at Tobruk Harbour, he is taken prisoner by General Rommel along with 33000 Allied troops.

The writer states in an introduction that he developed the character Sipho Ndebele  through whose eyes much of the story is told from his father’s stories about the black soldier who saved his life in this war.

Sipho is a South African prisoner of war along with Job. They have been friends since his childhood in Natal, and where Sipho lives with fear, Job is fearless.     In contrast to the other prisoners, Job is determined that the Germans must not win the war, and this determination and courage leads him to perform something  so extraordinary  that it earned him a medal.

This story will lure , especially boys,  to read about a war hero . Apart from Siphos narration, there are notes from the author at the back sharing more information , also about Adolph Malan, a pilot in the war; the Victoria Cross , and some acknowledgements and thanks. Many references are also listed, and a few photographs of soldiers in the war.

Quite a fascinating read, with immense possibilities for classroom use and discussions.   

Viljoen, Fanie: Monster rugby( LAPA, 2016)

Ampie Coetzee  is “gebou soos ‘n wensbeentjie:dun en benerig”. Hy is nou nie juis die grootste aanwins vir Laerskool Breekkloof se rugbyspan nie; dalk sal ‘n meer geskikte rol die van gelukbringer wees- “ daardie ou wat in ‘n pienk flamink-kostuum langs die veld rondhardloop.”

Maar hy speel rugby, en toe die nuwe seun by die span aansluit, moet dit nou juis hy wees wat die waarheid omtrent Max uitvind- hy is in werklikheid ‘n aaklige monster! Net Dora glo hom; en die twee beraam ‘n plan om Max te ontmasker. Dora laat Ampie oefen om fiks te word, en ‘n Rugbywestryd teen ‘n hele span monsters gaan dalk die geleentheid wees  om  Max boosaardig kwaad maak, want as hy kweed is ,  verander hy….

Heerlike ligte leesstof vir jong lesers – lekker groot druk en genoeg vermaak vir ‘n oomblik van leesgenot. Fanie Viljoen weet net hoe.

Byrne, Richard: Die boek het my hond ingesluk( H&R, 2016)

Toe Bella eendag met haar hond oor die bladsye van die boek stap , verdwyn hy skielik en word “ingesluk” deur die boek! Ben besluit om ondersoek in te stel, maar hy verdwyn ook. Die honderedders en brandweer  verdwyn ook. ‘n Briefie verskyn egter met die versoek dat die boek op sy sy gedraai moet word en geskudmoet word, sodat alles weer kan verskyn. Alles is nou soos dit hoort, behalwe vir Bella se hond-lees maar self wat met hom gebeur!

Die eenvoud van illustrasies gekombineer met die teks in oranje ; ‘n oulike dogtertjie met ‘n wollerige brakkie wat onskuldig deur die bladsye van die boek loop het heelwat bekoring en sal kinders se humorsin prikkel.  Geen wonder die leser word versoek om die boek te vra om nie weer so stout te wees as jy hom lees nie!

Ligte leesvermaak met ‘n klein Kinkel!

 

 

 

Monday, April 18, 2016

'n Reis van Pippie Langkous na klein heksie, olifant se vraag en seestories


Lindgren, Astrid: Pippie Langkous-omnibus( H&R, 2016)Afrikaanse vertaling deur Nerina Ferreira

‘n Omnibus van die drie boeke in die reeks:  Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die Suidsee dien ook ter viering van haar 70ste bestaansjaar!

Dit was genoeg motivering om persoonlik op ‘n nostalgiese reis te gaan en weereens te ontdek waarom Pippie Langkous so gewild gebly het.

Wie kan nou nie vereenselwig met ‘n dogtertjie wat absoluut as individualis die lewe aanpak nie! Sy is buitengewoon sterk; sy woon alleen in Huis Winderuis met haar apie Meneer Jakobs , ‘n perd ,en ‘n tas vol goue muntstukke wat haar in staat stel om kinders op lekkers en speelgoed te trakteer en altyd sorg vir lekker eetgoed ook vir die twee kinders Tommie en Anneke wat gou bewonderaars word van die eienaardige dogtertjie. Sy beskerm ‘n seuntjie teen sy vyf aanvallers; sy hoef nie skooltoe te gaan nie; is nie bang vir ‘n woedende bul nie; tree selfs in ‘n sirkus op ; uitoorlê twee inbrekers; tree as lewensredder op en is bra onverfynd op ‘n koffieparty, om maar ‘n paar van die avonture te noem.

