Monday, June 13, 2016

Afkop groot Kaptein en Zackie...


Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie: die padda-poets( LAPA, 2016)

Die geliefde karakters Zackie en sy vriend Vincent gee hier die geleentheid vir beginner lesers om self ook van hul manewales te lees. Min teks in groot druk maak die leeservaring maklik; en Alex van Houwelingen se illustrasies is in  die kol met dierbare kindergesiggies wat spreek van ondeundheid en pret.

Toe Zackie en Vincent besluit om die padda Meneer Slym skool toe te neem om die tweeling ‘n poets te bak – twee meisies wat van pienk en ponies en prinsesse hou, word selfs die boelie Anton verras met die meisies se reaksie!

Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie- Die rowwe resies( LAPA, 2016)

Zackie en incent verf hul kaskar om aan die resies deel te neem. Anton die boelie het natuurlik ‘n duur, vinnige kar en is reg om die twee te wen. Maar hul kaskar se wiel val af, en Anton is die wenner. Maar Jolanda het ‘n foto van die resies geneem, en wie verdien nou om te wen?...

Jaco Jacobs skryf weereens in die kol met sy aanvoeling vir die gedagte-en ervaringswêreld van die kind. Twee boekies wat Zackie nog meer aanhangers gaan besorg!

Biegel, Paul: Die groot klein Kaptein( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Daniel Hugo

In die sewentiger jare verskyn hierdie klassieke werk as drie individuele publikasies, hier in een pragtige boek saamgevoeg.

Die klein Kaptein woon in ‘n boot. Hy moet sy boot , die Nooitlek, weer vaarbaar maak om die reis na die Eiland van Groot en Groei te begin. Die kinders in die hawedorpie help hiermee, en Dimi, Dik Druif en Marinka en Bang Tonie word sy metgeselle op die vele avonture wat gaan kom. Hulle vaar deur ‘n draakpoort van klip, vind ‘n geheimsinnige eiland waar mak sirkusdiere hulle inwag; ‘n spookstad waar alles grys is behalwe die plakkate van ‘n kleurvolle vrou; die land van Waan en Wys; en later die land van Skrik en Vrees.Seerower Skobbedonk op sy spookskip sal eers losgetoor word van die stuur van die boot wanneer die skate wat hy gesteel het by al die regmatige eienaars afgelewer word. En die klein Kaptein is gedetermineerd om dit reg te kry…

‘n Fees van fantasie met kleurvolle karakters en verbeeldingryke situasies wat aan jong lesers ure van vermaak gaan verskaf. Marinka wat elke probleemsituasie prober oplos met pannekoek bak; en Bang Tonie wat gedurigdeur te bang is om homself te laat geld.

Die teks word aangevul met ongelooflike illustrasies deur Carl Hollander. Kleurvolle volblad illustrasies van ‘n reus teenoor die klein bootjie; kleurvolle blomme met die kinders wat die groot sakhorlosie prober dra; skrikwekkende drake; seetonele met vlieende visse; sirkusdiere; ‘n grys stad; Vader Bloukrap se seetuin; ‘n vuurtoring wat hoër gebou moet word; selfs ‘n kameelperd in die woestyn; ‘n drywende stad; en ‘n wit yskasteel waarin die hartseer edeldame woon- hierdie is ‘n fantasie wêreld waarin elke kind wat lief is vir lees weer en weer ‘n nuwe avontuur kan beleef. En die boek is ook ideal vir voorlees . Hoogs aanbeveel as ‘n baie spesiale boek, knap vertaal deur Daniel Hugo.

Tiener boek:

Viljoen, Fanie: Afkop( LAPA, 2016)

Doller as afkop kan dit mos nie gaan nie! Of hoe?

Fanie Viljoen neem die leser hier op ‘n wilde spannende opwindende rit wat net groei en aanhou sodat jy amper nie asemhaal voor dit by die laaste bladsy kom nie!

Trent wil so graag inpas by ‘n groep jongmense dat hy enige iets sal doen; selfs saamgaan op ‘n motorrit in ‘n gesteelde motor wat eindig in ‘n ongeluk met net hy wat agterbly en toe die sak ontdek met die half miljoen Rand daarin. Decker vertel  hom later:

“ Omdat jy so needy is . Jy wil saam met die groot ouens speel, maar hulle wil nie saam met jou speel nie”.

Eers is daar die genot van soveel geld net vir himself te hê. :

“ Dis tweehonderdrandnote. Daardie oranje luiperds wat nog nooit ‘n draai in hierdie kamer of my beursie gemaak het nie.”

Maar gou verskyn sy sogenaamde vriende ook op die toneel en dit verander in ‘n toutrekkery- wie gaan nou wegkom met die geld? Ongelukkig is die regte eienaars gou  op hul spoor, en die hele riller word groter en gevaarliker vir hulle almal. Wat gaan uiteindelik gebeur? Sal die jongmense ontsnap uit die hande van die dwelmsmokkelaars?

Viljoen skryf hier op sy beste met ‘n sekere hand en tegniek wat getuig van ervaring. Die taalgebruik is eenvoudig; die spanningselement word gehandhaaf, en dan is dit ook ‘n toets vir Trent om te besluit wat vir hom die belangrikste is- die geld of ‘n terugkeer na sy normale bestaan .

Op ‘n stadium sê hy:” skietgebedjies met beloftes om vir altyd en ewig ‘n model tiener te wees as hy net lewendig kan uitkom”.

Spanning en intrige op ‘n gevaarlike drafstappie, soos ‘n weghol trein wat nie tot stilstand wil kom nie! Hoogs aanbeveel; Viljoen se lesers sal weer kennis maak met sy besondere talent.   


 

 

 

.

No comments:

Post a Comment