Tuesday, March 22, 2016

'n Hart wat klop!


Hartklop deur Cecilia Steyn (H&R, 2016)

Hartklop is die eerste titel in ‘n nuwe tiener-reeks, Tienerharte. Tienerharte 2 Hartbreker en 3, Hartedief sal ook verskyn.

Megan is volgens haar pa te stil en rustig vir ‘n meisie in matriek. En Megan besluit ook “Miskien is dit tyd dat Megan Bruwer…ontdek moet word”. Die Desembervakansie kuier sy saam met haar broer Stefan en sy vriend Dewald by haar ma op Paternoster. Stefan voel baie beskermend teenoor sy jonger sussie, en Dewald is gewaarsku om nie met haar te lol nie.

En ‘n  mens se hart volg maar gewoonlik sy eie pad, en gou word dit duidelik dat die twee jongmense reeds op mekaar verlief is, hoewel hulle dit probeer wegsteek, en elkeen gedurig twyfel oor die ander een se gevoelens.

Die hoofstukke word verdeel tussen Dewald wat met die leser kommunikeer, gevolg deur ‘n hoofstuk met Megan aan die woord.  

Die spanningselement word dus deurgaans gehandhaaf; en die jongmense se reaksies is oortuigend en tipies soos die van verliefdes- fisies aangetrokke tot mekaar; en enige aantreklike meisie of seun word as ‘n bedreiging gesien!

Wanneer Megan na ‘n  rusie tussen die drie haar broer se Jeep gebruik om weg te kom, volg ‘n spanningsvolle tyd en ‘n heeltemaal onverwagse wending tot die verhaal. Want Elaine, Stefan se eks ,sweer wraak, en Megan as tweede prys sal ook reg wees.

Heeltemaal onderhoudend geskryf, en ligte lekker-lees tiener materiaal. Die aantreklike omslag van twee verliefde jongmense sal belangstelling lok.

 

No comments:

Post a Comment