Wat die omstandighede nou okal is, Pippie slaag altyd daarin om die situasie te red.

Jong lesers wat hulle kan inleef in haar fantasie-wêreld sal die skerpsinnigheid en humor geniet; en Pippi behoort ook in 2016 bewonderaars te werf!:

“Die sterre blink bo Huis Winderuis se dak. Daarbinne is Pippie. En sy sal altyd daar wees…”

(Net jammer dat die bladsyverwysings vir haar twee briewe op bladsy 248 verkeerd is: die briewe is op 158 en 215 nie 156 en 213 nie. Ook op bladsy 93 die setties i.p.v seties.)

Vanden Berg, Leen en Vermeire, Kaatje: Olifant se vraag ( PROTEA, 2016)Uit Nederlands vertaal deur Shané Kleyn.

Elke jaar hou die diere ‘n vergadering op ‘n heuwel waar moeilike kwessies bespreek word. Mier lei die groep en uiteindelik wil Olifant weet: Hoe weet mens dat jy iemand liefhet? Dit gee die geleentheid vir die diere om te antwoord en hul eie interpretasie te deel- muis het so sterk soos ‘n olifant gevoel; Sneeuwitjie vergeet met ‘n soen van al die naarhede; klip kry lekker warm langs sy geliefde; see kry ‘n hupstootjie van die wind; appelboom deel die son met haar geliefde; ysbeer voel of hy op ‘n warm eiland is, en die sneeuvlokkies smelt vir mekaar. Mier verdaag die vergadering en noem hul verklarings absolute nonsens. Maar skielik voel sy tog te alleen…

‘n Wonderlike poëtiese teks wat jou aangryp en tot nadenke stem.

Kaatje Vermeire se illustrasies bevat fyn detail en is soos ‘n ontdekkingsreis vir die leser wat genot kan put uit die sterk verbeeldingswêreld gevul met fantasie en interessante voorwerpe soos ‘n tikmasjien, windmeul, ’n drom en trollies en vuurtoring. Dit is  besonder oorspronklik. Etswerk en collages bevat selfs voorwerpe  , blare en figure soos ‘n dogtertjie, dansers en ‘n harlekyn.

 Hierdie boek is in teks en illustrasie as geheel ‘n kunswerk wat gekoester sal word deur lesers wat die prenteboek as kuns waardeer. Dit is natuurlik baie gesofistikeerd en dalk te “volwasse” vir heel jong lesers. Nie dat ek kinders wil onderskat nie!       

Preussler, Otfried:  Die klein heksie( PROTEA, 2016)Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal  Tweede Afrikaanse uitgawe.

‘n Klein heksie is honderd-sewe-en-twintig jaar oud, maar vir ‘n heksie is sy nog ‘n bogkind! So jonk, dat sy nognie toegelaat is om die heksedans op Bloksberg by te woon nie. Abrakis haar kraai raai haar aan om maar hard te oefen aan haar toorkunsies sodat sy kan kwalifiseer vir die volgende dans. Volgens Abrakis moet sy haar towerkrag gebruik om goeie dinge te doen. Sy help drie tantes om vuurmaakhout in die woud te kry; toor papierblomme om ‘n heerlike geur aft e gee; red twee kinders se os wat die prys sou wees by ‘n skietwedstryd; en o.a. toor die kraai en haarself sodat hulle nooit weer koud hoef te kry nie. Maar is ‘n regte heks nou veronderstel om goeie dinge te doen? Voor die hekseraad kry sy haar antwoord, maar slaag tog daarin om die enigste heks op aarde te word wat kan toor!

Die vertaling lees lekker en die verhaal as geheel het ‘n ligte vrolike aanslag aangevul deur die kleurvolle illustrasies wat toepaslik is vir die tyd waarin die boek oorspronklik geskryf is.

Die boekie is keurig versorg en hierdie onskuldige soms verstrooide naïwe heksie behoort lesers te lok.

