Friday, September 21, 2018

'n Eiland besoek kan onvergeetlik wees!


Wasserman, Elizabeth: Elf dae op ‘n eiland( Tafelberg, 2018)

Na die uiters gewilde Elf dae in Parys verskyn ‘n tweede boek waarin die hoofkarakter Danika haar onverwags bevind op ‘n tropiese eiland en  daar nader kennis maak met haar pa wat sy gladnie ken nie.

Van ‘n huis in Seepunt, Kaapstad waar sy woon saam met haar ma Melissa, ‘n bekende aktrise, en haar twee tantes Trix en Gaby word haar omgewing skielik tropies en gevul met kleurvolle voëls, waterskilpaaie en wetenskaplikes wat navorsing doen. ‘n Vrydagaand partytjie van die twee tantes loop lelik skeef wanneer hulle van dwelmbesit aangekla word en Danika ook weggestuur word sodat haar skool se naam nie in die gedrang kom nie. Haar besoek aan die Seychelles beloof om meer opwindend te wees as Seepunt, en ook daar is sy  blootgestel aan misdadigers en ‘n geldgierige sjeik.
Die verhaal slaag en boei t.o.v. ‘n verskeidenheid aspekte:

Die karakters word oortuigend uitgebeeld. Elke karakter is interessant en uniek en dra by tot die kleurvolheid van die verhaal. Elke karakter het ‘n doel en skakel in by die verhaal.
Daar is ‘n goeie balans tussen feite en die verloop van die verhaal ,met sommer ‘n tikkie romanse ook ingeweef. Die verhouding tussen pa en dogter word liggies en sensitief benader, en die atmosfeer bly positief.
Die spanningselement met skurke en geldwolwe , haar ontvoering en die stryd om die eilande se natuurskatte te bewaar, word onderhoudend vertel.
Vir my is die grootste trefkrag van die verhaal die skrywer se fyn uitbeelding van die omgewing- die natuurskoon, en veral die inligting en blootstelling van die leser aan die voëls, visse, waterskilpaaie   en ander eilandbewoners.

Haar benadering is tereg die van ‘n wetenskaplike; ondersoekend, feite word deeglik nagevors en weergegee; haar agtergrond as wetenskaplike kom duidelik na vore in die hantering van die vraagstukke wat die natuurlewe hier kan bedreig.
Hierdie is nie ‘n ligte oppervlakkige storie van ‘n meisie , haar onbekende pa en ‘n besoek aan ‘n eiland nie. Daar word deeglik gefokus om die omgewing so noukeurig as moontlik te beskryf, maar tersefdertyd nie die verhaal te laat ontaard in ‘n droë wetenskaplike verslag nie.
 Daar is genoeg aksie en avontuur en spanning om die leser betrokke te hou. Hoogs aanbeveel vir skole, tuisversamelings en biblioteke. 

 


No comments:

Post a Comment