Tuesday, September 18, 2018

'n Krismisengel met 'n boodskap


Maartens, Wendy : Kerneels en die Krismisengel (PROTEA, 2017) . Illustrasies deur Anneliese Voigt-Peters. Ook beskikbaar in Engels: Chris and the Christmas Angel.
Kerneels is ‘n agt-jarige seuntjie. Sy ma werk as ‘n skoonmaakster by ‘n winkelsentrum. Sy beste vriend is oom Sol, die veiligheidswag. Kerneels se droom is om na die sterre te vlieg in die hoop om ‘n regte engel te sien.
Op Kersdag gee oom Sol aan hom ‘n spierwit veer wat ‘n boodskap van ‘n engel is. Kerneels weet nou dat hy ‘n regte engel gesien het.”Nie een met ‘’n goue rok en ‘n stralekransnie. ‘n Regte Krismisengel met ‘n fiets en ‘n kosblik en ‘n radio… en ‘n gaatjie in sy een skoen.”
Die eenvoud en opregtheid van die verhaal raak die leser, met die treffende boodskap dat kosbare vriende wat jou liefhet die beste voorbeeld van ‘n Kersfeesengel kan wees. Die milieu is tipies Suid Afrikaans, die twee hoofkarakters verteenwoordig die omstandighede en lewens van so baie kinders en volwassenes in ons land.
Die illustreerder Anneliese Voigt-Peters het die Vivian Wilkes Toekenning vir “Die rooi rok” in 1997 ontvang, en die Exclusive Books/IBBY Suid Afrika vir “Ouma Ruby’s secret. Beide hierdie boeke verteenwoordig die werk van ‘n illustreerder wat identifiseer met die mense van haar land. Kerneels en die Krismisengel se illustrasies bevestig haar talent en versterk die kwaliteit van die verhaal.   ‘n Belangrike boek wat in biblioteke, skole en tuisversamelings ‘n tuiste behoort te vind. Hoogs aanbeveel.


No comments:

Post a Comment