Maartens, Wendy: Stories van die see( PROTEA, 2016) Met illustrasies deur Marjorie van Heerden. Ook in Engels beskikbaar as Sea stories.

Hierdie versameling seestories in ‘n stewige hardeband groot formaat boek trek dadelik die aandag met die pragtige omslag deur die illustreerder in seegroen kleure van ‘n vrou wat heerlik verstrengel swem in ‘n groen kolwende see.

Die skrywer meld dat sy nie by die see grootgeword het nie, en dus was sy haar hele lewe lank oppad see toe. Vandaar seker die behoefte om stories van die see te herroep.

27 stories word vertel en hervertel; soos die verhaal van Wolraad Woltemade, die Vlieënde Holander, Hans die seun in Nederland wat die gat in die dyk met sy vinger toegehou het en so die water kon keer. Welbekende stories word nuut oorvertel, en meer romantiese vertellings word afgewissel met inligting oor hoe dryfsand is en waarom die see sout is ; hoe dolfyne hul glimlag gekry het en die ryk vrou van Stavoren moet leer om nie so gierig te wees nie.Lesers met ‘n liefde vir fantasie en legendes sal bykomende inligting kry met die Het jy geweet stukkies aan die einde van sommige van die verhale.

Daar is ‘n goeie balans gehandhaaf en genoeg afwisseling om die leser betrokke te hou. ‘n Bronnelys is ook aangeheg.

Kleurvolle volblad illustrasies word afgewissel met swart-en wit prente. Sommige illustrasies soos die dubbelblad voor die inhoudsopgawe van ‘n dogtertjie wat kennis maak met ‘n meermin op die strand; Wolraad Woltemale se perd  en die dansende dolfyne is besonder treffend, maar dieselfde kwaliteit ontbreek soms in kleiner illustrasies soos twee leeus op bladsy 82. Tog is die geheel lewendig , vol beweging en verbeeldingryk met ‘n amper kinderlike amper naïwe aanslag wat kinders sal geniet.

 Daar bestaan nognie so ‘n spesifieke versameling met seestories in Afrikaans nie, en die boek leen hom dus vir voorlees; tuisversamelings en vir biblioteek gebruikers spesifiek op soek na stories oor die see.

Tuesday, March 22, 2016

'n Hart wat klop!


Hartklop deur Cecilia Steyn (H&R, 2016)

Hartklop is die eerste titel in ‘n nuwe tiener-reeks, Tienerharte. Tienerharte 2 Hartbreker en 3, Hartedief sal ook verskyn.

Megan is volgens haar pa te stil en rustig vir ‘n meisie in matriek. En Megan besluit ook “Miskien is dit tyd dat Megan Bruwer…ontdek moet word”. Die Desembervakansie kuier sy saam met haar broer Stefan en sy vriend Dewald by haar ma op Paternoster. Stefan voel baie beskermend teenoor sy jonger sussie, en Dewald is gewaarsku om nie met haar te lol nie.

En ‘n  mens se hart volg maar gewoonlik sy eie pad, en gou word dit duidelik dat die twee jongmense reeds op mekaar verlief is, hoewel hulle dit probeer wegsteek, en elkeen gedurig twyfel oor die ander een se gevoelens.

Die hoofstukke word verdeel tussen Dewald wat met die leser kommunikeer, gevolg deur ‘n hoofstuk met Megan aan die woord.  

Die spanningselement word dus deurgaans gehandhaaf; en die jongmense se reaksies is oortuigend en tipies soos die van verliefdes- fisies aangetrokke tot mekaar; en enige aantreklike meisie of seun word as ‘n bedreiging gesien!

Wanneer Megan na ‘n  rusie tussen die drie haar broer se Jeep gebruik om weg te kom, volg ‘n spanningsvolle tyd en ‘n heeltemaal onverwagse wending tot die verhaal. Want Elaine, Stefan se eks ,sweer wraak, en Megan as tweede prys sal ook reg wees.

Heeltemaal onderhoudend geskryf, en ligte lekker-lees tiener materiaal. Die aantreklike omslag van twee verliefde jongmense sal belangstelling lok.